............
“Nou verstaan jy dat die oorgang na Afrikaans vir my is soos ’n mens die Klein-Karoo deur die Meiringspoort verlaat en op die oop vlakte van die Groot-Karoo beland – die lug is anders, die plantegroei, die vergesigte, omtrent alles wat jy sien, is anders. Jy moet leer om anders te kyk, ander goed raak te sien, anders te stap, maar ook daar is die gebod: stadig oor die klippertjies!”
............
Afrikaans beskik oor ’n seggingskrag wat hy moeilik met ander tale kan vergelyk. Só sê Jerzy Koch wie se bundel gedigte, Pleks van plaas, pas verskyn het. Hy is onder andere hoof van die Afdeling Nederlandse en Suid-Afrikaanse Studies aan die Adam Mickiewicz-universiteit in Pole en doseer veral Nederlandse literatuur, koloniale literatuur en Afrikaans. Hy is ook die vertaler van werke van verskeie Afrikaanse skrywers in Pools. Hy het met Willem de Vries oor sy digbundel gesels.
Jerzy Koch (Foto: Naomi Bruwer)
Oor dekades heen het verskeie publikasies verskyn waarin jy onder meer omvattend die Afrikaanse letterkunde deur die lens van die literêre geskiedskrywing bekyk het. Die digbundel Pleks van plaas is jou debuutversameling. Hoe het die pad van Pools na Nederlands en toe na Afrikaans jou uitgebring by die skryf van gedigte in Afrikaans? Wat het jou laat besluit om in Afrikaans en nie byvoorbeeld Nederlands te publiseer nie? Het of gaan enige van die gedigte in Pools verskyn?
Dis ’n baie komplekse vraag. Ek weet nie waar om te begin nie. Dalk moet ek ’n lang aanloop neem. Ek sou sê: Ek is ek. Ek val nie uiteen volgens funksies en posisies nie. Ek bestaan en funksioneer nie as ’n losse versameling van hoedanighede en karaktertrekke, werke, opleidings, akademiese grade of outeurskappe nie. Ek het begin gedigte in Pools skryf en publiseer vóórdat ek met my akademiese loopbaan begin het. Later het ek ander digters se werke begin vertaal en daardie skeppende werk het met die tyd op ’n manier belangriker geword as my eie verse. Dit het ook baie van my kreatiewe kragte opgeëis. Eintlik het my belangstelling in literatuur my laat besluit om tale te gaan studeer en ek het die planne om medisyne te gaan studeer laat vaar; dit was op die laaste oomblik, enkele maande voor my matriek. Miskien moet ek by hierdie geleentheid my pa aanhaal wat ooit in die sewentigerjare gesê het dat mens in hierdie sisteem die meeste vryheid kan bewaar as jy ’n kunstenaar of navorser is. Hy (wat self professor geword het, hoewel sy pa ’n dorpsmid was) het natuurlik die kommunistiese sisteem bedoel soos dit in Pole toegepas is, maar ek dink dit strek baie wyer, ook na die sogenaamde vrye wêreld as daar so iets bestaan. As akademikus het ek my ondersoeksgebied altyd self gekies en my belangstellings en wense gevolg. Ek het van Duits na Nederlands, en van Nederlands na Afrikaans geskuif. Toe ek in die negentigerjare met Afrikaans begin het, het my toenmalige baas en kollega spottend oor my gesê ek word nog professor in Afrikaans – hy het dit as’t ware voorspel! As ek voor my studente in die klas staan, is ek binne sekere perke wat die kurrikulum oplê, of nou die inperkings wat die pandemie vereis, baie vry in die vakke wat ek gee en die aanbiedingswyse.
Wat ek eintlik met hierdie inleiding wil sê, is dat ek al my aktiwiteite, belangstellings of karakterkenmerke as ’n eenheid sien wat persoonlik in die loop van die tyd tot ’n ondeelbare eenheid geknie is. Natuurlik vra my navorsing, klasgee, my literêre vertalings of skeppende werk ander inspanning, energie of emosies. Dis hoekom jy kan aangaan met tegelyk baie goeters doen omdat elke aktiwiteit iets anders van jou vra. Maar ek sien nou my Afrikaanse gedigte as ’n byna logiese uitvloeisel van die vroeëre besluite en belangstellings. Aan die een kant is dit dus net ’n ander manier van my omgaan met taal en literatuur. Ek sê “logiese uitvloeisel”, maar aan die ander kant is dit magies dat ek in Afrikaans begin dig het.
