SIEP: Kom soos jy is, nie soos jy wil wees nie

  • 0

SIEP

In die huidige era, waarin narsisme op sosiale media aanvaarbaar geword het, is individue wat hulself beywer vir die teendeel, ’n rare vonds. SIEP (Siel In Elke Persoon) staan met een voet in die vuur van wat op die Kaapse Vlaktes aangaan en met die ander voet op ’n oop stuk grond waar die mens (met die somtotaal van sy gebrokenheid) homself weer kan leer ken en aanvaar – sonder oordeel. En dit doen hy met Afrikaans en ’n ongekende insig in die stand van sake in ons land – met spesifieke verwysing na die jeug in sy omgewing.   

Jy kan hom ’n kletsrymer noem, ’n hip-hop-kunstenaar en ’n rapper. Op sy mees onlangse album, SIEP, klets hy en ’n heelparty ander kunstenaars op die maat van musiek. Maar: daar is ’n noodkreet tussen die frekwensies wat maak dat hy ’n ander titel behoort te dra. Brandalarm of Kunsprofeet – albei sal deug. Luister mooi na sy agtien songs en iewers gaan die sirenes jou oordromme laat bars en jou vooropgestelde idees van swaarkry, hongersnood, die definiëring van ras, tronkstraf en nog vele ander by die venster uitsmyt.   

Oor rassepolitiek in sy eie gemeenskap sê hy:

Hulp

ek is te wit ve swart
te swart ve wit
Here, help my mense
vir almal is dit oop, vir ons is dit toe                      

Sy hele album kan gesien, gelees en geluister word as ’n epiese gedig oor sy ervaringswêreld, stories wat sy vriende vir hom vertel het en die realiteite van bendegeweld en laaities wat geen heenkome het nie. Die lirieke binne elke snit is gegiet in kort frases wat die boustene van die geheelbeeld vorm, en die oorhoofse tematiek vloei naatloos deur sy oeuvre. Die musiek se vibe is telkens kontrasterend met die boodskap. Die beat is gemoedelik en die jazzy akkoorde laat jou ontspan, maar met die genoemde vuishou in die subteks. In “Hoe” takel hy die verwantskap tussen die dood en wat dit is om ’n “Cape Coloured” te wees.

Hoe

My mense moet net regkom, daai’s al wat ek wil hê
Ek het gelees in die Kuier van ’n vrou in die Wesbank
wat drie kinders verloor het in een jaar
Het jy al gevoel die kleur van jou vel is ’n burden?
En as ek alleen so voel dan raak ek siek en befok
Stop, stop alles
Die basic needs van survival is te tough vir ’n coloured
A cape coloured, ’n khoi, ’n khoi cape coloured.

Verder in “Hoe” praat hy oor die musiek en hoe dit inskakel by die invalshoek van sy denkwyse:

Dis interessant hoe die MC’s mekaar dis
Dan preek hulle oor sosiale siektes en rassisme
Dit maak die skill beslis fris
om warmkoppige MC’s
met kou’bloedige skills te blus
maar dan is die punt gemis
want die fokuspunt moet musiek bly
veral wat in die boodskap is.

Die Amerikaanse hip-hop-kunstenaar KRS-One word beskou as dié kenner op die gebied van die geskiedenis van die genre waarin hy werk. In ’n lesing oor hierdie onderwerp verduidelik hy dat hip-hop uit vier elemente bestaan: die MC (master of ceremonies), B-boy (breakdancing), graffiti en die DJ (disc jockey). Al vier die “spesialiteite” was teenwoordig in die nuwe tipe leefstyl/kunsvorm wat in die 1970’s ontstaan het. KRS-One beweer dat die Burgerregte-beweging ’n rol gespeel het in die arm buurte van die VSA.

SIEP (links)

SIEP verduidelik dat die rede waarom hip-hop (met die vier elemente) ook so ’n beduidende rol in die armer gemeenskappe van Suid-Afrika posgevat het, is nie bloot ’n kwessie van ’n aangenome kultuurbeweging van oor die Atlantiese Oseaan nie. “Hulle was slawe [die voorvaders van swart Amerikaners] en wat op bote soontoe geneem is. Die drom kom ook uit Afrika. Hulle het gesing en gedans om die vure. Dis die B-boy element. Dans en musiek is nie separate nie.”   

