
Die hele idee met die hotel se nuwe voorkoms is dat dit voel of jy by iemand aan huis gaan kuier. Die glimlagte is gul, die atmosfeer warm en die wyn natuurlik voortreflik.
- Foto’s: Clifford Roberts en verskaf
Spier is een van die land se bekendste en oudste wynplase en met sy erfenis wat 333 jaar terugstrek, is hier nou nog ’n rede om te vier. Die nuutste toevoeging tot die alreeds lekker wynplaasbestemming waar jy kan wynproe, eet, stap, fietsry, piekniek, kunskyk en selfs Segway in die wingerde, is die opgeknapte hotel, spa en restaurant. Spier het ook pas gehoor die plaas se 21 Gables Chenin Blanc 2023 is aangewys as Grand Master en beste wyn algeheel, by die 2025 Global Chenin Blanc Masters.
Spier is in 1692 deur die Verenigde Oos-Indiese Kompanjie aan Arnoud Jansz toegeken. Die naam Spier is vermoedelik afkomstig van die oorspronklike naam Speyer – ’n dorpie in Duitsland – maar “Spier” was reeds in gebruik toe Hans Heinrich Hattingh die plaas in 1712 gekoop het en verwys na riete op die rivieroewer. Die Enthoven-familie het die plaas in 1993 gekoop en uitgebou tot ’n spogplaas.

Die pragtige kroeg bo-op die restaurant se dak, met sy mooi uitsigte oor die wingerde, rivier en berge in die verte.
Die hoteldeure is pas vir die publiek oopgegooi toe ons deur die hekke ry. By ontvangs staan twee brons klipspringers op reuserotse en verwelkom ons. Jou motor word geparkeer en jou bagasie weggedra.
My geliefde gaan stop in die middel van die ontvangsvertrek. Hy maak sy oë toe; sy skouers ontspan merkbaar.
Agter hom knetter ’n vuurtjie gesellig, voor hom skink die kroegman vir ons elkeen ’n verwelkomingsdrankie. Die parfuumagtige reuk van hout, fynbos en veld hang tjalie om jou skouers.

Oomblikke van vrede in ’n hangstoel in die tuin.
Ek sien sy lippe vorm ’n woord: “Serenity” (kalmte). As mens dié gevoel kon bottel!
Die hotel se voorheen 150 kamers is nou 80 luukse suites en kamers en die hotel het sy wonderlike plaasgevoel buite behou. Dis asof jy iewers in ’n klein dorpie stap as jy van die restaurant, spa of swembad – een van die grootste verhitte swembaddens in die wynlande – terugstap. Daar is drie kroeë – een op die dak; een by die swembad; en een in die ontvangskuierkamer.
........
Ek sien sy lippe vorm ’n woord: “Serenity” (kalmte). As mens dié gevoel kon bottel!
........
Met erfenis en herlewingslandbou ’n integrale deel van die hele wese van Spier, was dit dus geen verrassing dat niks sommer net uitgegooi is of enigiets verniel is nie. Nuwe meubels het stukkies inlegwerk van ou meubels wat nie meer gebruik kon word nie, die ou koperkrane is in sekere suites gebruik en selfs die gordynkappe is vir die hemelbeddens ingespan.

Bo en onder: Elke kamer of suite is ’n pragtige, luukse ruimte met aardse kleure, natuurlike teksture en baie lig.
Op ons kort toer saam met Aimee Raymond, handelsmerkbestuurder, net ná ons aankoms, leer ons baie hieroor.
Sy som dit so mooi op: “Die nuwe Spier Hotel lui ’n nuwe era van Kaapse gasvryheid in – een wat ’n diepliggende plek van vrede en verbintenis bied, terwyl dit ervarings skep wat lank nadat gaste huis toe terugkeer, sal resoneer.”
En dat hier sag getrap word op Moeder Aarde, word bevestig deur die getalle: meer as 17 697 bome, struike en grondbedekkers is herplant om die fynbos en vleilande tot hul oorspronklike glorie te herstel. Spier is nie verniet een van net 50 WWF-SA se bewaringskampioene nie. En, voeg sy by: “Ons eie kwekery het sedert 2012 meer as 102 957 bome, struike en fynbos gekweek en herplant, sowel as meer as 1 miljoen bolplante.”

