Gedeelde geskiedenis tussen Nederland en SA is dig verweef

  • 0

Die #cocreateSANL Identiteit-ervaringsfees is van 4 tot 6 Junie 2022 in Kaapstad gehou. Sommige besprekings was virtueel, maar verskeie vertonings en uitstallings is by Iziko Museums, die Kunstekaapteater en die Kasteel van Goeie Hoop aangebied.

Die kulturele projekte wat deel van die fees was, het illustreer hoe verweef Suid-Afrika en Nederland se geskiedenis is.

#cocreateSANL is ’n inisiatief van Nederland in Suid-Afrika, wat die kern van moderne buitelandse diplomasie vasvang: die bou van verhoudings en ’n fokus op langtermynverbintenisse en vennootskappe. Dit stimuleer samewerking tussen Suid-Afrika en Nederland met die veronderstelling dat as die twee lande saamwerk, hulle ’n verskil kan maak en oplossings vir plaaslike en internasionale uitdagings kan skep. #cocreateSANL is ’n platform vir Suid-Afrikaanse en Nederlandse eweknieë om idees en vernuwings uit te ruil vir ’n volhoubare toekoms.

Van die uitstallings wat deel van die feesprogram was, het onder meer die nuwe Slawelosie-uitstalling Who were the enslaved? Commemorating lives under enslavement at the Cape of Good Hope ingesluit.

Foto’s van Who were the enslaved?-uitstalling: Foto’s: Iziko Museums van Suid-Afrika / Nigel Pamplin.

Rooksana Omar, HUB van Iziko Museums van Suid-Afrika, vertel: “Ons het die spasies in die Iziko Slawelosie-museum hernoem terwyl ons probeer om dié vrae te beantwoord: Wie was die verslaafdes? Watter werk het hulle gedoen? Hoe het hulle dit reggekry om ’n nuwe, onwelkome en dikwels gewelddadige omgewing te oorleef sodra hulle arriveer het? Hoe kon hulle met mekaar kommunikeer toe hulle uit verafgeleë streke gekom het: Suid-Asië, Suidoos-Asië, Madagaskar, Oos-Afrika en aanvanklik Wes-Afrika?”

“Soos jy die grondvloer verken, met sy hernoemde kamers, sal jy hul stories vind. Dit is narratiewe van die slawe, vry swartes, voormalige slawe en die Khoi. Jy sal hul veerkragtigheid te midde van swaarkry aanvoel. Almal van hulle was mense met groot moed en dapperheid en wie se versetdade hier binne herdenk word.”

Rooksana verduidelik dat Iziko voortgaan om die Iziko Slawelosie te transformeer van ’n plek van mense-“verkeerde” na een van menseregte; om met Suid-Afrika en die Kaap se slawewortels te skakel en bewusmaking rondom kwessies van menseregte, gelykheid en geregtigheid in die hede te kweek.

Sy sê hierdie nuwe uitstalling wil die lewe onder slawerny aan die Kaap die Goeie Hoop vermenslik en die waardigheid herstel van verslaafde vroue, mans en kinders wat na die Kaap gebring en aangehou is as losgoedslawe. Hierdie uitstalling herinner ook aan die mense wat die nedersetting aan die Kaap gebou en onderhou het.

Die Nederlandse konsul-generaal, Sebastiaan Messerschmidt, sê: “Die doel van hierdie fees is om ’n geleentheid te skep vir die Nederlanders om eerlike luistervennote te wees, te ontvang wat geopenbaar en uitgeruil word, terwyl Suid-Afrikaners dit waag om sin te maak van hul identiteitsreis wat aan die verlede gekoppel is.

“Elemente wat uit ons VOC-verlede afgelei is, moet teruggevoer word na die Nederlanders, sodat ons direk kan leer wat die impak van ons geskiedenis is. Op die ou end poog ons om ons verskille en gedeelde uitdagings en ambisies te herken én te erken, en sodoende ons bemagtig om beter saam te werk. Dit verg moed van alle deelnemers aan hierdie reis om dit te stap sonder om die uitkoms daarvan vooraf te bepaal, maar werklik te ervaar, uit te ruil en te luister.”

Africa Melane

Africa Melane het die “Wie is jy?”-sessie Sondagoggend gemodereer. “Wie is jy?” is ’n reeks potgooie wat deur die Nederlandse joernalis en skrywer Fred de Vries en die Suid-Afrikaanse Francois Haasbroek, joernalis, fotograaf en kartograaf, onderneem word met sleutelfigure en belanghebbendes wat betrokke is by die transformasie- en identiteitsdebat in Suid-Afrika én Nederland. Hierdie potgooie dien as ’n digitale argief van eerstehandse herinneringe en persepsies oor hierdie debat.

