Slawerny is steeds deel van ons

  • 0

Die Iziko Slawelosie is een van die oudste geboue in Kaapstad. (Foto: Clifford Roberts)

Op ’n bus op pad na die aktiewe vulkaan op die klein Franse eiland, Réunion, vier maande gelede, is ons gids se storie vervleg met slawerny; die naamsveranderinge waarmee afstammelinge worstel wanneer hulle hul stamboom navors; en die onmenslike omstandighede waarin slawe moes leef. Hy smeek dat ons nooit die slawe se stories moet vergeet nie.

Een van die vroue op die bus sê hierop dat ons nie kan vergeet nie, want ons almal se bloedlyne is met slawerny vervleg. Daar is nie iets soos ’n suiwer ras nie.

Stof tot nadenke vir vele; ongemaklike waarheid vir ander.

Twee jaar gelede het ons gemasker en gewapen met saniteerder die nuwe uitstalling by die Iziko Slawelosie langs die Kompanjiestuine in Kaapstad gaan bywoon. Die opening van Wie was die slawe? Ter herdenking van lewens onder slawerny aan die Kaap die Goeie Hoop het saamgeval met die hernoeming van die museum se verskeie kamers en ruimtes.

Die permanente uitstalling oor die slawe aan die Kaap word op die grondvloer van die gebou gehuisves. (Foto: Clifford Roberts)

Die idee is dat elke keer as ons die vernoemde kamer se naam uiter, die slaaf of onderdrukte na wie dit hernoem is, vereer sal word, en hul name en aksies in die ruimte van die Slawelosie en in die gedagtes van die besoekers, die mense van Suid-Afrika en die mense van die wêreld, in die publieke geheue herstel sal word.

Wie was die slawe? gee ’n omvattende blik en probeer om die vrae te beantwoord van wie die slawe regtig was; watter werk het hulle gedoen en hoe het hulle dit reggekry om ’n nuwe, onwelkome – en dikwels gewelddadige – omgewing te oorleef, veral as jy in ag neem dat baie van hulle nie mekaar se tale kon verstaan nie en hulle boonop hernoem is en vir hulself vreemd moes voel. Slawe het meestal uit verafgeleë streke soos Suid-Asië, Suidoos-Asië, Madagaskar, Oos-Afrika en Wes-Afrika gekom.

........
Hoe ironies dat jy daar in die Slawelosie staan, ’n plek van soveel hartseer, maar wat nou die verlede ontbloot om heling te bring.
........

Toe het die gasspreker genoem dat 63 000 slawe na die Kaap gebring is via die Indiese Oseaan-slawehandel. Hoe ironies dat jy daar in die Slawelosie staan, ’n plek van soveel hartseer, maar wat nou die verlede ontbloot om heling te bring. Die losie is een van die oudste geboue in Kaapstad en was ook al ’n regeringskantoor, ou hooggeregshof en kultuur-historiese museum. Dis in 1998 na die Slawelosie herdoop en stadig maar seker word menswaardigheid hier deur inligting herstel.

In een van dié hernoemde ruimtes in die Slawelosie, die Jan Smiesing-kamer, word jou besoek omhul met die klanke van ’n beierende slaweklok. (Foto: Clifford Roberts)

Dis Augustus 2024 toe ek in een van dié hernoemde ruimtes in die Slawelosie met gesluite oë na die beierende slaweklok in die Jan Smiesing-kamer staan.

Dis die maand bykans 200 jaar gelede wat baie voormalige Europese kolonies in die Karibiese See en dele van Amerika Emansipasiedag vier.

Die eerste paar maal is die klok wat jy van ver af kan hoor, nogal bekoorlik. Hoe nader jy aan die luidsprekers stap en dit jou opnuut bewus maak van hoe gereguleerd slawe se lewens nou eintlik was, hoe minder mooi is die klokkespel.

