
Die Zambezi-rivier
Hoe beskryf jy vir jou 93-jarige pa by die huis in die Kaap hoe magtig die Zambezi-rivier is? Hoe sterk die stroom, hoe die klein, kabbelende stroomversnellings ’n geraas maak en hoe vreesaanjaend twee meter (of langer) krokodille wat geruisloos van die oewer ingly, kan wees as jy op ’n klein bootjie vaar?
Stap met jou gids
“Die rivier het ’n presence,” het ’n gids een slag half ingedagte teenoor ons opgemerk. Dié stelling het my bygebly. Ek was al op – en langs – baie riviere in my lewe: van die Oranje tot die Mississippi en die Seine en alles tussenin. Die Zambezi is anders.
Luuksheid op ’n piepklein, ekobewuste eiland.
Waar my pad onlangs met dié watermassa gekruis het, is by ’n luukse tentlodge, Tsowa Safari Island, in die Zambezi Nasionale Park. Om op ’n piepklein eiland bo die Victoria-valle te bly, beteken dat jy nooit nie van die rivier bewus kan wees nie. Die eiland is net 1,5 kilometer by 800 meter groot en die water vurk weerskante verby.
Die swembad
Jy weet dit kort net een of twee groterige golwe en die water is bo-oor, maar dit het nog nie gebeur nie. Tog dwing dit respek en vrees by jou af – só saam met die sussende gerusstelling dat die water aanhou vloei, heeljaar deur, en jou aan die slaap sus as jy op die sonstoele by die swembad of op jou stoepie sit of op jou bed lê.
Met só ’n uitsig kan mens vergewe word as jy nie van jou tent wil weggaan nie.
Die Zambezi is die vierde langste rivier in Afrika, naas die Nyl, Kongo en Niger; die langste oosvloeiende rivier op die kontinent en die grootste wat in die Indiese Oseaan uitmond. Die 2 694 kilometer lange rivier ontspring in Zambië en vloei deur Oos-Angola, al langs die noordoostelike grens van Namibië en die noordelike grens van Botswana, voor dit die grens tussen Zambië en Zimbabwe vorm, voor dit deur Mosambiek vloei om in die oseaan uit te mond.
Om die rivier in ’n kajak of klein opblaasbootjie te ervaar, bring adrenalien in ’n ander vorm.
Ek het al die voorreg gehad om op dié rivier te vaar in ’n kano en opblaasbootjie, ook aan boord ’n sonsakvaart en luukse drywende akkommodasie. Ek is al deur vlakwater op ’n perd én olifant se rug; was al hoog in die lug in ’n helikopter en microlight om die kronkelende slang uit die hemele te beskou. Dis polsend, wonderlik en magtig.
Jy is al amper op die tente voor jy besef dis daar.
Ons is alleen in die Tsowa-kamp – wat slegs uit ’n paar luukse tente, ’n restaurant, swembad en kuiergedeelte bestaan. Daar is geen ander akkommodasie of mense op die eiland nie. Die eiland behoort ook aan die lodge, terwyl omtrent alle ander lodges in die gebied grond van die regering huur.
Die verblyf wentel natuurlik alles om die natuur, wild en die rivier. Jy kan nêrens heen sonder om die rivier te oorkruis nie. Jy kan nie onbewus wees van die gevare onder die oppervlak nie.
Die wildkykvoertuig
Die wildkykvoertuig met ons gids, Stanley Ndlovu wat ons by die grootpad (snelweg volgens die locals) gaan haal het, word onder ’n boom parkeer en ons bagasie word na ’n klein bootjie oorgedra.
Soggens met sonop is ons in die bootjie vir wildkyk in die park. Smiddae teen sonsak is ons weer daar vir laatmiddag wildritte. Die koelboks, warmwatersakke, komberse en reënjasse altyd byderhand.
Ek sien hoe die son op verskillende tye van die dag op die water blink. Ek weet ons is ver van die valle af en hy bevestig dit keer op keer, maar dis asof jy dit oral voel, weet dis daar. Ook dat daar ander watervalle in die Zambezi is: Chavuma en Ngonye. Nie een so dramaties en hoog soos Vic-valle nie, maar steeds indrukwekkend.
Die rivier is natuurlik nie net ’n waterbron vir mens en dier nie, dit wek ook hidroëlektriese krag op by die Kariba- en Cahora Bassa-damme; ook in twee kleiner kragstasies by Victoria Falls en nog een by Zengamina, naby Kalene-heuwel.
Farai Tsopo
Die kaptein van ons boot, Farai Tsopo, is ’n man met sagte oë en ’n groot liefde vir die rivier en visvang. Ons kruie ten minste vier maal per dag na die ander kant, terwyl hy en Stanley vir ons voëls, seekoeie en krokodille uitwys.
Op die oorkantse oewer is dit net ’n paar houttrappies wat verklap dat hier lewe is – een kant na die lodge; die ander kant van die rivier na waar die wildkykvoertuig wag.
