Op Pinterest lees ek in pienk en groen raak dat ’n tuin nie ’n plek is nie, dis ’n reis. Die bekende tuinbouskrywer en uitsaaier Monty Don het dit glo gesê. Ek beaam dit, veral nou weer na ’n besoek aan besonderse oorsese tuine.
My liefde vir boeke het my as voorskoolse kleuter na verre plekke geneem: Op towertapyte en pratende olifante se rûe het ek bo die wolke gesweef. Van kindsbeen af was die betowering van ’n mooi tuin vir my boaan die gelukkigheidslys en ek onthou selfs ’n boek, Die betowerende tuin, uit my laerskooldae, waarvan die blaaie later kruloor gevat is van die baie lees.
In my laaste jaar voor skool het ons vir ’n paar weke in die Eiland-vakansieoord op Upington op die walle van die Oranjerivier gekampeer terwyl ons ’n huis gesoek het. Die trek van die groen, ruie Kaap na die dorre Kalahari was vir almal traumaties, veral omdat dit hoogsomer was met ons aankoms daar, die wiegende bome, die geruis van die rivier en die groen grasperke darem streling vir die siel vir ’n paar weke.
Sedertdien trek ’n mooi tuin of park my soos ’n magneet, en elke keer as ons reis, is ’n paar heilige ure onder die ooptes deel van my reis.
Toe ons na 26 dae in Mianmar op Changi-lughawe in Singapoer land vir die laaste been van ons vlugte en danksy ons reisagent se verstrooidheid 28 uur moes oorstaan – en nie agt soos sy gereken het nie – was die lang ure in transito baie meer draaglik toe ons die Discovery Garden ontdek het. Ek het my rugsakkie onder my kop ingevou, langbeen op die mat gaan lê en gekyk hoe die lig deur die reuse glasruite oor die blomme en blare skuif. Die mense wat verbyloop se gesels en die rustige musiek was ’n lawing vir ’n moeë reisiger – wat ook oortrek was van vlooibyte van ons laaste verblyf!
Die Verlore Tuine van Heligan se Mud Maid
Drie tuine wat my siel die afgelope ruk oor die waters gevoed het, was die Eden-projek naby Bodelva, Die Verlore Tuine van Heligannaby Saint Austell (albei in Engeland), en die Hangende Tuine van Marqueyssac in die suide van Frankryk.
Die Verlore Tuine van Heligan
Connwall het twee van my hartsplekke: die Eden-projek en Die Verlore Tuine – een van Engeland se tuine waarvan die glorie met die uitbreek van die Eerste Wêreldoorlog vervaag het en bykans heeltemal oorgroei is. In 1990 is Europa se grootste tuinherstelprojek geloods om dié tuine weer tot hul vorige glorie te herstel. Dis storieboekmooi met wandelpaaie, omsoom met ruie, diverse plante, bome en blomme.
Die Verlore Tuine van Heligan se Giant’s Head
Ek het Sue en Pete Hill se Mud Maid en Giant’s Head op my radar gehad. Dis twee beelde wat hulle uit hout gebou het voor dit met modder bedek en met joghurt besmeer is, sodat die mos, varings en klimop dit kon bedek. Die eindproduk is iets uit ’n kinderboek.
Hoe lekker toe die foto’s wat ek voorheen net op Instagram kon bewonder, werklikheid kon word. Na die lekker stap kan jy op ’n bankie in die tuine langs ’n dammetjie, of in die restaurantjie iets kou en drink. Die geskenkwinkel is enige tuinliefhebber se droom.
Die Eden-projek
Die Eden-projek is ’n botaniese tuin wat in ruimteagtige koepels in ’n uitgewerkte kleimyn gebou is. Binne word twee biome – die Mediterreense klimaat en die reënwoude – met duisende plante toegelig, terwyl besoekers soos klein miere onder op die wandelpaadjies stap. Daar is hier en daar reuse staaltrappe wat oor die tuine hang, sou jy ’n oorkoepelende indruk van die tuine wou kry.
