Laurika Rauch oor Festival voor het Afrikaans 2018

  • 0

Foto van Laurika Rauch: https://laurikarauch.com/

Laurika Rauch praat met Naomi Meyer oor Laurika se optrede by vanjaar se Festival voor het Afrikaans (wat 22–23 September plaasvind) in Amsterdam.

Hallo Laurika! Suid-Afrikaners weet baie goed wie jy is, en ons ken jou liedjies van kindsbeen af. Wil jy dalk in jou eie woorde iets van jouself vertel wat ons dalk nie van jou weet nie? En, vir mense in die buiteland: dalk kan jy kortliks iets sê oor jou kuns (naamlik musiek) in Afrikaans? Wat sing jy, en waarom?

Hallo Naomi – en dankie vir die geleentheid. Ek het reeds van ’n jong ouderdom af voor gehore gesing en klavier gespeel. ’n Loopbaan op die verhoog het eintlik vanselfsprekend gevolg, en ek het ook musiek- en drama-opleiding. My volwasse loopbaan het in die laat sewentigerjare werklik vlam gevat toe ek die temaliedjie van ’n televisiereeks, Phoenix en Kie, waarvan Katinka Heyns die regisseur was, opgeneem het. Koos du Plessis se “Kinders van die wind” was letterlik oornag ’n treffer. Dit het vir my baie deure oopgemaak en vir my geleenthede gegee om in teaterproduksies, kabaretvertonings en populêre-musiek-konserte op te tree vanaf ’n vroeë stadium in my loopbaan. In die vroeë tagtigs het ek onder meer ook die voorreg gehad om aan verskeie Jacques Brel-produksies van Taubie Kushlick deel te neem en het ook later self ’n Brel-album opgeneem. (Ek is aan Brel se musiek bekendgestel deur ’n besoeker van Vlaandere toe ek nog ’n tiener was. Jacqueline het ’n plaat van sy musiek saamgebring as geskenk, en ek kon nie ophou om daarna te luister nie! Ek het toe nooit kon droom dat ek self later sy musiek sou sing nie.) In 2002 was ek deel van ’n produksie in Stellenbosch saam met Stef Bos (regisseur), David Kramer, Frank Boeijen, Denise Jannah, Ray Phiri, Taliep Pietersen en Koos Kombuis, met die titel Ons kruis paaie, waarin ons ons gedeelde geskiedenisse gevier het met musiek en teks. In hierdie aanbieding het ons ontgin waar ons gemeenskaplike wortels gelê het. Dit bly my vandag nog by.

Jy gaan binnekort by die Festival voor het Afrikaans in Amsterdam optree. Jy het al in die buiteland opgetree; dalk kan jy iets vertel van hoe jy optredes daar ervaar: hoe verskil die ervaring en hoe stem dit ooreen met 'n Suid-Afrikaanse gehoor?

Ek het oor die jare al in onder meer Nederland, België, die Tsjeggiese Republiek, Londen, Duitsland en Australië opgetree. Ek en my man, Chris Torr (wat baie van my treffers geskryf het), het twee pragtige kinders, en op ’n stadium het ek besluit om minder oorsee te reis sodat ek meer by die huis kon wees. Ek het egter altyd die oorsese toere geweldig geniet. My laaste oorsese toer in die Lae Lande was tydens die Roetesfestival in Antwerpen. Ek vind dit ’n gawe uitdaging om voor gehore op te tree wat my nie ken nie. ’n Mens moet jouself as’t ware opnuut bekendstel aan so ’n gehoor, en jy besef dan hoe jy as kunstenaar eintlik bederf is deur tuisgehore, waar daar sekere gegewe van jou optredes is wat nie verduidelik hoef te word nie.

Wat is jou verwagtinge van vanjaar se Festival voor het Afrikaans?

Dis ’n voorreg om gevra te word en om deel te wees van hierdie geleentheid. Ek geniet dit om saam met Ingrid Glorie en haar span voor te berei vir die optredes en sien werklik daarna uit om saam met Loki Rothman vir die feesgehore op te tree. Loki is ’n pragtige skeppende talent – kitaarspeler/begeleier en sanger. Ons het ’n besonderse rapport op die verhoog en dis veral spesiaal vir my om te beleef hoe gehore hom waardeer. Ek het ook daarvan bewus geword dat daar ’n hele paar Suid-Afrikaners wat toevallig in daardie tyd in die buiteland gaan wees en by die vertonings gaan wees. Dis werklik iets om na uit te sien.

