
Tonele uit Seoul (Foto’s: Clifford Roberts)
Ek het ’n hele ruk terug toevallig op Instagram raakgelees waar iemand geskryf het: “Die simfonie van Seoel is die fluisteringe van die Hanrivier en die eggo’s van lag.” Sedertdien was die Koreaanse hoofstad op my emmerlys.
Toe die geleentheid opduik om met die luukse Norwegian Cruise Line Spirit van Seoel in Suid-Korea na Tokio in Japan te vaar, het ons natuurlik onmiddellik ja gesê en net daar besluit om ses dae voor die skeepsvaart begin te arriveer om die stad te verken.
Die eintlike motivering om Seoel te besoek lê in ’n skeepsvaart hiervandaan na Tokio in Japan. Die tweede deel van ons Asiese avontuur begin nou hier in die hawe! (Foto: Clifford Roberts)
Met bykans 10 miljoen mense in ’n stad wat ’n derde van Londen se grootte is, maar meer as ’n miljoen meer mense het, was ek aanvanklik skrikkerig dat dit ’n vertrapping sou wees. Ek is ook nie mal oor die klewerige somers waarvoor die Ooste so bekend is nie en het die weervoorspellings voor ons vertrek angstig dopgehou.
Hoe lekker dat al my vrese ongegrond was! Ek vermoed die lewe kom en gaan in verskillende tye van die dag en die verkeer op die publieke vervoerstelsel en op sypaadjies is ’n weerspieëling daarvan. Hoewel daar baie mense is, is daar tog ’n gevoel van oopte en ruimte en mens voel nooit of jy in massas beweeg nie. Die weer was ’n heerlike 18 grade deur die dag en saans kon jy ’n ligte baadjie saamdra, maar geen dik jasse en serpe nie.
Een van my gunstelinge was die piepklein ondergrondse galery in die Hanock-distrik, waar jy nie net die geleentheid kry om agter die horingou mure te sien hoe mense honderde jare gelede geleef het nie, maar ook lekker koffie kan drink en moderne kuns kan bewonder in Jjiwooheon in Bukchon-ro 11ra-gi 13, Jongno-distrik. (Foto: Clifford Roberts)
April en Oktober is blykbaar die twee beste maande om te gaan, eersgenoemde is lente en laasgenoemde herfs en daarom die gematigde weer.
Ons bly in die Voco Myengdong – deel van die IHG hotelgroep – en om ná bykans 26 uur in transito die vriendelike ontvangsdames te sien wat in die keurige voorportaal wag, is amper soos ’n tuiskoms. Die gerieflike lughawebus het ons letterlik op die hotel se trappe afgelaai.
Elke oggend het ons vir meer as ’n uur aan die ontbyttafel gesit, want die verskeidenheid Koreaanse disse en bykosse was uit die boonste rakke en het waarlik die dag se eetplesiere ingelei.
Vir die vyf volle dae wat ons in die stad gekuier het, het verskeie ondervindings vir ons uitgestaan. Ek wyk effe van my gewone formaat af en lys hulle onder hul eie hofies, vir maklike gebruik en opspoor, sou jy in ons voetspore wil volg en die stad besoek.
As jy die hele dag op jou voete was en die stad platgestap het, is hierdie gesig van die Voco Seoel Myeongdong-hotel ’n baie welkome een. Ons kamer het die mooiste uitsig oor die Namsan-toring gehad. (Foto: Clifford Roberts)
Paleis
Die Changdeokgung-paleis – nie die stad se bekendste nie, maar vir ons die spesiaalste oor die geheime tuintoere – is ’n heerlike paar uur se ooptes en terugstap in geskiedenis. Daar is ’n uurlange begeleide toer in Engels om 10:15 en 13:15. Om die paleis se lieflike Huwon (geheime tuin) te sien, sluit aan by toere om 10:30, 11:30 en 14:30 (ook 15:30 Februarie tot November), maar dit verg ’n addisionele toegangskaartjie en bespreek aanlyn of kom vroeg, want die Huwon-toere is beperk tot 50 mense op ’n slag.
