Ontvlug na tradisie by Vriesenhof

  • 0

Die pragtige herehuis is ook die ontwerp op die wynbottels se etikette.

  • Foto’s: Clifford Roberts en verskaf

Die nuwe restaurant in die ou plaashuis op Vriesenhof buite Stellenbosch is heel gepas genaamd Die Stoep. Hier verlustig jy jou nie net in die plaas se bekroonde wyne, die wonderlike geregte uit die kombuis, of deel jy in ons erfenis nie, jy word een met die portretagtige landskappe wat deur die reusevensters omraam word, skryf Maryke Roberts.

Die woorde op die webwerf som dit mooi op: “Die Stoep bied ’n ontvlugting na tradisie met asemrowende uitsigte en ’n warm, rustieke atmosfeer.”

Die bodeur van die plaashuis staan oop. Die liggies brand gesellig weerskante van die deur. Daar is ’n ligte windjie wat die tuinplante saggies laat dans. Die vrou by die deur se verwelkoming is gul.

Met my laaste besoek drie jaar gelede het Jan Boland Coetzee, patriarg van Vriesenhof, my self by die paadjie kom haal, die onderdeur oopgestoot en ons is sommer regdeur kombuis toe. Dit was laatherfs; die windjie was skraal en die wingerde amper heeltemal kaal.

Bo en onder: Die pragtige huis waarin die Coetzees vir meer as 40 jaar gewoon het, is nou die lekker restaurant, Die Stoep.

Die reuk van koffie het hom omgewe toe hy by die kombuistafel agter ’n stapel fotoalbums gaan sit het. Ek het kom uitvra oor sy begindae as wynmaker. Dit was een van my lekkerste kuiers nog.

Ons trap oor die effe uitgetrapte drumpel. Ek kan my indink dat die voorportaal – waar daar oor die jare sekerlik duisende gaste verwelkom is – vir die Coetzees baie herinneringe moet lê. Die plaashuis was vir meer as 40 jaar hul woning.

Vanaand kuier ons saam met Elmarie Rabe, Stellenbosch Wynroetes se hoof. Ons vier die lewe en die wynroete se 54ste verjaardag vandeesmaand. Ons tafel op die agterstoep laat word jou deel van die landskap waar die son patrone verf teen die Hottentots-Hollandberge, wat as’t ware die Paradyskloof omraam.

Die voorportaal is verwelkomend en huislik, maar tog ook ’n pragtige vertoonstuk vir ’n wynplaas.

Elmarie is net so passievol oor erfenis en geskiedenis en ons ruil stories oor ons herinneringe oor Vriesenhof en Jan Boland uit. Hy was nie net vir jare een van die Stellenbosch Wynroetes se charismatiese wynmakers nie, hy is ook een van die Kaapse Wynmakersgilde se stigterslede. Wynmakers kan net op uitnodiging lede word en dit verteenwoordig die room van die land se oes.

........
Mens voel ’n amper-heiligheid hier terwyl die son ondergaan en die kersies op tafels aangesteek word. Dis asof die erfenis hier om jou enkels kom tiekiedraai.
........

Ek vertel haar van my laaste kuier hier op die plaas. Hy het daardie oggend oor sterk moerkoffie in die kombuis weer die woorde: “Ek wil graag onthou word as ’n man wat vir die wyn en omgewing omgegee het” herhaal – sy oë wat wyd gekyk het ...

Dit sal hy beslis wees.

Elmarie luister in stilte. “Vanaand is dit nie die reuk van koffie en fotoalbums wat jou neusgate verlei nie, maar die knoffel en vars basiliekruid van die pizzas,” lag sy.

Mens voel ’n amper-heiligheid hier terwyl die son ondergaan en die kersies op tafels aangesteek word. Dis asof die erfenis hier om jou enkels kom tiekiedraai.

Ons kelner vir die aand, David Msebi, dra eers vonkelwyn aan terwyl ons die spyskaart bekyk en mooi natuurskoon geniet.

