Waarlik die mooiste dorpie nog!

  • 0

My eerste indruk van die dorpie is dat dit soos ’n filmstel lyk. (Foto: Clifford Roberts)

Toe my skoonsus verklaar dat sy ’n daguitstappie na die “mooiste dorpie in Frankryk” beplan het, kon ons nie voorbereid wees op wat wag nie. Dis eers in die motor op pad van ons verblyf buite Beynat, dat ek op die Dordogne-vallei se webwerf lees Collonges-la-Rouge beloof ’n “Kodak-oomblik om elke draai en skep suksesvol die beeld van ’n kenmerkende Franse dorpie”. Ek moet kopknikkend saamstem, skryf Maryke Roberts.

En soos ek lees, leer ek ook dat die dorpie kan aanspraak maak op dié titel as mooiste dorpie, want dit is nommer 1 op die First Plus Beaux Villages de France-vereniging, wat historiese dorpies identifiseer en in lyn bly met die riglyne om te verhoed dat hierdie dorpies in “siellose museums óf in pretparke” verander.

Baie van die straatjies is te smal vir voertuie en ek is dankbaar ons verken dit te voet. (Foto: Clifford Roberts)

Die dorp se voormalige burgemeester, Charles Ceyrac, het met die idee vorendag gekom om hierdie lys te begin waarop net uitsonderlike klein dorpies ingesluit kan word. Sy droom het gegroei tot ’n indrukwekkende 157 dorpies in 70 van Frankryk se 101 départements (streke). Die webwerf verklaar: “Ons goed beredeneerde en passievolle ambisie is om dorpe met die toekoms te versoen en om die lewe rondom die fontein of op die plein in die skadu van 100 jaar oue lemmetjie- en plataanbome te herstel.”

Wat ook die lekkerte nog beter maak, is dat jy aan die begin van die klein dorpie – sowat 21 km van Brive-la-Gaillarde in die Corrèze – in ’n parkeerterrein parkeer en dan te voet verder gaan. Jy kan as’t ware die geskiedenis diep inadem, terwyl jy oor die verweerde leiklippe stap. Daar woon skaars 400 mense; die res is winkeltjies, restaurante, gastehuise of museums.

Ons stap by die stokery in om van hul produkte te proe. (Foto: Clifford Roberts)

Voor die moderne houtablusiegeriewe pryk ’n dorpskaart met die hoogtepunte wat jy nie moet misloop nie en sover die oog kan sien, is die heuwels oortrek met kastaiing- en okkerneutbome. Ek weet ons gaan oral daarvan kan proe en sakkies vol koop vir kieste-stop op pad terug na ons verblyf ’n uur of wat weg.

........
Dit voel soos ’n filmstel van ’n plattelandse dorpie, met ’n paar mense wat vir die paar uur terwyl jy daar kuier, in winkels en restaurante werk omdat hulle nét vir jou gewag het. En hoewel daar hier en daar ’n oulike torinkie bo ’n voordeur pronk, is dit nie die eerste ding wat jou opval as jy aangestap kom nie.
........

Collonges-la-Rouge is beter bekend as die “Stad van 25 torings” hoor ons sommer met die intrapslag by ’n Le Cantou-restaurant-kelner wat tafels skoonmaak. Maar van “stad” en al daardie torings weet ek nie … Dit voel soos ’n filmstel van ’n plattelandse dorpie, met ’n paar mense wat vir die paar uur terwyl jy daar kuier, in winkels en restaurante werk omdat hulle nét vir jou gewag het. En hoewel daar hier en daar ’n oulike torinkie bo ’n voordeur pronk, is dit nie die eerste ding wat jou opval as jy aangestap kom nie.

Ons stap by die stokery in om van hul produkte te proe. (Foto: Clifford Roberts)

Almal is ongelooflik vriendelik en knoop graag geselsies aan, ten spyte van die vele toeriste wat om hul aandag meeding.