Pas nadat ek hierdie punt gemaak het, kan ek jou vraag in concreto beantwoord. Ek weet nie meer watter Afrikaanse gedig die eerste was nie. Dalk was dit ná die dood van John Kannemeyer dat ek vroeg 2012 “Papierblom” geskryf het. Sy dood op Kersdag 2011 was vir my onverwags, hoewel hy altyd vir my gesê het JM Coetzee se biografie sal hom doodmaak en dat dit sy laaste boek gaan wees. Ek wou dit toe nie glo nie; ek het daardie boek as manuskrip gelees en daar was nog baie skryfpotensiaal in Kannemeyer as outeur. (Trouens, dit was ’n baie snaakse vriendskap met John, want ons het in baie opsigte verskil, maar het nie oor verskille gesels nie, wel oor goed wat ons verbind het, literatuur dus, en albei was altyd inskiklik om ruimte vir die ander te gee.) Miskien was daar ’n ander katalisator wat my skeppende omgaan met Afrikaans bewerkstellig het – ook in daardie tyd, 2011 of 2012, was daar ’n klein, bykans nietige voorval wat my Afrikaans geaktiveer het. Ek onthou nog baie helder daardie oomblik: Ek stap met Milva, ons hond, ’n Alaskamalemoet, in die môreskemer aan die rand van die stad en ons kom uit by ’n klein meertjie. Dis stil, alles lê nog roerloos en eensklaps spring daar ’n klein vissie in die lug: die stilstaande, spieëlgladde wateroppervlak begin golf, en dit laat my oombliklik dink aan Van Wyk Louw se klippie wat “in die donker water plof” soos dit in die openingsgedig “Nog eenmaal wil ek...” in Nuwe Verse staan. Ek dink toe aan die gegolfde Poolse wolke in die hemel se weerkaatsing in die water en verbeel my die vis beland aan die ander kant van hierdie aardkluit, en dalk is dit daardie klippie uit die Sutherlandse dorpsdam wat die water hier laat golf, en terwyl ek aan Afrika dink, dink ek uit die bloute in Afrikaans en die formulerings kom spontaan op my af. En sien, daar was die gedig “die vis in die hemel” op daardie oomblik.
Met ander woorde dit was nie ’n besluit om in Afrikaans te skryf nie, dit het gebeur, dit het voorgekom, het my oorgekom. Die volgende verse het begin ontstaan. Ek sien dit nou as iets wat êrens verband hou met my groeiende belangstelling in Afrikaans. Trouens, die eerste pogings om my verse aan die sprekers van Afrikaans voor te lê, was ontmoedigend. Ek glo mense sien my veral in my hoedanigheid van buitelandse akademikus en kyk daarom na my taalmaaksels as iets vreemds, asof daar een variant van Afrikaans was en een kanonieke woordkeuse of wat ook al. Hulle aanvaar dat die bruin digters uit die Kaapse Vlakte anders dig as die wit digters uit Stellenbosch, maar het probleme met my Afrikaans? Jerzy Kosiński, ’n Amerikaanse skrywer van Pools-Joodse afkoms, het op ’n keer vertel dat toe hy na die VSA geëmigreer het en ná enkele jare Engels begin skryf het, talle mense vir hom gesê het dis baie goeie stukke maar daar is duidelik die invloed van Pools in sy Engels merkbaar. Dit het hom nie mismoedig gemaak nie – hy het ’n fragment van ’n minder bekende werk van John Steinbeck oorgetik en as sy eie werk aan dieselfde mense voorgelê. Raai wat was die kommentaar? Hulle was steeds bekommerd oor die Poolse invloede op sy Engels.
............
“Ek is bewus van my posisie van gereelde besoeker aan Suid-Afrika, maar nie meer as net ’n besoeker nie. ’n Mens is op ’n manier binne-in, maar ook buite-uit. Jy sien goeters raak wat die sprekers van Afrikaans as moedertaal nie sien nie. En jy gaan verby aan wat vir hulle vanselfsprekend is.”
............
Hierdie bundel is gefinaliseer danksy my vriende wat my moed ingepraat het, sterk aansporing gegee het om dit klaar te maak en wat soos ek dink dat daar altyd “die Ander” was wat Afrikaans geskryf het – om maar met die Arabiese Afrikaans-tekste en die Nederlander CP Hoogenhout as voorbeelde te begin. Daar is ruimte vir almal in Afrikaans.