In die eerste koepel
Ons stap uit sagte reën en bitter koue die eerste koepel binne en dis effe drukkend in die reënwoude met die swaar palms, varings en orgideë, en gou waai die serpe en jasse. Dié bioom is die tuiste van een van die grootste binnenshuise reënwoude in die wêreld. Jy verwag enige oomblik dat ’n gorilla of tier uit die ruigtes sal verskyn.
Die Eden-projek
As kaalvoet kind van Afrika voel jy onmiddellik meer tuis in die Mediterreense deel, waar Suid-Afrikaanse plantegroei ’n groot gedeelte beslaan. Na al die ruigheid van die reënwoude is die laventel, roosmaryn en aalwyne ’n welkome tuiskoms.
Op pad terug na die geskenkwinkel stap jy op geplaveide paadjies tussen die plante deur en probeer jou indink hoe dit gelyk het voor die Mense met die groen vingers hier begin werk het. Dit was skaars 20 jaar gelede dat die kleimyn – 60 meter diep, 15 meter onder die watertafel, met geen grond nie – nog braak en vaal was. Loer gerus hier na die bewegende beelde van hoe dinge ontwikkel het: https://www.edenproject.com/act/our-mission/our-origins.
Die Hangende Tuine van Marqueyssac
Die Hangende Tuine van Marqueyssac in die Perigord-streek is die tuin wat jaarliks die meeste besoekers lok. Voor jy die historiese chateau uit die laat 18de eeu instap, “tuimel” groot groen blokke teen die huis af en eindig in rooi beeldhoubakstene voor die voordeur. Oud en nuut neem mooi hande in die historiese tuine.
Rooi beeldhoubakstene
Die klipteëldakkasteel word omring deur meer as ses kilometer se wandelpaadjies, omsoom deur 150 000 buksbome (Buxus sempervirens) – inheems aan Europa en Asië.
Die oulike klein kerkie by die Die Hangende Tuine van Marqueyssac, waar jy skaars die bruidegom en bruid met ’n laagkoekrok sal inkry.
Op ’n kort video in die kelder van die oorspronklike chateau leer ons ’n bietjie oor die eiendom: Die 22 hektaar tuine het hul unieke vorm te danke aan ’n kundige span tuiniers wat al die buksbome met die hand in vorme snoei. Hulle gebruik hier en daar ’n stukkie tou of waterpas, maar andersins is dit vryhand. Die kasteel hang as’t ware teen ’n steil krans, sowat 130 meter bo die Dordognerivier, en kyk uit oor die vallei met klein gemeenskappies soos Beynac, Fayrac, Castelnaud, La Roque-Gageac en Domme.
Die binnekant van die chateau is as museum ingerig.
Die kasteel en tuine was erg verwaarloos nadat dit in die vorige eeu ’n vertoonstuk vir die omgewing was. Die tuine se uitleg is kenmerkend van die landskapuitleg van die era van Napoleon III.
Die foto’s en verduidelikings in die kelder gee ’n goeie aanduiding hoe hard daar gewerk is om die tuine na hul vorige glorie te herstel.
Danksy die ywerige werk van Julien de Cerval, wat die eiendom van 1861 tot 1891 besit het, is talle sipresse en sambreeldenne aangeplant, wat vandag ook ’n Italiaanse voorkoms aan die tuine verleen. Ná intensiewe restourasie is die tuine in Maart 1997 vir die publiek oopgestel.
Die amptelike voorkant van die chateau lyk heeltemal anders as die agterkant. Blykbaar was dit die indrukwekkende kant vir gaste, terwyl die minder indrukwekkende agterkant waar die rooi baksteenblokke lê, vir die inwoners was.
Dit het ses jaar geneem om die dak, wat meer as 500 ton weeg, te vervang. Al die kalksteen en klip vir die teëls kom uit die vallei. Soos ons die paadjies bewandel en klein fonteintjies, voëltjies en ander wouddiertjies in die ruigtes hoor, sak ’n ligte misreëntjie uit. Die paadjies is goed beskut deur die bome en ons val in ’n ritmiese stap in, met net die klank van die natuur en die gruisklippies onder ons voete.