Ek wil egter weet hoekom die dorpie se naam wat tot voor 1969 net as Collonges bekend was, nou met “la-Rouge” spog en die kelner kyk my vraend aan. “Dis oor al die geboue rooi is van die bakstene wat uit die rooi sandsteenmyne kom en die rooikleur is te danke aan die hoë ysteroksied-inhoud in die sandsteen.” Ja, maar hoekom die naamsverandering?

Dis toe blykbaar ook te danke aan monsieur Ceyrac wat in 1969 die naam verander het om die dorp van ander met dieselfde name te onderskei en sodoende die dorp uniek te maak en ook meer in die kollig te kry.

Franse pannekoeke met Nutella in ... (Foto: Clifford Roberts)

Daar is verskeie nuusberigte aanlyn oor hoe hierdie kollig van die dorpies op daardie First Plus Beaux Villages de France-lys nou nadelig beïnvloed. Die inwoners word heeljaar deur toeriste vertrap en hul rustige leefstyl word versteur.

Ek is bly ons kuier in die hartjie van die winter hier. Daar is heelwat minder mense as wat ek kan glo die somer lok. Met wegneem-warmsjokolades in die hand, begin ons ontdek.

Hier woon al sedert die sewende eeu mense, maar die dorpie het in die 14de eeu die grootste leenskapeiendom in Frankryk geword waar ’n paar magtige mense die dorpie met ’n ystervuis regeer het. Sjoe, die mafia se erfenis strek ver terug!

Wie wil dan nou nie hier kom woon nie? En sommer twee torinkies op die koop toe. (Foto: Clifford Roberts)

In die somer spog die nou straatjies met krone dieppers Wisteria of druiwepriële wat baldadig rank, maar in die winter hiberneer al wat plant is en ons trek ons jasse stywer om ons lywe – warmsjokolade of te not!

By die toerismekantoor soos jy die dorpie inkom, vra ons vir inligting en die museum word hoog aangeskryf. Daar is ’n oulike klein kaart waarmee jy die dorpie se bekendste bakens kan ontgin en in seisoen sal ’n plaaslike inwoner jou deur die dorpie neem en in baie gebroke Engels meer vertel. Blykbaar kry die dorpie bykans 700 000 toeriste deur die jaar, waarvan die grootste gros natuurlik in die somer.

Ek is weer dankbaar dis winter, maar tog jammer ons is nie in die somer hier vir een van die nagtoere waar jy met ’n gids en flitslig die dorp se donkerder geskiedenis kan ontgin nie. Daar is ook opelugteater-aande in die vierkant en ’n broodbakfees in die gemeenskapsoonde.

Eienaardige uitstalling in ’n klein versteekte vensterbankie. (Foto: Clifford Roberts)

Gepraat van donkerte: Die pragtige La Maison de la Sirène in Rue Noire (rofweg vertaal as Swartstraat) met sy rooi teken wat verklaar dat jy nou voor ’n historiese monument staan, is een van my gunstelinge. Dis ’n 16de-eeuse huis en ingerig as museum met ou meubels en artefakte uit die era. Dis ongelukkig gesluit vir die winter, maar mooi genoeg van buite dat mens nie dikbek wegstap nie. Agter die geslote deur skuil daar blykbaar ook ’n pragtige meerminstandbeeld.

Die effek van die warmsjokolade het uitgewerk, ons voete is koud en gelukkig “spring” die bordjie vir die Distillerie des Terres Rouges (rofweg vertaal as Rooiland-stokery) voor ons in. Die pragtige stokery het ’n wye verskeidenheid gedistilleerde produkte, want alles word gestook, van vye tot kastaiings. Ons is nie so voortvarend of avontuurlustig nie, maar proe graag die Salers Gin wat ’n silwer medalje by een of ander Londense skou gewen het. Die whisky, wat ook met ’n silwer medalje spog, is net so lekker, maar wanneer jy in Frankryk kuier, is Pastis (met anys, steranys, kardomyn en ander speserye) meer geskik. Dis inderdaad heerlik, maar nie een van ons geniet dit genoeg om ’n bottel huis toe te neem nie. Die warmte daarbinne gee ons egter genoeg moed om verder te gaan verken.

