Air France het pas sy eie tuisgeur AF001 vrygestel. Die lugredery het die talente van Francis Kurkdjian, meesterparfuummaker en kunsdirekteur van Maison Francis Kurkdjian, ingeroep. (Foto van Francis Kurkdjian: verskaf)
Op 21 Maart vanjaar het ons Internasionale Geurdag (Fragrance Day) gevier en my gedagtes gaan draai vêr toe ’n persvrystelling van Air France in my inboks beland, wat pas sy eie tuisgeur AF001 vrygestel het. Die lugredery het die talente van Francis Kurkdjian, meesterparfuummaker en kunsdirekteur van Maison Francis Kurkdjian, ingeroep.
Die persvrystelling vertel: “AF001 ontlok ’n gevoel van ruimte, kalmte en lig en vergesel reisigers in styl. Sy vertroostende muskusgeur, gekombineer met mimosa uit die suide van Frankryk, voeg ’n sonnige, natuurlike lewendigheid by. Geskep met sweempies jasmyn en roos, neem sy delikate blomme-aura reisigers op ’n ware reukreis wat ’n spesifieke oomblik in tyd vasvang.”
Hierdie geur word sedert verlede maand geleidelik by die ingange van sekere Air France-sitkamers by Paris-Charles de Gaulle bekendgestel en dien as ’n welkome gebaar aan die begin van ’n reis. Kliënte sal die geur in die voorportaal, die sitkamer en die La Première-suites ontdek, sowel as in die sitkamers in terminale 2E-sale L en M, 2F en 2G. Air France sal oor die komende maande die geur geleidelik in sy ander sitkamers in Parys en regoor die wêreld gebruik.
Upington
Ek was ses toe my pa vir my ma ’n enkele orgidee in ’n glaspotjie deur die bloemiste laat aflewer het. Daarmee saam was ’n agthoekige, melkwit bottel met ’n goue ronde knopdeksel. My pa was nie romanties of sentimenteel nie en ek is tot vandag onseker wat die geleentheid was, maar dit het ’n reuse-indruk op my ma gemaak. Vandag – ’n halfeeu later – pryk daardie bottel op my spieëltafel. My ma is al 13 jaar gelede oorlede, maar die mooi herinneringe talm.
Die agthoekige parfuumbottel met sy ronde kop wat my pa 50 jaar gelede vir my ma laat aflewer het. (Foto: Clifford Roberts)
Ek wil my verbeel ek ruik nog die parfuum, maar ek dink dis my verbeelding. Maar alles aan daardie bottel maak my hart warm.
Hoe op aarde moes ek tóé kon weet dat terwyl ons swymel oor dié bottel parfuum in die Kalahari, die eerste Concorde-vlugte tussen New York en Parys onderneem is (daarom die AF001-vlugkode) en ek dekades later dié vrystelling sou kry – etlike weke ná ’n ander parfuumervaring in Frankryk.
Parys
My niggie het by ’n vriendin ’n ongeglasuurde, terracotta granaat, ’n Meleograno-gegeurde houer, present gekry. Die olie word op die granaat gegooi en ingebak en hou vir maande. Dis dié topverkoper van Santa Maria Novella en ons soek die tak in 24 Rue de Sèvres op om te vra of hulle olie apart verkoop, sodat sy weer die granaat kan bedruip.
Die geskiedenis van Santa Maria Novella-parfuum dateer terug na 1221 toe monnike by ’n klooster in Florence, Italië begin het om kruie en blomme in hul kloostertuin te kweek en allerhande medisyne, olies en rome daarvan gemaak het.
Bo en onder: Die geskiedenis van Santa Maria Novella-parfuum dateer terug na 1221 toe monnike by ’n klooster in Florence, Italië begin het om kruie en blomme in hul kloostertuin te kweek en allerhande medisyne, olies en rome daarvan gemaak het. (Foto: Clifford Roberts)
Foto: Clifford Roberts
Die gawe winkelassistent Mariano Barrientos – oorspronklik van Buenos Aires – hou van teater en begin sy geurervaring met ’n paar aanhalings: “Smell is a word, perfume is literature” (Jean-Claude Ellena) en: “Fragrances hold the power to take us to the past, to a land that’s unknown to the world.” Wysneusig of nie, hy weet ook nie wie se woorde dié was nie.
