Churchil Naudé praat met Naomi Meyer oor Churchil se optrede by vanjaar se Festival voor het Afrikaans (wat 22–23 September plaasvind) in Amsterdam.
Hallo Churchil! Baie Suid-Afrikaners weet baie goed wie jy is, maar wil jy dalk in jou eie woorde iets van jouself vertel wat ons dalk nie van jou weet nie? En, vir mense in die buiteland: dalk kan jy kortliks iets sê oor jou kuns (naamlik musiek, en rap)?
Hi Naomi. Ek is gebore in Oos-Londen en het grootgeword in Kaapstad. Ek verkies om wat ek doen, woordkuns te noem. Die lyn tussen rymklets en gedigte is soms vaag en dit werk vir my, want daar is deesdae te veel mense wat jou in ’n boks wil gooi sodat hulle beter oor hulself kan voel. Rymklets is lankal nie meer ’n gier wat gaan oorwaai of ’n tendens wat met ouderdom vervaag nie. Ek weet wat in die media verskyn is nie juis ’n goeie voorbeeld nie, maar jy sal self moet gaan soek vir rymklets wat jou oor pas as jy nie met oogklappe wil rondloop nie. Google is jou vriend.
Jy gaan binnekort by die Festival voor het Afrikaans in Amsterdam optree. Het jy al in die buiteland opgetree, dalk saam met die Wasgoedlyn? Indien wel, kan jy dalk iets vertel van hoe jy optredes daar ervaar: hoe verskil die ervaring en hoe stem dit ooreen met ’n Suid-Afrikaanse gehoor? As jy nog nie daar opgetree het nie, kan jy dalk in elk geval vertel wat jou verwagtinge van vanjaar se fees is?
Ek verwag ’n goeie ontvangs in Amsterdam, alhoewel dit my eerste keer gaan wees dat ek daar optree. Ek het wel vele kere al voor internasionale gehore in Suid-Afrika opgetree en dit het grootliks gelei na hierdie uitnodiging na Amsterdam.
“Soek eerder raakpunte,” word soms in diverse omgewings soos Suid-Afrika gesê. Hoe gemaak as ’n kunstenaar optree in ’n ander land, waar taal slegs effens, maar nie volkome nie, ooreenstem met jou eie? Is die klem dan op taal of op kuns? Vertel my asseblief ook hoedat taal ’n rol speel in die kuns wat jy skep?
Die klem is altyd op kuns, want selfs al tree ek op voor plaaslike gehore, moet daar iets wees wat jou onderskei van die res van die voëltjies in die nes. Omdat die woorde soms so vinnig is, as jy vir die eerste keer optree voor enige gehoor moet daar iets wees wat jou en die gehoor “connect”, jy weet.
Wat dink jy van kruisbestuiwing? Hoe kan Afrikaanse, Afrika-, Nederlandse, Vlaamse en ander kunstenaars by mekaar leer? En dalk collaborate/saamwerk? Of is kuns ’n enkeling se skepping, met sy eie unieke invloede van plek en ruimtes wat hy besoek het of waar hy woon?
Kruisbestuiwing is altyd ’n goeie ding vir ’n kunstenaar, omdat jy blootgestel word aan die ander kunstenaar se aanhangers en sodoende maak jy jou cut van die pie bietjie groter. Kuns is lankal nie meer ’n enkelingskepping nie – ons almal word deur een of ander mens, beweging of plek beïnvloed. Niemand gaan sommer gou weer rys herontwerp nie, maar jou speserykombinasies gaan daai breyani joune maak en dis waar die kuns lê.
Watter items op die feesprogram beoog jy om self by te woon, en waarna sien jy uit?
Ek beplan om alles moontlik by te woon en sien uit daarna om saam Antjie Krog ’n verhoog te deel – dit gaan great wees.
Gaan jy slegs by die fees besoek aflê, of gaan jy ook ander dele van die wêreld sien terwyl jy daar in die omgewing is?
Die Wasgoedlyn-reeks se kameraspan reis saam ons en ons beplan om die collabs op te neem vir die volgende Wasgoedlyn.
Lees ook
Hannelore oor Festival voor het Afrikaans 2018: kyk ’n video-onderhoud
Veilinghuis Strauss & Co verricht taxaties tijdens Festival voor het Afrikaans
Taal en muziek verbroederen tijdens Festival voor het Afrikaans
Zelda la Grange in Amsterdam: "Kunst kan mensen aan het denken zetten"
Festival voor het Afrikaans 2018: Fonteine in die Dorsland en meertaligheid
Buro: NM22‒23 september: Vierde editie ''Festival voor het Afrikaans'' in De Brakke Grond