As jy in die klein straatjies afkyk, is dit platteland en neutbome wat waghou. (Foto: Clifford Roberts)

Ons stap eers verby, maar sien toe die chaos binne ’n klein winkelvenstertjie met die teken “Boutique Créperie” daarneffens, maar dis ongelukkig gesluit en ons moet tevrede wees met ’n foto ... Dit lyk soos ’n Halloween-partytjie wat skeefgeloop het, want daar is kostuums en versierings oral, maar geen manier om te kon sit vir ’n Franse pannekoek nie.

En net om die draai wag ’n eienaardige uitstalling in ’n vensterbankie ons in: ’n bietjie watte wat lyk asof dit sneeu moes voorstel, ’n plastiekkopbeen met vlerke en ’n ingetoë mannetjie. Ek wonder wat agter dié mure gebeur.

Ons loop nog en bespiegel toe ’n groot teken bo ou houtdeure aankondig: La Maison du bonheur (huis van geluk), en ek dink onmiddellik waar ek só ’n teken op ons voordeur in Suid-Afrika kan gaan ophang!

Ek wil sommer ons huis ook herdoop. (Foto: Clifford Roberts)

Die mooiste klein juwelierswinkeltjie skuil in ’n huis wat uit 1886 dateer en selfs die naam is bekoorlik: Arthemia, Deco Jardin Bijoux.

My skoonsus is opgewonde om ons die kerk te wys, want sy het opgelees dat pelgrims onderweg van Rocamadour na die groot katedraal van Sint Johannes van Compostella in Spanje hier in die dorpie se abdy oorgebly het en die katedraal steeds vandag gewild is onder pelgrims. Dis juis van hierdie pelgrimsartefakte wat jy in Maison de Sirène kan sien.

Mens kan jou regtig verbeel jy stap op ’n filmstel rond as jy die horingou geboutjies sien. (Foto: Clifford Roberts)

Die kerk, Eglise Saint Pierre (Sint Petrus-katedraal), is aan die einde van die 11de en 12de eeu klaargebou en in die Middeleeue vergroot. Die kloktorings is nie ewe groot nie en die kerk spog met twee vertrekke waar protestante en katolieke gelyktydig dienste sou kon hou. Die een is redelik eenvoudig en onversierd, die ander in die Gotiese styl soos wat jy in enige katolieke kerk in Europa sal sien.

Tydens die Godsdiensoorloë wat Frankryk in die laat 1500’s uitmekaar geskeur het, het die mense van Collonges-la-Rouge ’n uiters ongewone standpunt ingeneem: Hulle het besluit om beide kante van die konflik te akkommodeer. Daarom die twee vertrekke onder een dak. Ek steek ’n kersie vir geliefdes aan en sit vir ’n lang ruk in die koue stilte en dink aan wat die mense van hierdie dorpie deur die eeue moes deurleef.

’n Entjie uit die dorp en jy sien die kenmerkende kerktoring. (Foto: Clifford Roberts)

’n Straatjie verder weg is die Chapelle des Pénitents (rofweg vertaal as Kapel van Rou), wat nie meer as kerk gebruik word nie, maar gereeld kunsuitstallings huisves. Dit speel ook ’n belangrike rol in die pelgrimstogte en is destyds gebruik om adellikes se begrafnisdienste te hou.

Net ’n paar tree verder wag die Château de Vassinhac en ’n QR-kode voor die deur wat jy met jou slimfoon skandeer, gee genoeg inligting dat jy self kan gaan verken. Dis ’n pragtige kasteelhotel met luukse kamers, maar bedags is die kasteel oop vir die publiek. Jy kan nadat jy jou vergaap het aan die prag en praal, iets gaan drink in die oulike kroegie.

’n Interessante kunswerk in die ooptes tussen huise. (Foto: Clifford Roberts)

Die huidige eienaars, Eric en Nathalie Faige-Dueymes, het die kasteel tot haar vorige glorie herstel en dis beslis een van die dorpie se bekendste bakens, hoor ons by die kroegman. Dis in 1583 deur Gédéon de Vassinhac gebou.

