Dis werk aan ’n televisiereeks wat my die eerste maal in my lewe van die N4 laat afdraai en in Middelburg, Mpumalanga tot stilstand bring. Maar nie sommer enige plek in die dorp nie, o nee, by die stasie. ’n Sierlike sandsteengebou van 130 jaar oud, wat sy bestaan te danke het aan ’n Nederlandse maatskappy van ’n vorige lewe, skryf Maryke Roberts.
Middelburgstasie word beskou as een van die argitektoniese meesterstukke van die Nederlandsche Zuid-Afrikaansche Spoorwegmaatschappij (NZASM). Die gebou het kantore, wagkamers, ’n kroeg en woonkwartiere vir die stasiemeester bevat.
Die spoorlyn is tussen 1890–1894 gelê en het die Zuid-Afrikaansche Republiek met Delagoabaai (Maputo) verbind, en daar is 20 stasies langs die lyn. Middelburgstasie is die sesde stasie van Pretoria op die Oosterlijn.
Dit is steeds een van die min stasies waar treine nog kan aandoen en dis ook een van die plekke waar die luukse Rovos Rail aandoen.
Die stasiegeboue is in 1895 voltooi nadat die spoorlyn al in werking was. Die argitekte van NZASM was onder leiding van C van Lissa. Daar was destyds vele kritiek, want die stasie was 1 km vanaf die dorp en daar was selfs ’n versoek om ’n tremspoor tussen die stasie en dorp te laat bou. Middelburgstasie is in 1980 as Nasionale Monument verklaar. Paul Kruger het die lyn op 29 Mei 1900 gebruik toe hy na Nederland gevlug het en daar is selfs gerugte dat van die Kruger-ponde hier versteek is, vertel Johan Janse van Rensburg, die huidige rentmeester van die mooi geboue.
Die storie van die hoekom en die waarom ek hier beland het, lui só: As inhoudsvervaardiger van die restaurant-evolusie-reeks In die Sop se derde seisoen, kies ek die eienaars van Stoom Pub & Grill as een van die 13 restaurante wat danksy ingryping van die bekroonde aanbieder en sjef Bertus Basson en dekorkenner Misi Overturf, ’n nuwe lewe kry.
Hul fokus is die restaurant wat Johan Janse van Rensburg en sy verloofde Liezl Prinsloo drie jaar gelede daar in en om die stasiegebou geopen het.
Die stasie bestaan tans uit twee spoorwegmuseumkamers, ’n koffiewinkel in die stasiegebou en ’n restaurant buite onder ’n tent, met treine wat op tussenposes verbyklak en treinbestuurders wat hul fluitjies blaas en vir ons terugwaai. Mens word sommer weer kind.
Oor drie vol dae word die stasiegeboue heeltemal omgeswaai en oorgeverf, die uitleg van die museumkamers verbeter en nuwe ligte gemaak en geïnstalleer. Dit lyk weer soos die statige bloukamers van die treinstasies van die vorige eeu. Daar is veral baie nostalgie oor die bekende Rotunda, die bloukamer by Johannesburgstasie.
In ’n stiller oomblik toe die emosies ná al die opknappings bedaar het, vra ek Johan uit oor waar al die museumstukke vandaan kom. Ek begin sommer met die ou spoorstaafteken wat voor die stasie gemonteer is. In die blou sirkel pryk die woorde “Middelburg Erfenis” en daar is ’n skandeerkode vir meer inligting oor die stasie.
“Ek is deel van die erfeniskomitee van die dorp en ons het heelwat van die ou geboue en geskiedkundige plekke met soortgelyke borde toegerus. Dit gee aan besoekers die geleentheid om op hul eie die dorp se geskiedenis te ontgin,” vertel hy.