Slegs twee gedigte uit my bundel het Poolse weergawes, naamlik die eerste twee wat oor my familie gaan. Die een (“my pa as seun”) het jare gelede ontstaan en het eers later toe ek reeds met gedigte in Afrikaans besig was sy Afrikaanse vorm gekry. In die tweede, oor my ma (“swem in glas”), wat ek ongeveer drie jaar gelede ná haar dood gemaak het, het ek meer bewus die moontlikhede en onmoontlikhede ondersoek om tussen die twee tale te beweeg, om dieselfde inhoude in ’n ander taal uit te druk en my Poolse en Afrikaanse taalvermoëns te toets. En daar is – dit spreek vanself – verskille tussen die taalweergawes van beide gedigte want daardie Afrikaanse of Poolse tekste is op ’n manier nuutskeppings. Ek het daarmee die pad geloop van baie Afrikaanse digters wat besluit om hul eie werk in Engels oor te sit. En ons kyk mos na daardie verengelsings van Breytenbach of Krog nie as na vertalings nie, maar as (her)skeppende werk wat die status van oorspronklike gedigte geniet.
Leen verskillende tale sig tot verskillende maniere van dink en kyk vir jou? Indien wel, vertel asseblief jou ervaring hiervan. Het literêre vertaling ’n uitwerking op jou skryf van poësie?
Daar is teorieë wat sê dat die struktuur van tale ons denke bepaal. Die bewys sou wees nie net die empiriese ervaring van baie van ons nie, maar dit skuil ook in die beskouing dat sekere filosofiese vrae wat as eksistensiële kwessies voorgestel word, in wese terug te voer is tot talige probleme. Dink aan die Franse il y a waaroor Emmanuel Lévinas gereflekteer het (ek het daaroor geskryf in my Nederlandse boek Outsider onder de zijnen. Vormen van xenofanie in de Afrikaanse roman). “Daar is”, “er is”, “there is/are” is slegs gebrekkige pogings om die betekenis daarvan in ander tale weer te gee. Met ander woorde baie daarvan wat ons as filosofiese probleme diagnoseer, sit diep in die taal, selfs in die grammatika daarvan. Maar dis ook die gewone kwessies van omgang met taal wat vir ons bewyse lewer dat die spesifieke taal invloed het op ons denke en gedrag, byvoorbeeld watter uitdrukking van watter emosies is moontlik, word deur taal goed verwoord, word sosiaal aanvaar, watter een het reeds ’n bepaalde tradisie van uitdrukking, ensovoorts? Hoe is sekere terme belaai met betekenisse, watter historiese, politieke of religieuse assosiasie gaan met konkrete terme saam as hul onlosmaaklike skaduwee? As vertaler verken jy dit en ervaar jy dit intens. Ek het ook vertaalervaring met Breytenbach en Krog se werk. Die Engelse vertalings wat hulle van hul eie werk maak, verskil op ’n opmerklike manier van die oorspronklike Afrikaanse tekste. Die Engelse “weergawes” behoort die status van oorspronklike tekste te geniet omdat hulle deur die outeurs self gemaak is. Maar skielik praat hulle met ’n ander mond, die tong beweeg anders, die woordkeuse verskil, die ander taal snoer dig of maak los. Daar is reeds studies oor Breytenbach se gedigte in Afrikaans en Engels. En een van die algemene konklusies is dat hy meer na die abstrakte neig as hy Engels skryf, terwyl hy in Afrikaans meer konkreet, aards, sinnelik is. Ek kan dit beaam. Enkele jare gelede het daar ’n Poolse keur van sy gedigte verskyn waaraan enkele vertalers gewerk het – ek was die enigste wat uit Afrikaans vertaal het, die res het uit Breytenbach se Engels vertaal. Lesers en kritici het gesê my vertalings is anders, is beter, en toe Breyten die Herbertprys kry, het die uitgewer vir my gevra om ’n omvangryker bundel met vertalings uit Afrikaans saam te stel. Ek hou van vertaalwerk omdat vertalers die beste lesers moet wees, ontleders, snydokters wat elke gedig analities te lyf of eintlik te woord gaan. Jy delf diep in die struktuur van die sinne en beelde, maar jy moet dit alles in die ander taal weer tot lewe wek. ’n Mens leer in daardie proses baie. Jy leer nuwe woorde, sien hoe die betekenisse rek, verander, vernuwe. Dis die wonderlikste werk. Maar tegelyk slurp die vertaling van literêre werke ook baie van jou energie en kreatiwiteit op.
Watter betekenisse in die titel is belangrike sleutels vir die bundel se tematiek en samehang?
Ek glo nie ek is die beste eksegeet van my eie werk nie. Indien ek my eie verse begryp (ook nie heeltemal nie) dan is dit vanuit die posisie van skryf en maak. Ek hoop daar is meer bekwame lesers, redakteurs en kritici, wat dit beter kan doen as ek. Kom ek sê vir jou dat Pleks van plaas eintlik my werkstitel was, maar dat die redakteur en die uitgewer dit baie goed gevind het. Op hierdie manier het die oorspronklike voorstel en tydelike oplossing die finale vorm geword.