Ek moet glimlag by ’n illustrasie gebaseer op ’n waterverfskildery van Johannes Rach uit 1761, waar ’n slawelosie-polisieman ’n slaaf of bandiet aan ’n tou begelei met ’n stok oor sy kop, met dié woorde bo-aan: “At the top of the Lodge’s hierarchy were Europeans... [But] the only Europeans there – a reflection of the status of the slaves – were the lunatics and criminals” (R Shell, 1994). (Foto: Clifford Roberts)

Ek stap weer deur al die uitstallings om net hier en daar weer my kennis op te skerp, maar dis eintlik na die The names of freedom: 16641848 from slave to citizen-besoekende uitstalling waarheen ek op pad is. Dit fokus op die verband tussen slawerny in Réunion en Suid-Afrika onder die Indiese Oseaan-slawehandel. Slawe is op 20 Desember 1848 in Réunion vrygestel. Toe was daar 106 000 inwoners op die eiland, waarvan 6287 as bevryde bruin mense en meer as 62 000 as slawe geklassifiseer is.

Om ’n paar maande gelede met iemand te gesels wie se voorvaders dalk hier op die borde uitgebeeld is, bring alles net nog meer persoonlik tuis.

Die roetekaarte van die Indiese Oseaan-slawehandel. (Foto: Clifford Roberts)

Soos ek op die grondvloer stap, lees ek weer die verhale van die slawe, vry swartes, die Khoi – almal van hulle was mense van krag, moed en dapperheid en wie se versetdade binne herdenk word. “In hierdie ruimtes sal jy hul veerkragtigheid en dapperheid ervaar te midde van groot swaarkry,” het ek destyds iewers raakgelees.

Ook dat Iziko met die uitstalling voortgaan om die Iziko Slawelosie te transformeer van ’n terrein van mense-onregte na een van menseregte, om met Suid-Afrika en die Kaap se slawewortels te skakel en bewusmaking rondom kwessies van menseregte, gelykheid en geregtigheid in die hede te kweek.

The names of freedom: 1664–1848 from slave to citizen-besoekende uitstalling is baie interessant. (Foto: Clifford Roberts)

Ek moet glimlag by ’n illustrasie gebaseer op ’n waterverfskildery van Johannes Rach uit 1761, waar ’n slawelosie-polisieman ’n slaaf of bandiet aan ’n tou begelei met ’n stok oor sy kop, met dié woorde bo-aan: “At the top of the Lodge’s hierarchy were Europeans... [But] the only Europeans there – a reflection of the status of the slaves – were the lunatics and criminals” (R Shell, 1994).

........
Die treffende silinderagtige uitstalling met die gedig van Malika Ndlovu, “Slave dream”, waar slawename in ’n pikdonker ruimte op wit papier binne die silinder draai, smeek jou ook om te verpoos, te lees, te eer.
........

Die treffende silinderagtige uitstalling met die gedig van Malika Ndlovu, “Slave dream”, waar slawename in ’n pikdonker ruimte op wit papier binne die silinder draai, smeek jou ook om te verpoos, te lees, te eer.

Iewers op ’n lang tydlyn in ’n nou gang wys gekleurde blokkies hoeveel maal slawerny in verskeie wêreldlande verban is, maar steeds voortgegaan het. Ek sien ook daar dat slawerny – wat van 1653 onder die Nederlandse besetting aan die Kaap bestaan het – op 1 Januarie 1834 onder die Britse koloniale heerskappy afgeskaf is.

En dit was maar so onlangs soos 1948 dat die Verenigde Nasies die universele verklaring van menseregte aangeneem het, waarin verklaar word dat slawerny onwettig is. Dis maar onderskeidelik 190 jaar en 76 jaar later, maar slawerny is steeds met ons in die vorm van mensehandel en kinderarbeid en vele meer.

Jy kry ’n glimpse van die Réunion-uitstalling voor jy die res van die museum verken. (Foto: Clifford Roberts)

Die Réunion-gedeelte is in die middel van die grondvloer ingedeel, maar soos jy die gekleurde voetspore op die vloer volg, leer ken jy eers die stories van die slawe aan die Kaap voor jy by die Réunion-slawe eindig. Ek dink weer aan die gesprek met ons gids op daardie eiland. Ek sou graag saam met hom wou deurstap en hoor wat hy dink.

Dié uitstalling fokus spesifiek op hoe die slawe hul name gegee is net voor en ná emansipasie, en wat dit beteken – selfs nou – vir hul afstammelinge wat steeds die name het wat oorspronklik in die historiese registers opgeteken is. Een van hierdie registers is van Réunion-eiland gebring en vorm deel van die uitstalling. ’n Reeks kortfilms gebaseer op onderhoude met afstammelinge van die slawe, wat oor die geskiedenis en erfenis van slawerny in Réunion besin, kan ook gekyk word.

