Stemme: noord en suid

  • 0

.....

“Verder is dit vir my ook interessant om te sien hoe die Suid-Afrikaanse posisie teenoor die Nederlandse posisie afspeel. Daar is heelwat verskille, en tog ook so baie ooreenkomste wat ondersoek kan word.”

.....

Tenita Kidelo is tans besig met haar meestersgraad in Afrikaanse en Nederlandse letterkunde aan die Universiteit van Wes-Kaapland. Haar navorsing is ’n vergelykende studie oor swart feminisme in die werke van Ronelda Kamfer en die Nederlandse digter Simone Atangana Bekono. Cliffordene Norton gesels met haar hieroor.

Tenita in die Japannese tuin in Clingendael Park, Nederland. (Foto: verskaf)

Wat het jou navorsingsonderwerp geïnspireer?

Dit het eintlik als begin in ’n honneursklas en ’n taak wat ek moes doen vir Antjie Krog. Ek moes onder andere Kamfer as digter bespreek, en haar bundel grond/Santekraam teenoor Hammie vergelyk. Prof Krog het met die terugvoer gevra of ek meesters gaan doen en of ek dit sal oorweeg om Kamfer deel te maak van my MA-studie aangesien daar so min oor haar gedoen is en omdat ek haar werk so goed begryp. Van daar af was ek “hooked” op Kamfer en het die moontlikheid met my studieleier, dr Bonthuys, bespreek.

Ronelda Kamfer (Foto: Tamara Gerwel)

Sy het my toe van Bekono bewus gemaak en haar bundel by Alfred Schaffer aangevra. Ek het Bekono gelees en gesien dat sy en Kamfer baie soortgelyk is – en so het die idee van ’n vergelykende studie ontstaan.

Hoe sou jy swart feminisme definieer? Hoe verskil dit van hoofstroom feminisme?

Die woord feminisme is volgens die HAT afgelei vanaf die Latynse woord femina wat “vrou” beteken. Hoofstroom feminisme is in kort gemik op die erkenning van die onderdrukte posisie van die vrou en die herstel van haar regte op alle ekonomiese, politieke en kulturele terreine. Die feminisme strewe dus daarna om ’n stem te gee aan die stemlose vrou. Swart feminisme fokus egter nie alleenlik op geslagtelike onreg nie, maar beklemtoon ook die komponent van rassisme.

Watter navorsing doen jy vir jou tesis?

Bekono is nie baie bekend in Suid-Afrika nie en daarom is daar ook nie baie inligting rondom haar werk hier nie. Ek was egter bevoorreg om in 2018 Nederland toe te gaan met ’n uitruilprogram waar ek die geleentheid gehad het om biblioteke daardie kant te besoek waar ek inligting kon kry.

Meestal het ek net opgelees oor die digters, al wat ’n teorieboek oor swart feminisme, feminisme en postkolonialisme (nog ander teorieë ook) deurgegaan, en dan het ek ook natuurlik die hulp van my amazing studieleier, Marni Bonthuys, gehad om my op die regte pad te hou.

Hoekom fokus jy op die werke van Ronelda Kamfer en Simone Atangana Bekono?

Ten spyte van die feit dat swart Afrikaanse vroueskrywers tans ’n gunstiger posisie binne die Afrikaanse literêre sisteem as voorheen beklee, is daar steeds min navorsing rondom Kamfer gedoen.

Beide Kamfer en Bekono skryf vanuit ’n vooraf gemarginaliseerde posisie en gee dus so stem aan die stemlose “swart” vrou. Hulle werk komplementeer mekaar goed en die temas wat beide aanraak, maak goeie argumente vir ’n vergelykende studie.

Verder is dit vir my ook interessant om te sien hoe die Suid-Afrikaanse posisie teenoor die Nederlandse posisie afspeel. Daar is heelwat verskille, en tog ook so baie ooreenkomste wat ondersoek kan word.

Bestudeer jy hierdie digters se oeuvres of fokus jy op spesifieke werke?

Bekono het maar in 2018 gedebuteer met haar bundel Hoe de eerste vonken zichtbaar waren en Kamfer is al sedert 2008 bekend aan die Suid-Afrikaanse publiek. In my studie bestudeer ek daarom beide se oeuvre sodat ek ’n beter begrip van hulle groei (in die geval van Kamfer) kan kry wat vir beter gevolgtrekkings sal dien. Vir ontledingsdoeleindes selekteer ek enkele gedigte van beide digters en analiseer dit met betrekking tot die teorie waarop ek fokus.

Simone Atangana Bekono (Foto: Gaby Jongenelen Fotografie)

Wat hoop jy om met hierdie navorsing te bereik?

Met dié studie beoog ek dus om hierdie gapinge wat ek voorheen genoem het, te vul deur ’n komparatiewe studie te doen met die aandag gefokus op Kamfer en Bekono.

Hierdie studie se probleemstelling kan dus saamgevat word as ’n ondersoek na swart feminisme in Nederlandse en Afrikaanse poësie met betrekking tot die werke van Ronelda Kamfer en Simone Atangana Bekono.

My fokus sal op die Afrikaanse situasie wees, aangesien dit my konteks as navorser is en ek Bekono en die Nederlandse situasie op sekondêre vlak ondersoek.

Na afloop van die studie, hoe sal jy jou bevindinge prakties wil toepas?

Ek sal graag wil hê dat dit beskikbaar is vir ander studente sodat dit hulle ook kan help om die digters beter te verstaan, en dan hoop mens natuurlik vir akademiese publikasies ook.

Lees ook 

"I ended up writing poetry because of the Wachowskis" – an interview with Simone Atangana Bekono

Nederlandse digkuns gevier by Open Book Festival 2019 (Kaapstad)

Lees ook op LitNet

Postkoloniale feminisme in die Afrikaanse poësie: Die debute van Ronelda S. Kamfer, Shirmoney Rhode en Jolyn Phillips

’n Bespreking van die verteller en verhalende elemente in Hammie deur Ronelda Kamfer, met ’n fokus op die onderskeidende ervarings van die spreker

Buro: MvH
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top