Ons loer na die spyskaart. Ons kelner, David Msebi, beduie dat hul spyskaart erfenis, eenvoud en seisoenale bestanddele vier. Daar is varkkaiings en my man vryf sy hande in genoegdoening. Maar ek weet sy oog het klaar die pizzamakery in die hoek gevang. Bongo Mazive staan en rek elke pizzadegie met die hand en die reuk van die kole in die pizzaoond hang soos ’n vertroostende tjalie om jou skouers. Hy maak al vir jare pizza en die selfvertroue waarmee hy die deeg rek en trek bewys dit.

Ek vra vir David om iets aan te beveel. Hy antwoord: “Verwag vars en smaakvolle geregte wat die Kaapse produkte op hul beste vertoon, en natuurlik, ons Napolitaanse houtgebakte pizzas en oopvlam-geroosterde vleis en vis kom van plaaslike, etiese verskaffers.”

Die geelstert, geelsterttuna en swaardvis lyk liplekker, maar die Côte de Bœuf, een hele kilogram daarvan, met geroosterde knoffel-en-beenmurgjus, het my hart gesteel. Nou net om my tafelgenote te oortuig.

Die geroosterde Chalmar sirloin met pancetta, sampioen en rooiwynjus is onverbeterlik!

Bongo Mazive se pizzas is liplekker.

Ek verloor die geveg en is op my eie keuse aangewese. Op die ou einde is ons bestelling uiteenlopend en sluit vis, pizza, biefstuk en Burrata en erfenis-tamatieslaai in. Die spyskaart het nuttige wynpasmaats en ons besluit om met ons voorgeregte lekker te eksperimenteer.

Vir ons hoofgeregte kyk ons na die wynlys en ons keuses is net so uiteenlopend. Gelukkig kan jy dit per glas bestel en iets van alles proe.

Ek gaan verken die huis.

Mens kan jou verbeel daardie mooi koper is nog van Nederland af saamgebring destyds.

Die transformasie in die ou huis is merkwaardig. Jan het met sy aankope in die tagtigs die huis gerestoureer om dit soos ’n ou Kaap-Hollandse herehuis te laat lyk, hoewel dit nie een van die oorspronklike herehuise is uit die 17de of 18de eeu nie.

Ek staan lank voor ’n indrukwekkende keramiekteël-kunswerk in die een vertrek. Dis deur Jan se seun, Hendrik – die jongste van vier kinders – gemaak.

Bo en onder: Die indrukwekkende keramiekteël-kunswerk in die een vertrek is deur Jan se seun, Hendrik – die jongste van vier kinders – gemaak. Die ontwerp is die hele verhaal van die plaas, van die kreef om Jan Boland se grootword aan die Weskus te gedenk, tot die akkers en druiweblare.

Hendrik is die afgelope paar jaar deel van die span by Ceramic Matters, wat internasionale roem met hul ontwerpe en produkte verwerf het. Ceramic Matters het ook verskeie produkte vir die luukse handelsmerk, The Conran Shop, gemaak.

Hendrik het sy Beeldende Kunste-graad by die Universiteit Stellenbosch verwerf en vir ’n aantal jaar in Nederland gewerk, voor hy Ceramic Matters gehelp het met ’n installasie by Babylonstoren. Die ontwerp is die hele verhaal van die plaas, van die kreef om Jan Boland se grootword aan die Weskus te gedenk, tot die akkers en druiweblare.

Wat ’n pragtige ode aan ’n grootwordplaas en ’n legendariese pa!

’n Hele muur vertel die storie van die Coetzees se geskiedenis en Jan Boland se wynmaak-pionierswerk en rugbydae.

Teen die mure hang die mooiste skilderye, ou emaljeware pryk op ou rakkies en in een vertrek, die ou eetkamer, se muur pronk pragtige foto’s uit die Coetzee-familie se geskiedenis en vier baniere vertel die storie van Jan Boland en sy wynmaakerfenis.

Eddie Smit, uitvoerende bestuurder van Vriesenhof, sou my later vertel: “Okasie/Sara Interior het ons gehelp met die dekor en die stilering van die spasie. Die hele projek het ongeveer twee jaar geneem. Minimale bouwerk was nodig, meestal net herstelwerk en opknapping is nodig. Meeste van die meublement is van oudhedewinkels bekom. Die rugbygeskiedenis is van die Coetzee-familie.”