Bo en onder: Die Changdeokgung-paleis – nie die stad se bekendste nie, maar vir ons die spesiaalste oor die Huwon- (geheime tuin-) toere – is ’n heerlike paar uur se ooptes en terugstap in die geskiedenis. Dis ook hier wat ons uitvind die Hanock-draers kry gratis toegang tot paleise en daarom het ons so baie van hulle teëgekom. Verskeie kostuumwinkels verhuur dié tradisionele drag. (Foto’s: Clifford Roberts)
Changdeokgung is oorspronklik in 1405 gebou as ’n sekondêre paleis, maar toe Gyeongbokgung (Seoel se hoofpaleis) tydens die Japannese inval in die 1590’s vernietig is, het dit tot 1872 die primêre koninklike woning geword. Dit het tot in die 20ste eeu in gebruik gebly. Soos alle Joseon-paleise, is daar ’n berg agter en ’n klein stroompie voor vir goeie pungsu (feng shui).
Jy kry toegang deur die imposante Donhwamun-hek wat uit 1608 dateer. Dit is die grootste ingang onder Seoel se vier hoofpaleise. Regs stap jy oor ’n klipbrug wat uit 1414 dateer en dus die oudste oorlewende brug in die stad is. Aan die linkerkant is die pragtige hoofpaleisgebou, Injeongjeon. Dit sit in harmonie met die geplaveide binnehof, die oop gange en die bome daaragter.
Mooi uitsigte
Die mooi uitsigte vanaf die voet van die YTN Seoel-toring – in die volksmond die Namsan-toring omdat dit op Namsan-berg sit – oor die stad en sy twee lae berge, gee die beste oorsig oor die reusestad en hoe dig bevolk dit waarlik is.
Vir ’n pragtige uitsig oor die stad is die opdraande stap na die Namsan-toring beslis die moeite werd. (Foto: Clifford Roberts)
Ons het by die biblioteek-busstop afgeklim en die 1,04 km deur die woud gestap, waar ons swart eekhorings en ’n wye verskeidenheid voëls in dié historiese klein blokkie groen kon geniet. Die bome is horingoud en die stadsgeraas word heeltemal uitgedoof. Ons het op ’n bankie ons piekniek geniet voor ons die uitsigte van bo geniet het. Van die lekker oop parkeerterrein met inligtingsborde en ’n wegneemkafeteria is dit nog so ’n paar minute se opdraande voor jy aan die voete van die toring staan.
Stap terug in die verlede as jy hier tussen die houthuisies met ryspapiermure en gekerfde houtwerk binne die ou stadsmure ronddwaal. Dit wys hoe die mense hier geleef het ’n paar eeu gelede, maar ook hoeveel jongmense nou intrek en die tradisie voortsit. (Foto: Clifford Roberts)
Daar is verskeie restaurantjies, wegneemetes en selfs ’n klein spa vir moeë lywe en ook ’n deftige restaurant met ’n groot wynkeuse. Kaartjies na die observasiedek is daar beskikbaar en sekere tye van die dag is daar ’n tradisionele gevegsvertoning wat jy gratis kan besigtig. Dis ook hier waar die locals kom verloof raak, hul ewige liefde aan mekaar beloof en dit seël deur ’n hartjieslot te koop en aan die heining vas te maak. Met ’n klein Eiffeltoring reg agter die masjien wat die hartjies verkoop, maak alles mooi sin!
Een van die interessantste geboue is sekerlik die Dongdaemun Design Plaza (DDP) by Eulji-ro 281, Jung-distrik, wat nou al ’n landmerk geword het. Dis deur Zaha Hadid en Samoo ontwerp en het ’n neofuturistiese styl met weerkaatsing, sementtrappe met kunswerke ingebou en kurwes en skewe vorms wat trappe en ’n klein binnehof met tuine omsoom. (Foto: Clifford Roberts)
Hier is ook een van die beste geleenthede om langs die ou stadsmuur te stap en selfs te sien waar die manne wat só swaar daaraan gewerk het, hul name in die klip graveer het. Daar is ’n bord in Hanyangdoseong met hul name op en ’n stukkie geskiedenis oor die muur wat in die vyfde jaar van koning Taelo se heerskappy (1396) gebou is.
