- God praat Afrikaans is op 27 en 30 Junie 2018 by die Kunstekaap teater in Kaapstad opgevoer.
Dis enkele minute voor die produksie God praat Afrikaans in die Kunstekaap teater in Kaapstad gaan begin en lede van die geselskap skarrel nog oor die verhoog. Die verhoog is ’n miernes van beweging. Dit wil voorkom asof een of ander deel van die stel nog opgeslaan moet word. Midde-in die gekap en getimmer kom Simon Witbooi, oftewel HemelBesem, op die verhoog gestap en kom staan op ’n podium voor op die verhoog. Hy is geklee in ’n pak. Sy skoene word vasgespyker aan die podium waarop hy staan.
“My stories is presies wat dit is… myne,” begin hy praat.
HemelBesem, Afrikaanse rymkletser, digter, skrywer, aktivis en “edutainer” is bekend daarvoor dat hy grense afbreek. Sy kop in die wolke en sy voete stewig op die aarde. Dís waar sy verhoognaam vandaan kom, het hy al vertel. Vanaand nooi hy die gehoor om saam te stap op sy lewenspad.
“Wat ek hier wil vertel is my storie soos dit uit my geheuebank kom. So, kom staan saam met my by my ATM. Alles wat tyd met my maak.”
God praat Afrikaans is die produksie gebaseer op HemelBesem se outobiografie met dieselfde titel. Saam met hom op die verhoog is Raj Mohan (’n Hindustani Suriname sanger en musikant van Nederland), Die Hooflig, Whaden Johannes, Rayelle Goodman (viool), DJ J-EXF en Oxijin (hy was deel van die crew en het by geleentheid kom rap).
Die gekap op die verhoog het steeds nie opgehou nie en ’n mens begin besef dat dit opsetlik is. Dit lyk asof een of ander konstruksie gebou word. ’n Ander lid van die geselskap het intussen op die verhoog gekom en “GOD” op ’n swartbord gespuitverf. Daar is twee stellasies aan weerskante van die halfgeboude konstruksie, met ’n lid van die geselskap op elke stellasie en die ander twee lede van die geselskap aan weerskante van HemelBesem.
Skaamteloos kletsrym HemelBesem in Afrikaans. Sy kletsrym-lirieke bestaan uit staaltjies oor sy grootwordjare. Terugblikke op sy verlede wat soms snaaks en pittig is, maar ook hartseer en op die man af. Hy het dit nie aldag maklik gehad nie en gesels reguit oor die dinge wat hom gevorm het, die sake wat hom na aan die hart lê. Sy ouers is geskei toe hy nog jonk was en hy het tussen hulle geswerf. Hy het arm grootgeword in die omliggende gebiede van Kaapstad. Ná matriek is hy Worcester toe waar hy vir ’n ruk pastoor was voordat hy besluit het om terug te keer na Kaapstad.
Dit is duidelik dat die produksie tot in die fynste detail beplan is en elke handeling wat op die verhoog plaasvind met ’n doel gebeur. Niks is sommer net vir die snaaksigheid nie. Wanneer HemelBesem kletsrym kan ’n mens hoor dis met passie. Sy lirieke lewer meestal kommentaar oor maatskaplike kwessies, maar poog ook om motiverend te wees. Hy wil hê mense wat uit dieselfde omstandighede as hy kom, moet met dele van sy lewensverhaal kan vereenselwig en iets daaruit leer. Daar is geen heilige koeie nie. HemelBesem draai nie doekies om nie. Sy lirieke is treffend en slaan ’n mens soos ’n vuishou in die maag. Niks aan hom of sy lirieke is pretensieus nie. Die woorde is rou, eerlik en opreg. Hy kom weerloos voor en die woorde kom uit sy hart. ’n Mens kan die emosie in sy stem hoor. Sy kragtige lirieke sink by ’n mens in. ’n Mens raak werklik meegevoer.