Die hotel lyk meer soos ’n intieme klein dorpie as ’n hotel.
Sy kan sien my oë blink as sy oor plante gesels en sy vertel dat ek beslis ’n besoek aan The Soil Room moet inpas terwyl ons hier kuier, want die Soil Room – langs die Cowshed-winkel – gee jou die geleentheid om die vrug van die plaas se herlewingslandbou-reis te kan sien, proe en ervaar. Daar is plante, handgemaakte geskenke, boeke, kerse, eko-kuns en die allermooiste odes aan die natuur, in elke moontlike vorm of kleur.

Bo en onder: Die pragtige Soil Room, neffens Cowshed, is nie net ’n rustige, groen ruimte nie, maar daar kan jy alles wat heilsaam, gesond en mooi is, koop.
En wat geen oog natuurlik kan miskyk nie, is die ongelooflike kunsversameling. Die plaas se liefde vir kuns is legendaries en kunswerke pryk tot hoog teen die balke van die restaurant, in die ontvangs en in elke kamer. Die eiendom se 3 600-stuk- kontemporêre kunsversameling word kundig bestuur deur die Spier Arts Trust. Dis een van die grootste kontemporêre kunsversamelings in die laan.
Ons hoor ook by haar dat Spier lid is van die Wine Industry Ethical Trade Associations (WIETA). En net soos daar aandag aan die wyn en kuns gegee word, so is die grond ook belangrik.

Die tuin is hervestig met duisende inheemse fynbos, bome en struike.
Spier is FSSC 22000 en organies-gesertifiseerd en ook vegan-vriendelik. Die hotel is Fair Trade Tourism-geakkrediteerd. Die plaas streef daarna om ’n netto nul-belynde koolstofvoetspoor teen 2030 te behaal. Die meeste van die kos op jou bord kom van die plaas se kuddes of groentetuin, of van buurplase.
........
Buite is die tuine weer inheems soos van ouds, danksy die herplanting van 39 000 fynbos plante wat een groot kleurvolle lappieskombers uit die lug skep.
.......
Buite is die tuine weer inheems soos van ouds, danksy die herplanting van 39 000 fynbos plante wat een groot kleurvolle lappieskombers uit die lug skep.

Mens wil nooit die spa vaarwel roep nie. Dis stil, rustig en die hemelse reuke van fynbos uit die tuin meng met masseerolies en sagte musiek. En, o die heerlike tee voor die kaggel!
Die minder kamergetalle maak sin toe ons die 640 m² spahuis en 10 behandelingskamers sien. Die pragtige Cape Herbal Bath House is net so keurig soos die res van die hotel en met die sagte musiek, kaggels wat brand en kruietee, kan mens heeldag hier kom wegkruip.
Gelukkig het elke kamer of suite ’n klein privaat balkon of tuintjie wat jou aan die natuur verbind. Ons gooi ons deure oop en die natuur en klanke van die rivier word deel van die ervaring.

Ons blindeproe in die glas-wynbiblioteek is ’n spesiale geleentheid.
Op die dag wat ek hoor dat Johan Jordaan, die landgoed se keldermeester, in Parys aangewys is as Master Winemaker 100 se Chenin Blanc-kampioen, vier ons ook Internasionale Chenindag en dis natuurlik dan geen verrassing dat Georgio Meletiou, groepsommelier vir Spier, ons met ’n blindeproe in die pragtige glas-wynbiblioteek uitvang met Chenin nie.

Johan Jordaan, die landgoed se keldermeester, is pas in Parys aangewys as Master Winemaker 100 se Chenin Blanc-kampioen vir 2025.
Soggens vroeg is ons in die louwarmwater van die swembad, terwyl die personeel nog kussings en handdoeke uitpak. Dan ’n wonderlike ontbyt op ’n tafel amper so lank soos die swembad, waar die meeste van die vars produkte, joghurts, eiers en koue vleis van die plaas self kom.
Kort-kort kom haal ma’s kleuters en peuters met armvlerkies uit die swembad om by die kinderklub, die Buzz Club, te gaan koekies bak of ander aktiwiteite te geniet.

Soggens vroeg hang die mis oor die warm swembad en ons swem, al is dit bitter koud buite.

Dié ontbytplek waar jy ure kan deurbring. The Garden Room loop uit na die swembad en die buitenste kroegie.
Die dae vloei inmekaar: Ons lees by die swembad, gaan kamer toe en peusel soms aan die lekkernye in die klein yskas wat elke gas kan geniet. Smiddae dut ons meer as wat ons lees op die lekker divan op die stoep. Dan terug swembad toe vir sundowners. In die Garden Room doen een van die personeel ’n informele wynproe met hotelgaste en dis wonderlik om te sien hoe mense hul horisonne daar oor Spier se wyne verbreed. Terug kamer toe vir ’n glas wyn op ons stoepie, voor ons stort en aantrek vir aandete by Veld, waar jy van alle koue en sorge vergeet voor die reusevuurherd.

