Hoe is dit gesteld met Afrikaans in die buiteland? Waar word die taal en sy letterkunde by universiteite as vak aangebied?
Naomi Meyer en Menán van Heerden gesels met Jerzy Koch en Karen Kuhn van die Departement Nederlands en Suid-Afrikaans by die Adam Mickiewicz-universiteit in Poznań, Pole.
(Ander kollegas wat by Suid-Afrikaanse Studies betrokke is as ondersoekers en dosente, is Paweł Zajas en Małgorzata Drwal.)
Wat is jou agtergrond en hoe het jy betrokke geraak by die departement waar jy nou klas gee?
Jerzy Koch (JK): Dis vir my ’n snaakse vraag want ... ek het hierdie departement self opgerig! Dit het stadigaan begin sedert 1997 met opsionele proseminaries vir studente-Engels en is later uitgegroei tot die volwaardige departement.
Karen Kuhn (KK): MA in kreatiewe skryf aan die Universiteit Kaapstad voltooi.
Karen, hoe het jy in die buiteland begin Afrikaans doseer?
Ek het in 2012 te hore gekom van die departement hier in Poznań en aansoek gedoen.
Jerzy, waarom het jy betrokke begin raak by ’n Afrikaans-departement?
Ek moet die vraag ’n bietjie aanpas omdat ek, soos ek reeds gemeld het, die departement self opgerig het. My betrokkenheid by Afrikaans het in 1992 begin toe ek vir die eerste keer as neerlandikus ’n kongres van Suid-Afrika bygewoon het. Ek het ondersoek begin instel oor die Afrikaanse letterkunde en in die verloop van tyd drie boeke in Pools en een in Nederlands daaroor gepubliseer. Vir my was dit ’n natuurlike uitbreiding van my belangstellings. Die sfeer aan de Adam Mickiewicz-universiteit rondom nuwe inisiatiewe was en is nog steeds baie gunstig. Dis hoekom ek daar ook die tydskrif Werkwinkel opgerig het wie se ondertitel bykans soos die naam van die departement lui: “Tydskrif vir Nederlandse en Suid-Afrikaanse Studies”.
Jerzy, waar het jy Afrikaans geleer?
Ek het Afrikaans veral tuis geleer. Ek het na die bandjies begin luister uit die blindes se biblioteek, opnames met Afrikaanse literêre werke, en dit veral terwyl ek die klere vir die hele gesin gestryk het ... Dat ek sedert 2000 elke jaar na Suid-Afrika kom (2017 was daar ongelukkig ’n uitsondering op hierdie reël) het my ook baie gehelp. Dit was gewoonlik ’n kuier van 3–4 weke (tot een maand is daar geen visum nodig vir die EU-burgers nie). Ek het baie na my vriende geluister, met hulle gepraat en by hulle geleer. En lees ... dit veral!
In watter stad en land doseer jy tans of het jy al doseer?
JK: Ek het Afrikaans-klasse aan die Universiteit Wrocław gegee. Aan hierdie instelling was ek tot 2011 verbonde en daar het ek ook ’n departement vir die moderne Nederlandse literatuur en Afrikaans opgerig. Sedert 1997 werk ek aan die Adam Mickiewicz-universiteit, die derde beste universiteit in die land na Warskou en Karków.
KK: Op die oomblik in Poznań, Pole en voor dit in Kaapstad.
Wat is die interessantste kultuurverskil(le) tov studentekultuur, akademiese omgewing, ens, as jy die omgewing waar jy is met die Suid-Afrikaanse omgewing sou vergelyk?
JK: Pole is oor die algemeen eentalig en eenkultureel. Dit het na 1945 so geword as gevolg van die historiese en dramatiese prosesse. Ondanks die feit dat die wêreld nou oop staan vir die jongmense, is daar ’n sekere gereserveerdheid, maar tegelyk ook nuuskierigheid na die nuwe en na die ander. Dis uitdagend om hier te werk met Suid-Afrikaanse inhoude/onderwerpe wat op ’n natuurlike manier multi- is in alle opsigte. Die universiteit se taak is om jongmense tot denkende wesens te maak. En binne Suid-Afrikaanse geskiedenis, kulture en tale is daar wonderlike materiaal om dit te bereik. In my departement is daar Poolse, Suid-Afrikaanse, Engelse, Nederlandse en Vlaamse kollegas – vyf nasionaliteite onder 14 mense! Binne ons Fakulteit Engels is daar ook nog Amerikaners, Iere en Skotte.
KK: Ooreenstemmend met ’n Suid-Afrikaanse omgewing is ons departement ook multikultureel. Ek vind Poolse studente meer gereserveerd (nie as ’n negatiewe stereotipe nie) en weens heelwat kleiner getalle en 90-minuut-klasse is daar ook ruimte vir aktiwiteite buite lesingslokale, soos om uitstallings by te woon.
Wat is die vakinhoud / teoretiese benadering(s) en hoe pas jy inhoud aan vir buitelandse studente wie se eerste taal nie Afrikaans is nie?
JK: Die kurrikulum omvat die Engelse en Suid-Afrikaanse modules. In die tweede jaar is daar verskillende vakke waarby veral eie materiaal van die dosente gebruik word. Daar is min boeke en studieboeke uit die RSA of ander lande wat ons sonder aanpassings kan gebruik. Maar dit gee die dosente ook die kans om eie ervaring in die kursusse te verwerk.