Francois en Fred het aan Africa vertel dat hul podsendings eintlik “amateurradio” is, omdat die mense met wie hulle gesels, se stemme en opinies saam met hul agtergrondklanke gehoor word.

Hulle stel dieselfde vier vrae aan elkeen wat deel van die podsending is: 1. Waar voel jy, hoort jy? (Die fisiese plek wat jy huis noem en voel asof jy hoort.) 2. As in jy ’n ander era kon leef, watter een sou jy kies? 3. Waar voel jy deel van ’n gemeenskap? 4. ’n Stuk skryfwerk, musiek, kuns, gedig wat huis vir jou voorstel.

Fred sê as jy op hierdie punte reageer, kry jy ’n baie goeie idee van die mens met wie jy gesels.

Francois het vertel dat die antwoorde wat Fred op hierdie vier vrae gekry het, lekker gesprekke tussen hulle twee ontlok het en dis in die potgooie ingesluit. “Dit gee amper ’n analise van die onderhoud en voeg waarde by vir die luisteraar.”

Francois Haasbroek en Fred de Vries

Die eerste vraag: “Waar voel jy hoort jy?” het altyd vir Francois die meeste insig gegee, vertel hy. Siona O’ Connell, ’n bruin vrou wat in Kaapstad grootgeword het, se antwoord dat sy nie voel sy hoort enige plek nie en haar soeke na ’n plek waar sy “as vrou van kleur veilig sou voel wat steeds voortduur”, is vir die gehoor gespeel. Sy het genoem dat sy gedeeltelik veilig voel in verskillende plekke regoor die wêreld: soms as vrou, soms as vrou van kleur, soms as intellektueel.

Fred de Vries

Fred het vertel hoe die onderhoude illustreer het hoe mense se identiteite in verskillende omgewings verander: ’n gay Ugandese man wat nie in sy eie land aan rassisme onderwerp is nie, maar nie vrylik gay kan wees nie, vlug na Kanada, waar hy onder rassisme deurloop; of ’n Egiptiese LGBTQ-vrou wat na Nederland gevlug het en met ope arms aanvaar is, tot sy begin mishandel is omdat sy ’n Moslem is en skielik haar identiteit as LGBTQ-vrou verloor het en as Moslem-vrou uitgekryt is.

Hy het voorts gesê dat hy nie anti-woke is nie, maar dat sekere dele van die kanselleerkultuur baie afbrekend is, maar ook dat sommige wokeness-idees goed is omdat dit handel oor mense wat mekaar verstaan – verstaan waar ons vandaan kom en ons help om te probeer om nader aan mekaar te kom.

“Ek weet nie of dit werk nie, want dit voel vir my asof ons meer polariseer as ooit tevore.

“Ek het ook geleer dat mens oplees, ervaar en reis om ander kulture te ervaar en te sien dat dinge nie altyd is soos wat dit in die media voorgehou word nie.” 

Africa het die fees opgesom as ’n geleentheid vir “dink, diskoers en dialoog”. Hy het uitgelig hoeveel ooreenkomste daar is tussen die uitleg, infrastruktuur en argitektuur van Kaapstad en Nederland wat “ons geërf het in die 16de eeu toe die Nederlandse avonturiers hulle aan die Kaap kom vestig het. Ons geskiedenis is sedertdien onteenseglik vervleg. Die fees gee mense die geleentheid om te besin oor wat dit vir ons vandag beteken.”

Hy het ook onder meer vertel van die roerende verwelkomingseremonie tydens die fees wat by die Kasteel – Suid-Afrika se oudste gebou – deur “die leierskap van die Khoisan gehou is om gesprekke tussen die twee lande uit te nooi.

“Die Camissa Museum nooi jou om te reflekteer oor wie jy is, wat jou maak wie jy is en watter elemente van die wonderlike spektrum van die mensdom bydra tot wie jy - in ’n poging om te heel, in plaas van verdeel.”

Die museum is binne die Kasteel geleë en die naam Camissa is die gekreoliseerde vorm van ǁkhamis sa, wat “soet water vir almal” beteken in Kora, die Khoe-taal van die Kaap. Dit verwys na die rivier wat van die !areb (berg) Huriǁammaǂkx’oa (wat uit die see opkom – Tafelberg) af na huriǁamma (die see) vloei (ǁamma beteken ook “water”). Hierdie rivierstelsel het meer as 40 sytakke en fonteine. Vandag loop die rivier onder die stad. Simbolies verteenwoordig Camissa lewe, want sonder water kan lewe nie volgehou word nie. Meer algemeen is ǁkhamis sa die Kora-naam.

