Madiba se invloed strek wyd

  • 0

Dis die bordjie wat eerste ons oog vang in Montignac in die suide van Frankryk. Foto: Maryke Roberts

Nelson Mandela, of Madiba soos dié pa van demokrasie onder sy stamnaam alombekend is, sou op 18 Julie vanjaar 106 jaar oud gewees het en regoor die wêreld word daar allerhande dinge beplan om sy gesindheid van barmhartigheid te gedenk.

Ons dwaal ’n paar maande gelede in die straatjies van Montignac in die suide van Frankryk rond. Die Middeleeuse dorpie op die Vézère-rivier is ysig koud; die windjie sny om ons bene en die lug is triestig. In ’n nou straatjie vang my oog ’n teken: Espace Nelson Mandela. Dit voel of die sonnetjie op daardie oomblik deurbreek en die koue verdryf is. Net ’n paar hoekies tussen eeue-oue geboue verder is ’n pragtige gedenkbord op ’n klein vierkant aangebring.

Die aanhaling: “To be free is not merely to cast all of one’s chains but to live in a way that respects and enhances the freedom of others,” in Engels, Frans en Spaans langs ’n pragtige foto van sy laggende gesig. Die bord is op 31 Julie 2010 tydens die Montignac-fees onthul.

Dis net ons in die vierkant. Drie Suid-Afrikaners waarvan een al 14 jaar oorsee woon en een Brit wie se hart al lankal na die suide van Afrika smag. Mens voel vir daardie stille minute ewe skielik jou Afrika-erfenis tot in jou murg. Jou gevoel van komvandaan versterk. Trotser, regopper.

As jy aan die ander kant van die vierkant uitstap, hou hierdie gietysterkruis bo jou kop wag. Soos ’n alomteenwoordige gebed.

Ons probeer by die plaaslike bakkery uitvind hoekom daar ’n straat en vierkant na Mandela vernoem is. Die eienaar sit die tangetjie waarmee sy croissants in ’n bordjie geskep het neer. Haar hande word voor haar bors gekruis. Haar verontwaardiging is amper aandoenlik. “Maar hy was ’n merkwaardige man! Natuurlik moes ons hom vereer!”

Dis so ongewoon om in ’n Middeleeuse dorpie in die Franse platteland hierdie tipe huldeblyk te ervaar. Foto: Maryke Roberts

Ons kry sommer net daar ’n tafeltjie en kuier met die warmte van iemand se nalatenskap, wat soveel wyer strek as wat mens aldag besef.

Dit voer my terug na my reise oor die jare waar sy standbeeld, gesegdes of nalatenskap my pad – benewens Montignac – gekruis het. Ek staan eintlik verbaas oor hoe deel hy die afgelope vier dekades van my lewe was.

Boonop deel hy en my oorlede mamma ’n verjaardag en sy het baie keer gewonder of hy dit net so baie geniet om in die winter te verjaar soos sy!

As kind op die platteland in die noorde van die land, het ons natuurlik nie veel van Nelson Mandela geweet nie. Hy is tronk toe lank voor ek selfs ’n vonkel in my ouers se oog was en met staatsgereguleerde nuus wat só gefiltreer is om ’n sekere agenda te bevorder, was hy nie deel van my verwysingsraamwerk nie.

Die eerste ware tot stilstand kom en notisie neem, is met sy vrylating uit die Victor Verster-gevangenis op 11 Februarie 1990. Ek was ’n jong student en ons het die hele dag voor die kassie in die koshuis se televisiekamer in Pretoria gesit en kyk.

........
As kind op die platteland in die noorde van die land, het ons natuurlik nie veel van Nelson Mandela geweet nie. Hy is tronk toe lank voor ek selfs ’n vonkel in my ouers se oog was en met staatsgereguleerde nuus wat só gefiltreer is om ’n sekere agenda te bevorder, was hy nie deel van my verwysingsraamwerk nie.
........

Hy gaan direk na sy vrylating na die Kaapstad-stadsaal en op die balkon van dié historiese gebou, maak hy sy eerste toespraak as vry man. Mense hang soos vinke aan die relings en balkon en staar in ongeloof na die man wat 27 jaar in die tronk was en van wie daar geen foto’s toegelaat is nie, uit vrees dat sy gewildheid sal toeneem. Die parade is tot barstens toe vol. Almal net so oorbluf met sy skielike vrylating onder ’n apartheidsregering as wat hy die vorige dag was toe president FW de Klerk hom van sy skielike vrylating ingelig het.

