Ons reis die afgelope 10 jaar elke feesseisoen na die (baie kouer) “noorde-noorde” (soos my vriendin van alles bó die ewenaar praat) en op die lughawe koop ons elk drie bottels wyn – drie daarvan is altyd van Suid-Afrika se klassieke Cap Classiques.
Cap Classique is een van die gewildste premium-wynkategorieë in Suid-Afrika, met jaarlikse verkope wat net-net aan 11 miljoen bottels per jaar raak en die aantal bottels wat verkoop word, verdubbel elke 4,5 jaar.
Die geheim van Cap Classique is sy veelsydigheid: Dis nie net by bykans enige maal ’n lekker kos-pasmaat nie, dit kom in soveel verskillende style, dat jy dit heeljaar kan drink. Ons neem vonkelwyn saam om twee redes: Ons kry altyd familie iewers vir Kersfees en Nuwejaar en hoe lekker om saam fees te vier met iets wat Suid-Afrikaanse sonskyn in ’n bottel is, en as ons iemand teëkom op ons reise wat niks van ons vonkelende land weet nie, is ’n bottel borrels die beste ambassadeur.
Vanjaar kuier ons vir die feestyd nie in die noorde-noorde nie, maar in en om Kaapstad, Swellendam en Wildernis, maar die vonkelwynkeuses is gemaak.
Dis egter ’n maand of wat terug dat ons by die pragtige The Palm House Boutique Hotel and Spa in Wynberg oorbly vir ’n paar dae. Die historiese gebou is vanjaar 124 jaar oud en by die kaggel ontmoet ons een aand voor ete ’n baie gawe Britse paartjie. Hulle het ’n blitsbesoek aan die Kaap gehad en weens mobiliteitsprobleme, was hul besoeke effe beperk.
Sy sê dat sy baie graag meer van die wynlande sou wou sien en ook meer oor ons Suid-Afrikaanse “sjampanje” wou leer en proe, want sy weet bitter min. My gedagtes loop ver oor al die geleenthede in ons lewens waar ons Cap Classique saamgeneem het op reis.
Tussen my en die boetiekhotel se wonderlike sommelier, Richard Gosa, neem ons dié takie baie ernstig op en hy skink onmiddellik vir haar ’n glas Villiera Tradition Brut. Laat die leerskool begin!
Frans Malan het in 1971 SA se eerste vonkelwyn, Simonsig Kaapse Vonkel, gemaak en was ook ’n stigterslid van die Stellenbosch Wynroetes. Vandag het Simonsig ses verskillende Cap Classique-wyne in verskillende style en dit palm gereeld pryse daarvoor in.
Cap Classique ondergaan ’n natuurlike tweede gistingsproses in die bottel, waar die borrels dan natuurlik ontwikkel. Suiker en gis word by die basiswyn gevoeg sodat bottelgisting kan plaasvind. Na die giskontaktyd, word die gis na die nek van die bottel gedraai (remuage), waarna dit verwyder word en die finale kurk en draadjie opgesit word (disgorgement).
Die naam Cap Classique bring hulde aan die feit dat die klassieke wynmaakkuns aan die Kaap bekendgestel is deur die Franse Hugenote en die eerste bottel gefermenteerde vonkelwyn in die Kaap Kaapse Vonkel was. Dit wys ook dat dit in die tradisionele manier, soos sjampanje met tweede fermentasie in die bottel – Méthode Champenoise – gemaak word.
In Suid-Afrika gebruik ons die term Cap Classique sedert 1992.
Ek vertel dis nie net een van die land se gewildste premium wynkategorieë nie, maar die Cap Classique-vereniging het ook ’n jaar of drie gelede begin wegdoen met MCC as benaming (Méthode Cap Classique) en dit eerder as Cap Classique gevestig.
Die paartjie skuif albei nader vir die res van die storie. Sy vra wat die verskil tussen Cap Classique, sjampanje en vonkelwyn is en hoekom Cap Classique nie sjampanje genoem mag word as dit – soos sy aflei – op dieselfde manier gemaak word nie.
