Vic Falls hier kom ons – weer!

  • 0

Majestueus

Toe die hele wêreld blikkieskos en kerse stoor en glo vliegtuie gaan op 31 Desember 1999 uit die hemel val, pak ons twee Land Rovers en kies koers na die dorp Victoria Falls in Zimbabwe. As ons in ons peetjie gaan, kon dit net sowel saam met goeie vriende wees. Om ’n kwarteeu later weer daar in die dorpie te staan – nogal ’n onwerklike ervaring.

David Livingstone wat die Victoria-valle benoem het en die eerste Europeër was om die valle te sien. Sy standbeeld staan naby aan die Duiwelskatarak.

Dit was destyds so ’n bietjie soos ’n volstruis wat sy kop in die sand druk en dink niemand kan hom sien nie en dus is daar geen gevaar nie. Want as rekenaars ophou werk het en die millenniumvrese waar sou word, is Zimbabwe voor selfone en OTM’s en met ’n vreemde taal dalk nie die beste plek om te wees nie.

Livingstone was natuurlik nie eerste nie.

Maar nou ja, jonkwees en voortvarendheid laat hulle nie voorskryf nie. In 24 jaar is van die 12 wat saamgereis het, een oorlede, getroudes geskei, kinderloses het gesinne, ongetroudes getroud, ouers het weggeval. Meer nog: Filmkameras het verdwyn, ’n pandemie het ons byna uitgewis en ons het WhatsApp-video’s en Instagram waarop alles oordadig vasgelê word. Destyds het ons spaarsamig foto’s geneem en gewag om dit tuis te ontwikkel. Nou is ek nie eers seker waar dié foto’s en albums is nie.

Ons ry bykans 25 jaar later deur die dorp, kyk na die plekkies waar ons destyds ons wilde riviervaart bespreek het, die plek waar ons geld getrek het, ons kampterrein en so meer. By die toerismekantoor is dit ’n miernes van bedrywighede met voertuie met registrasienommers van verskeie Afrika-lande wat kom en gaan. Dit voel soos gister dat ons daar by dieselfde toerismekantoor gestop het.

Die toerismekantoor in die hartjie van die dorp waar jy al jou reisvrae kan vra.

Ons het lang ure uit die Kaap gery, toe ’n paar mense in Bloemfontein opgelaai waar die Land Rovers hul tuiste gehad het. ’n Vriend van ’n vriend wou ’n klein toerismebesigheid saam met sy verloofde begin en het gewilliges gesoek om as proefkonyne mee te gaan. Ons was gelukkig om twee sitplekke te kry.

Van Bloemfontein is ons na Pretoria vir die laaste paar optel voor die groot avontuur in alle erns kon begin.

Die reis sou 10 dae duur, deur Zimbabwe en Botswana na die Okavango Delta. Ons het alles saamgery: tente, slaapsakke, kos, implemente en kampstoele. Elke aand het almal stywebeen uitgeklim ná ’n lang dag se ry, gehelp hout optel, vuurmaak, kamp opslaan en kosmaak. Saans om die vuur het vreemdelinge vriende geword en bestaande vriendskappe is hegter gesmee.

Die moeite werd

Die naguiltjies, sterre en naggeluide was al geselskap, want die warmste en natste tyd van die jaar was beslis nie die gewildste reistyd vir oorsese besoekers nie. Die meeste aande het ons in oop stukke veld langs die rivier gekamp; in groepies met groot geraas toilet toe gestap.

Oujaarsaand 1999 kamp ons in die kampterrein The Rest Camp in Vic Falls. Die kamp is jolig, want baie plaaslike mense kom kuier by familie om die nuwe jaar in te wy en soos ons maar ook effe gespanne te wag om te sien of die “millenniumkiem” alles gaan verongeluk.

’n Vriend se pa het ’n bottel Roodeberg 1975 Magnum saamgegee. Sy pa wou dit graag vir ons gee om met die draai van die millennium te geniet. ’n Geskiedkundige wyn vir ’n geskiedkundige oomblik. Die groter bottel het die wyn heerlik laat verouder en ’n mens voel amper die gewigtigheid van iets wat bykans 25 jaar in ’n bottel vasgevang was.

