
!Khwa ttu San Erfenis- en Opvoedingsentrum wat in 2018 op Erfenisdag geopen het (Foto: Clifford Roberts)
Mens dink so dikwels “erfenis” is braaibroodjies, bobotie, melktert en braaivleis, of pap en marog en chakalaka, want dis wat ons almal met groot oortuiging op 24 September in Suid-Afrika vier. Maar ons erfenis strek eintlik duisende jare terug, na die San, die Eerste Mense wat hier die aarde bewandel het. Hiervan leer ons meer by die !Khwa ttu San Erfenis- en Opvoedingsentrum wat in 2018 op Erfenisdag geopen het.
Op die R27, sowat 70 km van Kaapstad af, op pad na Yzerfontein, kry “erfenis” ’n heeltemal ander betekenis. Met die kort paadjie na die ingang lees ek die inligtingbordjies wat so kniehoogte die weg aanwys: “Die San is afstammelinge van die jagter-versamelaars wat eens regoor Suid-Afrika geleef het. Daar is 130 000 San wat in ses lande woon, maar meeste van hulle kom in Namibië en Botswana voor. Hulle praat ongeveer 10 tale. Skattings verskil afhangende van die definisie van ’n taal en ’n dialek. Sommige San-tale verskil soveel van mekaar, dat verskillende groepe mekaar nie kan verstaan nie.”
’n Ander bordjie verklaar dat die San se voorvaders die Eerste Mense is van wie ons almal afstam. Dit laat jou stilstaan. Jy weet sommer instinktief dat hierdie op ’n manier ’n tuiskoms is; dat dit deel van ons almal se erfenis is.
“Die storie van die San is een wat baie mense regoor die wêreld dalk nie ken nie, maar dit is een wat almal sal herken. Dit is ons storie – die storie van die mensdom.
“By !Khwa ttu vertel die San hierdie storie, in hul eie woorde.”
Die eerste ding wat my oog vang toe ek by die ontvangs van !Khwattu instap, is die World Travel Market Africa se glastrofee vir verantwoordelike toerisme 2024 in die vensterbank. (Foto: Clifford Roberts)
Maar dis dié woorde wat my nog lank sal bybly: “In tye van globale omgewingskrisisse, dien die San as ’n uitsonderlike voorbeeld van hoe dit eens moontlik was om volhoubaar te leef. Hul kennis van die gebruik en bestuur van ons natuurlike hulpbronne bied kritiese insig en inspirasie vir ’n beter toekoms.”
Die eerste ding wat my oog vang toe ek by die ontvangslokaal van !Khwattu instap, is die World Travel Market Africa se glastrofee vir verantwoordelike toerisme 2024 in die vensterbank. En presies hóé verantwoordelik, is wat jy uitvind tydens jou besoek op een van die verskeie aktiwiteite wat jy daar kan doen.
Agter die ontvangstoonbank groet Baby-Rose Filander baie vriendelik met “Honkia!” (die N|uu-woord vir “Hallo”) en oorhandig ons sleutel.
Die pragtige dekor van die nuwe Fynbos-huisies is so plattelands en plaaslik as kan kom. (Foto: Clifford Roberts)
Maar voor ons aktiwiteite ondersoek, is my nuuskierigheid vir die nuwe Fynboshuisies te groot. Eers gaan nesskop. Met vorige besoeke het ons in die ouer selfsorghuisies naby die besoekersentrum gebly, wat op ’n klein koppie gebou is en uitkyk oor die see en vlaktes, met Tafelberg wat in die vertes wink.
........
Die huisie is toe só lekker ingerig dat ons besluit om geen aktiwiteite te gaan onderneem nie, maar eerder vuur te maak vir ons warmbadjie buite, die braaivleisvuur aan te steek, en met yskoue Sea Salter van Groote Post wynlandgoed net om die draai te ontspan. Ons gooi al die deure en vensters oop en laat die Weskus-reuke en -klanke in ons murg en been kom inklim.
........
Vir die nuutste toevoeging ry jy op dieselfde grondpaadjie waarmee jy na die besoekersentrum gery het, terug na die R27, kruis die teerpad en ry dan ’n kort entjie see se kant toe, na die ses nuwe houthuisies. Ons het die geleentheid om die nuwe Ford Ranger Platinum 3.0L V6 Diesel te toetsbestuur en die grondpad is dié kragtige voertuig se kos! Vir die aardigheid gebruik ons die 4x4-funksie en ry ongehinderd oor elke hobbeltjie en waterpoeletjie in die pad.
