
“As ek moeg word vir die lewe in die stad ...” (Foto: Clifford Roberts)
........
Ek sit met my voete in die koue bergwater; gooi klein ronde klippies dat dit hop oor die water; fluistersê die rympie: “koei, kalf, een, twee, drie emmers melk ...” soos in my kleintyddae saam met my pa op die plaasdam se wal, waar my oupa-hulle bywoners was. Tyd staan dan stil. Dis net die koelte van die water; die perfekte ringe wat die klein klippie agterlaat nadat dit deur die wateroppervlak geklief het en op die bodem gaan lê het.
........
Dis op sosiale media wat ’n foto van ’n glashuis in die middel van ’n woud my oog vang. Grasgroen rankplante omvou die dak; verskuil die swembadjie en braai. Sewe maande later breek die dag uiteindelik aan om ons tasse voor die hoë bed neer te gooi en stukkie vir stukkie weer mens te word.
Dis Vrydagmiddag toe ons op Fazenda in die Hermitagevallei buite Swellendam aankom. Die plaas se toerusting is stil; die naweek kom kruip in almal se moeë kuite. Die belofte van uitvaltyd snoer almal saam.

Jy kan glad nie ons glashuis sien as jy verbystap nie. (Foto: Clifford Roberts)
Terwyl ons gasvrou, Mari-Louise van der Merwe, ons rondwys, roep die Piet-my-vrou in die takke bo ons koppe. My oupa-hulle het geglo dié voël dui vir die lui boer aan wanneer hy moet begin saai, maar my ouma het geglo as jy sy eerste roep hoor, is dit tyd om jou Kerskoek te bak. Ons is nie saaiers of bakkers nie, so ons probeer eerder net die voël behoorlik deur ons verkyker sien. Maar tevergeefs.
Die pragtige – ontwykende – voël se geroep word die klankbaan van ons kuier. Vir vier dae hoor ons die roep tallose kere per dag. Maar die klein verelyfie bly ons ontwyk.
Die dae van ons kuier het geen orde nie. Iewers in die verte kraai ’n haan. Dan is dit seker, seker opstaantyd, of dalk ontbyt. As die bobbejane roep, is dit dalk gin-tyd, of etenstyd of slaaptyd ... wie sal weet.

Die plante binne en buite word deel van die ervaring. (Foto: Clifford Roberts)
Soggens met eerste lig sing die voëls jou wakker. Dan gaan my geliefde fietsry, terwyl ek bessies pluk, gevolg deur ’n vinnige koue swem én warm stort. Ons slof in pantoffels tot laatoggend, klim weer terug in die bed om saam koffie te drink, luister musiek wat by die reuseruite en oop deure uitspeel. Dis net ons en die woud en haar geluide.
Soos die hitte van die dag naderkruip, skuif ons om die huis. Soggens is dit koeler langs die swembadjie, smiddae langs die huisie voor die braai. Tussendeur vinnige plonse in die klein swembadjie wat soos ’n klein, diep graf koele lafenis beloof.

Elke aand maak ons vuur en braai onder die bome. (Foto: Clifford Roberts)

Mens kan heeltemal tred met tyd verloor hier. (Foto: Clifford Roberts)
Die windjie is só sag dat die boomvaring voor ons huisie skaars roer, maar dit speel amper onopmerklik viool in die boomtakke. In die wiegende plante langs die swembadjie kom kuier ’n Groot-rooibandsuikerbekkie ’n paar keer per dag en steek sy bekkie in die pers blommetjies vir stroopsoet nektar. Die son bak op sy metaalblou-groen en bloedrooi veertjies. Hy is skaars groter as twee saamgeperste wattebolle – hoe groot moet die wêreld nie vir hom wees nie!
........
Agter – as jy uit ons klein heilige klossie bome stap – hou die berge bloupers wag.
........
Daar is baie lag, baie kaartspeel en boeklees. Baie stappies tussen die rye en rye bessies wat op die plaas verbou word om allerhande interessante mengeldrankies vir sonsak te berei. Agter – as jy uit ons klein heilige klossie bome stap – hou die berge bloupers wag.

