
Lelie van die Victoria amazonica (Foto: Clifford Roberts)
Ek hoor toevallig hoe iemand oor koffie vir ’n ander vertel van navorsing wat hulle raakgelees het oor die verband tussen die rol van botaniese tuine as bewaarders van plantspesies én as bydraers tot ons geestesgesondheid. En dit laat my gedagtes ver loop oor die rol van botaniese tuine in my eie lewe die afgelope paar jaar.
Ek gaan soek die navorsing en vind dit by die NIH National Library of Medicine se webwerf onder Gao Chen en Weibang Suna se name, wat onder meer uitlig dat “botaniese tuine hul hulpbronne wy aan die studie en bewaring van plante, asook om die wêreld se plantspesie-diversiteit aan die publiek bekend te maak. Hierdie tuine speel ook ’n sentrale rol in die voorsiening aan menslike behoeftes en die verskaffing van welstand.” Dit maan ons ook om ’n meer geïntegreerde bewaringsaanslag vir plantspesie-bewaring aan te neem.
Hul studiefokus was Kunming Botaniese Tuin in China. Maar ek kan nie meer met hulle saamstem nie. In baie besige stede het ek al vir ’n paar uur my saligheid herwin deur in botaniese tuine rond te loop en nie net vredig daar uitgestap nie, maar ook toegerus met baie interessante inligting oor plante wat ek op geen ander plek sou kon sien nie.
Volgens Botanic Gardens Conservation International (BGCI) is daar tans 1 775 botaniese tuine en arboreta in 148 lande regoor die wêreld en heelwat in die beplanningstadium of konstruksie is aan die gang.
Dis op UNESCO se webwerf wat ek raaklees dat die wêreld se eerste botaniese tuin in Padua, Italië in 1545 geskep is. Dit het vandag steeds die oorspronklike uitleg – ’n ronde bal wat die wêreld voorstel en ’n waterring daarrondom. Die webwerf verklaar dat hierdie botaniese tuin die geboorte van botaniese wetenskap, wetenskaplike uitruil en die begrip van die verhouding tussen natuur en kultuur verteenwoordig.
Ek was nog nie daar nie, maar het ’n inskrywing op my emmerlys gemaak!
Foto: Carlos Causo vir Fairchild Botaniese Tuine in Miami, Florida
Dis op ’n skeepsvaart op Norwegian Cruise Lines (NCL) se Prima van Reykjavik in Ysland na Amsterdam in Nederland dat ’n Nederlandse egpaar een aand langs ons by die kroegie sit. Ons gesels oor dinge wat hulle geniet het aan die vaart en vra oudergewoonte wenke van locals oor wat om nie mis te loop wanneer ons die volgende dag in hul stad arriveer nie.
Die botaniese tuine, kom dit soos een stem van hulle albei. En net daar begin ons gesels oor ons gunsteling-botaniese tuine in die wêreld.
Die Hortus Botanicus in Middenlaan is toe beslis een van ons hoogtepunte. Ná die heerlike vars lug op die oop see en die gevoel van vryheid wat ons tydens die skeepsvaart ervaar het, is die plante en ooptes van Hortus lekker in ’n woelige stad.
........
Ek geniet elke hoekie en draaitjie, maar vind veral die Snippendaal-tuin fassinerend. Mens vergeet so gou dat al ons medisynes hul ontstaan in plante gehad het.
........
Ek geniet elke hoekie en draaitjie, maar vind veral die Snippendaal-tuin fassinerend. Mens vergeet so gou dat al ons medisynes hul ontstaan in plante gehad het.
Ons lees dat medisinale kruie in die 17de eeu noodsaaklik was vir die stad se gesondheidsorg. Met die stigting van die Hortus in 1638 het medisinale plante die kern van die plantversameling uitgemaak. Die plante is in die 17de eeu vir die opvoeding van dokters en aptekers gebruik.
In 1646 word Johannes Snippendaal as prefek (direkteur) van die Hortus Medicus Amsterdam aangestel. In dieselfde jaar het hy daarin geslaag om die hele versameling van die Hortus te katalogiseer. Teen die einde van daardie jaar het hy 796 verskillende plantspesies getel, waarvan die meerderheid medisinale plante was, maar spesiale sierplante is ook ingesluit. Deur hierdie lys te maak, het hy die eerste katalogus van die Hortus Medicus Amsterdam geskryf.
In 2007 het die Hortus ’n unieke projek voltooi: ’n vertaling van Snippendaal se katalogus en die realisering van ’n tuin met die plante wat in die katalogus beskryf word. Die plante wat in hierdie Snippendaal-tuin gegroei het, is ook in 1646 in die Hortus Medicus gekweek.