Ons het die geleentheid om die nuwe Ford Ranger Platinum 3.0L V6 Diesel te toetsbestuur en die grondpad is dié kragtige voertuig se kos! (Foto: Clifford Roberts)
Die voertuig het ook die teerpad met baie groot gemak opgeslurp. Koel sitplek vir my wat altyd warm kry, warm sitplek vir my koulike geliefde! En lekker hoë koffiehouers neffens die deur, waarin ek sommer so in die ry my gemmerkoekies van die padstal kon doop!
Plaaslike wyne, olywe en kaas, en die lewe is mooi! (Foto: Clifford Roberts)
As jy minute later daar op die verhoogde loopplank tussen die fynbos stap, kry die nuwe huisies se name waarlik betekenis. Die windjie roer in die fluitjiesriet en proteas, bye zoem met stuifmeelbedekte voete tussen oop blomme, en voëls tjirp in die bome. Ware fynboshemel vir mens en dier!
Die huisie is toe só lekker ingerig dat ons besluit om geen aktiwiteite te gaan onderneem nie, maar eerder vuur te maak vir ons warmbadjie buite, die braaivleisvuur aan te steek, en met yskoue Sea Salter van Groote Post wynlandgoed net om die draai te ontspan. Ons gooi al die deure en vensters oop en laat die Weskus-reuke en -klanke in ons murg en been kom inklim.
Die nuwe huisies word amper een met die natuur. (Foto: Clifford Roberts)
Laatmiddag toe die son die dekrietbiesies met goud omlyn, jag ’n jakkalsvoël voor ons stoepie. Hy is so naby dat jy die strepies op sy borskasvere kan sien. Met ons braai aan die gang, sit ons in die warm water en kyk hoe die sterre een na die ander aan die pikswart hemel kom hang, asof daar iewers kinderhandjies sterre uit ’n boks ophang.
Ons rol die blindings op toe ons gaan slaap, en gooi nog hout op die vuur in die binnekaggel by die bed se voetenent.
Ons hoor deur die nag hoe die storm nader kom. Dit sous in vlae regdeur die nag. Die oggend breek grou en ons stook weer die kaggel en sit en lees met ons koffie in die bed.
Ons bestel een aand ’n aandete en dit word amper soos ’n geskenk afgelewer in mooi gedrukte sneespapier. (Foto: Clifford Roberts)
Eers ’n heerlike ontbyt in die restaurant langs ontvangs. !Khwa ttu ondersteun plaaslike verskaffers en bykans alles op die spyskaart reis nie meer as 45 km tot in hul spens nie. Die vuurtjie knetter gesellig in die kaggels en in die oondjie waarin roosterkoeke gebak word.
Ons kan uit verskeie aktiwiteite kies: Die sentrum bied vyf nuwe begeleide toere wat elkeen 45 minute lank is. Dit sluit die drie geboue in (First people – food from our forefathers; Encounters – when cultures collide; en The way of the San), asook die teeproe in die kruietuin en spoorsnytoer. Jy kan ook die geboue self verken, met ’n oulike kaart wat jou begelei.
........
Alles is ontwikkel om jou sintuie én brein te stimuleer. Daar is geluide en tasbare uitstallings, klanke en klieks, en dis soms moeilik om te glo jy is so naby aan die Moederstad, want dit voel asof jy honderde jare gelede in die rooi duine van die Noord-Kaap dwaal met ’n boog op jou rug en ’n volstruiseierdop vol water.
........
Alles is ontwikkel om jou sintuie én brein te stimuleer. Daar is geluide en tasbare uitstallings, klanke en klieks, en dis soms moeilik om te glo jy is so naby aan die Moederstad, want dit voel asof jy honderde jare gelede in die rooi duine van die Noord-Kaap dwaal met ’n boog op jou rug en ’n volstruiseierdop vol water.
Soos ons stap, is dit die gidse se oeroupas en -oumas wat op die foto’s uitgebeeld word. Daar is trots in hul stemme as hulle dit uitwys. Ons doen ons eie toere, maar ek hoor hoe een van die gidse vir ’n groepie Britse toeriste vertel: “Die sukses van hierdie plek is in onse mense.” Sy skop haar toer af deur te verduidelik hoe jy “!Khwa ttu” sê: “Soos die klap van ’n kurk uit ’n sjampanjebottel, gevolg deur ‘toe’.”
