Groot jaar vir Lord’s se Oosthuizens

  • 0

Pinot Noir is die ruggraat van die plaas se wingerde en hul pronkstuk.

  • Foto’s: Clifford Roberts en Jacques Oosthuizen

Hoog teen die koppies buite McGregor het die Oosthuizens in 1926 ’n lappie grond gekoop. Aanstaande jaar is Rietvlei ’n eeu in hul besit en Jacie Oosthuizen, derde geslag op die plaas, vier 20 jaar as Lord’s Wines se keldermeester en wynmaker.

Lord’s Wines is op Jacie se visie gebou om sy twee passies, wyn en sport, te verenig. Om te sê hy is krieketmal, is die onderskatting van die jaar. En ja, jy het reg geraai, Lord’s Wines is na Lord’s-krieketveld in Londen vernoem.

Soos wat die krieketveld die tuiste van krieket genoem word, kan Lord’s Wines die tuiste van Pinot Noir in hierdie mooie McGregor-wynvallei genoem word.

Die rede vir ons kuier is egter veel wyer as net die twee mylpale in die familie se geskiedenis op die plaas en sy liefde vir krieket, wat natuurlik in elke gesprek opduik en selfs in die wynetiket vergestalt word.

......
Soos wat die krieketveld die tuiste van krieket genoem word, kan Lord’s Wines die tuiste van Pinot Noir in hierdie mooie McGregor-wynvallei genoem word.
.......

Die wynetiket is doelbewus ontwerp as ’n verwysing na ’n krieketskild. Dit simboliseer Jacie se diepgewortelde liefde vir die spel en dien as ’n visuele brug tussen die wêreld van wynmaak en krieket. Dit verteenwoordig trots, tradisie en passie – waardes wat beide die wyn en die landgoed beliggaam.

Ons is deel van ’n ledenaweek, die Founder’s Wine Club, wat jaarliks gehou word. Net 30 gelukkige lede kan die naweek meemaak en nie alleen proe jy ouer oesjare wat dikwels nie meer vir die publiek beskikbaar is nie, jy doen ook vertikale proeë, wynpasmaat-etes en geniet wonderlike kuiers saam met die Oosthuizens.

Toe Jacie sy droom van ’n eie kelder en wyne in 2006 verwesenlik het, was Pinot Noir die eerste druiwe wat die kelder ingedra is. 

Bo en onder: Die kelder, proelokaal en restaurant is omring deur die wingerde en mooi plaasdam.

Hoe gepas dus dat ons Vrydagaand afskop met ’n glas vonkelwyn waarin Pinot Noir met Chardonnay versny is. 

Die plaas – 33 hektaar, waarvan 14 hektaar onder wingerd – het ook aanplantings van Shiraz, Chardonnay, Sauvignon Blanc en Chenin, maar die grootste gedeelte is Pinot Noir en die grootste botteltal is vonkelwyn. 

Melané Rademeyer (née Oosthuizen) kom staan langs haar pa en vertel die dun dop van Pinot Noir is baie lief vir die koeler nagte en warm dae hier teen die hange bo McGregor. Melané behartig die wynklub en privaatkliënte en is nie-amptelik die gasvrou vir die aand.

Ma Marinda se fyn oog het die tafeldekor behartig en sy laat voel ons onmiddellik tuis.

Ons huis vir die naweek, waar daar lekker Lord’s-wyne en plaasbeskuit op ons wag.

Na die lekker ontvangs, volg ’n vertikale proe van al sy Pinot Noirs se oesjare sedert 2009. Op die toonbank pryk die 2009, 2012, 2016, 2018, 2019. Later sal ons ook die 2024 proe.

Jacie vertel dié kultivar was nie ’n toevallige keuse nie; dit was doelbewus. “Die unieke ligging van die plaas teen 500 meter bo seespieël met sy koel mikroklimaat en kalkryke grond, is ideaal vir die verbouing van hierdie fyn, tog komplekse druif.

