
Foto van Sandra Prinsloo: LitNet
Sandra Prinsloo gesels met Naomi Meyer oor die Festival voor het Afrikaans.
Hallo Sandra! Suid-Afrikaners weet baie goed wie jy is, en ons ken jou werk as aktrise van kindsbeen af: jy is bekend op die verhoog, op die TV, op die silwerdoek, by elke kunstefees. Wil jy dalk in jou eie woorde iets van jouself vertel wat ons dalk nie van jou weet nie? En vir mense in die buiteland: dalk kan jy kortliks iets sê oor jou kuns (naamlik toneelkuns) in Afrikaans? Wat wil jy oor jou loopbaan of oor jouself vir Suid-Afrikaners en vir buitelanders vertel?
Ek staan hierdie jaar al 50 jaar in my beroep, wat teater-, film- en TV-werk insluit. Teater bly seker maar nog steeds my hartstuiste as dit kom by keuses maak oor watter medium ek verkies, maar film lê my ook na aan die hart. Ek het oor die 150 teaterproduksies gedoen, meestal as aktrise, maar het ook vir ’n hele aantal jare as regisseur gewerk en ook as vervaardiger. Ek was gelukkig om in alle genres te werk met werke van Shakespeare tot Ibsen, Strindberg, Anouilh, PG du Plessis, Stoppard, Atholl Fugard, Tsjechof, Feydeau, en ’n hele klomp plaaslike nuwe dramaturge, soos Nico Scheepers wat Moedertaal geskryf het. Ek is ’n alumnus van die Universiteit van Pretoria en het ook die kanseliersmedalje van die universiteit ontvang, en tot my verbasing en vreugde ’n eredoktorsgraad van die Universiteit Stellenbosch ontvang vroeër vanjaar. Ek is ook in vennootskap in ’n TV-produksiemaatskappy en het my eie TV-reeks, Sandra op ’n drafstap, aangebied en vervaardig. Dit was ’n geselsprogram en het gaste ingesluit soos Desmond Tutu, Ahmed Kathrada, Van Zyl Slabbert, en vele beroemde kunstenaars en sportlui.
Ek is mal oor seil en is ’n gekwalifiseerde skipper. Ek skubaduik wanneer ek kans kry en is gek oor my twee labradors, Romeo en Olga, wat ek elke dag ver ente mee stap wanneer ek by die huis is. Ek reis ook soveel ek kan oorsee en plaaslik. Ek is ’n direksielid van die Stigting vir Bemagtiging vir Afrikaans (SBA). Ek versorg en sit ’n kind deur skool, wat ’n wonderlike leerkurwe is, veral noudat sy ’n tiener is!
Ek is nog steeds gelukkig genoeg om voortdurend te werk, en meestal met jong regisseurs en skrywers, en is oneindig dankbaar dat my werk my soveel vreugde bring.
Jy gaan binnekort by die Festival voor het Afrikaans in Amsterdam optree. Jy het natuurlik al in die buiteland opgetree – dalk kan jy iets vertel van hoe jy optredes daar ervaar: hoe verskil die ervaring en hoe stem dit ooreen met 'n Suid-Afrikaanse gehoor?
Ek het jare gelede ook ’n eenvrouvertoning, ’n Koffer in die kas van Jeanne Goosen, in Nederland, België, Duitsland en Engeland gedoen en was ook met die omstrede Miss Julie saam met John Kani by die Edinburgh-fees, asook later met Die naaimasjien, ’n solostuk van Rachelle Greeff (in Engels as The sewing machine opgevoer). Die gehore verskil nogal baie van Suid-Afrikaanse gehore, omdat hul verwysingsraamwerk so anders is. Met Miss Julie in 1986 byvoorbeeld het dit nie die skok-element gehad van ’n wit vrou wat ’n swart man soen soos wat dit plaaslik onder die apartheidsbewind gehad het nie. Tog is die produksie baie goed ontvang en so ook The sewing machine, wat ’n spesifiek Afrikaanse verwysingsraamwerk het en tog het ons 5-ster-resensies gekry. Die grootste verskil was dat Europese gehore lank en aanhoudend applous gee. Suid-Afrikaners klap en skree en staan, maar nie vir baie lank nie!