Ek en manlief en Richard val omtrent oor ons woorde toe ons verduidelik: Suid-Afrikaanse produsente mag nie die woord Champenoise of sjampanje gebruik nie: Net sjampanje wat in die Champagne-streek in Frankryk gemaak word, mag daardie naam gebruik.
Vonkelwyn is ’n kunsmatige produk, waar stilwyn in ’n druktenk geplaas word en koolsuurgas (CO2) ingepomp word. Die wyn word dan uit die druktenk – onder dieselfde druk – gebottel.
Oom Frans se Kaapse Vonkel was van Chenin blanc-druiwe, maar vandag is Chardonnay, Pinot Noir en Pinot Meunier die gewildste keuses. Produsente het ook al Merlot, Shiraz en ander kultivars gebruik. Daar is tans geen beperkings op toegelate kultivars in SA nie, hoewel sekere kultivars meer geskik is.
Cap Classique kan in verskillende kategorieë gemaak word, soos versnit, Rosé, Blanc de blancs of Nektar. Versnitte is gewoonlik twee of meer kultivars; Blanc de blancs is net ’n versnit van wit druiwe (dit kan ook versny wees van een kultivar) en Rosé – gewoonlik van rooi druifkultivars, maar kan ook ’n bietjie wit druiwe inhê. Nektar is soeter.
En liewe leser, lag maar, maar ons ry ons eie kristal-vonkelwynglase saam as ons plaaslik toer. Navorsing het getoon dat die korrekte glas vir elke druifkultivar die beste manier is om jou wyn te geniet. Cap Classique en vonkelwyn is natuurlik geen uitsondering nie. Die breedte van die glas se rant, die lengte van die glas en die dikte van die glas dra alles by om die geure, aromas en borrels optimaal te laat vertoon.
Die ontwerp van die glas verseker dat die korrekte smaakkliere wat bitter, soet, sout, suur en umami identifiseer, op die regte oomblik geaktiveer word.
Elunda Basson, Steenberg Wingerde se keldermeester en een van die land se bekendste Cap Classique-makers wat vir jare by JC le Roux gewerk het, het ons geleer dat die tulpvormige glas se voller magie die vrugtige aromas bevry en die elegansie van die glas maak enige feesviering ’n gesofistikeerde geleentheid. Toe koop ons daarvan en dit reis oral saam.
Baie mense hou van die oop Coupe-glas wat glo volgens Marie Antoinette se bors gevorm is, maar dit laat die borrels te vinnig platval. Dit lyk vir ’n paar minute mooi, maar is nie die beste vorm om die geure en aromas van jou Cap Classique ideaal vry te stel nie. Die bekendste en algemeenste glas is die sogenaamde fluitglas, maar mens sukkel om jou neus behoorlik in te druk vir al die aromas.
Dis ook Elunda wat verklap het dat jy dit teen 8 grade Celsius moet bedien. As dit kouer as 8 grade is, kry die wyn nie kans om sy geure en aromas te ontbloot nie. Gooi die wyn ook so ’n paar minute voor jy dit bedien, sodat die verskuilde geure kans kry om in die glas te ontwikkel.
Ek lê daardie aand op die sagte bank in ons suite se televisiekamer met ’n glas vonkelwyn vir nagereg. Ek vra my geliefde oor sy gunsteling-vonkelwynherinneringe.
’n Paar wat vir ons albei uitstaan is:
- Sewe jaar gelede reis ons na Rovaniemi in die Arktiese Sirkel in Finland en gaan op ’n husky-uitstappie. Jy ontmoet ’n hele paar van dié praghonde, vryf hul digte pels en kry ’n paar lesse voor jy vir ’n paar uur op ’n sleerit gaan, waar die honde uitgelate deur die sneeu draf en jy mooi moet bestuur om staande te bly. Toe ons rit verby is en ander soeweniers in die houthuisies op die plaas buite die dorp koop, gaan sit ons by twee pragtige honde uit ons rit se groep en klap die kurk op ’n yskoue Simonsig Kaapse Vonkel. Met die temperatuur van -19 grade Celsius is die borrels yskoud – hoewel die geskud op die slee ’n bietjie te veel bruis in die bottel meegebring het ...