In 1980 het Oliver Tambo die "Free Mandela"-veldtog van stapel gestuur, wat Nelson Mandela die internasionale simbool van die anti-apartheid stryd gemaak het. Foto: Robben Island Museum Mayibuye Archives

Ons gooi in 1993 vir ’n jaar duim deur Europa. Die wêreld gons steeds oor sy vrylating en hoe dinge in Suid-Afrika gaan uitspeel. Mense is nuuskierig om Suid-Afrikaners raak te loop wat die hele oorgang in die land beleef en vra ons ons opinie oor sy vermoë om burgeroorlog af te weer. Ons is jonk en bang oor ons land se toekoms en het te min inligting om ’n waardige bydrae te lewer.

Op 10 Mei 1994 word hy by die Uniegebou as Suid-Afrika se eerste demokratiese president ingelyf. Weer is ons voor die kassie om alles te ervaar. Ons het pas as joernaliste op Malmesbury begin werk en die vorige maand vir die eerste maal in die demokratiese Suid-Afrika gestem.

Op 16 Junie 1994 praat hy by die herdenking van die Hector Pieterson-massamoord – 18 jaar na die Soweto-onluste. Weer sit ons vasgenael voor die televisie. Hy kyk terug op daardie aaklige dag toe 200 kinders in ’n koeëlreën gesterf het omdat hulle Afrikaans as onderrigtaal verwerp het, maar hy beklemtoon dat die jeug van daardie tyd nou ministers en hooggeleerdes is, dat hulle almal moet saamstaan om die wonderlike toekoms van hierdie land verder te bou.

20 jaar later stap ek deur die ingang van die Hector Pieterson Museum op die hoek van Kumalo- en Pelastraat in Soweto, ’n klipgooi van Nelson en Winnie Mandela se klein huisie in Vilakazistraat 8115 op die hoek van Vilakazi- en Ngakanestraat, waar hy van 1946 tot 1962 gewoon het.

Sy wuiwende hand oor die parade in Kaapstad, net soos 34 jaar gelede toe hy as vry man daar gepraat het. Foto: Maryke Roberts

Om daar voor die wêreldbekende foto te staan en te besef dis hier waar Hector doodgeskiet is, dwing jou tot stilte. Op die wit en swart foto deur Sam Nzima word Hector se lyk deur Mbuyisa Makhubu gedra en langsaan hardloop sy suster, Antoinette Sithole. Hulle is beangs en vlug voor die polisie se koeëls.

In 1995 stap Nelson Mandela op die rugbyveld en lig saam met die Springbok-rugbykaptein, Francois Pienaar, die Rugby Wêreldbekertrofee bo sy kop toe die Bokke die All Blacks verslaan. Ons is skaars vyf weke getroud, kyk die rugby by vriende in die Kaap. Die land is aan die verander, positiewe verandering, en ons is jonk en opgewonde.

Donald McRae skryf in The Guardian: “President Mandela, vir so lank gedemoniseer as ’n terroris, het die spelers na die veld gevolg. Anders as ’n loopbaanpolitikus, het Mandela vir die geleentheid aangetrek. Hy het ’n Springbok-hemp met die nr. 6 op sy rug gedra. Dit was die hemp wat Francois Pienaar, Suid-Afrika se Afrikaanse kaptein, aan hom gestuur het. ’n Glimlaggende Mandela, wat 76 was, het sy Springbok-pet gedra.

Dié verkiesingsplakkaat van Suid-Afrika se eerste demokratiese verkiesing in 1994, word in die Iziko Slawelosie in Kaapstad vertoon. Foto: Maryke Roberts

“Ek is ’n Suid-Afrikaner. Ek is in apartheid gebore en het grootgeword in ’n land wat Mandela vir 27 jaar tronk toe gestuur het. Dit het diep ontroerend gevoel om toe die gesang te hoor wat al meer in intensiteit toegeneem het: ‘Nelson … Nelson … Nelson …’”

In die laat negentigs kry my pa ’n vernouing in sy hart en moet hy ’n stent kry. Hy is toe al 70 en met al die gesondheidsprobleme rondom die diagnose, is daar baie tyd vir introspeksie in die hospitaal.