KK: ’n Taalgids vir Engelssprekendes is in die verlede gebruik. Alle multimedia word vanaf die internet verkry. VivA (Virtuele Instituut vir Afrikaans) is ideaal vir veral kort kursusse wat nou in die weegskaal is.
Wat is sommige van die redes wat jy al by studente gehoor het hul motiveer het om in te skryf vir ’n Afrikaans-kursus by jou departement?
JK: Die redes verskil baie. Maar dis veral die nuuskierigheid na die eksotiese en belangstelling in die vreemde wat die studente motiveer. Partykeer wil hulle ook anders wees as die hoofstroomstudente, want as dit op jou diploma staan dat jy ook Suid-Afrikaanse Studies gedoen het, maak dit ’n verskil.
KK: Studente vind die kursus eksoties en stel belang in Afrikaans en/of Suid-Afrika, hetsy die belangstelling gekweek is deur ouers, reis, ’n liefde vir natuur en avontuur of soms ook Die Antwoord.
Waarop spits jy jou toe: basiese taalverwerwing, praktiese toepassings van Afrikaans (indien wel, op watter terreine) of die letterkunde?
KK/JK: Basiese taalverwerwing word aangebied van 1BA tot 3BA. Letterkunde en kulturele vakke word vanaf die tweede jaar aangebied.
Waarom word Afrikaans by die universiteit waarby jy betrokke is aangebied en word die vak Afrikaans aangebied as ’n Europese, Afrika- of ander soort (definieer, asb) taal?
JK: Afrikaans maak deel uit van die Suid-Afrikaanse module binne Engelse studies. Dit word deur my kollegas as ’n Afrika-taal gesien, maar daar is selde noodsaak om dit te definieer. Die beleid binne die Fakulteit Engels is al jare dat daar ook byvoorbeeld Keltiese of Nederlandse studies aangebied word, dws daar is ’n openheid en selfs Engels word as medium gesien en nie in eerste instansie as draer van Engelse of Amerikaanse identiteit nie.
Hoeveel voorgraadse en nagraadse (indien enige) studente skryf rofweg in vir die Afrikaans-kursusse wat aangebied word?
JK: Die reëls aan die universiteit het die afgelope tyd skerper geword en ons mag nie meer die kleiner groepe van sewe, agt mense aanneem nie; daar moet minimum 15 aanmeldings wees wat aan kwalitatiewe eise (matriekresultate) voldoen. Saam met die demografiese ontwikkeling en daling van die algehele aantalle studente is daar die laaste tyd probleme om ’n groep te vorm. Die Suid-Afrikaanse inhoude word op die oomblik dus binne die proseminaries vir angliste en neerlandici verwerk.
Word Afrikaans beskou as ’n algemeen-Suid-Afrikaanse (kulturele) uitvoerproduk, of in hoe ’n mate is die apartheidsbagasie wat dit aankleef, ’n versperring vir aanbieding van die vak by ’n buitelandse universiteit?
JK: Nie meer nie, sou ek sê, want die jonger geslag is al jare na apartheid en hier in dié land ná die val van kommunisme gebore. Dis jammer dat vir party van hulle ook die name van mense soos Mandela of De Klerk geen konkrete assosiasies opwek nie. Afrikaans word wel as deel van Suid-Afrika se erfenis gesien, maar ons moet as dosente inspeel op die baie leë plekke in die kennis rondom Suid-Afrika.
KK: Ek vind nie dat die bagasie van apartheid ’n versperring is nie. Studente hier toon ’n belangstelling in ander Europese tale met die Erasmus-uitruilprogramme veral binne die EU. Vind ook dat tale soos Mandaryn en Japannees al hoe meer belangstelling geniet.
Word nog ander Suid-Afrikaanse tale by die universiteit waar jy betrokke is aangebied? Tale soos Zoeloe of Xhosa of Sotho, byvoorbeeld?
JK: Nie meer nie, maar vroeër toe daar Suid-Afrikaanse dosente was wat soos Karien Brits die swart tale magtig was, is daardie elemente in die klasse verwerk.
Daar waar jy jou bevind: hoe lyk die toekoms van Afrikaans?
JK: Baie ongewis, altans in die huidige vorm. Uit ervaring weet ons dat die belangstellings kom en gaan en aan baie faktore onderhewig is. As die demografiese situasie verbeter, is daar kennis en kompetensies om verder aan te gaan met die aanbied van die klasse. Die baie ambisieuse aanpak (Suid-Afrikaanse Studies as ’n aparte kurrikulum binne studie Engels) moet daar dalk aangepas word. Die Suid-Afrikaanse inhoude word tans ook op ander wyse verwerk, soos in die proseminaries vir studente-Engels of in die klasse vir neerlandici.
KK: Geleenthede binne die beroepswêreld in Afrikaans is veral vir hierdie studente beperk. Daar word wel nog deur die jaar Afrikaanse werkswinkels aangebied en Afrikaans sal ook vir die volgende akademiese jaar, 2018/2019, as kortkursus vir deeltydse studente by ons Open University beskikbaar gestel word.
Lees ook op LitNet en Voertaal
Afrikaans in die buiteland: ’n onderhoud met Annelies Verdoolaege van die Universiteit Gent
Afrikaans in die buiteland: ’n onderhoud met Jacques Van Keymeulen van die Universiteit Gent
Afrikaans in die buiteland: ’n onderhoud met Eep Francken van die Universiteit Leiden
Buro: NMAfrikaans in die buiteland: ’n onderhoud met Rina Loader van die Universiteit Wenen, Oostenryk