Festival voor het Afrikaans 2018: Fonteine in die Dorsland en meertaligheid

  • 0

Meertaligheidsgesprek by Festival voor het Afrikaans 2018: Margriet van der Waal, Sandra Prinsloo. Anina Peens, Jolyn Philips en Basil Appollis (Foto: verskaf)

“As hulle dit sou regkry om Afrikaans te vernietig, sal Afrika nie meer Afrika wees nie, en sal ek nie meer tuis voel hier nie,” meen Debra Meyer, dekaan van wetenskap aan die Universiteit van Johannesburg, wat sê dis haar plig as Afrikaanssprekende om vir die taal se voortbestaan te veg.

Die voortbestaan van Afrikaans is ook die tema van die dokumentêr Fonteine in die Dorsland, waarin Debra uitbrei oor haar mening oor Afrikaans se plek in ’n multikulturele Suid-Afrika. Fonteine in die Dorsland het in September sy première by Festival voor het Afrikaans te Amsterdam gehad. Die dokumentêr spreek temas aan wat insluit: Hoe lyk die pad vorentoe vir Afrikaans, en lê die verantwoordelikheid vir die voortbestaan van die taal by wit of bruin mense? Vrae word gestel oor die uitsluiting van bruin Afrikaanssprekendes in die vorming en ontwaking van die Afrikanervolk tydens Afrikaans se Eerste en Tweede Taalbeweging in die laat 1800’s en vroeë 1900’s.

Die dokumentêr fokus ook op bruin Afrikaanssprekendes in afgeleë en soms onbekende gemeenskappe in Suid-Afrika en hulle menings oor Afrikaans wat vandag onder politiekery gebuk gaan weens die stigma van “die onderdrukkerstaal” wat Afrikaans saam hom dra.

Die première in Amsterdam is voorafgegaan deur ’n gesprek oor meertaligheid in Suid-Afrika, gelei deur die Taalunie en die Universiteit van Amsterdam. Die paneellede het ingesluit Margriet van der Waal van die Universiteit Amsterdam, Jan ten Thije van die Universiteit van Utrecht, Sandra Prinsloo, aktrise en lid van die Stigting vir die Bemagtiging deur Afrikaans, Jolyn Phillips, skrywer, Anina Peens, joernalis en vervaardiger, en Basil Appollis, regisseur en skrywer.

Margriet de Waal skryf die volgende na afloop van die gesprek:

“Jan ten Thije het ’n interessante voorlegging gemaak  oor die fenomeen 'luistertaal': ’n konsep wat ons help verstaan hoe dit gebeur dat mense mekaar verstaan en met mekaar kommunikeer sonder ’n gedeelde taal (lingua franca). In Europa is daar baie voorbeelde hiervan, maar in Suid-Afrika ook, waar mense om allerlei redes (bv wat hulle op skool geleer het, of terwyl hul grootgeword het) ’n ander taal verstaan, maar nie self praat nie (dink maar aan hoe goed Engelssprekende Suid-Afrikaners dikwels Afrikaans verstaan, en andersom, of Zoeloesprekers Afrikaans, as hulle op ’n plaas grootgeword het, of andersom: wit plaasbewoners wat die taal van die swart werkers van kleins af gehoor het, en dit kan verstaan maar nie noodwendig self praat nie). Die film Die rebellie van Lafras Verwey het ’n mooi toneel waarin die verskynsel ‘luistertaal’ gebruik word: swart kollega en wit kollega praat met mekaar (swart kollega in Engels, wit kollega in Afrikaans; die toneel is geloofwaardig vanweë die verskynsel 'luistertaal').”

Daarna het Ellen-Rose Kambel die belang van ’n taalstrategie in onderwys verduidelik. Sy praat van “translanguaging”: in plaas van klem op taalsuiwerheid en eentaligheid (bv in die klassituasie) te lê, word ’n meertalige situasie as ’n hulpbron beskou – mense gebruik gedeelde taal as hulpbron om tot begrip te kom van iets wat gesê is in (’n) taal wat hul nie heeltemal begryp nie. In Suid-Afrika kan ’n mens jou ook heelwat voorbeelde daarvan indink: op skool waar Engels of Afrikaans gebruik word, maar waar leerders (nog) nie noodwendig goed Afrikaans of Engels praat nie, en mekaar dan in bv Xhosa kan help (veral in townships, waar baie migrante uit plattelandse gebiede woon). 