Hy laat ruik ons al die gegeurde kerse wat onder pragtige glaskoepels staan. Hy dra nog geure aan, vertel van die geskiedenis en die besoek word ’n ware ervaring.
Die gawe winkelassistent Mariano Barrientos met die terracotta granaat. (Foto: Clifford Roberts)
My niggie swig en koop toe maar ’n nuwe granaat vir haar kamer. Mariano gee glad nie om om vir ’n foto te poseer met dié pragstuk nie.
My kopie is Melograna-gegeurde wastablette wat aan oulike satynstrikkies in my kas hang. Dit hou nie vismotte weg nie; dit laat ruik wel alles in my kas hemels. Dis meer in my Suid-Afrikaanse begroting; die granaat meer in haar Britse begroting en almal is gelukkig.
Maar toe ek tuiskom en my Santa Maria-sakkie uitpak, wag daar ’n klein roomwit boksie onderin. Mariano se geskenkie: vier klein botteltjies parfuum.
Babylonstoren
Babylonstoren: Geurkamer (foto: verskaf)
Die landgoed Babylonstoren wat omarm word deur die Simonsberg, Du Toitskloof en Franschhoekberge, dateer terug na 1692. Danksy haar kundigheid en liefde vir Kaap-Hollandse boustyl, het mede-eienaar Karen Roos in 2007 ’n tuin deur die tuinargitek Patrice Taravella laat aanlê en vandag is die vyf hektaar tuin binne die plaas se groentetuine, vrugte- en olyfboorde en wingerde.
Karen het Patrice se werk by die Prieuré Notre Dame d’Orsan in Frankryk te siene gekry en besluit hy is net die man vir die projek. Daar het hy ’n Middeleeuse tuin rondom ’n gerestoureerde 12de-eeuse klooster uitgelê.
Babylonstoren: Geurkamer (foto: verskaf)
Babylonstoren se tuin is geïnspireer deur die historiese Kompanjiestuin in Kaapstad, wat skepe van die Verenigde Oos-Indiese Kompanjie (VOC) van vars water, vrugte en groente voorsien het in die dae toe die Kaap die halfwegstasie tussen Europa en Asië was. Ek wil my ook verbeel daar is seep en vlugtige olies en parfuum op daardie skepe aangekarwei.
Die plaas word ook geskakel met die mitologiese hangtuine van Babilon, wat klaarblyklik deur Nebukadneser in die sesde eeu voor Christus geplant is. Nie ver van die ou plaaswerf – een van die bes-bewaarde Kaap-Hollandse plaaswerwe in die Kaap – staan die Babylonstoren-koppie wat soos die Toring van Babel uittroon. Dis ook die oorsprong van Babylonstoren se naam, aangesien die vorm daarvan die 17de-eeuse boere herinner het aan die Bybelse Toring van Babel.
In die Geurkamer wat in 2018 geopen het, kom die plaas se helende filosofie tot finale uitvoer as die geure van rooibos, fynbos, gemmer en laventel jou omvou as jy by die Geurkamer instap.
Babylonstoren: Geurkamer (foto: verskaf)
Die span verantwoordelik vir die vlugtige olies, seep, badsout en ander lyfprodukte doen gereeld eksperimente met ander botaniese bestanddele. Baie van die bestanddele waaruit olies gedistilleer word, soos roosmaryn, roosmalva en laventel, word op die plaas geplant en geoes en dan op ’n wa en trekker in kratte gebring. Dit word dan styf in die ketel gedruk en die deksel dig geseël. Die stoom onttrek die olie en laat dit in ’n klein glasbakkie drup.
Die olies wat hulle daar distilleer, word in die seep, rome of badsout gebruik, wat in die Geurkamer en aanlyn by shop.babylonstoren.com beskikbaar is.
........
Elke keer as ek die lyfskrop in die stort gebruik, styg die kalmerende reuk van laventel en roosmalva saam met die stoom in my neusgate op en roep my gejaagde gedagtes tot halt.
........
Die plaas hou deur die loop van die jaar seepmaak-werkswinkels vir gaste. Vanjaar s’n vind op 19 Maart, 24 April, 21 Mei, 11 Junie, 1 Julie, 29 Julie, 26 Augustus, 17 September en 21 Oktober plaas. Op 9 Desember vind daar ook ’n laventel- en vlugtige olie-werkswinkel plaas.
Voor in die Geurkamer kan jy kies of jy badsout, lyfskrop of gesigmasker wil meng. Dié ervaring is beskikbaar vir dagbesoekers en wissel tussen R85 en R120, afhangend van die skrop wat jy wil meng.