Bo en onder: Die uitstallings in die nuwer erfenismuseum maak die ervaring soveel meer eg. (Foto: Clifford Roberts)
By ’n uitstalling wat sê ons almal se voorvaders kom van hier, verpoos sy. “Oosterlinge of julle Britte sê altyd hulle kom nie van Afrika nie, maar ek sê: ‘Welkom tuis.’ Ons kom almal van hier, van een plek af. Suidelike Afrika is die plek waar die mens mens geword het. Hierdie is die wieg van die menslike kultuur. Jy kom nie by ons kuier nie; jy kom huis toe.”
Ons kry ons eie kopie van Gathering fynbos – ethnobotany of the San, ’n oulike boekie wat deur die span by !Khwa ttu saamgestel is, en daarin kan jy lees oor alles van wildeals tot soethoutbossie en hongertee. Al die kruie onder die tees wat jy kan geniet, laat my mond water, maar gelukkig wag Donika Dala vir ons onder die boom met ’n oulike tafeltjie en varsgebroude tee. Sy vertel van kastybos en klein kattekrui en nawelkruid en bruinsalie en kraalbos, maar toe ek die eerste slukkie van hul eie tee, !Khwa ttu brew met rooibos, kankerbos, wildedagga, boegoe en wildeals, proe, slaan my ore toe en is ek in teehemel.
Ons kry ook ’n afdruk van Boesmanstories, saamgestel deur Gideon von Wielligh – ’n herdruk van sy twee volumes, wat bykans 100 jaar nadat dit die eerste maal verskyn het, weer uitgegee is. In die voorwoord skryf Irene Staehelin dat daar van tyd tot tyd “geskrifte uitgegee sal word, wat meesatal van belang is vir die San gemeenskappe en die nasate van die oorspronklike |Xam-sprekende mense van die Wes-Kaap”.
Bo: Daar is vyf nuwe begeleide toere wat elkeen 45 minute lank is. Dit sluit die drie geboue in (First people – food from our forefathers; Encounters – when cultures collide; en The way of the San), asook die teeproe in die kruietuin en spoorsnytoer. Jy kan ook die geboue self verken, met ’n oulike kaart wat jou begelei. (Foto’s: Clifford Roberts)
Die boek is vol oulike stories van die sterre en kole; van hamerkopvoëls en paddas; die groot waterslang; die “watermeid”; die geniepsigheid van die skilpad.
So tussen al die kyk en leer deur, vind ons uit dat die pragtige sentrum sy ontstaan te danke het aan die Switserse antropoloog Irene Staehelin, wat die 850 hektaar koringplaas in 1999 gekoop het waar die !Khwa ttu-projek in 2006 sy deure vir die publiek geopen het. Irene is geïnspireer deur ander erfenissentrums in die VSA en Kanada waar sy al besoek afgelê het, en wou graag die San-storie vertel – maar deur die San self. Sy het later die Ubuntu Stigting in Switserland gestig om fondse in te samel vir die projek.
Die eerste deel van die projek was om die voormalige koringplaas se vervalle geboue op te knap en uitstallings in oorleg met argeoloë en antropoloë saam te stel, en stadig maar seker is die lande weer na hul oorspronklike toestand herstel en wild teruggebring. Besoekers kan vandag sommer langs die grondpaadjies onder meer elande, bontebokke, sebras, swartwildebeeste, springbokke, volstruise, jakkalse, steenbokke en duikers en ’n magdom voëlspesies sien.
Laatmiddag het ons die sonsakrit op die wildkykvoertuig met die gids, Matios Sibongo, bespreek. (Foto: Clifford Roberts)
Tien jaar later is die tweede deel van die projek aangepak: die erfenismuseum. Hierdie gebou spog binne met rooi sand waarin plante welig groei, ’n paar San-skerms, lewensgroot foto’s en selfs ’n 360 grade-skerm waarteen die lewe in ’n San-nedersettting per film uitgebeeld word.
Geen plakkaat of uitstalling is opgerig voor die ouer mense en leiers van die San die inligting verifieer het nie. Die museum is die volbringing van Irene se droom van “’n plek waar die stories kan woon” en sy kon dit nog voor haar dood in 2019 beleef.
Een van die ander gidse vertel later vir ’n Duitse groep in die erfenismuseum dat almal hier trots is op hul San-herkoms. “Daar is nie iets soos ’n ‘Khoisan’ soos baie mense praat nie. Jy is óf San of Khoi-khoi.”