Die uitkykpunt
By die uitkykpunt 192 meter hoog raak alles waarlik stil. In die verte is die historiese dorpie La Roque-Gageac, wat uit die klipwande van die berg gegrawe is.
Die guur weer het alle ander besoekers ontmoedig en vir ’n paar kosbare ure is ons alleen in die tuine.
Terug op eie bodem bly Lourensford en Vergelegen op Somerset-Wes op die oewer van die Lourensrivier twee gunstelinge met spuitfonteine, geordende beddings, baldadige rankrose en -plante en standbeelde wat agter heinings en blomme skuil. Daar is soveel om te ontdek.
By albei kan jy lekker stap en dan gaan eet en wyn drink.
Vergelegen (Foto verskaf)
Vergelegen dateer uit 1700 en die tuine sluit ’n kameliaversameling in wat blomliefhebbers van regoor die wêreld lok. Dit is die tuiste van die enigste International Camellia Garden of Excellence in Afrika, en een van slegs 39 in die wêreld. Daar is ook ’n voortreflike roostuin en ’n agapanttuin met 14 000 plante, terwyl ’n 54 hektaar-arboretum ontwikkel word, hoor ons by die Rose Terrace-teekamer wat pas geopen het en waar ons vir tee en koek vertoef.
Vyf 324 jaar oue kanferbome wat trots voor die opstal staan, is in 1942 tot nasionale gedenkwaardighede verklaar. Daar is ook Afrika se oudste lewende eikeboom; ’n antieke geelhout; en ’n reuse eik wat uit ’n akker van een van die laaste koninklike eike by Engeland se Blenheim-paleis gekweek is.
Dylan Lewis se beeldhoutuin
Vir ’n inspirasie van ’n ander aard is Dylan Lewis se beeldhoutuin buite Stellenbosch ’n móét-ervaring vir hart en siel. Die son en wolke en wind het alles ’n invloed op hoe die lig van sy reuse standbeelde weerkaats, en die Hottentots-Holland-berge wat agter in fluweelvoue waghou, maak dit ’n plek waar jy nog in prinse en drake kan glo.
Babylonstoren (Foto verskaf)
Die tuin wat ek sekerlik al die meeste besoek het en waar die toegangskaartjie wat ’n vir jaar geldig is, baie welkom is, is Babylonstoren tussen die Paarl en Franschhoek. Die ontwerp van die tuin is geïnspireer deur die oorspronklike Kompanjiestuin in Kaapstad, waar skepe van die Verenigde Oos-Indiese Kompanjie die halfwegverversingstasie tussen Europa en Asië aangedoen het vir vars water, groente en vrugte. Maar dit herinner ook aan die mitiese hangende tuine van Babilon, wat Nebukadnesar waarskynlik in die 6de eeu vC gebou het om sy vrou se verlange na die berge en valleie van haar jeug te stil.
Babylonstoren (Foto verskaf)
Hoewel die tuine eers in 2008 deur die argitek Patrice Taravella van Prieuré d’Orsan (naby Bourges in Frankryk) ontwerp is, lyk dit heelwat meer gevestig, omdat verskeie ouer plante herplant is. Die plaas is in November 2010 vir die publiek oopgestel.
Dis ’n ware bestemmingsplaas: Daar is restaurante, wyn- en olyfproe, verskeie winkeltjies wat alles wat op die plaas verbou en gemaak word, verkoop. Daar is luukse verblyf, plaastoere, ’n geurkamer, en jy kan selfs kyk hoe balsamiese asyn verouder word.
Maar dis die vyfhektaartuin wat die mense lok. Daar loop ’n as van oos na wes langs die tradisionele lyne vanaf die witgekalkte Kaaps-Hollandse werf, en een van noord na suid vanaf Babel Restaurant na die Babylonstoren-koppie. Dit is verdeel in groeperings wat onder andere groente, steenvrugte en kernvrugte, neute, sitrusvrugte, bessies, bye, kruie, eende, hoenders sowel as ’n turksvydoolhof insluit. Die stroompie se water word met leivore teen die effense helling af gelei, en vloei deur die tuin en deur damme waarin eetbare lotus, waterlelies en waterblommetjies groei.
