Hallo Frazer! Baie Suid-Afrikaners weet goed wie jy is, en weet dat jy ook deel is van die groep Die Wasgoedlyn. Wil jy dalk in jou eie woorde iets van jouself vertel wat ons dalk nie van jou weet nie? En vir mense in die buiteland: dalk kan jy kortliks iets sê oor jou kuns?
Hallo Naomi. Ek is getroud met Deniel Barry, ook ’n kunstenaar en ’n drummer. Ons speel albei in Tribal Echo. Ons het mekaar ontmoet tydens ’n gemeenskapsteaterprojek, ’n paar jaar later getrou en tree gereeld saam op. Ons het ’n agtjarige seuntjie. Ek kuns al vir die afgelope 25 jaar. Sestien jaar daarvan saam met my orkes Tribal Echo. Ek is gek oor dig en komponeer, en skryf teks vir teater. Ek toonset ook gedigte. Ek was die afgelope paar jaar baie bevoorreg om deel te wees van produksies wat bekroon is nl, Kô lat ôs sing – toonsettings en voorsanger (Woordtrofee); Die riel van HipHop – musikale regie (Fiesta); Lepeltjie vol snare – teks en musikale regie (Kanna). My aanvoeling vir my kuns en musiek is gegrond in die kultuur en lewe van Afrika. My ander liefde is om funksionele musiekinstrumente te maak van dinge wat weggegooi word. Blikke, hout, seebamboes en allerhande gemors omskep ek in kunswerke met klank. Ek gebruik ook die instrumente in die produksies waarin ek betrokke is. Die klanke van Afrika, die beelde van Afrika en die tale van Afrika (Afrikaans, Khoi) is wat deel is van my kunsidentiteit en dit is wat buitelanders van my kuns kan verwag.
Jy gaan binnekort by die Festival voor het Afrikaans in Amsterdam optree. Jy het al in die buiteland opgetree. Dalk kan jy iets vertel van hoe jy optredes daar ervaar? Hoe verskil die ervaring en hoe stem dit ooreen met 'n Suid-Afrikaanse gehoor (byvoorbeeld toe jy verlede jaar daar was)? Wat is jou verwagtinge van vanjaar se fees?
Ja, ek was bevoorreg om in 2016 saam met Tribal Echo die fees te doen. Die gehoor in Nederland was baie nuuskierig en dus ontvanklik vir die musiek wat ons na die fees gebring het. Die reaksie van die gehoor was ook dieselfde as wat ons oral met Suid-Afrikaanse gehore ervaar het. Die Nederlanders het gedans wanneer ons up-tempo gegaan het en gegroove wanneer ons gegroove het! Dit was great om dit te kon sien en ervaar, dat ons musiek deur die taal- en kultuurgrense kan beweeg. My hoop is dat Festival voor het Afrikaans groei toon en goed ondersteun sal word.
Jy gaan besoek die Lae Lande as musikant en as akteur. Dalk kan jy iets vertel van die produksie van Krotoa: Eva van de Kaap en jou betrokkenheid hierby.
Die produksie is uit die pen van Sylvia Vollenhoven en regie word deur Basil Appollis behartig. Dit is ’n ervaring om deur Sylvia se teks te werk en Basil is in ’n klas van sy eie. Twee uiteenlopende wêrelde, kulture en tale ontmoet mekaar en ons lewens en alles in ons Suid-Afrikaanse samelewing is beïnvloed agv daardie spesifieke ontmoeting. Dit is daardie oomblikke wat in die storie uitgebeeld word. Krotoa word deur Bianca Flanders gespeel en Kees Scholten is Jan Van Riebeeck. Ek en Jeff Hofmeister het die klank ontwerp en benewens ons funksie as musikante speel ons ander rolle ook. Ek vertolk die rolle van twee prominente Khoi-figure, nl Autshumao (Harry die Strandloper) en Doman.
“Soek eerder raakpunte,” word soms in diverse omgewings soos Suid-Afrika gesê. Hoe gemaak as 'n kunstenaar optree in 'n ander land, waar taal slegs effens, maar nie volkome nie, ooreenstem met jou eie? Is die klem dan op taal of op kuns? Vertel my asseblief ook hoedat taal 'n rol speel in die kuns wat jy skep?