In “pleks” – wat gewoon beteken “in plaas van...” of in konstruksies gebruik word soos “pleks dat hy gepraat het...” – eggo die woord “plek” met sy talryke betekenisse. Ek dink nie ons besef hoe ryk aan betekenisse hierdie doodgewone en alledaagse woord is nie. As jy in die woordeboeke naslaan, staan jy versteld. “Plek” beteken “punt”, “posisie”, maar ook “ruimte” en “ligging” of “situasie”. Dit kan verwys na “oord” of “gebou”, na “sit- of staanplek”. Ander betekenisse sluit nog in: “land of streek”, “kol of vlek”, verder: “rang”, “status” en “betrekking” of selfs “gedeelte” en “bladsy”. “Plaas” daarenteen beteken “boereplaas” met sy talle variante wat na die landbou verwys, soos vee- of wynplaas, of na die ligging, soos berg- of vlakteplaas, met of sonder geboue wat daarby hoort. “Plek(s)” en “plaas” val ook êrens saam. Hulle kan beskou word as ’n bykans-pleonasme en hulle kan in dieselfde posisies en betekenisse gebruik word, dink aan “in plaas van” en “pleks van” of in die geselstaal “pleks/plaas dat jy my help...”. Bowendien is daar die mooi alliterasie wat deur herhaling van die p-klank, die stemlose bilabiale eksplosief, ontstaan. Ek is nogal ontvanklik vir die klanke van Afrikaans. En dit was vir my die mooiste bonus dat Juanita Erasmus-Alt reeds twee van my gedigte getoonset het: “keertye (skietgebede)” en “aan die jordaan se oewer”.
Mense gaan vra watter “plaas” bedoel hy? Maar ek wil nie hê dit moet beperk bly tot die gedig “pleks van plaas” wat eintlik ’n bietjie toevallig die titelgedig geword het nie. Plaas – die bewerk van grond, digby die natuur – is basies vir die mens. Deur die besoedeling van die lug en die faal van die omgewingspolitiek besef ons dit nog sterker en pynliker. Een van die Suid-Afrikaanse akademici het, toe ek vir hom vertel oor my vakansie op my ouma en later my oom se plaas, vir my gesê nou verstaan hy hoekom ek in my artikels met begrip en aanvoeling oor die plaasroman skryf. Hy het verwys na my bydraes oor Karel Schoeman en Jochem van Bruggen. Maar die plaaslewe was nie net in Suid-Afrika die mees verspreide bestaansvorm nie. Daar is die bekende uitlating van Van Wyk Louw wat in Rondom eie werk sê dat die dorps- en plaaslewe ryker aan ervaring kan wees vir ’n oplettende kind as dié van ’n wêreldstad. Ek is begenadig ek het daardie ervaring in my. Ek het vir jare op die plaas een volle maand van my vakansie deurgebring, altyd in Julie, die maand van die meeste werk en oes. Op die plaas was daar twee nefies en wanneer ek en my broer aankom, was daar dus vier seuns van omtrent dieselfde ouderdom wat saam die beeste en skape opgepas het. Later, toe ons ouer was, het ons ook hard gewerk, maar daar was ook pret en streke, visvang in die skemeroggend, kaalgat swem, hut bou, stories lees op die hooisolder as dit reën... en toe ons tieners geword het, ook danspartytjies op die dorp.
Ruimte is, dink ek, een van die vaste motiewe in my gedigte. Ruimte gaan saam met verplasings, jy deurbreek die grense van spasie, verskuif jou fokus, beleef ander landskappe. Om hier te wees maar terselfdertyd wens om daar te wees, gee aanleiding tot die ewige gehamletiseer maar ook tot die daad. Ek stap langs die Poolse see en dink aan die Weskus van Suid-Afrika. Ek reis dus in my verbeelding, breek die preken van ruimte en vandag ook van inperkings waarmee ons almal gekonfronteer word. Trouens, die see kom in hierdie bundel, soos iemand opgemerk het, bykans obsessief terug. Miskien juis omdat dit die grootste oop ruimte is? Jy staan op een van die rotse in Paternoster en dink “O, Jirre!” Jy kan op Paternoster moeilik anders dink! En as jy praat, moet jy eers Krog se gedig uitskree op daardie moerse rots...
Jou betrokkenheid by die Afrikaanse letterkunde en kennis daarvan is oor dekades uitgebou in onder meer reise, referate en publikasies. Watter invloede het Afrikaanse skrywers en hul werke op jou as leser al die jare en as digter?