Wat is jou verwagtinge van vanjaar se Festival voor het Afrikaans?
Ek verkies om geen verwagtinge te hê nie, maar opgewonde en nuuskierig te bly!
“Soek eerder raakpunte,” word soms in diverse omgewings soos Suid-Afrika gesê. Hoe gemaak as 'n kunstenaar optree in 'n ander land, waar taal slegs effens, maar nie volkome nie, ooreenstem met jou eie? Is die klem dan op taal of op kuns? Vertel my asseblief ook hoedat taal 'n rol speel in die kuns wat jy skep?
Ek het al vele produksies in tale gesien wat ek glad nie verstaan nie, soos Pools en Japannees, en tog is dit teater-ervarings wat my vir ewig sal bybly. Dit kan natuurlik ook frustrerend wees as taal die belangrikste element in ’n produksie is. Dit gaan vir my interessant wees om te sien hoeveel verstaan word van Moedertaal, want dit is ’n baie mooi teks, maar dis ook ’n emosionele reis van ’n vrou wat uitgebeeld word, so ek hoop dat die gehoor daardie reis sal kan meemaak. Die klem val vir my altyd tog op kuns; taal is die rivier wat die storie ondersteun en belig.
Wat dink jy van kruisbestuiwing? Hoe kan Afrikaanse, Afrika-, Nederlandse, Vlaamse en ander kunstenaars by mekaar leer? En dalk saamwerk / gesamentlike projekte aanpak? Of is kuns 'n enkeling se skepping, met sy eie unieke invloede van plek en ruimtes wat hy of sy besoek het of waar hy of sy woon? As aktrise werk jy gedurig met ander kunstenaars/akteurs saam, maar ek verwys ook spesifiek na samewerking met kunstenaars van ander lande.
As kunstenaar werk ’n mens vanaf dit wat jy ken, beleef het, ondersoek het, maar die uitdaging is altyd daar om nuwe dinge, emosies en gedagteprosesse te verken. So dan dink ek dat ’n wisselwerking, ’n proses van osmose met ander kulture, geweldig belangrik, verrykend en opwindend is. Ons het dit voortdurend in Suid-Afrika met ons uiteenlopende kulture en om Europa of Rusland of wie ook al in die “ mix” te gooi kan dalk die wonderlikste resultate oplewer. So ja, kruisbestuiwing glo ek aan. Ek het al talle besonderse produksies uit die Nederlande gesien en hoop van harte dat die Festival voor het Afrikaans daardie deure kan oopmaak.
Watter items op die feesprogram beoog jy om self by te woon, en waarna sien jy uit?
Ongelukkig is ek hard aan die werk aan ’n plaaslike produksie, My seuns, wat vroeg Oktober by Aardklop debuteer, so ons vlieg letterlik in en uit vir die fees. Ek gaan tog probeer om ’n produksie te sien, maar dit sal afhang van my skedule.
Maar ek vlieg ná Aardklop terug om ’n paar weke in Frankryk by vriende te kuier.
............
Lees ook
Hannelore oor Festival voor het Afrikaans 2018: kyk ’n video-onderhoud
Veilinghuis Strauss & Co verricht taxaties tijdens Festival voor het Afrikaans
Taal en muziek verbroederen tijdens Festival voor het Afrikaans
Zelda la Grange in Amsterdam: "Kunst kan mensen aan het denken zetten"
Festival voor het Afrikaans 2018: Fonteine in die Dorsland en meertaligheid
Buro: NM22‒23 september: Vierde editie ''Festival voor het Afrikaans'' in De Brakke Grond