Dis vanjaar die 30ste jaar dat ek in katedrale en kerke en tempels regoor die wêreld ’n kersie aansteek met wense van voorspoed en vrede vir vriende en geliefdes en sommer almal wat swaarkry. Min kon ek weet hoeveel keer ek in die volgende drie dekades prewelend by ’n horingou metaalboks die munte sou laat ingly, terwyl daar een of ander reusetragedie elders in die wêreld afspeel.
Dit het heel spontaan begin. Dit was vroegmiddag op 10 April 1993 toe ek by ’n koerantrakkie buite ’n klein kafeteria in Neuchâtel in Switserland die koerant sien met foto’s van Chris Hani se gesig, ’n lyk onder ’n laken, en kon uitmaak tussen die Franse dialek wat daar gebruik word, dat hy in ’n sluipmoordaanval vermoor is. Die dae daarna het nog koerantberigte oor onluste gevolg en foto’s van rye en rye kiste het by ons bly spook en die onheilsgevoel het sterker geword.
Teen die einde van die week het ek soos gebruiklik huis toe gebel van ’n tiekieboks af. Ek sal daardie gesprek met my pa enkele dae ná Chris Hani se moord en die onsekerheid oor watter kant toe die geweld gaan swaai, nooit vergeet nie. “Ons land is aan die brand.” Ek kon die kommer in sy stem hoor. “Miskien moet julle huis toe kom, my kind. Ons weet nie wat die toekoms inhou nie en netnou maak hulle lughawens toe.”
Maar ons kaartjies huis toe was van Londen af en niks met duimgooi is voorspelbaar of vinnig nie. En boonop is ons toe pas twee maande in ons jaarlange avontuur.
Ons albei is bewerig en ons gaan sit toe in ’n katedraal om die fladdering en droë keel te laat bedaar. By ’n ou swart rakkie is boksies met kerse. Die donasie is ’n paar sent. Ek staan op, gly die munt in die gleuf en hoor hoe dit op die hopie ander munte val en steek ’n kersie in ’n rooi plastiekhouertjie aan. Ek sluit my oë, maar weet nie waarvoor om te bid nie. Vrede? Vir net ons land, of vir die wêreld? Ek ruik die koel klammigheid van die katedraal se klipmure; die gewyde stilte omvou my; die reuk van die brandende kersies bring op ’n vreemde manier gerusstelling.
........
Onwetend is ’n tradisie gebore. Met elke oorsese reis is daar iets wat pas gebeur het of aan’t gebeur is en waarvoor ek ’n kersie aansteek.
........
Onwetend is ’n tradisie gebore. Met elke oorsese reis is daar iets wat pas gebeur het of aan’t gebeur is en waarvoor ek ’n kersie aansteek. Soms is dit ’n vriend se kankerdiagnose wat by my spook; soms is dit die wegval van my ma, of my geliefde se pa. Soms is dit wêreldrampe of oorlog.
Ons reis vir die eerste maal ná 1993 eers weer in 2001 oorsee. Dis etlike weke ná die terreuraanvalle van 9/11 in Amerika. Die lugrederye se riglyne verskerp; jy mag geen vloeistof meer as 100 ml by jou hê nie, uit vrees dat jy een of ander bom sal meng in die vliegtuig se badkamer. Naelvyltjies, breipenne en selfs ’n tweezer is skielik gevaarlike wapens, omdat terroriste vliegtuie in geboue laat vasvlieg het.
Ons is in Parys. Ek staan lank voor die Notre Dame en kyk hoe die wolke bo die horingoue dak verbydryf. Binne steek ek in die sterk skemer ’n wit kersie aan. Dis lank en dun en ek druk dit in die sand tussen 20 ander van verskillende lengtes in wat die afgelope ure deur ander mense aangesteek is. Wie weet watter versugting hier in ’n klein bakkie sand vervat is.
Op 11 Maart 2004 land ons net voor ses die oggend in Madrid, Spanje. Ons het besluit om die reisagent se raad te volg en ’n bussie van die lughawe na ons hotel te bespreek, in plaas van die gebruiklike trein neem. Die bussie is duurder, maar dis darem maar lekker as jy vlugvoos in die helder oggend instap en iemand wag daar met jou naam op ’n bordjie.
Ons kan net so ’n rapsie voor agt ons tasse by die hotel naby die Madrid-Puerta de Atocha-stasie neersit, maar eers later toegang tot ons kamer kry, so ons is van die buitewêreld afgesny en ons soek plek vir koffie. Ons het drie dae in Madrid voor ons eintlike reis na Kuba begin.
.......
Terwyl ons ingery het op die snelweg, ontplof 10 bomme op vier passasierstreine op pad na Atocha – die stad se hoofstasie.
.......