Hulle het ’n besonderse plek ingeneem omdat die meeste van wat ek lees, direk of indirek, verband hou met my werk. En my werk bestaan grotendeels uit lees: Ek lees vir my klasse, vir my navorsing en tegelyk vir my wyer belangstellingsgebied, want as ondersoeker lees jy ook rondom jou onderwerp. Kom ek sê vir jou dat die skryf aan my geskiedenis van die Afrikaanse literatuur ’n soort selfopgelegde opdrag is. Al lesende verken ek nuwe literêre uitkykposte wat die Afrikaanse letterkunde bied. Dit gee vreugde en daar kom ook ’n literêr-historiese produk nog by! Belangrik was vir my om te sien hoe die skrywers op die landskappe reageer, op die sosiale omgewing, vroeër en nou, hoe party van hulle aan die werklikhede verbygaan, die ander weer daarby betrokke raak, en dat daardie lewensbetrokkenheid baie uiteenlopende vorme aanneem. Ek is lief vir die Twintigers omdat hulle die taal oopgemaak het vir moderne woorde, uit die ryke bron van tale wat hulle geken het (soos Nederlands, Engels en Duits) motiewe oorgeneem en toegeëien het wat nuut was in Afrikaans. Voordat die Dertigers daarmee begin het, het die ouer digters die ou Europese tradisies hul eie gemaak tot en met die Grieks-Latynse kultuur. Die Dertigers is vir my die ware woordkunstenaars wat op die skouers van die vorige geslag staan en nuwe hoogtes bereik. Vindingryk en verrassend kon hulle hul ervaring uitdruk sodat dit individueel en persoonlik bly maar tegelykertyd mededeelbaar en universeel is. Neem byvoorbeeld Elisabeth Eybers wat geskryf het soos die mans. Ek moet onmiddellik verduidelik: Die meeste manlike skrywers het toe – en baie van hulle doen dit ook vandag – geskryf asof hulle (in wese manlike) ervaring algemeen geldend was; hulle het die wêreld met hul maat gemeet en die persoonlike as algemene opgedis asof dit algemeen menslik was. Wat Eybers in Afrikaans gedoen het, was om te skryf op dieselfde manier, dis hoekom ek sê sy het geskryf soos die mans, dit wil sê sy het haar vroulike lewenservaring as vanselfsprekend en natuurlik aanvaar en aan die lesers gebied sonder om skaam te wees oor haar vrou-en-anders-wees, haar (vroulike) ervaring was vir haar haar eie maatstaf. Dis hoekom literatore dronkgeslaan was by die lees van haar eerste gedigte en digbundels. En ek sou op hierdie manier kon aangaan met my eie leeservarings...
............
“Daar is gedigte wat baie na aan my staan en vir my ’n sterk emosionele lading het. Ten spyte van die feit dat hulle danksy die bewerking van hul taalvorm en ook omdat hulle nou in druk verskyn en openbaar word die persoonlike in ’n groot mate geobjektiveer het. Ek weet byvoorbeeld hoe hulle ontstaan het of hoe ek daaraan geslyp het en kan daardie emosies gedeeltelik nog oproep.”
............
Maar om op die ander deel van jou vraag in te gaan, wonder ek watter plek die Afrikaanse literatuur in my en my lewe inneem. Ek vermoed dat as ek op ’n ander land en taal sou gefokus het, sou ek ’n soortgelyke ervaring gehad het. Ek is bewus van my posisie van gereelde besoeker aan Suid-Afrika, maar nie meer as net ’n besoeker nie. ’n Mens is op ’n manier binne-in, maar ook buite-uit. Jy sien goeters raak wat die sprekers van Afrikaans as moedertaal nie sien nie. En jy gaan verby aan wat vir hulle vanselfsprekend is. Jare gelede toe ek vir een van my Suid-Afrikaanse vriende herhaal het wat by een van die kongresse oor my gesê is, naamlik dat ek Afrikaans oorsee bemagtig, het sy vir my gesê: Ja-nee, dis baie waar, maar Afrikaans bemagtig jou ook! Ek neem dit graag oor: Afrikaans het my bemagtig. Laat dit die antwoord op jou vraag wees.
Wat aan die Poolse ervaring wat in jou gedigte neerslag vind, sien jy ge-eggo in die Afrikaanse leefwêreld? Wat aan die Suid-Afrikaanse belewenis prent vir jou iets van Pole in?