........
My pa se gesondheid het verbeter, sy nuuskierigheid het hom na die biblioteek gejaag en hy wou alles oor Mandela oplees wat hy gevoel het “die regering ons van ontneem het”.
........

In die eerste paar dae na hy ontslaan is, vra ek heel toevallig wat hy die komende naweek wil doen. “As daar nog een ding is wat ek wil doen voor ek doodgaan, is dit om Robbeneiland te gaan besoek en te sien waar Mandela opgesluit is.” My ma se kommer dat hy dalk ’n voorbode van sy dood het tersyde, en ons koop kaartjies vir die boot en museum. Ek dink nie enigiemand het ooit daaraan gedink dat dit my ouers se eerste ervaring met ruwe see, golwe en ’n skommelende boot sou wees nie. Maar hulle het – hoewel groen om die kiewe – die dag oorleef en dit ongelooflik insiggewend gevind. My pa se gesondheid het verbeter, sy nuuskierigheid het hom na die biblioteek gejaag en hy wou alles oor Mandela oplees wat hy gevoel het “die regering ons van ontneem het”.

In November 2009 het die Verenigde Nasies Madiba se verjaardag, 18 Julie, as Mandela-dag geproklameer. Dit het sy bydrae tot die anti-apartheidstryd beklemtoon en het ’n beroep op individue gedoen om 67 minute te skenk om iets vir ander te doen – die wet herdenk die 67 jaar wat Mandela deel van die vryheidsbeweging was. Ons stap ’n maand later voor dié organisasie se hoofkwartier in New York verby, sien trots hoe ons landsvlag daar wapper in die winterswindjie. Mens se hart swel sommer oor die lang pad na vryheid wat hy moes stap.

Die visueel-gestremde Willem Venter voel oor Madiba se gesig tydens ’n besoek aan Worcester op 27 September 1997. Foto: Benny Gool.

Nege jaar later, op die herdenking van wat sy 100ste verjaardag sou wees, word ’n standbeeld van hom daar onthul.

In 2012 gaan kuier ons saam met vriende in die Natalse Middelland en geniet die wonderlike Midlands Meander, ’n kunsvlyt-roete waar jy by kunstenaars, kaasmakers, laventelolie-stokers en kleremakers in hul ateljees kan kuier.

Ons stop buite Howick op die R103 by ’n baksteenmuurtjie en klein monumentjie op die plek waar Mandela net meer as 50 jaar tevore – op 5 Augustus 1962 – in hegtenis geneem is. Die klein monument wel teleurstellend omdat dit so klein en onindrukwekkend is.

Daar in die veld met net veraf plaasgeluide langs die nou teerpaadjie, maak ek my oë toe en probeer my indink hoe dit moes voel om vir jou lewe te vlug vir jou ideale en dan hier gearresteer te word: Onseker of jy die volgende dag lewend gaan sien.

In 2020 is ons weer daar, maar hierdie keer is dit om die nuwe besoekersentrum en museum te gaan ervaar. Dis ’n waardige huldeblyk aan hierdie merkwaardige man.

Sy standbeeld in Parliament Square in Londen; sy arms uitgestrek, verwelkomend. Foto: Maryke Roberts

Ons lees eers alles in die museum, kyk die foto’s en lees al sy aanhalings, voor ons uitstap na die indrukwekkende standbeeld buite. Dit staan aan die einde van ’n tuin waar jy ook die lang pad na vryheid stap, tot voor die Marco Cianfanelli- en Jeremy Rose-standbeeld – 50 staalkolomme tussen ses en nege en ’n half meter hoog en uitgesprei oor 30 meter. Van ver af lyk dit soos ’n klein betonwoud, maar hoe nader jy kom, hoe duideliker word Mandela se gesig. Dit verander voortdurend, afhangend van hoe die lig daarop val.