Een van sy kletsrym-liedere wat uitstaan is dié oor sy pa, Simon Witbooi Senior. Hy vertel hoeveel respek hy vir sy pa het omdat hy weet dat sy pa altyd net sy beste probeer het. Telkens herhaal HemelBesem in die lied: “Simon Witbooi Senior. Daai’s my hero!” ’n Ander treffende lied is die lied oor sy mantra. “Ek worry nie, ek wonder nie, ek weet ek kan.” Soos ’n kreet herhaal hy hierdie woorde oor en oor. Een ding is verseker, sy lirieke maak ’n geweldige impak op ’n mens.
Oor Afrikaans en godsdiens voel hy passievol. Dít het hom immers gevorm. Hy dink, skryf, praat en doen in Afrikaans. Hy vertel ’n dominee het destyds op Worcester vir hom gesê “die taal waarin jy bid, en die taal waarin jy vloek, is die taal van jou hart.”
Hy omarm sy menswees in Afrikaans en vertel sonder om te blik of te bloos sy storie uit die perspektief van waar hy vandaan kom. Hy praat vir mense soos hy, mense wat anders praat as die “een soort Afrikaans in die hoofstroom-media”. Hy lê klem op die feit dat hy in Afrikaans grootgeword het en dat dit nie gestandaardiseerde of sogenaamde “korrekte” Afrikaans was nie, en dat dit nie saak maak nie.
Die gehoor word herinner aan Afrikaans se kulturele bande met Nederlands, en Afrikaans se oorsprong uit Nederlands, maar ook dat Afrikaans ’n taal uit eie reg is. Afrikaans is ’n taal vir almal wat hom praat. ’n Taal van vele fasette. Hy herinner die gehoor daaraan dat Afrikaans eens op ’n tyd ’n “kombuistaal” was. HemelBesem wil die idee afbreek dat Afrikaans net vir die Afrikaner is, dat dit ’n taal net vir wit mense is. Afrikaans is ’n taal vir bruinmense ook. Dit is ’n taal van verskillende dialekte en nie net dié van standaard Afrikaans nie. Afrikaans is ’n taal vir almal wat dit praat.
Hy maan die gehoor om trots op hul herkoms in Afrikaans te wees en te bou aan die taal. Die boodskap wat hy wil oordra is dat Afrikaans deel is van wie hy (en soveel ander mense) is en dat die Here met hom in sy taal praat. God is nie hierdie hoogdrawende entiteit is nie. Jy kan jouself met God vereenselwig. God is meertalig eerder as eentalig. God praat in Afrikaans vir die Afrikaanse mense en in Engels vir die Engelse mense.
Soos die produksie einde se kant toe staan, is die woorde “PRAAT” “AFRIKAANS” ook intussen onder “GOD” gespuitverf op die swartbord sodat daar “GOD PRAAT AFRIKAANS” staan. Dit is immers HemelBesem se algehele boodskap: God praat Afrikaans.
Ten einde wys hy na die halfgeboude konstruksie van vroeër, agter hom op die verhoog. Daar is deur die loop van die produksie aan die konstruksie gebou en dit is nou ’n voltooide houthuisie, kompleet met ’n dak, deur en ’n venstertjie. Dit herinner aan ’n Wendy-huis. HemelBesem wys daarna en sê dat dít die tipe huis is waarin hy grootgeword het. Van so ’n “hok” kom hy vandaan.
Hy trek sy skoene uit, wat steeds vasgespyker is aan die platform. ’n Mens kan nie bepaal waar jy vandaan kom nie. Jy is wie jy is. Jy kan nie bepaal wat tyd met jou maak nie. Hy nooi die gehoor om in sy skoene te kom staan. Illustreer so die klassieke gesegde dat jy nie iemand moet veroordeel voordat jy nie in hulle skoene gestaan het nie. ’n Kragtige einde vir ’n kragtige toneelstuk.
Foto's: Izak de Vries
- Lees ook op Voertaal en LitNet
HemelBesem: rymkletser en Afrikaanse brugbouer
HemelBesem: “Ek glo dat die taal steeds besig is om te groei”
LitNet Eerste slukkie: God praat Afrikaans deur HemelBesem
Lekker Afrikaanse woordeskat: kanalla, poenankies, nxa!
Afrikaans: the language of dissent
- Lees meer oor Nederlandse rymkletsers Typhoon en Fresku
Muchu gustu: ''Als ik mijn lach niet had''. Oor die Nederlandse rapper Typhoon
Buro: MvH