Ek vergelyk nie die twee wêrelddele en dus ook nie die leefwêrelde nie. Indien daar so iets in my gedigte ontstaan, dan is dit toevallig en spontaan. Ek het reeds vertel hoe “die vis in die hemel” opgewek is, of moet mens eintlik sê: oopgewek is! Om Afrikaanse verse te “prewel” terwyl ek aan die Poolse kus stap, is blote toeval of miskien die bewys hoe diep die belewing van Afrikaans in my sit as daar skielik juis woorde uit hierdie taal as eerste in my opkom. Natuurlik gaan ek gereeld met Afrikaans om omdat ek die Afrikaanse literatuur bestudeer, maar wat die verhouding van tale, plekke en werking in jou kop betref, is dit glo voer vir die neuroloë om te ondersoek hoekom die een taal na die oppervlak dryf terwyl jy omring is deur ’n ander. Omgekeerd gebeur dit selde. Wat wel plaasvind, is dat ek gewoonlik ná twee weke in Suid-Afrika in my Poolse e-posse of briewe foute begin maak. Die stemhebbende konsonante word stemloos: “b” word “p” of “d” word “t”. Snaaks. Dis soos die proses wat in Afrikaans plaasgevind het toe die Nederlandse “aardappel” “aartappel” geword het en talle ander woorde gewysig is.
Die bundel behels twee afdelings, naamlik “Rekenskap” en “Literatuurgeskiedenis”. Jy gee ook rekenskap van mense en invloede in die afdeling “Literatuurgeskiedenis” en in “Rekenskap” bring jy iets van ’n persoonlike verhaal en daarmee saam ’n eie, poëtiese geskiedenis tot stand. Jy knoop gesprekke met verskeie mense en/of hul werke aan in die gedigte. Wat beteken die gesprekke met skrywers en hul werk in die konteks van die bundel?
In Suid-Afrika sit ek altyd my literêre bril op. Dis een van die belangrike perspektiewe waaruit ek na die land kyk. Maar ek doen dit ook op ander plekke wat ek besoek, byvoorbeeld in die Lae Lande of op die Antille. In my bundel is daar een gedig wat ek aan Peter Blum opgedra het en wat ek in die besonders fraaie binnehoffie van die letterkundige museum in Sarajewo geskryf het. Hoekom Blum en hoekom Sarajewo? Ek weet nie, maar skielik het ek daar aan hom begin dink. Dalk omdat Blum van sy herkoms af en as spreker van verskillende tale tot ’n sekere mate ’n produk was van die verbeelde Mitteleuropa soos Claudio Magris, Triëstenaar soos Blum, die histories en talig komplekse gebied noem wat hom van Pole in die Noorde tot aan Noord-Italië en die Balkan in die Suide uitstrek. Maar ons hoef nie altyd rasionele redes vir ons assosiasies te soek nie? Tegelyk moet ek byvoeg dat literatuur vir my in die verlengde lê van die talige aspek wat met die sosiale saamgaan. Landskappe en historiese geboue is mooi, maar belangriker is mense en gesprekke met hulle, ook dialoog wat jy via die literêre werke met hulle aangaan. Dalk is ek glad nie bestand teen taal nie... Ek bly in alle omstandighede vatbaar vir woorde... Soos professionele fotograwe wat alles deur die lens van die kamera sien, selfs as hulle nie werk nie, bly ek ontvanklik vir taal, gevoelig vir woorde wat in my op onverwagte oomblikke begin opkom wanneer ek iets sien, hoor of voel – woorde van waarde vir daardie indruk.
Nou dat jy vir my dit vra, begin ek daaroor hardop na te dink en ontwikkel hierdie gedagtegang, maar in feite is dit slegs ’n onhandige rekonstruksie van wat in jou gebeur voordat jy iets in jou kop begin te formuleer. Dit vind altyd outomaties en spontaan plaas wanneer jou liggaam (want denke, voel en woorde opsê is ’n fisieke proses) op die wêreld reageer. En taal is ons belangrikste kommunikasiemiddel waaruit ook literatuur voortvloei. Beide, taal en literatuur, maak tegelyk ’n deel uit van daardie werklikheid wat jy in jou opneem. Op ’n manier gaan ek in die afdeling “Literatuurgeskiedenis” ’n gesprek aan met ’n aantal skrywers. Dit het spontaan begin ontstaan toe ek opgemerk het dat sekere motiewe uit die werk van ’n aantal Afrikaanse skrywers (soos Totius, Eybers of Breytenbach) in my eie ervarings resoneer. Jy sien iets, maak iets mee, vang indrukke op waarby partykeer net een woord ’n hele reeks beelde in jou loskarring en waaronder ook assosiasies tril met die beelde wat ander skrywers ooit opgeroep het. Kom, ek noem een konkrete geval: die gedig “uit water”. Om fiks te bly, probeer ek, naas joga-oefeninge, om gereeld die swembad te besoek. Op ’n dag toe ek daar ’n soort eenwording met die waterige element beleef (dis nog baie vroeg en daar is omtrent niemand nie, ek swem en in my kop is daar ’n soort vervoerband van beelde en denkbeelde), kom in my skielik die beeld op van die swembad wat agter die huis van Opperman deur sy vrou gebou is om hom ná sy alkoholisme en lewerversaking te rehabiliteer. Marié Opperman het in 1992, toe ek by haar aan huis in Stellenbosch was, ’n geweldige indruk op my gemaak: ’n vriendelike, hoogs beskaafde maar ook sterk vrou wat haar man weer op die been gebring het. En toe skryf hy sy sterkste digbundel! In daardie ingebeelde eenheid met die water as element het ek gedink hoe Dirk moes gevoel het tydens sy oefening daar in Marié se swembad. In die motor het ek die aantekeninge gemaak en terug by die huis het ek begin skryf.