Die Camissa Museum vertel die stories van die mense van die Kaap. “Dit onthul die ryk en komplekse geskiedenis van Camissa-Afrikaners, diegene wat as 'Kleurling' geklassifiseer is, wat al eeue lank deur ander uitgebeeld is, maar nooit deur hulself nie. Die museum is ’n plek van herinnering en restourasie; dit ontbloot ’n verborge voorvaderlike en kulturele verlede, noodsaaklik vir gemeenskappe om hulself te verstaan ​​en vir ’n gemeenskaplike begrip tussen verskillende gemeenskappe.

“Ons glo dat kennis van ons geskiedenis en oorsprong lewensbelangrike selfbegrip bou wat daardie belangrike gevoel van behoort en verbinding met plek bevorder. Ons glo dat 'n volk wat hul geskiedenis en oorsprong ken, beter in staat is om hul hede en toekoms te navigeer,” sê Angus Leendertz, die museumkurator.

Die museum vertel van die vier klassifikasies mense aan die Kaap in die 17de eeu: die vry swart mense, Europeërs, privaat slawe en Kompanjie-slawe. Later het ander klassifikasies onder die Britte gevolg en weer nuwe klassifikasies onder die apartheidsregering. Die museum se uitstallings fokus op die ontstaan ​​en vooruitgang van Camissa-Afrikane vanaf 1600 tot die hede deur sewe breë sytakke van volke na te spoor wat deur gedwonge migrasies saamgebring is van meer as 195 plekke van oorsprong.

Die Camissa Museum is gestig na samewerking tussen Angus Leendertz, museumkurator, en Patric Tariq Mellet, ’n historikus. Hier lei Patric besoekers deur die museum tydens die #cocreateSANL Identiteit-ervaringsfees.

Sites of Memory se Future for the past-plekspesifieke teater wat die gehoor op ’n staptog deur die stad vanaf die Slawelosie tot by Kerkplein en die Kompanjies neem, se boodskap is net so duidelik soos die akteurs se koningsblou-en-geel oorjakkies en kleurvolle vlae.

Die vertoning is ’n reis terug in die tyd na die gedeelde koloniale verlede tussen Nederland en Suid-Afrika. Kunstenaars van beide lande het hul visie na hierdie geskiedenis vertaal in musiek, poësie, dans, visuele kuns en teater. Met hierdie vertoning deel Sites of Memory insig in hoe die koloniale verlede ’n rol speel in ons hede en om die toekoms te herverbeel.

Sites of Memory

In die virtuele paneelbespreking “Uncovering stories” met Kate Ekama, postdoktorale navorsingsgenoot aan die Universiteit Stellenbosch as gespreksleier, Antonia Malan van die Tracing History Trust en Linda Mbeki van Iziko Museums was die prosesse en uitdagings om die stories van die vergete mense te onthul onder die loep. Die bespreking is heel gepas in die Charting the Uncharted-uitstalling by die Kasteel aangebied. Dié uitstalling gee geweldige insig in slaweregisters.

Kate Ekama

Antonia Malan

Paneelbespreking: “Uncovering stories”

Die Charting the Uncharted-uitstalling by die Kasteel se Camissa Museum gee geweldige insig in slaweregisters.

Linda Mbeki is ‘n assistentkurator by Iziko en ’n postdoktorale genoot aan die Universiteit van Pretoria. Sy fokus op die bioargeologie van gemarginaliseerde gemeenskappe en kyk na die migrasie van slawe aan die koloniale Kaap en van werkers na die goud- en diamantmyne tydens Suid-Afrika se mineraalrevolusie.

Linda bepaal die dieet- en migrasiegeskiedenis in menslike oorskot. Sy het vertel dat wetenskap nie absoluut is nie, maar oop is vir interpretasie. Sy ontgin geskrewe bronne, maar omdat daar baie “stiltes en gapings” is, het sy haar ook tot menslike oorskot gewend om daardie inligting aan te vul.