Ons kry elkeen ’n glas, deel ons voornemens, ons wense en versugtinge vir die jaar 2000. Elkeen het een of ander hoogtepunt of groot besluit wat wag. Maar vir daardie paar uur staan die tyd stil. Ons sing die Oujaar weg en kruip in die bed.

Vroegoggend gaan ons die magtige Zambezi-rivier op opblaasbote aandurf. Ons groep is in twee verdeel: die avontuurlustiges wat self deur die stroomversnellings gaan roei; die ander groep wat gidse en roeiers aan boord het. Ons moet net vashou en kalm bly as die rivier se maag begin grom en draai.

Teen middagete voel ons almal soos drenkelinge toe die laaste stroomversnelling agter ons lê en ons die hellings uitklim terug na die sentrumpie vanwaar die avontuurritte aangebied word.

Later die middag toe almal gerus en gestort het, gaan ons terug om na ons video’s en foto’s te gaan kyk. Dit was ’n Nuwejaarservaring wat sedertdien nog nie oortref is nie.

Ons stap na die watervalle en staan in stille verwondering oor die natuurwonder. Met goedkoop (en onvoldoende reënjassies) aan neem ons foto’s en lag sonder sorge.

Wie weet of ’n mens weer hier sal kom?

Draai nou die horlosie vorentoe. Die dorpie is nog baie dieselfde, maar daar is tog ’n nuwe lagie verf hier en daar. Nuwer geboue het verrys; die bome is groter en groener. Dis koeler; die dorp wemel van die toeriste. Daar heers ’n Babelse verwarring soos mense aanwysings, rigtings, banke, Wi-Fi en drankwinkels soek. Die pandemie het hierdie dorpie vir lank stilgemaak en almal is reg om weer hul stemme te laat hoor.

Die nuwe The Lookout Café is nie net ’n lekker eetplek nie, dis ook die hart van verskeie adrenalienaktiwiteite.

Ons het gehoor van die nuwe The Lookout Café wat sy naam te danke het aan die mooiste uitsigte oor die Zambezi-rivierravyne en die ou staalbrug naby die valle. Dis op die draai by stroomversnelling 4 en 4,5 en as jy lank genoeg sit, sal jy die opblaasbote met gillendes onder jou sien (en hoor!). Dit word besit deur Wild Horizons, wat die grootste adrenalienavonture-aanbieding in die dorp het.

Heerlik!

Die restaurant bedien ontbyt, middagete, peuselgoed en aandete en kan maklik 250 mense akkommodeer oor verskeie vlakke binne en buite. Die atmosfeer is hartlik en mense gesels oor en weer met ’n koel briesie wat oor die sementvloere dans, en die handgemaakte lampskerms wat soos klein ietermagogs met oorvleuelende skubbe lyk, roer.

Die uitsig vanaf die restaurant oor die rivier en ravyne is asemrowend.

Weerskante van die stoeprelings hoor jy kort-kort ’n gilletjie soos iemand een van die aktiwiteite aandurf: of dit nou brugswaai, reksprong of die vlieënde vos is wat oor die ravyne gly.

Die spyskaart het iets van alles: van peri peri-hoender tot die lekkerste beesburgers en krokodil-sosaties of volstruisslaai. Die bier gly natuurlik ekstra lekker in jou keelgat af en dis ook hier dat ek vir die eerste maal Tinashe Nyamudoka se wyne proe. Kumusha is die Zimbabwiese Shona-woord wat jou huis, jou herkoms of jou wortels beteken. Dit word deur die Zimbabwiese sommelier wat sy roem in Suid-Afrika gevind het, gemaak. Hy was ’n vlugteling wat sy heil in Suid-Afrika kom soek het en selfs deel van ’n dokumentêre film Blind ambition was. Kyk gerus die lokprent hier.

Daar is ’n oulike Braille-reling wat die geskiedenis van die waterval, die ravyne en die adrenalienaktiwiteite vertel.