Kuns, kuns, kuns
........
Van dié historiese distrik tot die wolkekrabbers in die stad is ’n reusesprong, maar baie van die moderne geboue is ware argitektoniese wonders.
........
Al die kunsgalerye en -museums regoor die stad is enige kunsliefhebber se droom. Heelwat is gratis en selfs dié wat toegang vra vir spesiale uitstallings, is nie onbekostigbaar nie. Een van my gunstelinge was die piepklein ondergrondse galery in die Hanock-distrik, waar jy nie net die geleentheid kry om agter die horingou mure te sien hoe mense honderde jare gelede geleef het nie, maar ook lekker koffie kan drink en moderne kuns kan bewonder. Dit is Jjiwooheon in Bukchon-ro 11ra-gi 13, Jongno-distrik. Die ander galerytjie in dié distrik wat my betower het, is Corner Gallery in 13 Bukchon-ro 11ra-gil, ’n klein driehoek van glas waar twee strate in een vurk. “Seoel se Flatiron-gebou,” laat my geliefde ewe droog hoor.
Ek was mal oor die Corner Gallery in die stad se ou distrik. Dis letterlik ’n driehoekige glasvertrek met pragtige kunswerke teen die muur. (Foto: Clifford Roberts)
Van dié historiese distrik tot die wolkekrabbers in die stad is ’n reusesprong, maar baie van die moderne geboue is ware argitektoniese wonders. Een van die interessantste geboue is sekerlik die Dongdaemun Design Plaza (DDP) by Eulji-ro 281, Jung-distrik, wat nou al ’n baken geword het. Dit is deur Zaha Hadid en Samoo ontwerp en het ’n neofuturistiese styl met weerkaatsing, sementtrappe met kunswerke ingebou en kurwes en skewe vorms wat trappe en ’n klein binnehof met tuine omsoom. Binne is verskeie kunsuitstallings, ’n installasie oor die gebou en ’n indrukwekkende tydskrifgalery waar jy vir ure gratis deur die nuutste ontwerp- en kunstydskrifte kan blaai.
Kos en kosmarkte
Die tradisionele kosmarkte is ’n fees en sover ons kon aflei, sal jy nie sommer hondevleis kry nie, maar by sommige stalletjies is daar snaakse vark- en beessnitte wat ons eerder vermy het. Die kimchi, dumplings, gebraaide hoender en deurskynende, dun sop was uit die boonste rakke en vir nagereg kan jy gerus ’n Kkwabaegi of Koreaanse gedraaide oliebol eet. Dit lyk soos ’n reusekoeksister, maar het die tekstuur van ’n donut. Dit word kokend warm in kaneelsuiker gerol en moet verkieslik so warm moontlik geniet word. Die rye is soms tot ’n uur lank, maar dis die moeite werd.
Elke hoekie en gaatjie het ’n restaurantjie en vele – soos hierdie een – het net twee plastiekstoeltjies en plek vir ’n paar mense om buite te staan. Dis vinnig en goedkoop eet, maar jy moet weet wat jy bestel, want baie van die ouer mense praat nie Engels nie. (Foto: Clifford Roberts)
........
Die tydjie hier was een groot verrassing met net genoeg tegnologie en bereikbaarheid; net genoeg tradisie en ouwêreldse sjarme; net genoeg stad en net genoeg tuine, woude en berge waarheen jy kan ontsnap om asem te skep.
........
Elke klein kafeetjie het soesji, kimchi, klein seewier-toebroodjies of ander tradisionele eetgoed, so jy hoef nooit honger te wees nie en ook nie baie te betaal vir iets om te kou nie. Yskoffie met verskillende strope is hoogmode en jy slurp dit terwyl jy tussen jou bestemmings stap, maar nie op moltreine of busse nie.