“Pinot Noir se fyn balans tussen elegansie en kompleksiteit resoneer perfek met die styl van Lord’s Wines: stylvol, maar toeganklik; delikaat, maar vol persoonlikheid. Wat as ’n enkele rooiwyn begin het, het oor die jare uitgebrei tot verskeie wyne waarin Pinot Noir steeds die sentrale rol speel. Dit word in die Lord’s Pinot Noir, Lord’s MCC Brut NV (saam met Chardonnay versny), Lord’s MCC Brut Rosé NV en die Lord’s Pinot Noir Rosé gebruik. 

Die wyn en krieket is Jacie se twee groot liefdes.

Die koue borrels dans op ons tonge. Een van die lede van Mosselbaai vertel my dat hy eers verlief geraak het op Lord’s se Cap Classiques, voor hy hul ander wyne geproe het.

Ek drink sommer ’n ekstra glasie om Internasionale Pinot Noir-dag op 18 Augustus en Internasionale Cap Classique-dag op 1 September te vier!

Jacie maak dié vonkelwyn volgens die klassieke Méthode Cap Classique, wat die Franse Méthode Traditionnelle volg. Dit beteken dat die wyn ’n tweede fermentasie ondergaan in die bottel, ’n proses wat die fyn borrels en die komplekse geure skep. Daarna lê die wyn minstens 12 maande op die gismoer om die rypwording te bevorder, wat die wyne ’n rykdom en tekstuur gee wat moeilik met ander metodes nageboots kan word.

“Pinot Noir is sedertdien die vlagdraer van ons landgoed en bly jaar ná jaar ’n kernfokus van die wynspan,” vertel hy.

Ons proe uitsonderlike oesjare van die Pinot Noir.

Hy sê in ’n wêreld waar kommersiële rooiwyne dikwels swaar kan wees, bied Lord’s Pinot Noir iets anders – ’n fyn karakter en grasie. “Dis ’n wyn wat jou nooi om stadig te drink, te waardeer en te onthou,” vertel hy. Agter sy rug knetter die vlammetjies gesellig en om die tafel word daar luidkeels lof rondgeswaai vir die lekker wyne.

.......
Alle druiwe vir die Pinot Noir word met die hand geoes, om kwaliteit van begin tot einde te verseker. Die wyn word met minimale inmenging gemaak, ’n filosofie wat die vrug se oorsprong en terroir laat praat.
.......

Alle druiwe vir die Pinot Noir word met die hand geoes, om kwaliteit van begin tot einde te verseker. Die wyn word met minimale inmenging gemaak, ’n filosofie wat die vrug se oorsprong en terroir laat praat, verduidelik hy. Hierdie benadering lewer ’n wyn wat nie net die streek weerspieël nie, maar ook die toewyding van die span agter elke bottel.

Bo en onder: Ons proe uit eie tenks en vate en vir baie mense maak dit nuwe wêrelde oop.

Jacie vertel dat die styl sedert die 2024-oesjaar verander het. Voorheen is hul Pinot Noir gekenmerk aan sy sampioenplaaswerf-aromas, nou is dit eerder meer vrugtig op die neus en mense is mal daaroor!

Lord’s Pinot Noir is veelsydig by die kostafel. Dit pas perfek by wildsvleis, sampioenrisotto, geroosterde hoender of selfs ligte Kaapse kerries. Dis dus heel gepas dat ons dit saam met lamsbredie geniet. Die kos word Vrydagaand deur hul inhuiskok, Anthon le Roux, gemaak. En natuurlik moet ons briek aandraai by die plaasbrood en konfyt, want ons stadsjapies ken mos nie meer sulke lekkertes nie!

Die aand word ’n toetswedstryd vir die groot internasionale wyn-en-kos-eendagwedstryd wat die volgende dag op ons wag!

Elke oggend van dié lekker kuiernaweek, stap ons die “22 jaart kolfbladlengte” af van ons verblyf op die plaas, heel gepas Blue Crane genoem, verby Jacie en Marinda se huis, waar twee bloukraanvoëls pronkerig op die grasperk wag vir ’n handjievol voer, voor hulle terugkeer na die klein eilandjie in die dammetjie voor die kelder en restaurant.