Gaan doen die virtuele toer van die museum en standbeeldtuin hier: https://www.thecapturesite.co.za/virtual-tour

In 2016 – my ma al vier jaar oorlede – kry ek ’n uitnodiging van Sun International en Stop Hunger Now Southern Africa om te kom help om kospakkies vir kwesbare kinders by GrandWest Casino te help pak – juis as deel van die 67 minute vir Madiba.

Op die ingewing van die oomblik vra ek my pa (toe 86) om saam te gaan. Dis sommer ons manier om my ma se verjaardag op ’n betekenisvolle manier te gedenk. Sy was juis so mal oor kinders en niemand is ooit honger by ons huis verby nie.

Die span trek daar vir hom ’n stoel nader, bring alles wat hy nodig het om te help skryf en merk en indeel. Ek help dan die verskillende produkte in bokse pak. Die doelwit is 12 500 bokse. Die 67 minute vlieg verby; ek kan sien hoe hy homself geniet maar ook dat dit vir hom ’n tyd van groot introspeksie is.

........
“Ek wonder maar net hoe ons vir soveel jare só dom kon wees oor die euwels wat hier deur politici gepleeg is. En ek wonder hoe op aarde Nelson Mandela sonder bitterheid kon leef en soveel hoop kon bring, ten spyte van dit wat aan hom gedoen is.”
........

In die motor op pad huis toe vra ek waar sy gedagtes is. Hy neem lank voor hy antwoord: “Ek wonder maar net hoe ons vir soveel jare só dom kon wees oor die euwels wat hier deur politici gepleeg is. En ek wonder hoe op aarde Nelson Mandela sonder bitterheid kon leef en soveel hoop kon bring, ten spyte van dit wat aan hom gedoen is.”

Op die vooraand van die 20ste herdenking sedert die opening van die Nelson Mandelabrug in Smitstraat in Johannesburg, land ons dié oggend toe dit vir die eerste keer in dekades in die stad sneeu in Julie 2023. Ons ry in die spierwit sprokieswêreld oor die brug en verbeel ons dis Europa!

Ons bly in die City Lodge Hotel Newtown (lees my storie oor Newton hier) en skuins oorkant ons hotel pryk sy gesig teen ’n gebou met die woorde “The purple shall govern” onderaan. Hier is sy groot glimlag en rustige oë op grootskaal. Dié beeld raak jou.

Later tydens dieselfde kuier staan sy woorde naas ’n bord vir Emmarentia, “A winner is a dreamer who never give up”, teen ’n muur geverf. Mens wonder wie dit geverf het en wanneer dit daar geverf is en wat deur dié wat dit geverf het, se koppe gegaan het. Voel hulle soos wenners of is hulle nog dromers?

’n Jaar later is ons vir vergaderings in Johannesburg by Sandton Square en my oë word sommer tranerig toe ’n jong Amerikaner voor die standbeeld poseer en sy pa ywerig foto’s op sy slimfoon neem.

In Johannesburg by Sandton Square staan die standbeeld van Madiba tussen die spogwinkels. Foto: Maryke Roberts

In Sandton Square is sy woorde “With freedom comes responsibility” onder jou voete in die plaveisel ingemessel. Ek wonder hoeveel mense dit nog raaksien, ter harte neem, of waarlik besef wat dit beteken. So baie jong mense het die hele apartheiddebakel misgeloop en leef vandag met ’n ander (korrupte) bestel; dalk onbewus van hoe bloedig die stryd vir hul vryheid was.

Ses maande later staan ek in die reën voor sy standbeeld in Parliament Square in Londen; sy arms uitgestrek, verwelkomend. Hy staan al sedert 2007 hier en daar het intussen baie water in die Teems verbygevloei. Ek voel sommer mistroostig oor my land so ver is en die son daar skyn. Maar ook ’n sprankie trots en opgewondenheid. Dinge gaan beter in ons land, net soos hy gehoop het.

Ek vryf daardie selfde middag ingedagte oor ’n klein standbeeldjie van hom in die High Timber-restaurant op die Teems se walle. Dit word deur Suid-Afrikaners besit en bestuur. Madiba se borsbeeldjie staan neffens ’n reuse-, gekleurde renosterstandbeeld aan die een kant en aan die ander kant is ’n hopie Platter-wyngidse. Ons uitvoerprodukte almal só bymekaar. Trots Suid-Afrikaans.

