Jitsvinger: Taaltruuks en die reine waarheid

  • 0

Jitsvinger | Foto: verskaf

Jitsvinger is ’n hip-hop-kunstenaar, musikant, skrywer en algemene waarheidprater van Kaapstad. Luister jy na sy twee albums, Skeletsleutel en Jitsologie, en lees jy die talle artikels oor sy doen en late in die musiekbedryf, kan ’n mens nie anders as om hom te sien as ’n rustige en kreatiewe siel wat die vyande van vredeliewendheid se linies oorsteek en terugrapporteer, notaboek in die hand en sy nine-mil weer terug in sy skede. Die uiteindelike produk is kru, tot die punt en verpak in metafore en taaltruuks, en besorg voedingswaarde vir jou serebellum.

Maar voor hy hom kon beywer vir sy lewenstaak, het hy sy taal- en musiekvaardighede deeglik geslyp.

Hy is vir die eerste keer op die ouderdom van 13 aan hip-hop blootgestel. Attie, ’n hoërskoolvriend, het pouses geluister na Prophets of Da City. "Hulle het gepraat van ons; hulle lyrics het baie vir ons beteken. Iets in die feit dat dit Afrikaans was," vertel Jitsvinger in ’n onderhoud met Deborah Steinmair in Die Burger. Hy het sy eerste lirieke geskryf toe hy ’n Engelse handboek onwettig huis toe gevat het en van sy skrywes begin rap het. "Toe sien ek idioms, alliterasie ensovoorts." Daarna was dit al die pad Afrikaans. "In hip-hop is daar ’n skaarsheid aan Afrikaans, daar's daai gap. Die klank van die taal, die manier waarop iemand dit laat loop en instrumentalise."

Jitsvinger | Foto: verskaf

Wat sy musiekopleiding betref, is hy myle voor van sy kollegas in die bedryf. In Kuilsrivier, waar hy grootgeword het, was daar altyd musiek. Sy ma se broers het kitaar gespeel en sy oupa sommer ’n hele klomp instrumente. Op vierjarige ouderdom het hy ’n Casio-keyboard gekry en tot op graad 4-vlak gevorder. "Ek het geleer om met my oor te speel, chord combinations, etcetera. Daar's ’n ritme in my kop in."1

Die kombinasie van sy twee vaardighede, die areas waar hy grootgeword het, en sy fyn waarnemingsvermoë plaas hom in ’n unieke kategorie in die breër Suid-Afrikaanse musiekbedryf. Sy mikrofoon is ’n tregter waardeur hy drogstories van oa die dwelmonderwêreld filter. Die kristalle word skadeloos, maar die ligweerkaatsings gaan jou wakker hou. "Ballade van die epigoon" som grotendeels sy invalshoek op. Hier nooi hy die jeug uit om aandagtig te luister. Dis ’n verhaal met ’n beat eerder as ’n netjies-uitgewerkte lied met ’n catchy refrein. Die gebeure in hierdie musiekstuk trek jou tot neffens ’n gangster se skeefkyk in ’n kroeg. Drugs word verkoop aan die fokalisator – ’n dwelmverslaafde meisie. Jy hoor hoe sy lyne snuif en dan is dit knieë op die grond, mond oor die toiletbak. Kots.

Ballade van die epigoon

Hiers ’n lyric vir al die laaities, kinnes
en brasse
wat hou van stories, maak jou mind
clean
Nou picture, hiers'it

Dalk meer ontstellend as "Ballade", is "Strategis" van sy Jitsologie-EP. Die eerste klanke wat jy hoor, is dié van geweerskote, polisiesirenes en mense wat skree. ’n Saksofoon-improvisasie klink op uit die niet tot net voor die beat drop. Hierdie snit is wel nie ’n waarskuwing aan die jeug nie, maar eerder ’n vuis in die lug vir die rol van die kunstenaar in tye van politiese chaos wat oorspoel in geweld.

Strategis

local support hou die focus op ons
explosives, en die microphones
hou dit of course
en dis net so, pluk die apparaat uit die camouflage

my bek move
nasionaal, en ons let loose met ammunisie
handgemaak en wakkersoldaat
die visie straight van die Kaap

"Strategis" is vir seker nie ’n saamsinglied nie. Jitsvinger skep ’n milieu waarbinne jy die dinkwerk self moet doen. Jy kan maar vrede maak dat jy nie alles met die eerste luister gaan verstaan nie. Jy moet eerder kop eerste in die water duik en dryf, in sy woorde watertrap. Die oewer sal na jou toe kom.

Selfs van die verhoog af is hy konstant aan't konkel met klanke en woorde en ritmes. Om vir Jitsvinger persoonlik te ervaar, onderskraag die intensiteit waarmee hy sy kuns maak.

Ek was bevoorreg om in 2016 saam met Jitsvinger aan die produksie Kristalvlakte te werk. Na een van die optredes ry ek en hy saam in die kar terug hotel toe. Ek sê ek weet van ’n lekker dodgy bar om die hoek waar ons ’n bier kan gaan drink. Die woorde "dodgy bar" haak in sy kop vas, word herdoop na "dodgíba"  en hy begin spontaan sinne aanmekaar vleg waarvan die betekenis my steeds ontwyk. Ek het ook per ongeluk aan sy indrukwekkende afro gevat. Te midde van ’n koue bier het hy my mooi laat verstaan dat dit sy heiligdom is: "Kyk hie, don't do that again, okay? Dis my trademark." Verskonings is gemaak en blad geskud.

Sy roeping het hom al na die uithoeke van die aardbol geneem, oa na Nederland, Chili, Taiwan, Frankryk en Switserland, waar hy met verskeie kunstenaars saamgespan het om die kuns van die woord oor die wêreld te laat versprei.

En die Afrikaanssprekendes kan maar net te bly wees dat iemand so intelligent soos hy die vlag omhoog hou vir die taal wat so dikwels platvloers gebruik word.

Breinsuiker ft Claire Phillips

Hou die prente weg
ons kan dit skets met
jou woordeskat werk jou
intellek, jou
cerebellum word oorgevat

1 Die direkte aanhalings kom (soms effens aangepas) uit genoemde onderhoud met Deborah Steinmair wat in Die Burger verskyn het.

Lees meer oor Nederlandse rymkletsers Typhoon en Fresku

Muchu gustu: ''Als ik mijn lach niet had''. Oor die Nederlandse rapper Typhoon

Muchu gustu: And that’s a rap. Oor Fresku

Lees meer oor Suid-Afrikaanse rymkletsers HemelBesem en SIEP

HemelBesem: rymkletser en Afrikaanse brugbouer

God praat Afrikaans met HemelBesem en Raj Mohan: ’n teaterresensie

HemelBesem: “Ek glo dat die taal steeds besig is om te groei”

SIEP: Kom soos jy is, nie soos jy wil wees nie

Hip-hop en edutainment: ’n onderhoud met rymkletser Siep

Buro: NB
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top