Die Braille-reling

Dis die besprekingsplek vir verskeie aktiwiteite en ook waar ons gids Land Ncube ons kry vir ’n begeleide toer van die watervalle. Hy vertel:

Almal doen die vier bekendste goed: die watervalstap, ’n helikopterrit oor die onderskeie watervalle, ’n wildrit en die opblaasbote, maar Wild Horizons kan jou vir vyf dae besig hou. Daar is baie meer “anderse” aktiwiteite – mense het ná die pandemie hul reisgewoontes verander.

Een van die waterstasies

Ons koop gou waterbottels wat by 20 waterstasies regoor die dorp hervul kan word, voor ons na die waterval vertrek. In die bussie lees ek gou op die Unesco Wêrelderfenis-webwerf dat die Mosi-oa-Tunya / Victoria-val “onder die wêreld se asemrowendste watervalle is”.

Die amptelike Unesco-teken by die ingang van die valle

Dit beskryf voorts dis die grootste gordyn van vallende water ter wêreld; is 1708 meter breed en met tot 500 miljoen liter per minuut wat 61 meter (Duiwelskatarak), 83 meter (Hoofwaterval), 99 meter (Reënboogwaterval) en 98 meter (Oostelike Katarak) oor die klippe tuimel. Agt skouspelagtige basaltklowe en verskeie eilande in die kernsone dien as broeiplekke vir vier bedreigde en trekvoëlspesies.

Ons gids verduidelik die uitleg en geskiedenis van die park.

Die rivierreënwoud binne die watervalspatsone is ’n brose ekosisteem van onderbroke woud op sanderige alluvium, afhanklik van die instandhouding van volop water en hoë humiditeit as gevolg van die klein miswolkie van ongeveer 500 meter (op maksimum hoogte) wat gesien kan word vanaf ’n afstand van 50 kilometer en 30 kilometer vanaf die Bulawayo- en Lusaka-paaie onderskeidelik. ’n Direkte vooraansig van die watervalle is moontlik vanaf beide Zambië en Zimbabwe. Albei lande het toegangshekke.

’n Goeie oorsig oor die park

Ek vertel vir Land hoe ons die valle se spuitkombersie kon sien vanuit die vliegtuig voor ons geland het.

Ons betaal ons toegangsgeld en kry ons reënjassies by Land. Groot borde by die ingang verduidelik die geskiedenis en formasies en hy staan vir ’n wyle daarby stil om ons goeie agtergrond te gee. Die gedreun van die valle is net so bedwelmend soos 24 jaar gelede en ek voel die adrenalien in my kuite om die magtige watermassa te sien.

Land verduidelik:

Die oorgrens-eiendom strek oor 6 860 hektaar en beslaan 3 779 hektaar van die Mosi-oa-Tunya Nasionale Park (Zambië), 2340 hektaar van die Victoria-valle Nasionale Park (Zimbabwe), 741 hektaar van die rivierstrook van die Zambezi Nasionale Park (Zimbabwe). ’n Rivierstrook van die Zambezi Nasionale Park wat 9 kilometer wes strek langs die regteroewer van die Zambezi en eilande in die rivier is almal binne die park tot by Palm- en Kandahar-eilande, met die Victoria-waterval as een van die belangrikste besienswaardighede. Die waterval staan op ’n hoogte van ongeveer 915 meter bo gemiddelde seevlak en het ’n gemiddelde diepte van 100 meter, met die diepste punt van 108 meter.

Hy wys ons Zimbabwe se landkaart en merk droog op dit lyk soos ’n teepot. Ons gaan kyk by elke uitkykpunt en word natter van die misreëntjie wat diep uit die ravyn opstoot.

Die misreëntjie wat diep uit die ravyn opstoot

Onderweg terug na die hek, stap ons verby pragtige kunswerke van inheemse voëls en plante in die Nicole Sanderson Kunsgalery en ’n bordjie verkondig dat die kunswerke klaar opgerol is – net reg om saam met jou te reis. Slim!

By die stalletjies naaste aan die valle kan jy amper alles – selfs ’n reuseleeu – koop.

Op pad na die reusekremetartboom sien ons die Bamba-trem. Daar is ook ’n geel raam waarin jy selfies kan neem. Ek hou van die slagspreuk: “Some travel to escape life. Others travel to experience it. Experience life with Bamba!” Jy kan met die oulike trem oor die valle en Batoka-ravyn ry. Die kommentaar aan boord gee sommer lekker agtergrond oor die omgewing ook. Jy kan selfs die spoorweg- en brugmuseum aan die Zambiese kant besoek.