Hoe lekker om maande nadat ons tuis is vir vriende met kinders wat lief is vir tuinmaak, te vertel van “DIY: breng de Hortus in huis”, waar jy verskeie groen projekte tuis kan doen en ook die videotoer saam met die tuin se hoof van tuine en versameling, Reinout Havinga, kan onderneem.
Foto: Carlos Causo vir Fairchild Botaniese Tuine in Miami, Florida
Hy doen gereeld kort video’s oor nuwe plante en blomme in die tuin en so herleef jy weer jou kuier daar. Dis nou een van my gunsteling-aanlynervaringe om te kyk hoe dinge in die tuin in die verskillende seisoene verander.
Ek dink ook terug aan die Toyota Stellenbosch Woordfees in 2018, toe ons kruisbeen langs die waterleliedam in die US se Botaniese Tuin gesit en wag het vir die Victoria cruziana-waterlelie om te blom, as deel van die Science Café-aanbieding. Dave Pepler het ’n praatjie gelei, “Lewenslesse uit Afrika”, waar hy teruggekyk het oor sy ervarings in die woude van Afrika en oor die uitsonderlike plante in dié versameling gesels het.
Die reuseblare dryf soos veerligte borde op die oppervlak en ons sit daar en luister tot die maan agter die berg kop uitsteek. Dave het sy praatjie afgesluit met ’n boodskap aan sy vriend Martin Smit wat sy tydperk as kurator by die tuine voltooi het.
“Eenmaal in ’n leeftyd verskyn iemand soos Martin, byna soos ’n komeet met ’n eindelose lang ellips, en verlig sy ganse omgewing met sy energie en toewyding. Wat u hier sien en beleef vanaand, het te stand gekom deur Martin se verbeelding, sy visie en ongelooflike kapasiteit vir harde werk. Martin, volgende week is jy weg, maar ek kan jou met my ganse hart verseker dat jy altyd sal voortleef in hierdie kosbare tuin.”
Foto: Carlos Causo vir Fairchild Botaniese Tuine in Miami, Florida.
Ons het nie die voorreg gehad om die lelie te sien oopgaan nie, maar hoe toevallig dan dat Martin aangeskuif het na die Hortus Botanicus en tans die kurator is by die Utrecht Universiteit Botaniese Tuine, waar hy hierdie wonderlike werk van hom voortsit.
In Houston is die Houston Arboretum and Nature Center, een van ons wegbreekplekke tussen al die wolkekrabbers en glas. Dis ’n besige stad en met ’n toebroodjie en wegneemkoffie, net die plek om jou gedagtes weer te orden. Ons kuier by Suid-Afrikaanse vriende en mens voel amper asof jy tuis is daar in die ooptes.
In 2020 open die nuwe Houston Botaniese Tuine. Ons is lankal tuis, maar ek weet ons vriende gaan gereeld en laat weet hulle is weer onlangs terug, want twee Zimbabwe-beeldhouers, Passmore Mupindiko en Percy Kuta, het vir 10 weke in die tuine gewerk as deel van ZimSculpt, wat die beeldhouwerk van Zimbabwiese kunstenaars regoor die wêreld bemark. Een van hul suksesvolste projekte is dié een waar beeldhouers in plekke soos botaniese tuine sit en werk. Mense kan sien hoe hul beelde vorm aanneem en met hulle gesels. ZimSculpt werk met meer as 300 kunstenaars wat in Shona-beeldhouwerk spesialiseer.
“Homesick much?” vra ons twee ewe droog by die aanhoor van dié nuus, maar ek vermoed een van daardie kunswerke gaan binnekort in ons vriende se voortuin pryk.
Die eienaar van die woonstel wat ons in Miami huur vir ons agt dae verblyf daar, is ’n vrywilliger by die Fairchild Botaniese Tuine, wat in 1938 gestig is. Hy noem dit so in die verbygaan en sê ons sal nie spyt wees as ons gaan kuier nie. Daar is ’n gratis trem, begeleide en self-begeleide toere beskikbaar.
Dis deur die plantversamelaar en tuinboukundige, kolonel Robert H Montgomery, geopen en vernoem na David Fairchild – ’n onderwyser en wetenskaplike wat 37 jaar lank die wêreld platgereis het om plante te vind wat hy geglo het nuttig vir die Amerikaner sou wees. Van die plante wat hy op sy reise versamel het, kan steeds in die tuine gesien word, soos ’n reuse-Afrikaanse kremetartboom by die Gate House, wat hy in 1940 na Miami gebring het. Sjoe, verlang mens huis toe as jy daar onder die reusetakke staan en na die potblou hemel opkyk.