En die graffiti?

“Graffiti is ’n visual expression. Onse mense, die Khois, hulle het rock paintings gemaak. Dis hoe hulle stories vertel het. Ons het ons eie styl, die Amerikaners het dit net perfect. Maar deesdae is graffiti nie meer wat dit was nie. It is all about freedom of speech. City of Cape Town is nou streng en gaan nie toelaat dat jy net enigiets paint nie. Die hardcore ou sal nog sy ding doen.”

KRS-One noem verder vier beginsels waarop hip-hop berus: vrede, liefde, gemeensaamheid en om verantwoordelik pret te hê. SIEP vertel van sy ervaringe mbt die hip-hop-beginsels wat tans ontbreek in sy omgewing. “Hier by ons reën dit bullets, dit reën lood. Die polisie is orals en hulle het ’n quota van ouens wat hulle moet vang. Baie van die ouens saam met wie ons uithang was al in die tronk. Ek het eenkeer by ’n yard gesit en net ’n bier saam met die manne gedrink. Toe kom die army en ons hardloop na ’n ander yard toe. Op die ou einde vang hulle ons en vat ons tronk toe vir die aand. Vir wat?”

Kap an

Dié is my brief uit die vier hoeke
’n versoek aan dié wat my ken
asseblief, stuur boeke
Ek is vasgevang in die vlees
ma’ as ek my oë toemaak in die nag
beweeg ek na buitekant, nog steeds in die gees
Niks is in my skik in
Ons is sestig-man in die sel
Voel die onderdrukking
en die emosie bly stukkend.

Afrikaans is ’n vir hom beide ’n komplekse en ’n eenvoudige saak. Hy is deeglik bewus van die feit dat Afrikaans in sekere kulture as die taal van onderdrukking gesien word. “Mense moet begin logies dink. Waar in ander lande praat hulle Afrikaans? Dit het ontstaan uit meestal Nederlands, maar almal het ’n hand ingesit. Indiërs, Khoi en ander locals. Die slawe het die taal by die slave-owners geleer en dit dan begin meng. Die misconcpetion het ingekom met die 16 June protest. Dit was teen Afrikaans with good reason. Maar ja, dis ons taal ook. Wat anders moet ons dan praat?   

SIEP se ding is musiek. Taal is die voertuig en jong manne wat verlore raak in die maalkolk van ’n gebroke samelewing is die eindbestemming waar hy ’n verskil wil maak. Hy het begin met ’n inisiatief genaamd Park Jams waar die outjies kan kom deelneem aan die wonderwêreld van lirieke en ritmes. Op hierdie manier kan hulle ontslae raak van opgeboude woede weens afwesige ouers en die gebrek aan ordentlike skoolopvoeding. “Jy kan education enige plek kry. Dit hang eintlik van jouself af. En daai elements van hip-hop, dis hoe mens jou denke oopmaak. It’s all free and improvised. Jy kan jou gedagte laat gaan. Knowledge of the self deur te B-boy, MC en graffiti en al daai. As gevolg van daai elements kon ons onsself educate.”

  • Foto’s: verskaf

Lees meer oor SIEP op LitNet

Hip-hop en edutainment: ’n onderhoud met rymkletser Siep

Lees meer oor Nederlandse rymkletsers Typhoon en Fresku

Muchu gustu: ''Als ik mijn lach niet had''. Oor die Nederlandse rapper Typhoon

Muchu gustu: And that’s a rap. Oor Fresku

Lees meer oor Suid-Afrikaanse rymkletsers HemelBesem en Jitsvinger

HemelBesem: rymkletser en Afrikaanse brugbouer

God praat Afrikaans met HemelBesem en Raj Mohan: ’n teaterresensie

HemelBesem: “Ek glo dat die taal steeds besig is om te groei”

Jitsvinger: Taaltruuks en die reine waarheid

Buro: MvH
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top