In die 45 jaar sedert Jan Boland se eerste tree op die plaas – wat toe met Cabernet Sauvignon, Cinsaut en Pinotage beplant was – het daar Chardonnay, Merlot en Cabernet Franc (1983) bygekom. In 1987 het goeie vriende die buurplaas, Talana Hill, gekoop. ’n Paar jaar later is die twee plase saamgevoeg om vandag se Vriesenhof te maak.

Enige wyne wat jy hier drink, is bekroond en gunstelinge wêreldwyd.

Nogal interessant as mens dink dat die eerste Coetzee in 1679 in Tafelbaai arriveer het en hul grond in 1682 gekoop het – nie ver van waar ons vanaand sit nie. Vandag pryk Coetzenburg-stadion op daardie grond.

Ek het gaan oplees dat dié 1679-Coetzee moontlik Dirk Coetzee was, wat van Kampen, Nederland na die Kaapkolonie gekom het. Die Nederlandse taalkundige, Jan-Wouter Zwart, vermoed dat die naam afkomstig is van die algemene Nederlandse naam Koetsier, gelei deur die uitspraak daarvan.

Jan Boland Coetzee, legendariese rugbyspeler en wynmaker.

In die negentigs plant Jan Boland Pinot Noir en in 2009 word Grenache bygevoeg. Sedert 2006 is die meerderheid wingerde herplant, behalwe vir die ou bosstok Pinotage-blokkie teen die heuweltjie soos jy die plaas inry.

Ons teug stadig en deurdag aan die Vriesenhof Unwooded Chardonnay 2024. Daarna die Vriesenhof Pinot Noir 2022, voor die Vriesenhof Jan Boland Coetzee 2022, ’n rooi versnit, aan die beurt kom.

Oulike hoekies is oral geskep dat jy in vrede jou wyn en kougoed kan geniet.

Die maan hang bolwang oor die huis se gewel toe ons nagereg bestel. Die donkersjokolade-en-lemoen-potjie fondant wat oor die kole gebak is, met melktertroomys, is ook ’n deelporsie en met sterk koffie – of ’n glas Cabernet Sauvignon – net die regte afsluiting vir ’n heerlike aand.

Toe ons laataand in die maanlig in die plaasstilte na ons motor stap – die laaste gaste wat die restaurant saam met die bestuurder verlaat – dink ek weer aan Jan se groetwoorde ’n paar jaar gelede: “Ek leer maar nog in die kelder, jong.” Toe het hy al meer as 50 oeste op sy kerfstok gehad.

Die natuurskoon en berge word deel van die mooiheid van die restaurant.

Dis daardie skerp sin vir humor, sy nederigheid – of is dit onwilligheid – om sy status as wynlegende te gebruik wat ek vanaand die meeste mis. Maar sy gees en sy teenwoordigheid is steeds daar in die gebou.

Vriesenhof maak net agt wyne, maar dis die Cabernet Sauvignon in Stellenbosch se Goue Driehoek en sy Chardonnay waaroor mense al vir dekades jubel. Hy is nie verniet een van die stamvaders van Chardonnay nie. En met Internasionale Chardonnay-dag op 22 Mei sal ek beslis weer ’n glasie op hom klink.

Kitsfeite:

  • Vriesenhof is in Paradyskloof – amper in die woonbuurt – geleë. As jy deur die lae wit muurtjie stap, is dit asof die geskiedenis-tydmasjien jou dekades terugneem na oupagrootjie se huis en leefstyl.
  • Die restaurant is Sondag, Dinsdag en Woensdag van 12:00 tot 16:00 oop; Donderdag, Vrydag en Saterdag van 12:00 tot 20:30.
  • Vriesenhof is al vir jare lid van die Stellenbosch Wynroetes wat op 17 April vanjaar sy 54ste verjaardag gevier het.
Lees ook:

Erfenis en die toekoms leef hier in harmonie

Geskiedkundige jaar vir dorp én wynplaas

Geskiedenis by La Motte met moderne flair gehuldig

Toe nie wilder as wild by Wildekrans!

Cap Classique sit vonkel in die feestyd

Of history and Cape wine, on a road less travelled

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top