Foto: Carlos Causo vir Fairchild Botaniese Tuine in Miami, Florida.
Net as jy wil vergeet dat jy in Suid-Florida is, gaan verken jy die palm- en broodboomversameling, waar meer as 1 500 soorte tropiese palms en 315 spesies antieke, skaars broodbome van Florida en verder te sien is. In die Juwele van die Karibiese See-uitstalling is plante, bome en struike uit die Karibiese Eilande, terwyl The Keys Coastal Habitat 4 hektaar plante huisves wat inheems aan Suid-Florida is en ontwerp is om trekvoëls te lok.
Tussen hierdie uitgestrekte tuine en tuinuitstallings is daar 11 mere, agt waterfunksies, ’n amfiteater, ’n 12 akker arboretum, die Gate House Museum, plantkonservatoriums, die werkende DiMare Science Village en Hsiao Lab, en selfs die Sibley Victoria-swembad, wat een van die enigste tuine in die VSA is waar jy die Victoria-waterlelies (die amazonica en cruziana) kan sien. Daai lelies volg ons beslis – al het ons dit hier ook nie gesien nie!
Vallée de Mai is baie gewild onder besoekers en ’n koele rustigheid op die tropiese eiland. (Foto: Clifford Roberts)
Dis weer ’n skeepsvaart saam met NCL – dié keer aan boord Dawn van Mauritius na Kaapstad – waar ’n botaniese tuin op ons agenda is. Die Sir Seewoosagur Ramgoolam Botaniese Tuin beter bekend as die Pamplemousses Botaniese Tuin naby Port Louis in Mauritius is die oudste botaniese tuin in die suidelike halfrond. Dis een van die landuitstappies wat gaste aan boord die skip kan onderneem, terwyl die skip in die hawe vasgemeer is.
Die tuin beslaan ’n oppervlakte van 33 hektaar en ons gids wag vir ons by ontvangs. Daar is agt of nege ander gidse en soos groepe of paartjies arriveer, bied hulle hul dienste aan.
Ons hoor: “Die tuin dateer uit die Franse tydperk. In 1736 het die Franse goewerneur, Mahé de La Bourdonnais, besluit om dit by die huidige Hoofpoort by Pamplemousses op te rig. In 1767 het Pierre Poivre groente, vrugte en blomme van regoor die wêreld hier kom bekendstel.
En uiteindelik sien ons die pragtige lelie van die Victoria amazonica. (Foto: Clifford Roberts)
“Onder hierdie plante was van die mees gewaardeerde spesies van die tyd, naamlik neute (Myristica fragrans) en naeltjies (Syzichium aromaticum) van die Malakkas. Hierdie spesies is steeds teenwoordig in die speseryhoek van die tuin.
“Ná Poivre se vertrek is die tuin deur Jean-Nicolas Céré (1775–1810) geadministreer. Hy het die hoofweë opgeknap en verskeie damme laat bou, veral die reuse-leliedammetjie, nou oortrek met die skouspelagtige Victoria amazonica.”
Ons kom onder die digte palms uit en daar lê die dam met die reuseblare. Aanvanklik glo ek ons gaan weer nie die blomme sien nie, maar dan steek die pragblomme tussen die reuseblare uit.
Ruig, hoog, oud en pragtig is al die palmlanings en -woude in Mauritius se botaniese tuine. (Foto: Clifford Roberts)
Die gids vertel voorts: “Ná die Franse tydperk het die tuin die eerste jaar onder Britse heerskappy maar swaar getrek. Dit het gelukkig weer herleef met die koms van James Duncan as direkteur in 1849. ’n Groot versameling palms is bekendgestel, insluitend die royal palm (Roystonia regia).”
........
Ek luister met een oor. Ek staan gefassineerd deur die mooi blomme en kan nie eintlik glo ek sien dit nie.
........
Ek luister met een oor. Ek staan gefassineerd deur die mooi blomme en kan nie eintlik glo ek sien dit nie.
Twee gaste wat saam met ons stap, verklaar dat hulle dalk dié lelies in Quebec, Kanada gesien het. Ons gids vertel daar is ’n verskil tussen die Victoria amazonica en Victoria cruziana. Laasgenoemde is in Bolivië ontdek en kom meer suidelik in die wêreld voor. Die blare het ook ’n heelwat hoër rant as die amazonica. Maar natuurlik is daar geen manier om te bepaal watter een hulle gesien het nie.
