HemelBesem: rymkletser en Afrikaanse brugbouer

  • 0

HemelBesem (Simon Witbooi) (Foto: Izak de Vries)

Dit wil voorkom asof dit messel-en-troffel, breek-en-bou in HemelBesem se “workshop” gaan waar hy daagliks sy kreatiwiteit slyp. Jy sal ook ’n getimmer hoor, maar dit is wanneer hy sy idees aan mekaar las ‒ hetsy in ’n song, ’n boek, ’n praatjie, teaterproduksie of ’n koerantartikel. Die geslyp en die kap en messel het te doene met die tematiek waarvoor hy homself beywer. Luister jy na sy songs, hoor jy herhaaldelik dat dinge nie heeltemal pluis is in Suid-Afrika nie. Meer tot die punt: Alles in Mzanzi is maar eintlik aan skerwe, maar as jy kans sien om jou moue op te rol en self ’n kruiwa vol sement te maak, sal iemand heel moontlik iek-iek agter jou aankom met nog ’n vrag pappery.

Dit is met hierdie dualiteit van breek en opbou waar HemelBesem se impak lê. Met die talle toekennings vir sy werk oa Kunste Onbeperk Kruispunt-Toekenning 2016 (vir brugbouwerk in Afrikaans), Kanna 2016 (vir Die Afrikaansvatter: Beste Musiekproduksie: eie teks en regie), belig hy die belangrikheid daarvan om “suiwer” Afrikaans aarde toe te bring en ’n paar voetsoolmerke oor sy pak klere te maak. Allermins op ’n negatiewe manier. “Ek hou nie eintlik van die term ‘Kaaps’ nie. Sodra jy dit as iets aparts beskou, raak dit sub-gekategoriseerd. In my kop is die taal Afrikaans net nog nie inklusief nie. Eers nou begin dit die ander streektale insluit: die Namakwalandse aanslag, Kaapse aanslag, Port Elizabeth, Die Baai, Noordwes en Namibië. Die taal is nog jonk, so hy groei nog.”

Foto: Izak de Vries

Met nege albums op sy kerfstok en ’n onlangse boek, God praat Afrikaans, krap hy deeglik waar dit jeuk in ’n tipe mengelmoes-poësie. Soms val die betekenis onmiddelik in jou skoot en ander kere moet jy deur die gate in die wolke loer en hoop om die son te sien:

Ek rap in my moedertong.
Dit beteken my moeder is stom,
op soek na huistaal,
dis in koebystaal in vermom.

(God Praat Afrikaans, 2017)

en:

Ja dis myne ook,
almal se klank, almal se wêreld.
Solank jy net verstaan toe ek praat wat ek gesê het.
Ek love alle Afrikaans as dit met art kan jam.
Van ’n puris tot die dude wat dit met Tshwana meng!

(God praat Afrikaans, 2017)

Sommige Afrikaanse taalpuriste sal verleë toegee dat hul taal ook ’n “koebystaal” was. Ironies genoeg, verklaar hy dat daar ’n groeiende belangstelling in sy werk, en kletsrym oor die algemeen, is (verwysend na sommige taalpuriste se opvatting oor hip-hop/rap). “Ons het die ability om te help groei deur nuwe sê-goed. Nuwe woorde en metafore. Dit maak die taal exciting. Baie ander lande het nie dit nie ... hier is die taal vrugbaar.”

Inderdaad:

In hierdie wille game is vullistuine
HemelBesem maak dit skoon
So raak gewoond, hier kiep-kiep daar kiep-kiep
Hier is ’n klomp vullise in Eden

(HemelBesem – Vullistuine)

Vrugbaar-genoeg om brandende “vullise” in Suid-Afrika te takel. Die generasie voor die Born Free-generasie (waarvan HemelBesem deel is) het nog skrapnel onder hulle vel weens die apartheid-sondes. Net wanneer dit lyk of dinge stabiel is in die bevoorregte establishment, ruk iemand ’n baksteen uit die Facebook-muur (Penny Sparrow, Vicky Momberg ens) in die vorm van rassistiese opmerkings.

Hierdie tipe denke staan loodreg teenoor die versoenende boodskap in HemelBesem se werk. In “Hulle lag jou uit” steun hy sterk op sy geloofsoortuigings en bied geen raad vir sulke situasies nie. Hy beaam bloot dat die tong ’n sweep is wat beide kan klap vir die begin van positiewe vooruitgang, óf bloedlyne kloof oor ’n onbewaakte rug: 

Ek is nie ’n slang nie maar ek kan pik met my tong.
Jou lines sny deur sy sy met syne wat bloei
Myne is sy bloed wat verby jou rymlyne vloei
Joune brand uit maar vuur laat myne gloei

(HemelBesem – Hulle lag jou uit)

Maar iewers in die donker brand daar wel ’n lig – hoe gebroke dit ookal mag wees:

Dis asof iemand die son stukkend geslaan het met ’n knal
en die ligstukkies wat ooral op die aarde val.