Oral waar jy kyk, hou die berge persblou oor ons koppe wag. (Foto: Clifford Roberts)
Met elke stappie in die woud gaan ons dennebolle optel vir vanaand se braai.
Ons gaan verken die riviertjie in die aangrensende Marloth Natuurreservaat; stap by die afdraaipad na die oornaghut toe. Op ’n reuseklip verpoos ons met kougoed: biltong en koue water. Die ligte sweet op my voorkop gou drooggewaai. Ons kyk daar op teen die fynbos-bedekte berg. Dit lyk of jy aan die hemel kan vat, dink ek.
My geliefde draai na my toe. Hy bly lank stil terwyl ek oor die lappies grond in die verte uitstaar. Hoe gelukkig is ons nie om hierdie land ons s’n te kan noem nie, mymer hy meer vir homself as vir my. Die skoonheid van die omgewing dwing jou tot introspeksie en stilte.

Ons pluk bessies in die rye en rye agter ons huisie en maak allerhande interessante drankies. (Foto: Clifford Roberts)
Die grootte van Moeder Natuur wat al miljoene jare hier is en – hopelik lank nadat ons ook deel van die kompos van haar grond geword het – hier sal voortbestaan, oorweldig my vir ’n paar tellings. Die hele mantra van “leef elke oomblik” kom lê homself weer voor my voete. Dit smeek om opgetel en saamgedra te word, ’n stille herinneringe aan hoe kosbaar elke minuut is.
Die laaste oggend gaan ons vir oulaas langs die rivier sit met koffie en beskuit. Die melankolie hang om ons skouers soos ’n swaar jas. Die onwerklikheid van hierdie magiese wegbreek het nou eers behoorlik begin insink en dis tyd vir huiswaarts keer.

Die koel rivier wat naby ons huisie verbyvloei, is waar ons soms vroegoggend gaan koffie drink het. (Foto: Clifford Roberts)
Ek sit met my voete in die koue bergwater; gooi klein ronde klippies dat dit hop oor die water; fluistersê die rympie: “koei, kalf, een, twee, drie emmers melk ...” soos in my kleintyddae saam met my pa op die plaasdam se wal, waar my oupa-hulle bywoners was. Tyd staan dan stil. Dis net die koelte van die water; die perfekte ringe wat die klein klippie agterlaat nadat dit deur die wateroppervlak geklief het en op die bodem gaan lê het.

Sampioene teen ’n boom maak sommer sy eie kunswerk. (Foto: Clifford Roberts)
’n Spierwit veertjie kom op die water aangedryf. Punt in die wind met die bolkant na onder, soos ’n klein seilbootjie op pad na êrens. Agter ons tuimel ’n klein stroompie water oor ’n keerwalletjie. Daar draai naaldekokers by ons enkels. My geliefde se foon is slaggereed vir foto’s: Alles word op die toepassing, iNaturalist, gelaai. Dis hoe hy sy ervaring van die natuur vasvang.

As jy opkyk in die bome in en die blare maak ’n hart, weet jy, jy is op die regte plek! (Foto: Clifford Roberts)
Ons stap amper sleepvoet terug na die huisie toe. Amper alles is klaar opgepak, net ’n laaste stort voor ons ry. In die koelte van die bome vertoef ek vir ’n paar tellings. Ek hoor die gefladder bo my kop.
Ons albei kyk op. Die Piet-my-vrou sit op ’n lae tak, só naby en duidelik dat geen verkyker nodig is nie. Ons kyk hoe die verebol sy sit kry en die borsie swel ...

Die verskeidenheid en kleure van die veldblomme laat jou telkemale stop. (Foto’s: Clifford Roberts)
........
Die bekkie gaan oop en die nou reeds bekende deuntjie drentel deur die bome en hang soos Kersversierings vir ’n paar vlietende sekondes aan die takke.
........
Die bekkie gaan oop en die nou reeds bekende deuntjie drentel deur die bome en hang soos Kersversierings vir ’n paar vlietende sekondes aan die takke.
Die kuier is volsirkel. Ons neem daardie oomblik saam in ons harte. “Die woorde is vergete, en tog, die deuntjie draal,” hoor ek die lirieke van Koos du Plessis se liedjie, “Kinders van die wind”.
Kitsfeite:
- Meer inligting oor ons verblyfplek en die ander opsies op die plaas is by https://fazendaswellendam.co.za/. Bespreek vir Fazenda by info@fazendaswellendam.co.za.
- Marloth Natuurreservaat is deel van Cape Nature en hierdie stil reservaat van 14 123 hektaar word saam met 16 532 hektaar privaat grond bestuur en is ’n Wêrelderfenisgebied. Meer inligting by https://www.capenature.co.za/reserves/marloth-nature-reserve.
Lees ook:
Pafuri: twee geleenthede vir onvoorwaardelik oorgee aan die natuur