Ons ervaar die rivier ook saans met volmaan. Ons vaar in stilte oor die pikdonker rivier, hoor net die water saggies teen die romp klots. Alles is donker, behalwe die verwelkomende goue ligte van die lodge op die eiland.
Ons kyk op na die uitspansel. Die melkweg, planete en sterre soos konfetti uit ’n bruilofsgas se hand oor die hemel gestrooi. Farai skakel die boot se enjin af. Ons dryf vir ’n paar minute, hangende tussen hier en daar – in tyd ook. Die koue van die rivier slaan teen jou lyf op, maar dit word op die rug van vrede gedra.
Die kampvuur
By die lodge gaan ons aan wal, die personeel groet gul en wag ons in met lappies vir ons gesigte en hande. Die vuur brand, ons wyn is gegooi en ons staar in die vlamme terwyl die reuke uit die kombuis op die ligte windjie aangedra word. Die rivier ’n reus wat gerusstellend asemhaal agter ons rûe.
Ons sjef, Elton Andy Moyo.
Dis krokodilsosaties en boontjiesop, gevulde hoenderborsies met spinasie uit die sjef se eie groente- en kruietuintjie. “Dis nog baie eksperimenteel, want ons wil eers kyk watter kruie en groente hier sal aard,” vertel Elton Andy Moyo. Hy het sy aanplantings in ou Makoro-bote gedoen, sodat hy dit met goeie kompos en potgrond kon vul.
Etes op die dek met die uitsig oor die rivier is ’n sensoriese heerlikheid.
Met ons Amarula flan en bessies gaan sit ons by die vuur. Die ander gidse en kelners kom sluit by ons aan met koffie en tee in die hand. Ons gesels padlangs oor ons onderskeie lande se regerings se slegte besluite; oor die hoop wat natuurbewaring bring; oor die toekoms en hoe ons vasgevang is in tradisies en gebruike wat nie tred gehou het met die tye nie.
Drankies word geskink
Die vuur word hardehout gevoer, die vlammetjies skiet in duisende sterretjies die lug in. Die rivier se teenwoordigheid ’n meter of drie weg, ’n gerusstellende teenwoordigheid. Ons gesels oor die dag se wildkykverrassings wat van olifante, seekoeie, leeus tot waterlikkewane in bome ingesluit het. Daar was rare voëls en snaakse plante; bome met medisinale gebruike. Insekte met gekleurde lywe en snaakse klanke.
Die buitestort
As jy in die pikdonker in jou buitestort staan, is die rivier selfs bo die stort hoorbaar.
Een oggend wys ons die wildrit van die hand. Vroegoggend sing die voëls ons wakker. Oukei, kom ons wees eerlik: Dis nie hemelse koortjies uit die bome nie, dis raserige, hees kolganse op die rivieroewer, ’n magdom klein voëlpootjies wat gly-gly op die gladde tentdak probeer stap en ander gediertetjies soos nuuskierige agies – ek bedoel apies – wat van boom tot boom swaai en voëls irriteer wat dan al kwakend en tjirpend opvlieg en elders gaan sit.
Maar daar is geen selfone, geen rookreuk, geen uitlaatgasse, geen gepraat. Net die natuur en die rivier wat soos ’n reuse-waterfontein deurlopend sus. Ons het die vorige aand ’n warmwaterfles gevra en maak koffie, gaan sit met ons verkykers en voëlboeke op die stoepie. In ons nagklere en pantoffels. Geen haas, geen verpligtinge.
Die visvangertjie
Ons kyk vir ’n ewigheid hoe ’n wit en swart visvangertjie in die rivier jag. Sy energie het geen einde nie. Dis duik, plof in die water, verdwyn en dan op die tak kom sit. Weer en weer en weer. Soms met ’n klein vissie of naaldekoker in sy bekkie, maar meestal met niks.
Ons het nêrens waar ons eerder wil wees as hier nie.
Saligheid en vrede
Saligheid en vrede kom in verskeie vorms.
Nou is daar nog ’n herinnering aan die Zambezi-rivier om by vele ander te voeg. En ek kan inderdaad beaam: Die rivier hét ’n presence. En laat jou altyd terughunker.
Kitsfeite:
- Die verblyf in die luukse tente by Tsowa Safari Island sluit etes, wildritte, bootritte en drankies in en verg ’n minimum van twee nagte se verblyf. Geen kinders onder 12 jaar word toegelaat nie. Bespreek by Tsowa Safari Island Victoria Falls by (035) 474-1473, res@isibindi.co.za of besoek tsowasafariisland.co.za.
- Tsowa Safari Island is deel van Isibindi Africa Lodges met die slagspreuk: “Dis meer as die safari van ’n leeftyd... ons bied ’n toekoms.” Jy ervaar dié groen filosofie in elke aspek van jou verblyf en sien hul slagspreuk in aksie met die Isibindi Foundation. Lees gerus meer: https://isibindifoundation.org/.
Foto’s: Clifford Roberts en verskaf