Jacie, Melané en Marinda kuier lekker saam met ons.

Seun Jacques en sy man, Rudolph Jordaan, het uit die Kaap arriveer en hoor van al ons lekkertes die vorige aand.

Die naweek se program is lekker propvol, maar niemand kla nie. Die ontbyte is gul en heerlik voor die kaggel, terwyl dit koud en grys is buite.

Ek kry die kans om Jacie uit te vra oor sy krieketliefde, wat begin het as jong seun op dié plaas, waar hy grootgeword en smiddae ná skool saam met sy sibbe en die arbeiders se kinders krieket gespeel het. Jacie se pa, Japie Oosthuizen (Snr), was self ’n groot krieketaanhanger. 

Druiwe word met die hand met groot sorg gepluk.

In die 1970’s het Jacie aan HTS Drostdy in Worcester skoolgegaan, waar hy krieket vir die skool se eerstespan gespeel het. Vir baie jare het hy ook gereeld wedstryde op Nuweland bygewoon, waar die gees en kameraadskap van die byeenkomste ’n onuitwisbare indruk op hom gelaat het. 

“Krieket was nog altyd ’n groot passie – nie net as sport nie, maar as ’n spel wat dissipline, deursettingsvermoë en strategie vereis. Hierdie waardes vind ek vandag terug in die kuns van wynmaak, waar tyd, presisie en toewyding net so ’n belangrike rol speel.”

Alhoewel Jacie nog nie die voorreg gehad het om ’n wedstryd by die ikoniese Lord’s in Londen by te woon nie, bly dit ’n droom wat hy graag in die toekoms wil verwesenlik. Vir nou is sy prioriteit die groei en ontwikkeling van Lord’s Wines, waar sy twee passies – wyn en krieket – reeds ’n natuurlike en unieke verbintenis vind.

Die dag word daar geproe uit die tenks uit en vir baie mense is dit die eerste keer om alles te vra wat hulle oor wynmaak wil weet. Jacie trek proemonsters uit die eikehoutvate, tap uit vlekvrye staal-tenks en verduidelik watter kenmerkende geure ons sal optel in elke wyn.

Ons proe onder meer ’n Chardonnay én die Shiraz 2021 uit die vate, wat oor drie weke gebottel word, en die Chenin 2025 met die wyndief uit die vat. Meeste mense het nog nooit ’n wyndief gesien of daarvan gehoor nie en die lae gedreun van opgewondenheid is sommer lekker!

Die proelokaal het ’n verskeidenheid unieke krieketmemorabilia – van klassieke kolfies en balle tot truie en historiese foto’s. Daar is selfs ’n kolf wat Jacques Kallis, Jacie se gunstelingkrieketspeler, geteken het. Hierdie versamelstukke beklemtoon die kenmerkende identiteit van die landgoed en dien as ’n huldeblyk aan die ryk tradisie van die spel. 

Die ondergrondse verrassing tussen die wynvate.

Wat dit besonders maak, is dat al die memorabilia deur besoekers aan Lord’s Wines geskenk is – mense wat die passie vir krieket deel en uit waardering vir die plaas en die ervaring wat hulle hier beleef, hul bydraes aan die Oosthuizens agterlaat.

Teen middagete kan jy óf iets in die restaurant gaan eet óf gaan skuinslê voor die rugby óf aanhou kuier in die kelder. Maar eers is daar ’n verrassing in die verouderingskelder onder die grond – tussen die pragtige houtvate waarin die wyne in koelte lê en verouder: Die span van Craig Cormack se The Salt Road het vir ons die lekkerste peuselgoed gemaak en onder die feetjieliggies in die kelder is daar van die lekker Timekeeper (jip, nog ’n verwysing na die krieketveld) en Sauvignon Blanc bedien.

Chad Caselli, uitvoerende sjef van The Salt Road, en Adrian Oliver wat ons Saterdag met hul sout-geïnspireerde disse uitgeboul het.

Almal gaan lê bietjie skuins voor die groot aandete, waar die sjefspan blykbaar gaan uithaal en wys!