Elke keer as ek die lyfskrop in die stort gebruik, styg die kalmerende reuk van laventel en roosmalva saam met die stoom in my neusgate op en roep my gejaagde gedagtes tot halt.
Portugal
Die vorige keer wat ’n geur my só tot stilstand kon dwing, was in Porto in Portugal. Ek stap my voetjies in ’n spasma in om by Claus Porto in die plaveisteen Rua das Flores uit te kom. Dis in 1887 deur Ferdinand Claus en George Schweder gestig en het aanvanklik as seepfabriek begin. Vandag sluit hul reeks ook kerse, parfuum, kamerparfuum, syserpe en ’n inkopiesak in.
Die vriendelike assistent was my hande, droog dit met geborduurde Portugese linne af en laat my toe om van die verskillende handerome te probeer. Ek het met my aankoms verduidelik dat ek net in die kerse en seep belangstel, maar hy het aangedring dat my “kuier” daar spesiaal is – nie net vir my nie, maar vir hom ook – en ek moet talm in die geure.
Bo en onder: Ek stap my voetjies in ’n spasma in om by Claus Porto in die plaveisteen Rua das Flores uit te kom. Dis in 1887 deur Ferdinand Claus en George Schweder gestig en het aanvanklik as seepfabriek begin. (Foto’s: verskaf)
Die familiebesigheid gebruik reuke wat die land se verskillende streke verteenwoordig en dis amper asof jy stukkies van Portugal as vloeistof of in seepvorm saamneem huis toe.
Ek koop ’n kers en seep en voor ek groet, spuit hy parfuum agter my ore en op my polse. “Om ons tyd saam langer te onthou.” Mensig, ek het nie gedink daar is nog iemand so passievol oor geur nie en hier loop ek ’n sielsmaat in ’n straatjie in Portugal raak!
Die delikate wit porseleinhouer met die Voga Acacia Tuberose-kers se geure is sag en vroulik en het vir etlike maande saans voor ons bed gebrand. Die seep skuil veilig in my kas en elke keer as ek die laai ooptrek, verras die seder-en-poinsettia-geure my opnuut.
Berlyn
So gepraat van my kasdeure oopmaak en reuke wat opnuut verras: Die laaste reis voor ons landsgrense weens die grendeltyd gesluit het, was na Berlyn.
Frau Tonis het in 2009 haar deure geopen en bied universele parfuums wat almal handgemaak word in die stad. Daar is geen manlike of vroulike parfuums nie; jy kies die geur wat die beste by jou pas. As jy ’n afspraak maak met die parfumerier, meng sy vir jou jou eie unieke parfuum. Hemels!
Ons laaste reis voor inperking. En sowaar, dankie vir die herinneringe. (Foto: verskaf)
Die wit boksie met die pragtige swart en wit verpakking het baie troos gebied tydens inperking, want ek het vir ’n lang tyd gedink die pandemie is die einde van die wêreld en dus ook my reiskoors.
Hoe toevallig dat ek tydens dié besoek ’n groot plakkaat teen ’n muur sien wat lees: “Thanks Berlin for the memories.” Inderdaad so.
Dubrovnik
Nadat ons bo-op die stadsmuur gestap en gehoor het van die laaste aanslag op die stad van Dubrovnik in Kroasië in 1991, is ons half verkluim op soek na ’n restaurant. Daar sit nog koeëlgate van die Serwiese geweervuur in die horingoue muur en ons wil net ons gedagtes orden ná die insiggewende staptoer. Dis snerpend koud en dele van die land is spierwit van die sneeu.
........
Dis snerpend koud en dele van die land is spierwit van die sneeu. Dis egter die blomme- en bloekomreuk wat by die houtdeur van House of Nature uitwarrel toe ’n vrou die deur oopmaak, wat ons in ons spore laat vassteek.
........
Dis egter die blomme- en bloekomreuk wat by die houtdeur van House of Nature uitwarrel toe ’n vrou die deur oopmaak, wat ons in ons spore laat vassteek.
Binne is dit soos ’n blomtuin. Jou hele lyf ontdooi sommer. Daar is allerhande vlugtige olies wat in kerse, badsout, seep, parfuum en lekkerruiksakkies gebruik word.