Ons gaan val vas by Pizzeria Lou Brasier, wat uit 1992 dateer en waar die krakerige pizzadeeg met truffelsout en sampioene uit een of ander oom in die omliggende plase se tuin, hemels op die tong is. Die bottel rooiwyn is nie te watwonders nie, maar die kaggel knetter gesellig en die personeel gesels graag. Die dorpie en omgewing was in die vorige eeu baie bekend vir hul wyne, maar sedert soveel inwoners na die stede verhuis het en ’n virus wingerde aangeval het, het niemand regtig weer dié tradisie bemeester nie.

Die Château de Vassinhac is ’n pragtige kasteelhotel met luukse kamers, maar bedags is die kasteel oop vir die publiek. Die huidige eienaars, Eric en Nathalie Faige-Dueymes, het die kasteel tot haar vorige glorie herstel en dis beslis een van die dorpie se bekendste bakens, hoor ons by die kroegman. (Foto: Clifford Roberts)

Nagereg eet ons elders. Le Maraîcher-restaurant aan die buitewyke van die dorp het tafeltjies buite, ten spyte van die koue. Die uitsigte oor die veld om die dorp is só mooi, mens gee nie om vir bietjie koud kry nie. Almal is lekker warm toegedraai en ons eet pannekoeke met Nutella in en drink warmsjokolade met geklitste room bo-op.

Die inkopies vir die dag is by Pierre Champion, en hier vertel die jongman agter die kasregister dat die huidige burgemeester nie enige winkels of kafees met produkte van China en Taiwan – soos ons op elke straathoek gewoond is – hier sal toelaat nie. “Ons wil artisans hier sien voortleef.” Ons koop ’n mandjie vol truffel- en sampioensout, eendlewerpatee en ’n pragtige potjie vrugtekonfyt.

Die Chapelle des Pénitents (rofweg vertaal as Kapel van Rou) wat nie meer as kerk gebruik word nie. (Foto: Clifford Roberts)

Dis weer by Le Cantou wat uit 1961 dateer, waar ek ingaan voor ons die dorpie groet. Ek wil ’n mooi wolserp daar koop, maar die verkoopsdame probeer my oorreed dat ’n Panama-hoed my beter sal pas. Ek gee haar dieselfde vraagteken-voorkop soos die kelner ’n paar uur vroeër. Panama-hoed in die hartjie van die Franse platteland? Dit hoort in Ecuador! Sy lag toe sy my verbasing sien. “Napoleon het – soos baie ander wêreldleiers – een gedra en wat goed genoeg was vir hom, is goed genoeg vir enige Fransman. Ons Panama-hoede word spesiaal vir ons boetiek gemaak en onder baie eksklusiewe handelsmerke.

Die kerk, Eglise Saint Pierre (Sint Petrus-katedraal), is aan die einde van die 11de en 12de eeu klaargebou en in die Middeleeue vergroot. Die kloktorings is nie ewe groot nie en die kerk spog met twee vertrekke waar protestante en katolieke gelyktydig dienste sou kon hou. (Foto: Clifford Roberts)

Ek laat my egter nie van stryk bring nie en koop die mooiste donkergrys Pétrusse-serp. Dit sal my altyd aan hierdie wonderskone dorpie herinner.

Dis met my laaste terugkyk na die dorpie dat die “25 torings” vir my betekenis kry. Die 15de- en 16de-eeuse huise is met torinkies versier – sommige skaars ’n meter of twee hoog – en vandaar dié naam.

Hoe dit ook al sy, ek moet kopknikkend saamstem met die toerismewebwerf oor daardie Kodak-oomblikke om elke draai. Dis voorwaar een van die mooiste dorpies waar ek nog gekuier het.

Sekerlik die vreesaanjaendste “Pasop vir die hond”-teken wat ek al teëgekom het! (Foto: Clifford Roberts)

Lees ook:

Die bekoring van St Ives

Van duiwels en dinge op die Franse platteland

Sprokieskuier in die hartjie van Parys

Bekyk Parys van ’n lekker rustige bootrit op die Seine

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top