Ek is ook, soos jy weet, bevriend met ’n aantal skrywers en dan op ’n natuurlike wyse vergesel hulle my in my lewe, ook al leef ons ver van mekaar, ook al gaan party van die vriendskappe kronkelpaaie. Die aanleiding tot ’n gedig kan die boodskap wees oor die onverwagte dood van John Kannemeyer of oor die bomaanslag wat in die omgewing van Joan Hambidge op een van haar reise plaasgevind het. Dan leef jy mee omdat jy die mense ken. Hierdie afdeling, “Literatuurgeskiedenis”, het ek oorspronklik nie beplan nie, maar dit het ontstaan namate ek die bundel begin saamstel. ’n Digbundel bestaan uit ’n reeks gedigte wat – dit spreek vanself – hul eie bestaansreg het, maar hoef vir my nie ’n losse versameling willekeurige tekste daar te stel nie, maar moet ook ’n entiteit van ’n ander orde wees. By die saamstel van die Poolse bundel met my vertalings van Antjie Krog se gedigte het ons twee in Skype-gespreksessies ooreengekom oor die keuse en toe die chronologiese orde van die gedigte omvergegooi om ’n nuwe eenheid te skep. Vir die lesers is dit dalk interessant om te weet, want hulle is vry om lukraak te lees, maar ook om die digbundel as een werk deur te gaan. Hierdie gekonstrueerde eenheid geld ook vir Pleks van plaas.
Benewens bekende ruimtes wat in van die verse genoem word, is daar ook die liminale – iemand op ’n strand in die branding tussen land en see, die geskiedenis gestol in ’n foto en daarmee saam kom afstand in tyd en ruimte. Vertel asseblief meer hieroor, oor die gewaarwording van sowel afstande as verbintenisse in die gedigte. Ook ten opsigte van die ervaring van Afrikaans as ’n Poolse moedertaalspreker.
Ek weet nie wat ek hier nog kan vertel nie. Soos jy gesê het, so staan dit in my bundel... Maar dit het ook vir my duideliker geword ná die lees van die soveelste drukproewe dat oorgange tussen ruimtes en tye, my bewegings tussen beelde en verbeeldings vir my persoonlik ’n uitdaging is, en altyd was; dis nie net die ervaring van verplasings nie, dis iets waarmee ek in die reine wil kom. Byvoorbeeld die rede hoekom daar ’n groot porsie seegedigte is, is nie net dat ek vriende op Paternoster het en lief is vir daardie wêreld vanaf die eerste aankoms aan die Weskus nie. Daar is niks so dramaties soos die samekoms van die elemente, van land en water, berge en oseaan, die kus met sy rots en die see met sy skuim nie. Dit is sigbare ruimtes. Maar daar is nog ander ooptes, want daar is immers nog ander vergesigte, anderkant die berge en anderkant die oppervlak van die see. En so gaan jy aan, met jou verkenning van die lewe, met jou dink- en skryfwerk. Tussen tale en in een taal is daar ook ruimtes. Afrikaans is kompak en beskik oor ’n seggingskrag wat ek moeilik met ander tale kan vergelyk. Die taal het baie variëteite en ek geniet elke variëteit in wat ek lees of wat ek in die land self hoor. Ek trap in Afrikaans my paadjies en praat ook “my” Afrikaans, skep my eie uitdrukkingsmoontlikhede in hierdie taal. Soos jy tereg opmerk, is ek ’n moedertaalspreker van Pools; Afrikaans is dus vir my ’n baie spesiale geleentheid. Pools is ’n Slawiese taal. Ons werk minder met die posisie van woorde in die sin, maar meer met woorduitgange wat draers is van inligting. Die substantiewe het byvoorbeeld sewe naamvalle. En jy moet ook weet tot watter verbuigingsklas die konkrete woord behoort (manlik-besiel-persoonlik; manlik-besiel-dierlik; manlik-onbesiel; vroulik-konkreet en/of vroulik-besiel; onsydig). Neem as voorbeeld die woord “wiersz” (“gedig”/“vers”) – dis manlik en neem in die sewe naamvalle die volgende vorme aan: nominativus – “wiersz”, genitivus – “wiersza”, dativus – “wierszowi”, accusativus – “wiersz”, locativus – “wierszem”, instrumentalis – “wierszu” en vocativus – “wierszu”. Ek bespaar jou die werkwoorde... Nou verstaan jy dat die oorgang na Afrikaans vir my is soos ’n mens die Klein-Karoo deur die Meiringspoort verlaat en op die oop vlakte van die Groot-Karoo beland – die lug is anders, die plantegroei, die vergesigte, omtrent alles wat jy sien, is anders. Jy moet leer om anders te kyk, ander goed raak te sien, anders te stap, maar ook daar is die gebod: stadig oor die klippertjies!