Die pragtige lotusblomme by Sir Seewoosagur Ramgoolam Botaniese Tuin se begrafnismonument (Samadhi) by die varswaterdam, wat deur ’n lotusblom gekroon word met die inskripsie: “In beloved memory of the Father of the Nation”. (Foto’s: Clifford Roberts)
Hoe dit ook al sy, om daar te staan en na die blare wat amper 3 meter in deursnee is te kyk, is ’n ware voorreg.
Die tuin is op 18 September 1988 hernoem van die Koninklike Botaniese Tuine, Pamplemousses na die Sir Seewoosagur Ramgoolam, die eerste premier van Mauritius en later goewerneur-generaal van Mauritius.
Van die ander pragtige kleurvolle blomme in die botaniese tuine in Mauritius. (Foto: Clifford Roberts)
Sy begrafnismonument (Samadhi) word naby die Château de Mon Plaisir gevind, asook ’n gedenkteken wat bestaan uit ’n varswaterdam wat deur ’n lotusblom gekroon word, met die inskripsie: “In beloved memory of the Father of the Nation”. Ons gaan neem foto’s van die pragtige blomme wat ook lyk of hulle op steroïdes is, want dis reusagtig.
Die reuse-manlike saad van die raar Coco de Mer-palm wat ons in die Seychelles gesien het. (Foto: Clifford Roberts)
Ons hou die manlike en vroulike saad of neut van die Coco de Mer-palm vas ná ons besoek aan die botaniese tuine. (Foto: Clifford Roberts)
In die Seychelles op Praslin-eiland is dit ’n ander plant wat ons aandag trek. In die Vallée de Mai – een van die wêreld se kleinste natuurlike UNESCO-wêrelderfenisgebiede – is die lewende oorblyfsel van die antieke palmwoude en bevat die Seychelles se grootste ongeskonde woud van die endemiese Coco de Mer-palm – die wêreld se grootste neut. Die 19,5 hektaar tuin is ook die tuiste van die raar swartpapegaai.
Ons gids vertel miljoene jare se isolasie het gelei tot die evolusie van baie unieke spesies in hierdie woud wat nêrens anders in die wêreld gevind word nie. Generaal Charles Gordon het dit in 1881 as die ware “Tuin van Eden” bestempel en het die eerste keer in 1966 nasionale beskerming ontvang, toe dit deur die regering tot ’n natuurreservaat verklaar is. Later, in 1983, is die internasionale betekenis en uitstaande waarde daarvan erken toe dit as ’n UNESCO-wêrelderfenisgebied opgeneem is.
Die palms vorm sulke digte blaredakke dat daar amper nie sonskyn deurgelaat word nie. (Foto: Clifford Roberts)
Jy voel werklik piepklein as jy daar onder die reusepalms staan. Dit vorm ’n digte blaredak en sluit die son amper geheel en al uit.
Hierdie blompalm is die planteryk se rekordhouer: Dit spog met die grootste vrugte wat nog ooit aangeteken is (40,8 kilogram), die wêreld se swaarste sade (tot 18,1 kilogram) en die grootste blomme van enige vroulike palm.
Mens kan nie help om al die voorvaders te bedank wat vir die wêreld se botaniese tuine verantwoordelik was nie.
En terwyl ek nog so in my kop kuier, hoor ek van die wonderlike botaniese glorie by Tokara buite Stellenbosch se raar plantskou en oop tuine op Saterdag 26 Oktober. Dis vanjaar deel van die Stellenbosch Garden Town-fees wat van Vrydag 25 Oktober tot Sondag 3 November gehou word. Jy kan lekker gaan piekniek daar en baie raar en unieke plante koop om jou eie “botaniese tuin” by die huis aan te lê. Meer inligting daaroor hier: www.rareplantfair.co.za
Daar is vele ander botaniese tuine wat die afgelope 30 jaar oor my pad gekom het: dié in Chicago, Helsinki, Tallinn, Parys (Jardin des Plantes) en selfs die baie klein een in Windhoek met al sy woestyn- en vetplante. En mens kan natuurlik nie ons eie pragtige Kirstenbosch uitsluit nie.
En met elke nuwe stad wat ons gaan verken, is die botaniese tuine as een van die doen-dinge redelik bo-aan ons lys.
Mens kan nie help om al die voorvaders te bedank wat vir die wêreld se botaniese tuine verantwoordelik was nie. (Foto: Clifford Roberts)
Lees ook:
Pafuri: twee geleenthede vir onvoorwaardelik oorgee aan die natuur
Die Chobe: Hoeveel keer kan jy ’n visarend hoor roep voor dit jou nie meer diep raak nie?