Wat die paneel betref: mooi voorbeelde van hoe meertaligheid werk. Basil het opgemerk dat “kodewisseling” in Suid-Afrika iets so algemeens is dat ’n mens eintlik nie daarvan bewus is nie. 

Jolyn het gemeen ’n taal is ’n ding waarmee jy aan die werk kan gaan (hoe dit gebruik kan en moet word lê aan die gebruiker van die taal) – haar digkuns laat dit byvoorbeeld mooi sien, en ook haar “vertaling” in Engels van die Afrikaanse wêreld van die vissers van Gansbaai in haar bundel TjiengTjongTjerries

Sandra se bydra het die belang van taalvaardigheid onderstreep en maak dit ook duidelik dat daar baie werk verrig moet word in sosio-ekonomies agtergestelde gemeenskappe (waar baie mense Afrikaans praat) om lede van die gemeenskappe te bemagtig vir leef en werk in vandag se samelewing (veral geletterdheid is veral ’n baie belangrike probleem).

Anina Peens se film Fonteine in die Dorsland se bydrae het die belangrikheid van ruimer begrip ten opsigte van Afrikaans as ’n taal duidelik gemaak: die belangrikheid om diversiteit binne die taal sigbaar te maak en erken te kry (wat grotendeels al ver gevorder is!), maar ook om te leer wat die erkenning van die diversiteit beteken vir hoe ons self na Afrikaans / vorme van Afrikaans kyk (herstandaardisering, standaardisering van verskillende variante, ens). Veral op skool is dit ’n tameletjie.

Die saal waar die gesprek plaasgevind het, was stampvol. Mense het van heinde en verre gekom om die Afrikaanse fees by te woon en die gesprek oor Afrikaans in Suid-Afrika was vir die Nederlanders baie belangrik. Hoewel die tyd beperk was, het die gesprek ontwikkel in ’n debat met die gehoor wat vir ure kon voortduur. Baie van die Nederlanders het ook ná die gesprek gesê dat hulle nie bewus was van die politieke druk op Afrikaans en die rasse-aanval op die taal nie. Hulle het ook groot waardering gehad vir Fonteine in die Dorsland, omdat die film ’n prentjie van Suid-Afrika se verskillende landskappe en dialekte skets, iets wat baie Nederlanders gesê het hulle nooit die voorreg sal hê om self te sien nie.

Die fees was oor die algemeen ’n reusesukses, en ten spyte van swaar reën was die opkoms baie groot. Een van die groot trekpleisters was Moedertaal van Sandra Prinsloo, ’n eenvroustuk wat gehore stil en in trane die teater sien verlaat het. Dit is ’n stuk wat enige teaterganger sal aangryp en waarmee baie mense in hulle eie lewe kan vereenselwig. Sandra se kuns as aktrise laat mens tydens die vertoning heeltemal sprakeloos.

Ander kunstenaars het ingesluit Laurika Rauch, Riku Lattï en die Wasgoedlyn en Gert Vlok Nel. Films soos Die rebellie van Lafras VerweyEllen en Krotoa; Eva van die Kaap het vir ’n wêreldklas kunstefees gesorg.

Die ambassadeur van Suid-Afrika, Bruce Koloane, het ’n sluitingsrede vir die fees gelewer en sy waardering vir die Afrikaanse taal uitgespreek. Die fees is verder bygewoon deur verskeie diplomatieke afvaardigings, Suid-Afrikaanse verteenwoordigers uit Den Haag en baie Suid-Afrikaners wat na Nederland emigreer het. Ook Suid-Afrikaanse emigrante van so ver as Londen het die fees kom bywoon om weer Afrikaans in volle wending te beleef. Festival voor het Afrikaans word elke twee jaar in Amsterdam aangebied.

Lees ook

Vierde Festival voor het Afrikaans een overweldigend succes

Taal en muziek verbroederen tijdens Festival voor het Afrikaans

Krog geeft nieuwe generatie de ruimte

Zelda la Grange in Amsterdam: "Kunst kan mensen aan het denken zetten"

Stefan Dixon oor Festival voor het Afrikaans 2018

Festival voor het Afrikaans 2018

Buro: NM
  • 0
Top