Terwyl ons ingery het op die snelweg, ontplof 10 bomme op vier passasierstreine op pad na Atocha – die stad se hoofstasie. Dis die werk van Euskadi Ta Askatasuna (ETA), ’n militante Baskiese separatistegroep wat sedert 1959 baklei vir ’n Baskiese tuisland. Altesaam 191 onskuldige mense word binne sekondes aan flarde geblaas en meer as 1 800 is ernstig beseer. Salig onbewus daarvan, ry ons die stad binne en sien die vlag by die stasie hang halfmas. Ons Turkse bestuurder kan nie veel meer as “hallo” verstaan nie en ons is dus onbewus van die tragedie wat pas hier naby ons afgespeel het.
Die stad slaap nog en ons groet die straatveër wat met sy Walkman op sy ore stompies tussen die plaveistene uitborsel. Omtrent alles is toe, maar in ’n klein stegie lok rookdampe om klein tafeltjies ons. Daar is luide gesprekke en armswaai, maar ons Spaans is net so beperk soos die taxibestuurder s’n.
Op ’n groot vierkant staan reusebusse en mense wag in rye. Ek stap nader en vra wat gebeur. Hulle skenk bloed vir die slagoffers, hoor ons.
Enkele minute later is daar koerante oral op straat met die verskriklikste foto’s van liggame wat op ’n hoop lê en ledemate wat verstrooi oor treinwawrakke is.
.......
Ons gaan sit in die Almudena Katedraal waar mense instroom om te kom bid en kersies aansteek. Kerkpersoneel skarrel om genoeg kersies uit te pak, los later sommer die bokse daar langs die rakke.
.......
Ons gaan sit in die Almudena Katedraal waar mense instroom om te kom bid en kersies aansteek. Kerkpersoneel skarrel om genoeg kersies uit te pak, los later sommer die bokse daar langs die rakke.
Museums en galerye open nie daardie dag nie. Baie koffiewinkels en restaurante sluit minute nadat hulle geopen het. Om 12:00 staan die hele stad se inwoners in die strate en hou hande vas; stuur ’n gebed op vir die slagoffers. Ek en my geliefde staan ook daar tussen ander toeriste en locals. Die volle omvang van hoe anders dinge kon wees as ons soos gebruiklik die trein sou neem ... Vir twee dae is die land se telefoonnetwerk só oorlaai omdat mense van regoor die wêreld probeer uitvind of hul geliefdes ongedeerd is, dat ons nie kan huis toe bel nie. Ons ouers en vriende rasend van kommer.
Ek vind die volgende drie dae weer my weg na ander katedrale regoor die stad, waar mense toustaan om kersies aan te steek en gebede op te stuur.
Met die Islamitiese bomaanvalle op Londen in Julie 2005 is ons in Buenos Aires in Argentinië vir ’n kongres. Ons is vroeg in die hotel se eetkamer vir ontbyt, toe ons die nuus op die televisie sien. My niggie woon in Londen en dié keer is dit ons wat vir ure nie kan deurkom na haar toe nie en wonder of sy een van die slagoffers was wat drie treine en ’n bus getref het en waarin 56 mense dood is en meer as 700 beseer is.
Dit word beskryf as Brittanje se ergste aanval sedert die Tweede Wêreldoorlog en staan bekend as 7/7. By die kongres word ons gevra vir ’n minuut se stilte om aan die slagoffers te dink. Met die middagete-breek is ek in die Buenos Aires Metropolitan Katedraal, om die draai van ons kongreshotel, en steek kersies aan.
Dis in 2005 in die St Giles Katedraal in Edinburgh in Skotland dat mense kersies aansteek vir die bykans 1 400 slagoffers van Orkaan Katrina wat meer as $125 miljard se skade aangerig het. Dis veral New Orleans wat erg deurgeloop het en een van die mense in ons vriendegroep wat Kersfees in die Skotse Hooglande vier, se familie het groot skade gelei toe die orkaan hul huis verwoes het. Mens voel nietig teen die natuur as jy die beeldmateriaal kyk van só ’n tropiese sikloon.
.......
Jy besef gou dat almal hier op een of ander manier al geraak is deur konflik, oorlog, natuurrampe of die kleinlikheid van ander.
.......
In 2009 – die jaar van varkgriep, terroristeaanvalle in lande regoor die wêreld en selfs tot in hotelle en op krieketspelers, ’n tsoenami en fratsreën – is ons in Amerika. Ons kry ’n pamflet vir die konsert vir vrede by die Washington National Cathedral – A House of Prayer For All People. Dis ’n Oukersaandkonsert waar daar gebid gaan word vir vrede regoor die wêreld. Dis stampvol maar ysig binne op die ou klipvloere en elkeen van ons kry ’n papierkegeltjie wat ’n wit kers omvou. Soos die aand vorder en een koor na die ander optree, word daar gereeld gevra dat jy tussendeur met die persoon langs jou, agter jou en voor jou gesels. Vra waar hulle vandaan kom, hoekom hulle hier is en wat hul wense vir vrede is. Jy besef gou dat almal hier op een of ander manier al geraak is deur konflik, oorlog, natuurrampe of die kleinlikheid van ander.