Johan, ’n senior- meganiese tegnikus van beroep, erken dat hy en sy verloofde Liezl Prinsloo stoomtreinverslaafdes is. Stoomtreine is in hul albei se bloed: Johan se passer-en-draaier-pa, Buks, was destyds deel van die spoorweë se spanne wat ontspoorde treine weer op hul spore gaan terugsit het. Johan se pa se vakleerlingkontrak pryk in die museum. Hy het in 1962 uit die skool gegaan en as passer en draaier op myne begin werk. “En daardie jare het die stoomtreine nog die goud en steenkool vervoer en ek het gereeld saam met hom myne toe gegaan en my liefde vir treine het daar ontluik.”
Op sy voorarm pronk ’n tatoeëermerk van ’n 1127 en ek vra hom daaroor. “Dis die klas 8A, die lokomotief wat ons in 2010 geskuif het na die Dros op die dorp,” verduidelik hy.
Liezl se oupa en pa het vir die spoorweë gewerk – een as stasiemeester en een as kondukteur – en sy sê almal het maar iemand wat verband het met die spoorweë.
Van hul ander kosbaarste besittings in die museum is die lampversameling. Ek vra uit oor ’n reusemasjien. Johan verduidelik dis die Van Schoor-masjien waarvan elke stasie destyds twee gehad het, wat vir kommunikasie gebruik is. Die masjien het tablette uitgedruk met die volgende stasie se naam op.
Maar hoewel Johan en Liezl passievol oor stoomtreine en ons erfenis is, het hulle geen ervaring as restaurateurs nie en dis toe hoekom hul restaurant in die sop beland het en ons daar gaan kuier het. Gelukkig is hulle uit die sop en reg vir die volgende deel van hul emmerlys: Hulle wil die enigste stoomtreinoperateurs in Mpumalanga wees.
“Dis die sentra vir toerisme hier en almal moet hier by Middelburg verby om by die Kruger Wildtuin, Graskop en Sabie uit te kom. Dis ’n bestemming en dis ’n groot ding vir ons om weer toeriste in die dorp in te trek. Ons praat met toeroperateurs om hierdie droom te laat realiseer.
“Saam met Transnet Freight Rail is daar al toetsritte gedoen om vanaf Middelburg na Dullstroom te ry met ’n regte stoomtrein. Ons het alles in plek om voort te gaan. Treine, coaches, drywers, nou net om die finansies in plek te kry.”
Johan het in 2018 ’n gerestoureerde stoomlokomotief – die Rooiduiwel – besoek en sy maatskappy Mpumalanga Rail Company begin met die oog om toeriste te vervoer met stoomtreine in Mpumalanga. Sy soektog na ’n geskikte plek om die wiele aan die rol te sit het hom na die verlate Middelburgtreinstasie gelei. Johan het ’n ooreenkoms met die spoorpendelkorporasie PRASA en huur die geboue.
........
Die man weet waarvan hy praat; hy het immers al twee stoomlokomotiewe aangekoop en by soortgelyke operateurs elders in die land gaan kers opsteek. Toetsritte is al onderneem Dullstroom toe. Die finale reëlings en permitte is nou in aanvang.
........
Die man weet waarvan hy praat; hy het immers al twee stoomlokomotiewe aangekoop en by soortgelyke operateurs elders in die land gaan kers opsteek. Toetsritte is al onderneem Dullstroom toe. Die finale reëlings en permitte is nou in aanvang.
Teen die mure pryk groot skilderdoeke met inligting op. Ek lees daar dat die jong Australiese immigrant, Oscar Henry Frewin, in 1902 voet aan wal gesit het in Suid-Afrika. Dié naam sou in later jare een van die grootste en bekendste name in die koerantwese word. Middelburg, met sy groot aantal Engelse besettingsmagte, het die jong, avontuurlustige man gelok en hy sluit hom by Shimeld en Kie, eienaars van die drukkery in Middelburg, aan. ’n Tweedehandse drukpers het destyds nie betyds opgedaag nie, maar met behulp van die besettingsmagte se handpers wat op ’n wa gemonteer was, is ’n biljet op 25 April 1903 uitgegee.