Ons is toe uitgeboul met die aandete. Ons skop af met die brood- en soutproe. Sjef Craig is bekend vir sy geweldige soutversameling en elke sout met ’n ander kleur en tekstuur kom van ’n ander uithoek van die wêreld.

Adrian Oliver, een van die twee sjefs van The Salt Road, vertel: “Daar is soveel wat mens met sout kan doen. Gaan op ’n soutreis saam met ons.”

Bo en onder: Die lekkertes waarmee die sjefs ons verras.

Die eerste gang is hoender-pancetta, garnaalolie, geroosterde garnale, linguini en krakerige hoendervelletjies saam met die Three Barrel Chenin Blanc. Ons werk ook deur beeshaas met monkey gland-sous, gerookte snoekroom en appelkoossalsa met die Pinot Noir; springboklende met sjokolade skaafsels en beet, wat saam met die Shiraz en Three Barrel Shiraz bedien is.

Tussen elke gang kom vertel Chad Caselli, uitvoerende sjef van The Salt Road, ons meer oor die hele proses agter elke klein bestanddeel wat die groter geheel vorm.

Die lekker sout en brood was ’n interessante smaakervaring.

Sout speel ’n integrale deel van al die disse en ons smaakkliere weet nie wat hulle getref het nie.

Beeshaas met monkey gland en appelkose.

Een van die mans aan my linkerkant sê vir ’n Twintig20-wedstryd van drie ure, doen ons glad nie sleg nie; gelukkig hoef niemand lopies aan te teken (op ’n vol maag) nie!

Toe ons by nagereg met die Three Barrel Chardonnay wat saam met mini pithivier, gedroogte vyepuree, cremenzola met vye en amandelkrummel kom, is ons knuppeldik en vrolik! Die sjefspan het ons almal vir ’n ses geslaan!

Die lekker formele pasmaat-ete van Saterdagaand het baie messegoed benodig!

Ons almal is traag om op te staan Sondagoggend, want dis ysig koud buite en niemand wil huis toe gaan nie. Die kaggel brand by die restaurant en ons word ingewag met ’n spesiale verrassing: Jacie het Vintage Brut 2012 oopgemaak en hou ons glase saam met ontbyt vol.

Bo en onder: Die trots van die landgoed is die eksklusiewe Vintage Brut 2012, wat sewe jaar op gismoer deurgebring het voordat dit aan die publiek bekend gestel is. Hierdie verlengde rypwordingstyd was ’n doelbewuste besluit om ’n vonkelwyn van besondere kompleksiteit en elegansie te skep – met fyn, volgehoue borrels en ’n ryk, gelaagde karakter. Hoewel die produksie beperk is, is daar genoeg gemaak om met wynliefhebbers gedeel te word. Dit bly egter ’n spesiale uitgawe wat sy eie unieke plek in die Lord’s Wines-portefeulje inneem en net by die plaas beskikbaar is om te koop.

Sondag laatoggend ry ons terug dorp toe, huis toe, oor die Japie Oosthuizen-brug wat in 2025 voltooi is. Ek hoor weer Jacie se staaltjie dat dié brug nie regtig amptelik na iemand vernoem is nie, maar dat een boer baie bly was toe dit opgerig is en van die ander boere besluit het om dié nie-amptelike bordjie aan te bring. 

Dis kameraderie wat jy nog net op die platteland ervaar! En dis presies waarin ons kon deel: Vrydagaand se bloot mede-wynliefhebbers is teen Sondagmiddag nuwe vriende.

Die kattebak is vol wyn, plaasbeskuit en ander lekkernye uit die Lord’s-spens en ons harte is tot barstens toe vol.

Lees ook:

Chardonnay ’n staatmaker danksy twee pioniers

Nuwe baadjie vir Spier Hotel, maar dieselfde goeie beginsels

Raise a glass to leopard conservation

’n Grasieuse en stylvolle eeu vir May de Lencquesaing

Salsify, die see en die magiese getal ses

Die Palm House Boutique Hotel and Spa is ’n statige dame

Vier vanjaar Internasionale Chenin-dag met ’n besondere vrou in gedagte

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top