As ek kyk na die illustrasie van ’n slaweskip waarin 400 slawe in 1826 van Mauritius na Réunion – lank nadat die Britte slawehandel in 1807 verban het – vervoer is, is dit duidelik dat slawe nie as mense nie, maar as goedere gesien is. (Foto: Clifford Roberts)

Dis voor die bord, “The slave and the question of the name”, waar ek lank staan. Hier word vertel dat slawe gereduseer is tot ’n eenvoudige Europese naam tydens ’n verpligte Christen-doopseremonie. Dit was nie oordraagbaar nie en het slawe se posisie of stand in die samelewing weerspieël. Ook dat slawe as goedere geklassifiseer is en dus as sulks verkoop en gebruik kon word.

........
As ek kyk na die illustrasie van ’n slaweskip waarin 400 slawe in 1826 van Mauritius na Réunion – lank nadat die Britte slawehandel in 1807 verban het – vervoer is, is dit duidelik dat slawe nie as mense nie, maar as goedere gesien is. Die mans, vroue en kinders lê soos sardientjies in die skip se romp, met skaars plek om van hul een sy na die ander om te draai.
........

As ek kyk na die illustrasie van ’n slaweskip waarin 400 slawe in 1826 van Mauritius na Réunion – lank nadat die Britte slawehandel in 1807 verban het – vervoer is, is dit duidelik dat slawe nie as mense nie, maar as goedere gesien is. Die mans, vroue en kinders lê soos sardientjies in die skip se romp, met skaars plek om van hul een sy na die ander om te draai.

Die treffende silinderagtige uitstalling met die gedig van Malika Ndlovu, “Slave dream”, waar slawename in ’n pikdonker ruimte op wit papier binne die silinder draai, smeek jou ook om te verpoos, te lees, te eer. (Foto: Clifford Roberts)

Dis toe ook die laaste bord wat ek lees voor ons groet, wat juis hierdie feit bevestig:

Slawerny bestaan van ongeveer 5 000 jaar gelede in Afrika. Dit het aanvanklik oor die Nyl, toe die Saharawoestyn en die oseane gestrek.

In die Kaap was daar van 1711 tot 1795 meer slawe as koloniste. Slawe aan die Kaap is op 1 Desember 1834 vrygestel. Maar hulle was nie vry nie. Tot 1838 het hulle vir hul eienaars gewerk sonder betaling.

Vandag gaan mensehandel voort. Navorsing het in 2022 getoon dat tot 50 miljoen mense slagoffers van moderne slawerny is: amper 28 miljoen in dwangarbeid en ongeveer 22 miljoen in gereëlde huwelike.

Laastens ook die woorde van Gabeda Baderoon wat sy in 2020 gesê het:

In hierdie museum kyk die stad uiteindelik na sy begin – bykans twee eeue van slawerny waarop dit gebou is. Buite is dit asof die brutale geskiedenis onsigbaar en stom is. Maar steeds is die tekens oral sigbaar: in name, in vel, in wie tel. “Ek is onsigbaar in Kaapstad,” vertel ’n vriend my.

Die afstammelinge van die slawe stap deur die stad, ongeliefd deur die stad. Maar hier in hierdie mure kan ons lank staar na daardie moeilike geboorte, en agterna sal dit duidelik wees hoe slawerny steeds voortleef in die stad, lank ná emansipasie, in name, in vel, in wie saak maak.

Haar woorde is ook op ’n bord in die museum verewig en nou ook in my brein ingeëts. En die vrou op die bus in Réunion se woorde kom weer by my op: “Ons kan nie vergeet nie, want ons almal se bloedlyne is met slawerny vervleg.”

Alles wat jy wil weet oor die afskaffing van slawerny in Réunion, word hier uitgebeeld. (Foto: Clifford Roberts)

Kitsfeite

Lees ook:

Réunion: ’n Klein stukkie Frankryk in die Indiese Oseaan

Gedeelde geskiedenis tussen Nederland en SA is dig verweef

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top