Met ’n verskoning dat die eerste uitgawe van die Middelburg Herald ’n week laat sou wees, is die voorloper van die huidige Middelburg Observer in die biljet aangekondig, tesame met ’n paar nuusberigte as voorsmakie van die volgende week se Herald. Nadat die besettingsmagte Middelburg verlaat het, het die koerant moeilike dae beleef, maar OH het steeds vertroue in sy koerant gehad. Met R20 as eerste afbetaling, koop hy in 1908 die koerant vir R1 000. Man-alleen het hy die koerant uitgebou en sy netjiese drukwerk het spoedig landswyd bekend geword. Geen slordige werk is ooit geduld nie en OH het ’n reputasie as onverbiddelike perfeksionis gebou. Hy was destyds onder meer die eerste plattelandse redakteur wat met drukwerk in drie kleure proefnemings gemaak het. Hy was ook een van diegene in die Suid-Afrikaanse koerantwese wat die voortou met die stigting van ’n Suid-Afrikaanse Persunie geneem het. Van hom het die inisiatief vir die stigting van ’n plattelandse koerantvereniging gekom.
Hoe sou ek ooit kon raai dat ek bykans ’n eeu later deel van daardie einste koerantvereniging sou word en darem ’n paar skryfpryse in hul jaarlikse kompetisies kon inpalm!
Ander mense wat hier teen die mure gehuldig word, sluit ook Oliver “Jack” Hindon in. Hy word daar beskryf as Boereheld. Alhoewel Hindon in Skotland gebore is en saam met die Britse leër gearriveer het, was hy toegewyd aan die Boeresaak vanaf die Jameson-inval in 1895/6 tot die einde van die Anglo-Boereoorlog in Mei 1902. Hy het sy lewe gewaag tydens die slag van Spioenkop en later tydens sy vele aanvalle op treine.
Op 13 Februarie 1901 het Hindon en 200 man suksesvol ’n swaarbelaaide goederetrein oos van Balmoral vernietig. Een van die strate in Middelburg is na hom vernoem. Hy is in 1919 oorlede en in die Middelburg-begraafplaas begrawe.
En terwyl jy meer raaklees oor die Anglo-Boereoorlog: Middelburg was ten tye van die Anglo-Boereoorlog ’n administratiewe sentrum vir die omliggende area en daarom sou die dorp ook sentraal wees tot die lotgevalle van vele vroue en kinders gedurende die oorlog.
Op 27 Julie 1900 is Middelburg deur die Britse magte beset en word dit ’n administratiewe en logistieke spilpunt van die Britse gesag. Kitchener gee in Desember 1900 opdrag dat ’n konsentrasiekamp in Middelburg gevestig moet word. In Julie 1901 het hierdie kamp reeds 7 751 inwoners gehad. Uiteindelik sterf daar ongeveer tussen 1 314 en 1 621 persone in die drie kampe.
Volgens bronne was die eerste konsentrasiekamp net oorkant die suidekant van die spoor agter twee huisies. Beide die huise is gebou in dieselfde tyd as die NZASM-projek en was reeds voltooi in 1895. Die vroue wat in die huisies aangehou is, was waarskynlik die slagoffers van Britse strafoptrede na die aanvalle op die spoorlyn deur genl Ben Viljoen se magte en hou waarskynlik verband met genl Viljoen se klagte oor behandeling van vroue en kinders aan genl Paget.
Mens weet nooit wat agter die ou fasades van stasiegeboue skuil nie!
Stoom Pub & Grill het pas sy derde verjaardag daar in die stasie gevier en Liezl sê: “Dis vir ons baie bevredigend om die heimwee te sien wat besoekers ervaar as hulle die stasiegebou besoek, die stasiepasteie eet en die ou treinmemorabilia in ons museumversameling sien. Stoom bring mense bymekaar en dit maak ons trots om dit in Middelburg te kon doen.”
Hier kom ook baie mense wie se geliefdes in die konsentrasiekampe gesterf het.
Ek sien ook foto’s van die eerste Great Train Race wat op 23 November gehou is en vra uit. Daar het meer as 1 680 atlete deelgeneem.