Linda Mbeki

“Op die oog af lyk dit dalk of die geskrewe geskiedenis en dit wat ons vind in menslike oorskot nie ooreenstem nie, maar ek het al baie interessante bevindinge gemaak, soos dat slawe nie so baie vis geëet het as wat ons gedink het nie, en as wat slawemeesters opgeteken het nie. “Hulle het egter baie op plantproteïene staatgemaak. Jy kan daarna kyk as hartseer, maar jy kan ook daarna kyk as hoe aanpasbaar – selfs triomfantelik – slawe aan die Kaap was en dat hulle oorleef het.”

Sy sê van die vrae wat ontstaan, is of hierdie VOC-slawerny oor geld of oor handearbeid gegaan het. Die vermoede is dat slawe as besittings gesien is en dus as deel van welvaart gereken is.

Sy het na mense gaan soek in Den Haag in die argief, waar baie volledige lyste gehou is. “Die probleem – hoewel nie onoorkombaar nie – is om individue te identifiseer deur die name wat slaafeienaars aan hulle gegee het, maar om hulle op te spoor volgens die lyste van hul oorspronklike name.”

Kate het hierby aangesluit en gesê in haar ervaring is die grootste probleem name, en “daarom is inligting deel so belangrik uit verskeie oorde”.

Linda voeg by dat mense baie gou teleurgesteld raak as hulle besef dat die probleem om ’n spesifieke individu te vind, so gekompliseerd is, veral omdat dit dalk baie akademies is. ’n Aktiewe netwerk onder mense in soortgelyke navorsingsprojekte is van kardinale belang.

Antonia Malan is ’n historiese argeoloog met ’n besondere belangstelling in Kaapse gesinne en hul uitgebreide huishoudings, hul geboue en die voorwerpe wat hulle gebruik het. Sy vertel dat dit haar verbaas het dat huishoudings se “besittings” slawe ingesluit het.

Sy en Helena Liebenberg het die Tracing History Trust gestig om ontoeganklike argiefinligting aan navorsers beskikbaar te stel, wat mense in staat stel om hul voorouers en lewensgeskiedenis op te spoor. Die ontoeganklike inligting word toeganklik gemaak deur verskeie transkribeerprojekte wat heel dikwels deur fondse uit Nederland moontlik gemaak word.

Sy vertel dat die genealogiese verenigings regoor die wêreld baie graag die Trust se rekords gebruik. “Een van die Trust se deurlopende projekte is die transkribering van die slaweregisters. Ek het aanvanklik gedink alle slawe het generiese name gekry onder die VOC, maar nou vind ons met ons nuwe projek dat baie slawe onder die Britse heerskappy hul eie name gehou het. Dit maak natuurlik die navorsing baie makliker.”

Transkribering is tydsaam. Dit neem soms ure om ’n woord of sin te verstaan, omdat die dokumente in handgeskrewe Hoog-Hollands baie moeilik is om te lees en daarom is hulp van transkribeerders van ander voormalige kolonies met as’t ware kruisverskaffing van lyste en gebeure in hul land van onskatbare waarde.

Antonia sê hul projek soek mense wat in verskillende plekke genoem word, om hul bewegings aan die Kaap te kan volg.

Linda het bygevoeg dat slawe en hul eienaars se besittings nie argeologies geskei kan word soos in byvoorbeeld Amerika met plantasieslawe nie, omdat slawe en hul eienaars saam gewoon en gewerk het. “Dit het ons lank geneem om te besef toe ons die oorskot begin ondersoek het. Wat navorsing verder bemoeilik, is om te onderskei of ’n slaaf ’n slaaf of kolonis is, veral as sy kinders het wat op hul beurt koloniste word.”

Sommige slawe is meer opgeteken, omdat hulle in testamente genoem word, of meer verkoop is, of getroud is en heelwat kinders gehad het. Maar navorsers sukkel met hierdie individuele spanning tussen die besonderhede van een individu wat meer opgeskryf is as ander.

Hoewel die fees ten einde geloop het, is die uitstallings by die verskeie plekke steeds oop vir die publiek. Die Who were the enslaved?-uitstalling by Iziko Museums se Slawelosie is op 27 Mei amptelik geopen en is tot 31 Desember 2022 oop. Meer inligting oor die Camissa Museum by camissamuseum.co.za.

  • Woorde: Maryke Roberts
  • Foto’s: verskaf
Lees ook:

Press release: #cocreateIDENTITY experience – Provoking your identity

’n Blik op die produksie Krotoa: Eva van de Kaap

Ons Perspektief – A virtual exhibition by Vrystaat Kunstefees 2020

Intercontinental entanglements: slavery, Dutch colonialism and post-colonial identifications

Buro: MvH
  • 0
Top