Toe ons ná ’n week die moltrein en bus na die skeepsterminaal by Incheon-hawe neem, is dit met ’n tikkie hartseer soos die stad se hoë geboue al kleiner word. Die tydjie hier was een groot verrassing met net genoeg tegnologie en bereikbaarheid; net genoeg tradisie en ouwêreldse sjarme; net genoeg stad en net genoeg tuine, woude en berge waarheen jy kan ontsnap om asem te skep.
Daar is ontelbare gangetjies met klein markies in. Dis saans tot ounag oop en hier kan jy letterlik van ’n teesiffie tot pantoffels by ou ooms en tannies koop. (Foto: Clifford Roberts)
Dis nog ’n Instagrammer wie se gedagtes by my opkom toe ons die stad teen sononder van die skip se dek vaarwel roep. Die jong Janghee Lee het gesê hy hoop dat die Seoel van môre ’n vreedsame en histories-ryk stad sal wees, waarvan ten minste die gedeelte binne die ou stadsmure tot sy vorige glorie herstel sal wees.
Te oordeel aan die jongmense wat intrek en die bouwerk in die historiese hart van Seoel, sou ek reken hy kan maar gerus wees. Oud en nuut staan heel knus langs mekaar hier.
Ons stap toevallig op ’n openbare vakansiedag in die ou distrik en sien hierdie meisie in tradisionele drag voor een van die houtdeure binne die ou stadsmuur. Die kostuum word ’n Hanock genoem en ons het heelwat vroue wat só aangetrek is, teëgekom. (Foto: Clifford Roberts)
En die tradisies van ou Korea is deel van die fondamente: Elke keer as jy iets by iemand neem of aangee, word dit met twee hande gedoen; jy gooi nie vir jouself enige drankie in nie, jy vra die persoon langs jou; en as jy dankie of ekskuus sê, word daar effe gebuig.
Die stad is oortrek met toerismeburo’s en toerismebeamptes wat graag help. (Foto: Clifford Roberts)
Kitsfeite:
- Suid-Afrikaners het nie ’n visum nodig vir Korea as jy korter as 30 dae kuier nie, maar maak altyd seker of daar enige wysigings aan die visumvoorwaardes was voor jy vertrek. Die gawe span by Flight Centre het ons met advies bygestaan. Hulle het ook gesorg dat ons twee lekker vlugte met Emirates kon geniet, maar net ’n rapsie meer as twee uur in Dubai oorgestaan het. Dit is steeds net meer as 18 uur vliegtyd, so drink maar ’n slaappilletjie.
- Die ou stad is maklik navigeerbaar as jy vooraf ’n kaart van Google aflaai en aflyn gebruik. Ons het redelik gereeld toegang tot Wi-Fi gehad, maar gevind Google Maps sukkel soms om roetes te bepaal en dan het die aflyn kaarte ons basse gered. Op die ou einde was die reuse- gedrukte kaart van die stad wat ons by die toerismeburo gekry het, steeds die betroubaarste.
- Die stad het vele toerismeburo’s en klein inligtingkiosks en hulle help graag. Dis goed om vooraf bietjie huiswerk te doen, want jy kan onmoontlik alles sien en dis ook makliker vir die toerismebeampte as jy ’n idee van jou voorkeure het.
- Die Climate-reiskaart gee onbeperkte ritte op die moltrein en bus en kan vir een, drie, vyf, sewe of 30 dae gekoop word. Jy koop dit by toerismeburo’s en sommige hotelle en laai dan geld op by die moltreinstasie. Jy kan ongelukkig nie die aanvulling met jou debiet- of kredietkaart doen nie en jy het kontant nodig. Ook baie van die straatkos is net kontant, so trek maar as jy arriveer.
- Bespreek jou verblyf by Voco Seoel Myeongdong in Toegye-ro, Jung-gu 52 by voco.myeongdong@ihg.com of besoek hul webwerf by https://www.ihg.com/voco/hotels/gb/en/Seoel/.
Lees ook:
Die ontwykende vos het ons, wel, bly ontwyk (Hornstrandir-natuurreservaat, die Westfjords, Ysland)