Johan vertel: “Die treinresies kom al van 1987 en is die grootste liefdadigheidsgeleentheid in Mpumalanga. Op sy kruin was daar gemiddeld 10 000 atlete wat van Witbank na Middelburg teen die trein gehardloop het. Dit het egter met Covid doodgeloop en ek en Liezl het Rotariërs van Middelburg en Witbank bymekaargekry en weer lewe daarin geblaas.
“Die roete moes egter verander, want die provinsie wil nie die Ou Witbank-Middelburg-pad toegemaak het nie as gevolg van veiligheid. Daar is toe besluit om te hardloop van Panstasie na Middelburgstasie. Mpumalanga Rail Company was een van die organiseerders saam met die twee Rotariërklubs. Die resies bestaan uit ’n 21,7 km, 10 km en ’n 4,9 km pretloop. Daar is ook ’n aflosafdeling, waar vyf mense die 21,7 km hardloop.
“Vanjaar was daar egter geen trein nie, maar Transnet beloof om ons volgende jaar mooi te help,” sê hy.
Terwyl ons gesels hoor ons ’n trein fluit en hy beduie ons moet gou vir Rovos Rail se passasiers gaan waai. Die trein stop nie vandag by Middelburg nie, maar dis lekker om vir die passasiers te waai.
Dis juis Rovos Rail se eienaar en patriarg, Rohan Vos, wat by Johan die idee van om weer die era van stoomtreine en dagpassasiers te laat herleef, laat posvat het. Dit was immers hoe Rovos Rail meer as drie dekades gelede begin het.
Dis ook saam met Johan en Liezl wat ek die volgende dag in die Rovos Rail-museum in hul privaat Capital Parkstasie in Pretoria gaan kuier. Dis hier waar die meeste van die treine vertrek en weer arriveer. Dis ouwêrelds op sy mooiste. Hulle wil hul liefde vir treine deel en waar beter as hier?
Die eiendom spog met ’n steeds groeiende spoorwegmuseum – wat ’n historiese versameling treintoebehore toon – benewens sy ander omvattende fasiliteite en sal met die byvoeging van semafoorseine en ’n voetbrug die atmosfeer van ’n volwaardige spoorwegstelsel herskep. Daar word beoog dat hierdie fasiliteit mettertyd die voorste werkende treinmuseum ter wêreld moet word.
Die oë van spoorentoesiaste sal gevestig word op die uitgestrekte wa- en lokomotiefskure waar spanne toegewyde personeel die rollende materiaal in perfekte orde hou. Hierdie onderdakwerkswinkel van 10 000 m2 strek oor 15 spoorlyne met betoninspeksieputte hieronder, en is die uiteindelike herstel- en instandhoudingsfasiliteit vir enige treinbedryf. Die lae rooibaksteengeboue langs die nuwe 300 m platform huisves wasserye, glimmende vlekvryestaal-kombuise en goed gevulde stoorkamers. Dit is die besige middelpunt van ’n voorsieningsoperasie wat wêreldklas is wat doeltreffendheid en aandag aan detail betref.
Mens kan nie onaangeraak by enige van die twee spoorwegmuseums wegstap nie. By die een kan jy lekker lank vertoef met ’n stasiepastei en -koffie en dalk nog vir treinpassasiers waai; by die ander kan jy dalk sien hoe die luukse trein uit die stasie wegtrek en jou nostalgie nóg verder verhoog.
- Lees meer oor die televisiereeks hier in ’n storie op LitNet: https://www.litnet.co.za/in-die-sop-op-kyknet-n-onderhoud-met-maryke-roberts/
- Lees meer oor die interessante geskiedenis van Rovos Rail hier: https://rovos.com/about-rovos/
- Lees meer oor die geskiedenis van Middelburg: https://middelburginfo.co.za/
- Lees meer oor Stoom Pub en Grill op facebookttps://www.facebook.com/groups/448332186669096/
- Die volgende Great Train Race word op 16 Augustus 2025 gehou.
Lees ook:
Weelderige Oudtshoorn-volstruisvere weer op die wêreld se lippe