Zelda la Grange praat met Naomi Meyer oor Zelda se optrede by vanjaar se Festival voor het Afrikaans (wat 22–23 September plaasvind) in Amsterdam.
Hallo Zelda! Suid-Afrikaners weet baie goed wie jy is, en waarskynlik heelwat buitelanders ook. Wil jy dalk in jou eie woorde iets van jouself vertel wat ons dalk nie van jou weet nie? En vir mense in die buiteland: dalk kan jy kortliks iets sê van jou agtergrond?
Ek is gebore aan die Oos-Rand naby Johannesburg in Oktober 1970. Kort na my geboorte verhuis ons na Pretoria, waar ek skoolgaan en dan studeer. Ek word in ’n tipiese Afrikaanse middelklashuishouding groot. Ons grondslag is godsdiens en ons is gehoorsame landsburgers, maar effe regs en konserwatief. Ons het wintervakansies vir ’n week of twee in die Krugerwildtuin gaan kamp en Desember-somervakansies vir tot ses weke met ons karavaan in Mosselbaai gekamp.
Van jongs af word ons aan die uitvoerende kunste blootgestel. Ons gaan elke ander Vrydagaand Staatsteater toe, en alhoewel ons van klassiekemusiek- tot balletuitvoerings bywoon, is toneelspel van vroeg af my voorkeur. Van jongs af neem ek buitemuurs dramaklasse by die suster van NP Van Wyk Louw en verdien erekleure op skool ’n paar jaar agtereenvolgens vir my prestasies op die verhoog landwyd. Ek is ook gekies vir die Pretoriase Kinderkoor, waar ek my liefde vir musiek uitleef.
Afrikaans, sy herkoms en tradisie is dus van ’n baie vroeë ouderdom by my vasgelê.
Wat doen jy op die oomblik?
Ek doen motiveringspraatjies en tree op as een van die aanbieders van ’n weeklikse vrouegeselsprogram Tussen Ons. Ek is ook medevervaardiger van ’n dokumentêr oor Madiba se lewe wat in Februarie vrygestel word en dan is ek ’n kurator vir ’n internasionale uitstalling oor hom. Verder is ek betrokke by liefdadigheidswerk.
Jy gaan binnekort by die Festival voor het Afrikaans in Amsterdam optree. Wat is jou verwagtinge van vanjaar se fees?
Ek wil graag in die buiteland beleef hoe my taal en kultuur deur die buitelanders gesien en ervaar word.
“Soek eerder raakpunte,” word soms in diverse omgewings soos Suid-Afrika gesê. Ek verwys nou na kunstenaars wat optree in ’n ander land, waar taal slegs effens, maar nie volkome nie, ooreenstem met jou eie. Stem jy saam met hierdie soeke na raakpunte ten spyte van verskille, gegewe jou agtergrond en tyd aan die sy van Nelson Mandela?
Ja, dit was min of meer die uitgangspunt van mnr Mandela ook. Bill Clinton het dit mooi gestel toe hy gedurende ’n verjaarsdagviering van mnr Mandela vertel dat wetenskaplikes bevind het dat ons verskille, soos ras, liggaamsbou – die uiterlike – asook wat ons glo en wat ons oortuigings betref, bloot 1% van ons samestelling opmaak – 99% is ons dus almal, ongeag die verskille, presies dieselfde. Tog kies ons om op die 1% te fokus as mense. Die raakpunt van ons taal in hierdie geval met die fees bring ons dus net nog nader aan mekaar en die 1% verminder dalk na 0,9%. Daar is dus baie meer wat ons saambring op so ’n fees as enige ander plek.
Watter items op die feesprogram beoog jy om self by te woon, en waarna sien jy uit?
Laurika Rauch, Antjie Krog en Riku Lätti – drie van my heroes.
Gaan jy slegs by die fees besoek aflê, of gaan jy ook ander dele van die wêreld sien terwyl jy daar in die omgewing is?
Nee, my lewe is ongelukkig nie so opwindend nie. Ek is slegs daar vir die fees en moet dadelik terugkeer Suid-Afrika toe vir werk.
..............
Lees ook
Hannelore oor Festival voor het Afrikaans 2018: kyk ’n video-onderhoud
Veilinghuis Strauss & Co verricht taxaties tijdens Festival voor het Afrikaans
Taal en muziek verbroederen tijdens Festival voor het Afrikaans
Zelda la Grange in Amsterdam: "Kunst kan mensen aan het denken zetten"
Festival voor het Afrikaans 2018: Fonteine in die Dorsland en meertaligheid
Buro: NM22‒23 september: Vierde editie ''Festival voor het Afrikaans'' in De Brakke Grond