Ek koop ’n klein ongebakte kleikruikie en tradisionele poppie waarop ek elke maand laventelolie gooi sodat ons rustig kan slaap.
Florence
Toe my skoonpa nog gelewe het, het hy elke jaar vir my skoonma ’n seep van Nesti Dante van Florence gekoop. Dit word plaaslik by verskeie winkels gekoop, maar die stigter Nesti Dante se inspirerende storie moes my skoonpa jare gelede geraak het. Dante het teen die einde van die Tweede Wêreldoorlog sy seepmaak-besigheid geopen.
My skoonpa het die seep in Europa leer ken toe hulle in die sewentigerjare daar gewoon het. Ek het dié tradisie van seepkoop vir my skoonma oorgeneem en elke jaar is een van hul heerlike natuurlike sepe deel van my verjaardaggeskenk aan haar. Ek vra nie of sy dit gebruik en of sy dit by my skoonpa s’n bêre nie. Dis nie my storie nie. Dis hulle s’n. Ons albei is gemaklik met die stille respek om die tradisie.
Waterberge
By Qwabi Privaat Wildreservaat buite Bela-Bela se nuutste toevoeging Babohi begin die ervaring sommer by die prag-lodge se deure. Lucy Phago verwelkom ons met ’n handewasseremonie. Jy was eers hande en kan dan kies uit drie Babohi-olies: rooibos-heuningbos; aalwyn-en-komkommer; en velvet breeze. (Foto: Clifford Roberts)
Verlede jaar gaan kuier ons by Qwabi Privaat Wildreservaat buite Bela-Bela. Die nuutste toevoeging is Babohi en die ervaring begin sommer by die prag-lodge se deure. Lucy Phago verwelkom ons met ’n handewasseremonie. “Hier by Babohi behandel ons julle soos konings en koninginne. Jy was eers hande en kan dan kies uit drie Babohi-olies: rooibos-heuningbos; aalwyn-en-komkommer; en velvet breeze. Elke gas kies een olie wat gedurende jou verblyf in jou kamer in ’n mooi glasbottel met rietjies gebruik sal word.”
Daar is talle plante, bosse en bome wat bydra tot die kenmerkende aromas van die bosbioom waarin die lodge val en met die drie gekose geure kan jy jouself verdiep in die unieke omgewing van die Waterberg-bioom. (Foto: verskaf)
Ek onthou hoe ons toe gehoor het dat mense maklik kan vergeet jy is in bos as jy in die luukse kamers instap. “Die geur dien as ’n herinnering aan jou omgewing. Die atmosfeer beïnvloed jou persepsie van jou ruimte en geur speel ’n kritieke rol in die indrukke wat ons vorm. Met boeiende geurprofiele sal hierdie geure jou na ’n rustige Afrika-landskap wegvoer.”
.......
Daar is talle plante, bosse en bome wat bydra tot die kenmerkende aromas van die bosbioom waarin die lodge val en met die drie gekose geure kan jy jouself verdiep in die unieke omgewing van die Waterberg-bioom.
.......
Terwyl ons hande sagkens ingevryf is met olie, het ons gehoor: “Hierdie vertroostende reuke roep dikwels gesinsherinneringe op wat lank begrawe is, soos kampvure, staptogte deur die bos, die eerste reëndruppels teen ons wange en die sagte klank van reën.”
Daar is talle plante, bosse en bome wat bydra tot die kenmerkende aromas van die bosbioom waarin die lodge val en met die drie gekose geure kan jy jouself verdiep in die unieke omgewing van die Waterberg-bioom.
“Hierdie vertroostende reuke roep dikwels gesinsherinneringe op wat lank begrawe is, soos kampvure, staptogte deur die bos, die eerste reëndruppels teen ons wange en die sagte klank van reën.” (Foto: verskaf)
Die geure word in ’n verskeidenheid produkte by die kuriowinkel aangebied. Hierdie geure laat jou toe om ’n stukkie van jou ervaring saam huis toe te bring, wat dien as ’n herinnering aan jou verblyf wat lank na jou besoek talm. Myne staan in die badkamer en elke keer as die stortdeur oopgaan, kan ek my verbeel ek is terug by Babohi.
En so kom daar toe so wraggies ’n aanhaling by my op – à la Mariano-styl: “Perfume is the most intense form of memory” van Jean Paul Gaultier.
En is dit nie waar nie?
Lees ook:
Ongewone ontwerpsentrum ook tuiste van ongewone installasies