Ons is dankbaar vir die alleen wees. Die weer wat hou. ’n Pienkrooi uitspansel met kwaai branders in die verte. Langebaanmeer waarin die son oranjerooi weerkaats en prentjies in ons vonkelwynglase maak. Vir die mooi. Vir die natuur. Vir erfenis. (Foto: Clifford Roberts)
Laatmiddag het ons die sonsakrit op die wildkykvoertuig met die gids, Matios Sibongo, bespreek. Hy vier vanjaar sy 11de jaar hier. Ek kan my verluister aan sy praat. Dit neem my terug na my kinderdae in die Kalahari en ’n gestroopte en direkte Afrikaans soos wat hy praat. Ons stop by drie sebras en hy vertel: “Sebras gee een skop agtertoe. Die magtigste wapen is die agterpoot. Hy wil vir jou laat weet: Met hierdie gaan ek jou seermaak.”
En toe ons later by elande met klein kalfies stop, verklaar hy ewe plegtig: “Die varsste enetjie wat ek gesien het, is vroeër dié week.” Hy kyk ons ook so half ongelowig aan toe ons by die lapa uitklim en hy die peuselbord en yskoue vonkelwyn van Darling Cellars neersit. “Nie baie mense vra vir die sonsakritte as dit koud is nie.” Ons is dankbaar vir die alleen wees. Die weer wat hou. ’n Pienkrooi uitspansel met kwaai branders in die verte. Langebaanmeer waarin die son oranjerooi weerkaats en prentjies in ons vonkelwynglase maak. Vir die mooi. Vir die natuur. Vir erfenis.
........
Ons is dankbaar vir die alleen wees. Die weer wat hou. ’n Pienkrooi uitspansel met kwaai branders in die verte. Langebaanmeer waarin die son oranjerooi weerkaats en prentjies in ons vonkelwynglase maak. Vir die mooi. Vir die natuur. Vir erfenis.
........
In die verte sien jy die gerusstellende draaiende lig van die vuurtoring op Dasseneiland.
Terug by ons huisie is dit weer vuurmaak in die binnekaggel en dan ons lekker wegneemmandjie met kos wat ons uit die restaurant bestel het, geniet met ’n bottel Old Man’s Blend van Groote Post. Local is mos lekker!
En dit geld nie net vir die wyn in ons glase en die produkte in ons kosmandjie nie. Selfs die dekor in die huisie is plattelands en vanuit die omgewing, van Mia Melange, African Jacquard, tot kunswerke van die botaniese kunstenaar Lynda de Wet uit die Ronderberg Millennium-versameling teen die mure.
Pelikane gly geruisloos bo teen die bloedrooi hemel op pad na hul oornagplek. Die windjie roer saggies in die bloekombome agter ons huisie.
Saans kyk ons hoe die fluitjiesriet patroontjies teen die ondergaande son maak. (Foto: Maryke Roberts)
Die volgende oggend is ons vroeg op en gaan stap in die veld, kyk voëls en insekte in die veld. My geliefde is ’n ywerige iNaturalist-bydraer en neem alles op sy selfoon af en laai dit op die toepassing.
Toe ons Sondag ná ontbyt en sleutel afgee terugry hek toe om huiswaarts te keer, pronk twee volstruismannetjies: raafswart met spierwit vere wat pronkerig onder hul vlerke uitloer en ’n koffie met melkerigheid in die pluim stertvere langs die pad. Ons sluit die Ford se enjin af, gooi die ruite oop en drink vir oulaas die vrede in.
Voor ons huis toe ry Sondag, maak ons eers ’n draai by Greening Up Kwekery by die kruising van die R27 en R315 en neem ’n paar fynbosplante huis toe om die lekkerte van die fynboservaring nog langer uit te rek.
Kitsfeite
- Daar is stap- en fietsroetes oor 5 km en 10 km op die plaas en jou hond is welkom. Alles wat jy wil weet oor die !Khwa ttu San Erfenis- en Opvoedingsentrum, is by https://www.khwattu.org. Bel (022) 492-2998 of stuur ’n e-pos na info@khwattu.org.
- Vind hier meer uit oor die Ford Ranger: https://www.ford.co.za/showroom/future-vehicle/new-ranger/platinum.
- Meer oor wat daar te sien en doen is in die groter Yzerfontein-omgewing: Besoek die toerismeburo in Hoofweg 46, bel (022) 451-2985 of stuur ’n e-pos na yzerfontein@swartlandtourism.co.za.