Daar is verskeie hoekies in die hotel waar jy kan sit en lees, saam met vriende kuier oor koffie, of net lekker opkrul met ’n glas wyn.

Die sjef bederf elke gas in die pragtige restaurant, wat net vir aandete oop is. Die mure is ook met kuns behang, plante gee dit ’n rustige atmosfeer en die oopplankombuis bring die kos-aksie sommer nader.
Sjef Craig Paterson bederf ons met klein happies tussen gange en ons geniet verskillende glase wyn by elke dis om die plaas se offers ten beste te geniet.
Een middag besluit ons om ons basse te lig en die plaas te gaan verken. Want hier is baie te doen: van ’n wynproe; ete by Vadas; ’n ligte piekniek op die grasperk voor die werf; inloer by die nuwe pottebakkersuitstalling, of as jy net wil gaan kyk wat mooi is, vra jy by ontvangs vir ’n gholfkarretjie om jou te neem.

Murgsagte biefstuk, bros skyfies en ’n groen slaai uit die hotel se eie tuin word afgerond met ’n glas van die plaas se bekroonde wynreeks, die 21 Gables. Ek geniet die Cabernet Sauvignon 2020.
Hier drentel ons lekker rond en eindig uiteindelik by die nuwe keramiekuitstalling in die ou wynkelder, getiteld Grounded practice. Die kurator, Tamlin Blake, stal 63 werke deur 42 Suid-Afrikaanse kunstenaars uit, wat temas van balans, behoort en ons verbintenis met die aarde ontgin.
Tamlin vertel: “Meer as net pragtige voorwerpe, spreek die stukke van persoonlike, politieke en omgewing-onstabiliteit – en hoe kreatiwiteit ons help om weer ons voete te vind. Hier is ’n diverse reeks keramiek van boheems tot konseptueel. Hoogtepunte sluit in werke deur kunstenaars Sinethemba Xola, Anita Sikutshwa en Sylvester Zanoxolo Mqeku, wie se stukke diep persoonlike en kragtige refleksies oor spiritualiteit, mitologie en die mensdom se afdruk op die aarde bied.

Bo en onder: Die nuwe keramiekuitstalling in die ou wynkelder, getiteld Grounded practice. Die kurator, Tamlin Blake, stal 63 werke deur 42 Suid-Afrikaanse kunstenaars uit, wat temas van balans, behoort en ons verbintenis met die aarde ontgin.
“Grounded practice is ’n moet-sien vir versamelaars, kreatiewe persone en nuuskierige gemoedere.”
Dit sluit perfek aan by die hele Spier-filosofie en mens se hart en siel voel vol ná die besoek.
Ons laaste oggend slaap ons laat, drink koffie in die bed en gaan vir ’n laatontbyt voor ons moet groet.
Die kalmte sit in ons kuite.
Kitsfeite
- Kies uit elegante, ruim kamers tot luukse suites of twee privaat drieslaapkamer-villas. Die restaurant, spa en Cape Herbal Bath House is oop vir dagbesoekers, maar alles andersins is net vir gaste. Bespreek by dine@spier.co.za vir die restaurant, spa@spier.co.za of loer by www.spier.co.za vir verblyfopsies.
- Die keramiekuitstalling is aan tot 14 September 2025 en daagliks van 09:00 tot 17:00 oop vir die publiek. Toegang is gratis.
- Spier is een van die lede van die Stellenbosch Wynroetes en loop ook hier al ’n lang pad met wyntoerisme. Tydens ’n reis na Boergondië in 1969 het Frans Malan van Simonsig en Niel Joubert van Spier die bekende Routes des Vins by Morey-St-Denis ontdek en die moontlikheid gesien dat ’n soortgelyke scenario in Stellenbosch gevestig kan word. Saam met Spatz Sperling van Delheim, stig hulle in 1971 die Stellenbosch Wynroete, wat vandag vyf subroetes het. Al drie pioniers is onder die grond, maar hul visie leef voort op meer as 130 ledeplase.
Lees ook:
Vier vanjaar Internasionale Chenin-dag met ’n besondere vrou in gedagte