- Ilse Schutte, wynmaker van die garagiste keldertjie op McGregor, se Bemind Cap Classique is 100% Chenin Blanc en sy maak net 1 500 bottels elke seisoen. Dis een van die lekkerste borrels wat ek graag vir vriende as geskenke gee. Dit maak enige geleentheid sommer feestelik. Ek het een saamgeneem Ysland toe, toe ons twee jaar terug vir ons heel eerste luukse skeepsvaart aan boord Norwegian Cruise Line se Prima sou gaan. Toe die skip die aand voor ons aan boord sou gaan in die hawe vasmeer, het ons kruisbeen op die gras gaan sit met die skip in die agtergrond en met ons Airbnb-koeldrankglase ’n heildronk op ons vaart ingestel.
- Op die luukse trein wat jou terugvoer na vervloë dae toe treinry in sy glorie was, Rovos Rail, drink ons in Augustus twee uitsonderlike borrels, Colmant Cap Classique Brut Rosé en die Pieter Ferreira Birdsong 2020.
Die Colmant is deel van ons aandete, terwyl die landskap buite ons treinvenster onderweg na Vic Falls In Zimbabwe verbygly. Dit word in delikate kristalglasies bedien en ek verstaan hoekom wynresensente dit sulke goeie puntetellings gee.
Die Pieter Ferreira Birdsong 2020 is een van die lekkertes wat ons vir ons kamer bestel. Een laatmiddag terwyl die son watertrek oor die veld, sit ons in ons gemakstoele by die venster en teug aan die romerige Chardonnay/Pinot Noir-versnit. Wat hierdie borrels ekstra spesiaal maak, is dat die Chardonnay-druiwe van Napier en Robertson kom, en die Pinot Noir van Stellenbosch en Robertson. Dis dus die Kaapse wynlande in een bottel – met borrels! Dit was vir vier jaar op die gismoer en die eindproduk is sag en volrond.
Verskeie wynplase het die afgelope paar jaar begin om te eksperimenteer om die wyn vir langer op die gismoer te los, waaronder Waterford, Lourensford en Boschendal maar enkeles is. Hannes Nel, keldermeester by Lourensford, se Lourensford Cuvée Brut Zero 101 2010 is 88% Chardonnay en 12% Pinot Noir en vir 101 maande op die gismoer verouder. Dis een van die langstes op die gismoer. Ek is gelukkig om een by Hannes present te kry en hy gaan saam Parys toe vir Nuwejaar 2024 aan die voete van die Sacre Coeur-basilika. Ek vertel ewe trots vir my nig en haar lewensmaat dat langer veroudering maak dat die Cap Classique baie meer komplekse en geïntegreerde geure vorm, weens die ekstra verouderingstyd op die gismoer. Dit gee dit ’n natuurlike volheid en rondheid wat maak dat dit nie nodig is om enige verdere suiker by te voeg nie. Dit maak ook die borreltjies baie meer kompak en kleiner weens die langer tyd onder druk. Ons het die honderde trappies opgeklim om die vuurwerke oor die stad te sien. Ons sien heelaand uit na die slag van die kerkklokke sodat ons die kurk kan laat spat!
Ons het vier bamboesglasies ingepak, want nie een van ons se Airbnb-woonstelletjies het glase gehad wat ons die heeldag in rugsakke kon laat rondswaai nie. Maar daar is toe geen vuurwerke sigbaar van ons heuwel-uitsig nie; mens moes in die Champs-Élysées wees om dit te sien.
Die vonkelwyn het geskitter, die vuurwerke toe nie.
Op die mooiste herfsdag in die Boland vroeër vanjaar het die historiese wynplaas, Spier buite Stellenbosch, hul jongste vonkelwynvrystelling, die Prestige Cuvée 2016, bekend gestel. Dis slegs die derde keer dat hierdie Cap Classique gemaak is, omdat dit net in uitsonderlike oesjare gemaak word. Daar was vrystellings in 2013 en 2015.