“Soek eerder raakpunte,” word soms in diverse omgewings soos Suid-Afrika gesê. Hoe gemaak as 'n kunstenaar optree in 'n ander land, waar taal slegs effens, maar nie volkome nie, ooreenstem met jou eie? Is die klem dan op taal of op kuns? Vertel my asseblief ook hoedat taal 'n rol speel in die kuns wat jy skep?

Ek is ’n entertainer – ’n sanger en ’n woordkunstenaar. Ek kies my liedjies dikwels op grond van die rykheid van ’n teks waarmee ek kan identifiseer en wat ek kan interpreteer, maar die melodie moet ook terselfdertyd tref. My werk is om suksesvol te kommunikeer met ’n gehoor, of ek nou in Afrikaans, my moedertaal, Engels of enige ander taal sou optree. Ek wil hoop dat daar ’n universele kwaliteit is aan dit wat ek doen waarby gehore kan aanklank vind – of hulle alles verstaan wat ek sing of nie.

Wat dink jy van kruisbestuiwing? Hoe dink jy kan Afrikaanse, Afrika-, Nederlandse, Vlaamse en ander kunstenaars by mekaar leer? En dalk saamwerk? Of is kuns 'n enkeling se skepping, met haar eie unieke invloede van plek en ruimtes wat sy besoek het of waar sy woon?

Daar is mos maar so ’n enkelingselement in almal se werk en wese.

Rilke beskryf die solitude, of produktiewe eensaamheid, wat nodig is om goeie werk te skep, so goed. Dalk is "produktiewe eensaamheid" nie die regte vertaling van solitude nie. Ek verwys met Rilke spesifiek na sy Letters to a young poet - waar hy sê "everything is gestation and then bringing forth". Dis die solitude terwyl hierdie gestation (rypwordperiode) plaasvind, waarvan ek praat.
  
Tog is ek ook lief daarvoor om met ander kunstenaars saam te werk.

Dit voed my en my werk en dit maak dit vir my interessant. As ek met goeie kunstenaars saamwerk, groei ek as kunstenaar en mens.

Watter items op die fees se program beoog jy om self by te woon, en waarna sien jy uit?

Ek sou graag van die ander geleenthede wou bywoon, maar ek is betrokke by drie optredes oor ’n periode van twee dae. Daar sal nie vir my baie kans wees om ander produksies te sien nie, so ek sal kyk hoe dinge ontwikkel as ek eers daar is. Ek sien wel geweldig uit na my en Loki se deelname aan die Wasgoedlyn-finale saam met Riku en Jackie Lätti, Churchil Naudé, nog ander Suid-Afrikaanse kunstenaars en ook die Europese kunstenaars wat by ons gaan aansluit. (Op dié manier sal ek tog iets beleef van die ander se werk!)

Gaan jy slegs by die fees besoek aflê, of gaan jy ook ander dele van die wêreld sien terwyl jy daar in die omgewing is?

Ek is slegs daar vir die fees, maar het ’n besigtigingstoer op die laaste dag voordat ons vertrek – na die werk verby is!

............

Lees ook

Hannelore oor Festival voor het Afrikaans 2018: kyk ’n video-onderhoud

Klaas Delrue oor Festival voor het Afrikaans 2018

Veilinghuis Strauss & Co verricht taxaties tijdens Festival voor het Afrikaans

Stefan Dixon oor Festival voor het Afrikaans 2018

Vierde Festival voor het Afrikaans een overweldigend succes

Taal en muziek verbroederen tijdens Festival voor het Afrikaans

Zelda la Grange in Amsterdam: "Kunst kan mensen aan het denken zetten"

Krog geeft nieuwe generatie de ruimte

Krog geeft nieuwe generatie de ruimte

Festival voor het Afrikaans 2018: Fonteine in die Dorsland en meertaligheid

Churchil Naudé oor Festival voor het Afrikaans 2018

Zelda la Grange oor Festival voor het Afrikaans 2018

Sandra Prinsloo oor Festival voor het Afrikaans 2018

Frazer Barry oor Festival voor het Afrikaans 2018

Mira Feticu: “Het is een cadeau van het leven, Zuid-Afrika”

22‒23 september: Vierde editie ''Festival voor het Afrikaans'' in De Brakke Grond

Buro: NM
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top