Nelson Mandela se gesig teen ’n gebou in Braamfontein, Johannesburg. Foto: Maryke Roberts

Net ’n paar maande daarna ry ek in ’n bussie saam met ander mense by die Uniegebou verby. Die standbeeld van hom daar met sy arms uitgestrek asof hy almal in sy arms wil toevou, staan nege meter hoog en is die hoogste standbeeld in die land. Die lig is rooi. Die gepraat in die bussie word opslag stil. Almal kyk. Ek glo almal se gedagtes loop vêr oor al sy wyshede, sy opofferinge vir hierdie land en sy mense. Lank nadat die beeld uit sig verdwyn het, is daar steeds stilte onder ons.

Die plek waar ek gereeld vir ’n oomblik vertoef, is op Nobel Square in die Victoria & Albert Waterfront, by die standbeelde van hom en die ander Nobelprys vir vrede-ontvangers, Albert Luthuli, Aartsbiskop Emeritus Desmond Tutu en die voormalige staatspresident FW de Klerk. Almal lank reeds onder die grond, maar elkeen ’n bydraer tot die land wat ons vandag het.

........
Op die parade gaan die lewe sy gang. Madiba staan daar en uitkyk oor die stad soos wat hy daardie dag in 1990 gedoen het. Ek wonder wat hy sou sê oor ons nuwe regering van nasionale eenheid (RNE) en die toekoms van die land, drie dekades nadat hy as president ingehuldig is.
........

Toe ’n familielid onlangs van oorsee kom kuier het na ’n hele paar jaar se afwesigheid, was haar eerste versoek: Mandela se standbeeld voor die stadsaal. Sy was daardie dag 34 jaar gelede met sy eerste toespraak daar en om weer daar op die parade te staan is ’n ware tuiskoms vir haar.

Op die parade gaan die lewe sy gang. Madiba staan daar en uitkyk oor die stad soos wat hy daardie dag in 1990 gedoen het. Ek wonder wat hy sou sê oor ons nuwe regering van nasionale eenheid (RNE) en die toekoms van die land, drie dekades nadat hy as president ingehuldig is.

Die Marco Cianfanelli- en Jeremy Rose-standbeeld – 50 staalkolomme tussen ses en nege en ’n half meter hoog en uitgesprei oor 30 meter. Van ver af lyk dit soos ’n klein betonwoud, maar hoe nader jy kom, hoe duideliker word Mandela se gesig. Foto: verskaf

Dis Joyce Banda se woorde by Madiba se begrafnis op 15 Desember 2013, wat nou nog met die wêreldmoondhede in oorlog en verkiesingsgevegte meer toepaslik is as voorheen, wat by my opkom: “Dis nou ons as leiers, as burgers, as ’n vasteland se plig om voort te gaan vanwaar Tata Madiba begin het, sodat sy nalatenskap voortleef, sodat hy onthou kan word vir dit waarvoor hy gestaan ​​het, en ons moenie toelaat dat dit waarvoor hy geveg en gewerk het, ook sal sterf en saam met hom sal gaan nie.”

Minute voor hierdie storie weggestuur word vir publikasie, sit ek agter ’n wit sedan met ’n Madiba-plakker op die buffer. Ek is op pad poskantoor toe. Die plakker is ’n lynskets. Madiba kyk op na die hemele, sy glimlag groot. Toe die verkeerslig oorslaan en ek by die motor verbyry, is dit ’n jong man wat bestuur.

Die hoop vir ons toekoms lê regtig by ons jeug en as hulle kan hulde bring aan ’n merkwaardige man wat al 11 jaar onder die grond is, is daar hoop vir ons.

En intussen kan elkeen van ons maar dink aan ons 67 minute van goeddoen, wat nie net tot een maal per jaar beperk moet word nie, maar deel van ons alledaagse lewe moet wees. Lees hier hoe jy betrokke kan wees: https://www.mandeladay.com/

Lees ook:

Mandeladag: ’n Keur uit ons Voertaal-argief

Nieuw Mandela-monument in Zuidoost: zónder Madiba, maar met des te meer méns

Mandela-dag 2018: Luisteren naar Afrika

Nelson Mandela geëerd met vredeswandeling door Den Haag

 

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top