Hoe is dit gesteld met Afrikaans in die buiteland? Waar word die taal en sy letterkunde by universiteite as vak aangebied?
Naomi Meyer en Menán van Heerden gesels met Rina Loader van die Universiteit Wenen, Oostenryk.
Wat is jou agtergrond en hoe het jy betrokke geraak by die Departement waar jy nou klas gee? Hoe het jy in die buiteland begin Afrikaans doseer?
Ek het jare lank ’n skool vir kommunikasie en kinderdrama in Pretoria bedryf voor ons in 1997 na Oostenryk verhuis het. My skool was bekend as die Ateljee dell’ Arte. My werk daar het my op hoogte gehou met taalontwikkeling en veral kinderlektuur. Ek het by die Neerlandici in Wenen betrokke geraak toe ek aangestel is om Suid-Afrikaanse landkunde te doseer en die studente aan Afrikaanse grammatika en letterkunde bekend te stel.
Vanaf Oktober 1998 is ek betrokke by die Nederlandse Afdeling wat staan onder die leiding van Herbert van Uffelen. Dit het op klein skaal op eksperimentele basis begin. My opdrag was aanvanklik om die studente te oriënteer oor die posisie van Afrikaans en die kulturele aspekte van Suid-Afrika in die algemeen. Ek kon dit aanpak soos ek wou. Ek het dit veel breër gedoen as wat die aanvanklike bedoeling was, omdat ek die studente wou leer om ten minste Afrikaans te kan lees aan die einde van die kursus. Nog later is die kursus uitgebrei van een semester per jaar na beide semesters en kon die temas meer uitgebreid aangesny word.
In watter stad en land doseer jy tans of het jy al doseer?
Tans doseer ek aan die Universiteit Wenen, Oostenryk en ek het ook al ’n kompakte kursus in Boedapest aangebied.
Wat is die interessantste kultuurverskil(le) tov studentekultuur, akademiese omgewing, ens, as jy die omgewing waar jy is met die Suid-Afrikaanse omgewing sou vergelyk?
Studente hier is baie gemaklik met taalstrukture en ek kan baie vinnig met hulle werk en kan ’n verbasende aantal temas in ’n beperkte tyd aanraak. Die universiteitslokale is ook dwarsdeur die stad versprei en nie net beperk tot ’n enkele kampus nie. Dit het natuurlik ook ’n uitwerking op die studentelewe. Die aantal studente in groot vakke (bv biologie) word soms gelyktydig in drie lokale aangebied met tegniese hulp. Verder is die hoofgebou van die Weense universiteit ook deurdrenk van meer as 600 jaar se geskiedenis en het die gradeplegtighede ’n heel spesiale atmosfeer.
Wat is die vakinhoud / teoretiese benadering(s) en hoe pas jy inhoud aan vir buitelandse studente wie se eerste taal nie Afrikaans is nie?
Algaande is die kursus uitgebou om ’n inleiding tot die taalgeskiedenis, historiese ontwikkeling, volkere en wetenswaardighede van Suid-Afrika in te sluit met klem op basiese taalverwerwing, Afrikaanse literatuur en kulturele aspekte wat in ’n diverse samelewing waarneembaar is.
Op die oomblik het die kursus ontwikkel tot ’n vak wat vasgeskryf is in die amptelike leerplan van die Neerlandici en deel uitmaak van die BA in Nederlands. Weliswaar is dit nog net ’n keusevak wat met kursusse soos Besigheids-Nederlands en Vertaling in Nederlands moet meeding, maar dit kan nou nie sommer net by die deur uitgevee word nie. Ek sou baie stof opskop voor dit gebeur.
Die onderrigsituasie kan soms baie gekompliseerd wees, aangesien nie alle studente Oostenrykers is nie, maar hulle byvoorbeeld uit Pole, Hongarye, Oesbekistan, Italië, Luxemburg, ens slegs vir ’n semester by die Weense Universiteit aanmeld op basis van verskillende uitruilprogramme. Die kennis van Nederlands, Engels en Duits is dus op baie verskillende vlakke en dan leer ek boonop vir hulle Afrikaans. Ek vertaal gewoonlik my verduidelikings waar nodig in die taal wat die meeste studente die beste verstaan en verskaf werkboeke wat, waar nodig, in Engels geskryf is. Ek gebruik ook PowerPoint om te verseker dat almal my kan volg.
Wat is sommige van die redes wat jy al by studente gehoor het hul motiveer het om in te skryf vir ’n Afrikaans-kursus by jou departement?
Dit is hoofsaaklik studente wat ’n Nederlandse studierigting volg en belangstel in tale, letterkunde en vertaalwerk. Die Europese student het oor die algemeen hoë belangstelling in taalstudies. Hulle is meestal verskeie tale magtig naas hulle moedertaal. Vir sommige studente is Afrikaans al ’n vierde of vyfde taal.