Die hoogtepunt van die aand is die kersies aansteek. Die persoon heel links in die eerste ry se kersie word deur ’n jong meisie wat soos ’n engel aangetrek is, aangesteek. Vandaar steek elkeen sy buurman of -vrou se kersie aan en terwyl die kersie sy vlammetjie stabiliseer, moet jy jou wens of gebed vir vrede in jou gedagtes opsê.
Toe almal in die reusekatedraal se kersies brand, sing ons saam “I wish you peace” deur die Eagles. Die woorde in ons konsertprogram skielik tegelykertyd só eenvoudig én hopeloos te ingewikkeld.
Die orrelbegeleiding en die stemme vol versugting vir vrede laat die hoendervleis oor jou hele lyf uitslaan.
I wish you peace when times are hard
A light to guide you through the dark
And when storms are high and your, your dreams are lowI wish you the strength to let love grow,
Oh I wish you the strength to let love flow.
Die tradisie van kersies aansteek word die volgende 10 jaar onder meer voortgesit in Helsinki, Finland, Tallinn in Estland, Reykjavik in Ysland, Porto en Lissabon in Portugal, Praag in die Tsjeggiese Republiek en Cork in Ierland.
Toe Rusland die Oekraïne inval op 24 Februarie 2022 is ek aan’t beplan aan ’n somerreis na die eilande van die Seychelles. Dae later staan ek in die Immaculate Conception Cathedral in Victoria, Seychelles en steek ’n kersie aan vir al die onskuldiges daar wat in ’n ommesientjie van ’n normale lewe tot oorlogsone gedoem is.
Op 2 Januarie vanjaar steek ek ’n Nuwejaarskersie in La Madeleine in Parys, Frankryk aan. Een van my beste vriende is Madelaine en jonk getroud en ek wens sommer vir ’n lang, gelukkige huwelik. En alles wat mooi is vir almal wat ook na aan my hart is.
Ek gooi my offerande in, haal ’n kersie van die rakkie af. ’n Seuntjie staan met ’n lang kersie en steek elke kersie wat die wind van verbygaande lywe uitblaas, weer aan. ’n Onbegonne taak, amper soos om vir vrede te smeek, maar jy kom nooit voor nie, dink ek onwillekeurig.
Vandeesweek steek ek vir die eerste maal in my lewe ’n kersie in ’n Boeddhistetempel in Nara Park in Osaka, Japan aan. Dis die dag nadat ons die Hirosjima Atoombom-gedenkplek besoek het. Die verskrikking van die mens se gulsigheid en strewe na mag, wat daar tot uiting gekom het en derduisende onskuldige mense waarvan talle vroue en kinders se lewens geneem en verwoes het, nog net te vars in die geheue.
.......
Aan die voete van die wêreld se grootste brons Boeddha, Vairocana, in die wêreld se oudste houtstruktuur, die Tōdai-ji-tempel, stoot ’n beampte die spierwit kersies in ’n houtboksie reg. So vinnig as wat hy regstoot, so vinnig neem hande die kersies en steek hulle aan. Ek wonder hoeveel kersies hy daagliks uitpak en regpak.
.......
Aan die voete van die wêreld se grootste brons Boeddha, Vairocana, in die wêreld se oudste houtstruktuur, die Tōdai-ji-tempel, stoot ’n beampte die spierwit kersies in ’n houtboksie reg. So vinnig as wat hy regstoot, so vinnig neem hande die kersies en steek hulle aan. Ek wonder hoeveel kersies hy daagliks uitpak en regpak.
In die vredigheid wat die reusebeeld wat 15 meter hoog staan, uitstraal, steek ek my kersie aan. Die kersies is onder uitgehol, sodat dit netjies oor die spykeragtige hakies in die rakkie pas. Neffens die houtboksie is ook ’n pragtige hout-en-glaskas waarin mense kerse sit, maar ek vermoed dis vir locals en boonop vir Boeddhiste, so ek bly eerder daar weg.
Ons gids vertel dat met sy regterhand, waarvan die vingers boontoe wys, gee hy jou gemoedsrus en met sy oop linkerkant ontvang hy jou wense. Hy het gewebde vingers, sodat jou wense nie kan deurval nie.
Ek wens weer vir vrede en voorspoed vir almal. Mag daardie gewebde vingers die oplossing wees dat my wens vir vrede nie weer deurval nie.
Dis weer die woorde van die Eagles-liedjie wat ek 15 jaar tevore in ’n multikulturele konsert gesing het, wat by my opkom toe ons in stilte terugry in die bus. Niemand is onaangeraak deur wat in die wêreld aan’t gebeur is nie.
En die hartseerste is dat ek eintlik elke dag van my lewe die heeldag moet kersies aansteek, want elke sekonde van die dag is daar iewers iemand in die wêreld wat die slagoffer van konflik of hebsug of ’n natuurramp of ’n oorlog is. Iemand vir wie ek vrede wil toewens.
Lees ook:
Laat die Hanrivier en eggo’s van lag ’n Seoel-simfonie speel
Weggevoer na ’n goddelike katedraal – iewers elders in jou kop