Daar is ’n Helende tuin, Karoo-vetplanthuis, die Moestuin waarin ’n verskeidenheid seisoenale groente aangeplant word, asook die Speseryhuis, waar tropiese plante gedy. Duisende clivias blom elke lente, terwyl roostorings oortrek is met rankrose, en op die kamillegrasperk gaan lê jy plat op jou rug vir ’n aromatiese ervaring soos min. Soos jou lyf die plantjies kneus, stel dit die kalmerende geur van kamille vry.
Die tuin is die tuiste van verskeie geskiedkundige bome en plante, hoor ons op die daaglikse tuintoer. Die Shakespeare-moerbeiboom en Newton se Flower of Kent-appelboom is afstammelinge van die oorspronklike bome wat aan hierdie beroemde geskiedkundige figure behoort het.
Die laning ou koejawelbome is minstens 70 jaar oud. Hierdie bome het eers op ’n plaas naby die Paarl gegroei en is toe op Babylonstoren oorgeplant. Die treurmoerbei in die middel van die tuin vir wilde voëls is minstens 150 jaar oud. Hierdie boom het eers naby die geskiedkundige Kaaps-Hollandse huis gegroei, maar is deur groter bome oorskadu. Dis in 2009 na ’n meer prominente posisie verskuif.
Die wildepeperboom Schinus terebinthifolia aan die bopunt van die tuin is die enigste boom in die formele vrugte-en-groentetuin wat nie aangeplant is nie, maar staan waar hy nog altyd gestaan het.
Die grootste “fynbostuin” wat jy sekerlik kan sien, is by Grootbos Privaat Natuurreservaat buite Gansbaai. (Foto verskaf)
Van my ander gunstelingtuine waar ek net weer mens word as ek kaalvoet op die grasperk kan loop of onder ’n boom kan piekniek hou:
- Elke keer wanneer ons die Kaapse middestad gaan besoek, maak ons ’n draai by die Kompanjiestuine met sy ongelooflike uitsig oor Tafelberg, Seinheuwel en Duiwelspiek. Dis net die regte plek vir ’n koffie en ’n toebroodjie onder die reuse bome, terwyl eekhorings met akkers rondwoel of voëls in die blaarbedekking skrop. En om te sien hoe die motors lang rye staan om met die kabelkarretjie teen die berg op te gly, natuurlik ’n warm gevoel om enige Suid-Afrikaner se hart.
- Die 81 hektaar groot Johannesburg Botaniese Tuin met sy mengsel van inheemse plante, kruie, rose en plante vanuit die res van die wêreld, wat uitkyk oor Emmarentiadam, bied ’n heerlike verposing van die stadsgewoel. Jy kan lekker bene rek en as jy tyd het, jou verkyker en voëlboek saamneem vir ’n vroegoggend- of laatmiddag-voëlkyk-sessie.
- Die grootste “fynbostuin” wat jy sekerlik kan besoek, is by Grootbos Natuurreservaat buite Gansbaai. Dié luukse ekoreservaat het al duisende hektaar fynbos teruggewin; doen opleiding, bewaring en aanplantings, terwyl die wêreld in die luukse lodges kom ontspan. Lees gerus meer oor my besoek verlede jaar: https://voertaal.nu/fynbos-soos-nog-nooit-tevore-nie-grootbos-privaat-natuurreservaat.
- Die grootste varsproduktemark in die wêreld is die Rungis-mark aan die buitewyke van Parys. Dis nou wel nie ’n tuin nie, maar daar is skousale vol blomme, plante en loof – my happy place toe die groot deure in die eerste saal oopskuif en die blommereuk my aan die neus kom lei. En natuurlik was die reuse koelkamer met sy groot glasruite en die woord “Okidland” in die een hoek ’n hoogtepunt. Rye en rye en rye orgideë in alle kleure en groottes. Wat binne enkele ure na bloemistes, groothandelaars en straatkafees regoor die stad versprei sal word.
Foto’s: Clifford Roberts, Babylonstoren, Vergelegen en Eden Project: Hufton+Crow
Lees ook:
Fynbos soos nog nooit tevore nie! Grootbos Privaat Natuurreservaat