Afrikaans se “ongehoord vinnige ontstaansgeskiedenis” en gepaardgaande taalkundige verskynsels bied verder ’n interessante studieterrein. In vergelykende taalstudies is die taal en letterkunde van Afrikaans, as een van die jonger Germaanse tale, ’n punt van belangstelling. Sedert 1925 is Afrikaans die derde jongste erkende Germaanse taal. Die twee jonger tale is Faroërs (’n Wes-Skandinawiese taal) wat in 1948 erken is en Luxemburgs wat in 1984 amptelike status verkry het.
Sommige studente doen dit bloot uit belangstelling in wêreldgeskiedenis. Dan is daar studente wat ekonomie of politieke wetenskappe of Afrika-studies studeer en hulle kulturele kennis van Suid-Afrika wil verbreed.
Sommige is oud-Suid-Afrikaners wat hulle taal mis en meemaak. Ander beplan om die land te besoek. Daar was ook al studente wat ’n Afrikaanse man of vrou aan haak geslaan het en beter met hulle skoonfamilie wil kommunikeer.
Waarop spits jy jou toe: basiese taalverwerwing, praktiese toepassings van Afrikaans (indien wel, op watter terreine) of die letterkunde?
Ek gee ’n globale oorsig oor die posisie van Afrikaans in Suid-Afrika en streef daarna dat die studente in ’n baie beperkte tyd ’n basiese vaardigheid in Afrikaans ontwikkel sodat hulle hulleself verder kan help met lees en skryf. Letterkunde is ook slegs oriënterend van aard met bekendstelling aan enkele tekste en films.
Waarom word Afrikaans by die universiteit waarby jy betrokke is aangebied, en word dit aangebied as ’n Europese, Afrika- of ander soort (spesifiseer asseblief) taal?
Vanaf Januarie 2005 maak die Afdeling vir Neerlandistiek deel uit van die Instituut vir Europese en Vergelykende Taal en Literatuurstudie (EVSL) waar Deens, Esties, Fins, Letties, Litaus, Sweeds en dan ook Nederlands ’n rol speel. Taal en letterkunde is dus twee kante van dieselfde muntstuk in die beplanning van die leerplan. Ek bied Afrikaans aan as ’n erfenis uit Europa, Asië en Afrika.
Hoeveel voorgraadse en nagraadse (indien enige) studente skryf rofweg in vir die Afrikaans-kursusse wat aangebied word?
Afrikaans word slegs op voorgraadse vlak in Wenen aangebied. In Oos-Europa het Afrikaans nie dieselfde hupstoot as byvoorbeeld in Wes-Europa (veral in Nederland en België) nie. Afrikaans is nie ’n sustertaal van Duits nie, maar wel van Nederlands.
Word Afrikaans beskou as ’n algemeen-Suid-Afrikaanse (kulturele) uitvoerproduk, of in watter mate is die apartheidsbagasie wat dit aankleef, ’n versperring ten einde die vak by ’n buitelandse universiteit aan te bied?
Die feit dat Afrikaans ’n Germaanse taal in Afrika is, speel ’n belangrike rol. Apartheidsaspekte is eerder ’n interessantheidsaspek as wat dit ’n versperring daarstel. Laasgenoemde het ek binne die universiteit by slegs een professor raakgeloop. Oor die algemeen word besef dat mens ’n taal en ’n politieke ideologie nie aan mekaar gelyk kan stel nie. Menslike foute kan nie op ’n taal se rekening geplaas word nie.
Word nog ander Suid-Afrikaanse tale by die universiteit waar jy betrokke is aangebied? Tale soos Zulu of Xhosa of Sotho, byvoorbeeld?
Nee, slegs Afrikaans. Engels word uiteraard ook doseer. Slegs Swahili speel by die Departement van Afrikanistiek ’n rol, ’n taal wat nie in Suid-Afrika belangrik is nie.
Daar waar jy jou bevind: hoe lyk die toekoms van Afrikaans?
Finansiële druk op universiteit maak die toekoms onseker. Daar is niemand om my op te volg en die werk voort te sit nie, want dit is nie ’n permanente en winsgewende aanstelling nie. Oor die toekoms van Afrikaans hier is ek eerder positief optimisties as negatief ingestel en probeer die beste maak van geleenthede soos dit opduik. My situasie is baie soos wat Jeremia aan die Jode in ballingskap geskryf het: bid vir die land waarin julle woon, want julle gaan nog lank daar wees. Julle is afhanklik van goeie samewerking. Maar vergeet nie julle wortels nie.
Lees ook
Afrikaans in die buiteland: ’n onderhoud met Annelies Verdoolaege van die Universiteit Gent
Afrikaans in die buiteland: ’n onderhoud met Eep Francken van die Universiteit Leiden
Buro: NMAfrikaans in die buiteland: ’n onderhoud met Jacques Van Keymeulen van die Universiteit Gent