Ek is so bly dat kommunikasie op die verhoog nie net beperk tot woorde is nie. Veral wanneer ’n mens in ’n vreemde land optree. Daar is gelukkig verskeie mediums waarmee taalbeperkings oorbrug kan word. Kunstenaars is veronderstel om hul eie navorsing te doen in voorbereiding vir die verhoog. Dit geld maar ook vir wanneer jy in ’n ander land optree. Taal en musiek is vir my een. Indien jy die taal gehoor het, het jy reeds ’n groot deel van die musiek ook gehoor. Wanneer mense praat, is dit note, toonhoogtes en intonasie wat lewe en betekenis gee aan die taal. Indien kultuur my kuns se fondasie is, dan is taal my voertuig om die kuns oor te dra. Die wonder van veral Afrikaans is dat dit nog steeds groei en dat daar soveel moontlikhede is! Die Afrikaanse taal het ’n wonderlike energie en ek vind baie inspirasie daar. Dit beïnvloed my kuns direk.
Wat dink jy van kruisbestuiwing? Hoe dink jy kan Afrikaanse, Afrika-, Nederlandse, Vlaamse en ander kunstenaars by mekaar leer? En dalk saamwerk / gesamentlike projekte doen? Of is kuns 'n enkeling se skepping, met sy eie unieke invloede van plek en ruimtes wat hy besoek het of waar hy woon?
Op hierdie stadium is die geleenthede om saam te werk baie makliker as in die verlede. Die internet het gelukkig daardie gaping oorbrug. Afrikaanse, Afrika-, Nederlandse en Vlaamse kunstenaars het groot komponente van hul tale as ’n gemene faktor. Interpretasie en aanbieding is ’n gebied waarop ons baie by mekaar kan leer. Dit is nie lekker om in isolasie te kuns nie. Mens sou graag wou glo dat ’n mens uniek is, maar die realiteit is dat al ons idees en dinge wat ons bereik, geïnspireer is deur iemand of iets anders. Ons staan op berge van informasie en ons is ewige sponse. Ons sintuie is ons reseptore wat outomaties inligting gryp en stoor. Daar is soveel wat ons beïnvloed. Die unieke invloede se faktore is daar. Ek sien dit as ’n samestelling van elemente wat die unieke afdruk is vir die kunstenaar se eie stempel. Sy omgewing en persoonlike ervaring van die lewe het uiteindelik ’n sterk invloed op sy kuns.
Watter items op die feesprogram beoog jy om self by te woon, en waarna sien jy uit?
Ek sou graag alles wou bywoon! Miskien kry ek kans om na Antjie Krog te gaan luister en hopelik kan ek Laurika Rauch of Klaas Delrue gaan bywoon. Dit hang maar af hoeveel tyd ek tussen optredes het.
Gaan jy slegs by die fees besoek aflê, of gaan jy ook ander dele van die wêreld sien terwyl jy daar in die omgewing is?
Ek gaan hopelik ’n bietjie tyd kry om Nederland beter te leer ken. My gesin is saam met my op hierdie reis vir die eerste drie weke. Ons het baie vriende in Nederland en beoog om ’n bietjie tyd met hulle te spandeer tussen optredes. Op hierdie stadium is daar geen planne vir ander dele van die wêreld nie agv my schedule. Ons gaan baie beslis Nederland beter verken hierdie keer.
.............
Lees ook
Hannelore oor Festival voor het Afrikaans 2018: kyk ’n video-onderhoud
Veilinghuis Strauss & Co verricht taxaties tijdens Festival voor het Afrikaans
Taal en muziek verbroederen tijdens Festival voor het Afrikaans
Zelda la Grange in Amsterdam: "Kunst kan mensen aan het denken zetten"
Festival voor het Afrikaans 2018: Fonteine in die Dorsland en meertaligheid
https://voertaal.nu/frazer-barry-ik-heb-ervoor-gekozen-om-khoi-te-zijn/
Buro: NM22‒23 september: Vierde editie ''Festival voor het Afrikaans'' in De Brakke Grond