Watter versreëls of frasering kan as motto dien of vat iets essensieels van die bundel se tematiek vas, en waarom?
Dis die moeilikste vraag vir my ... Om eerlik te wees dis onmoontlik om te besluit. Weet jy hoekom? Daar is gedigte wat baie na aan my staan en vir my ’n sterk emosionele lading het. Ten spyte van die feit dat hulle danksy die bewerking van hul taalvorm en ook omdat hulle nou in druk verskyn en openbaar word die persoonlike in ’n groot mate geobjektiveer het. Ek weet byvoorbeeld hoe hulle ontstaan het of hoe ek daaraan geslyp het en kan daardie emosies gedeeltelik nog oproep. En daar is natuurlik verse wat op verskillende afstande van my staan, in tyd maar ook in ruimte omdat ek nou verskillende perspektiewe op afsonderlike tekste verkry het. Nee wat, ek laat die antwoord op jou vraag graag aan ander mense, kritici en lesers oor. Wat waar is, is dat die bundel uit twee duidelik afgebakende dele bestaan. In die eerste gee ek “Rekenskap” van my ervarings wat dikwels met konkrete leefmomente verband hou en van my nadenke oor mense en plekke wat spore in my nagelaat het. In die tweede afdeling skryf ek my persoonlike “Literatuurgeskiedenis” waarin ook plekke en passies, gemoedstoestande en gevoelens na vore kom, maar waar my assosiasies verband hou met skrywers en hul werke. Ten spyte van die verskille is my benadering grosso modo in die twee afdelings eenders.
Die bundel is tans as e-boek beskikbaar. Beoog jy bekendstellings van ’n papierboek in ’n latere stadium? Waaraan werk jy tans?
Ja, Pleks van plaas is, dink ek, een van min Afrikaanse digbundels wat as e-boek hul première beleef het en op hierdie manier bekendgestel en beskikbaar gemaak is. Daar was oorspronklik planne om die boek einde Junie of begin Julie bekend te stel op die Vrystaat-literatuurfees wat deel is van die Kultuurfees in Bloemfontein. Selfs met die oog op daardie bekendstelling het Naledi, my uitgewer, die publikasie in April beplan, maar die pandemie het alles deurmekaar gemaak. Ek hoop my boek sal in die loop van dié Meimaand op papier verskyn en ek is seker dat bekendstellings van die digbundel gereël word by die een of ander geleentheid, of by meerdere geleenthede, sodra die toestand dit toelaat. Ek hoop ook ek kan draaie maak by enkele leesklubs buite die grootstede of akademiese sentra. Ek het groot waardering vir die moeite wat mense in hierdie kringe doen vir die leesbevordering.
Waaraan ek werk? Sjoe, aan talle dinge. Soos altyd is ek gelyktydig besig met verskillende goed. Ek werk nou baie intensief aan die aanlyn-klasse wat baie meer tyd en inspanning vra as die normale aanbiedingswyse; ek skryf ’n boek oor my familie aan my pa en aan my ma se kante en verdiep my in die persoonlike kronkelpaaie en in die Poolse geskiedenis; ek hoop ook dat die redakteurs en uitgewer in Suid-Afrika binnekort aan die lees van die Engelse weergawe van deel twee van my geskiedenis van die Afrikaanse literatuur begin; en ek het vir die volgende jaar my akademiese verlof beplan om aan te gaan met navorsing en skryf van die derde en laaste deel van daardie literatuurgeskiedenis.
Buro: MvH