David Mpanza

By die markie voor die kremetart kom gesels David Mpanza met my. Hy kerf houtmaskers en maak Afrika-diertjies en ek val vir ’n uiltjie wat uit klip gekerf is. “Volg my op Instagram!” roep hy toe ek al die bussie se deur toegedruk het. Ek het al gesoek, maar die twee Davids met daardie van het nog niks gepos nie!

Een van Afrika se grootste kremetartbome net buite Vic Falls is beslis die besoek werd.

Die boom is omhein om agies van die takke te hou en die bas het ’n allemintige omtrek van 22,4 meter en die boom is 24 meter hoog.

Die plaatjie op die reuseboom lees soos volg:

Die majestueuse Afrikakremetart word dikwels die “onderstebo boom” genoem – ’n naam wat ontstaan uit sy takke wat lyk soos boomwortels. Die boom is een van die grootste, oudste en veerkragtigste Afrikakremetarte in die wêreld. Daar is altyd geglo hierdie boom is ongeveer 1 200 jaar oud en is saamgestel uit verskeie stamme wat inmekaargevleg het.

In 2021 het wetenskaplikes radiokoolstofdatering gebruik om die korrekte ouderdom te bepaal en hulle het ontdek die oudste stam van die kremetart is tussen 1 100 en 1 200 jaar oud, terwyl nuwer stamme tussen 200 en 250 jaar oud is.

Die oudste dele van die Groot Boom het ongeveer 100 jaar gelede opgehou groei, maar die res van die boom is steeds baie lewendig en produseer blare, blomme en vrugte deur die jaar.

Kremetarte kan tot 120 000 liter water in hul stamme stoor wat hulle in staat stel om erge droogte te verduur. Hul lang lewe is ook toe te skryf aan hul vermoë om nuwe stingels te produseer wat met bestaande stingels saamsmelt wat voorsiening maak vir voortgesette uitbreiding en groei. Kremetarte het ook ’n groot weerstand teen eksterne faktore soos siektes, plae en kankers.

Daar is dele reënwoud wat belangrike habitat vir voëls en soogdiertjies is.

Die bome bied ’n idilliese habitat vir klein soogdiere, voëls, insekte en reptiele. Die kremetart produseer blomme wat aangepas is vir bestuiwing deur vrugtevlermuise en soms ook deur nagapies.

Nog ’n bobbejaan en haar kleintjie

Ons gaan terug na die Lookout vir iets te drinke. ’n Reusebobbejaan kom uit die polisiestasie se hek en Land lag en sê hy het seker ’n saak gemaak omdat iemand sy kremetartvrugte gesteel het.

Ons groet vir Land en gaan sit met ’n yskoue bier en glas wyn en kyk uit oor die ravyne. Wie weet of ons ooit weer hier sal kom en, indien wel, hoe die wêreld dan sal lyk.

Kitsfeite

  • “Cash is king.” Dis ons gids se woorde. Masjiene by die valle is dikwels buite werking. Neem dus genoeg kontant vir jou toegang. Suid-Afrikaners en SADEK-lede betaal 30 Amerikaanse dollars en internasionale toeriste betaal 50. Kinders onder 6 gaan verniet in en kinders tussen 6 en 12 betaal halfprys.
  • As jy die beste tafel by The Lookout Café wil bespreek, stuur ’n e-pos aan cafereservations@wildhorizons.co.zw of bel +263 78 274 5112. Daar is ook allerhande inligting oor al die dienste wat Wild Horizons aanbied.
  • Bespreek vir ’n lekker rit op die Bamba-trem of met die Bamba-fietse by info@bambavictoriafalls.com of bel +263 77 373 5533 of besoek https://bambavictoriafalls.com/tram/.

Foto’s: Clifford Roberts

Lees ook:

Suid-Soedan: ’n storie van sensuur, sekuriteit en onstabiliteit

Jou siel is vol in Chobe

Die dans van die diere van die Kamdeboo

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top