(HemelBesem – Kêrels by Candlelight ft. Jaco van Bittereinder)

Al is HemelBesem ’n man van baie woorde, knal daar heelparty tatoe's op sy liggaam wat stilweg die ligstukkies weerkaats waarmee hy hoop skep. Op sy linkerarm pryk die woord “Silence” met die “e” se onderste krul wat tot in die palm van sy hand hand loop waarmee hy die mikrofoon vashou. Stilte bied ruimte tot denke, verklaar hy. Hierdie leitmotief wat so gereeld uit sy pen vloei, het hy onlangs op sy Twitterblad bevestig: “As jy OOR wil begin moet sy soms met ’n OOR begin.”

Op een van sy arms is daar ook ’n portret-styl tatoe van Hendrik Witbooi (die 19de eeuse Nama-leier). Saam met hierdie skepping, staan die volgende woorde: “Khaob !Nanseb /Gabemab”. Losweg vertaal in Engels: “The captain that disappears in the grass” (because of his skill to not be caught during fights)[1]. En Suid-Afrikaners ken van baklei met die verkeerde wapens, naamlik laertrek in kleur- of rasverwantskap wanneer die gemoedere hoog begin loop. In 2015 span hy kragte saam met Steve Hofmeyer in die lied “Pampoen”. Hofmeyer was al sedertien verskeie kere in die sop oor uitlatings in die sosiale media wat HemelBesem se rhymes in hierdie musiekstuk weerspreek. 

Tog spreek dit van ’n gewilligheid (hopelik van beide kante af) om ten minste tot ’n punt van bevorderlike gesprek te kom: 

Want ons mis mekaar
Dis ’n misgissing wat ons tot mis verklaar
Is dit te laat? Nooit. Kom ons doen dit voor dit mistig raak
Hey, bruin of wit gelaat
Die koor se metafoor van ’n gistersaak 

(Steve Hofmeyer – Pampoen ft. HemelBesem).

Benewens sy talle musiekprojekte het hy onlangs sy memoirs neergepen in sy eerste boek, God praat Afrikaans. Met díe boek wil hy mense aanraai om hul “vooroordele” versigtig en oordeelkundig te gebruik deur eers verwelkomend te wees eerder as om mense by die deur van jou wese instinktief weg te wys. Sy gunstelingwoord, sê hy ook in sy boek, is “Aweh!” Dit kan gebruik word om iemand te groet of te bevestig dat jy iets verstaan wat iemand sê. Die klank “Aweh!” is amper ’n heilige ding vir hom. Dit klink soos YHWH ‒ die naam van God wat nie eintlik uitgespreek moet word nie. Dit moet bly by die letters op die bladsy, ’n teken van hoe heilig dit is. Dit is ook nie werklik woorde nie maar “ ... inasem, uitasem, inasem en dan weer uitasem. Die geluide van daai asemhaling klink dan iets soos ‘Yod Hey Vah Hey’.” 

HemelBesem is sonder twyfel met die pen in die hand gebore. Met sy lirieke, talle artikels, verhoogproduksies en onlangse boek, raak hy komplekse sosio-politieke kwessies in sy woordspeling aan wat baie fyn taalskills verg. Maar dit is tussen die lyne, verby die naatlose vervlegging van Afrikaans en Engels, waar sy boodskap tot sy volle reg kom. Hy bied ’n uitnodiging om saam te marsjeer in die rigting van die sonsopkoms. Maak jou ore oop as jy saam wil gaan. Trek jou moue op en sink jou arms diep in die sement om Suid-Afrika weer op te bou ‒ net sodat ons almal weer kan asemhaal.

[1]  https://csa.global/thewire/hemelbesem-is-aweh/


  • Kyk hier na ’n video van HemelBesem by die Afrikaanse Kultuurfees Amsterdam 2016


  • Lees meer oor Nederlandse rymkletsers Typhoon en Fresku

Muchu gustu: ''Als ik mijn lach niet had''. Oor die Nederlandse rapper Typhoon

Muchu gustu: And that’s a rap. Oor Fresku


  • Lees meer op Voertaal en LitNet oor HemelBesem

God Praat Afrikaans met HemelBesem en Raj Mohan: ’n teaterresensie

US Woordfees: HemelBesem se god praat Afrikaans

LitNet Eerste slukkie: God praat Afrikaans deur HemelBesem

HemelBesem: “Ek glo dat die taal steeds besig is om te groei”

“My P-woord is Pa”: HemelBesem en YOMA by die WAT

HemelBesem – "gegrond, maar kop in die wolke"


  • Lees meer oor Suid-Afrikaanse rymkletsers Jitsvinger en SIEP

Jitsvinger: Taaltruuks en die reine waarheid 

SIEP: Kom soos jy is, nie soos jy wil wees nie

 

Buro: MvH
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top