Spier, wat uit 1692 dateer, is een van Suid-Afrika se oudste en bekendste wynplase in familiebesit. Die span se toewyding aan kwaliteitwyne het hulle twee keer – in 2011 en 2018 – die gesogte erkenning as Suid-Afrikaanse Produsent van die Jaar deur die Internasionale Wyn- en Spirituskompetisie (IWSC) besorg.
Op die historiese herehuis se stoep het ons saam feesgevier. Vriende en familie is pas deur ’n baie moeilike tyd; daar is afskeid geneem van geliefdes en ’n goeie vriendin se pa is met kanker gediagnoseer. Om daar onder die potblou hemel te staan by ’n tafel vol kaas, vrugte, tuisgebakte brode en saam met ander wynvriende die lewe te vier, was voorwaar ’n voorreg.
“Ons wag al agt jaar hiervoor,” het Johan Jordaan, Spier se keldermeester, tydens die geleentheid vertel. “Maar laat ek jou sê, daardie agt jaar was elke sekonde werd. Die Cuvée se langdurige kontak met die moer het dit met ’n buitengewone diepte van karakter en ’n kompleksiteit wat net tyd kan gee, besorg.”
Sela. Dis op my Kersfees- en verjaardaglys as jy nie weet wat om volgende keer vir my te koop nie ...
Vroeër hierdie maand vier ek my 54ste verjaardag op Saldanha. Ons kuier daar saam met Kobus Botha, Kokkedoor-beoordelaar wat allerhande Franse braaitegnieke met ons deel, maar alles met plaaslike vis, oesters en mossels berei. Die wyn van die dag kom alles van die bekroonde Swartland-produsent, Adi Badenhorst van Kalmoesfontein. Selma Willemse, wynmaker saam met Adi, gooi ons glasies vol Pétillant Naturel (Pét-nat) 2017, ’n Swartlandse Chenin blanc.
Pét-nats is vonkelwyne wat gemaak word op ’n manier wat die sogenaamde “tradisionele metode” voorafgaan. Dit behels die minimale inmenging van die wynmaker, waarvoor die Swartland se andersdenkende wynmakers bekend is.
Pét-nat word gebottel voordat die primêre fermentasie voltooi is, wat beteken die wyn gaan voort om in die bottel te gis om borrels te skep. Hierdie tegniek word Méthode Ancestrale genoem en dateer uit die 16de eeu in Limoux, Frankryk. Dit word gemaak sonder bygevoegde suikers, giste of preserveermiddels en is tipies ongefiltreerd, wat dit ’n effens wasige voorkoms gee.
Ons bly oor op die dorp en Sondagaand toe die son begin watertrek, klap ons die kurk van die Eikendal Méthode Cap Classique Brut 2021, wat in baie klein hoeveelhede van Chardonnay gemaak word. Dis vir twee jaar op die gismoer verouder. Dis heerlik saam met Saldanha-oesters, veral as die see potblou onder jou hotelkamer se venster wink.
En nee, ek het nie vergeet nie, vir die komende feestyd se korter pad reise, staan die boksies reg vir inpak. Dis natuurlik Simonsig Kaapse Vonkel wat saamgaan, maar van ons ander gunstelinge waarmee ons by verskillende vieringe met familie en vriende gaan kuier, is Kleine Zalze Vintage Brut, wat van die klassieke Chardonnay en Pinot Noir gemaak is en vir ses jaar op die gismoer gelaat is. Dit is sag en elegant op die tong en die perfekte dansmaat vir ’n varsgebakte vissie of kaasbord. Die ander enetjie wat klaar gepak is, is Waterford Blanc de blancs Cap Classique.
Laaste in die mandjie – maar beslis nie die minste nie – is Graham Beck, waar Pieter (Bubbles) Ferreira die afgelope twee dekades vonkelwyn ’n nasionale skat gemaak het. Nou is dit Pierre de Klerk wat die vonkelwynsepter hoog en trots swaai, terwyl Pieter onder sy eie naam borrels maak.
- Lees meer oor ons land se top Cap Classique-produsente by https://www.capclassique.co.za/.
- Die kurkvervaardiger, Amorim, het ook die afgelope twee dekades elke jaar die gesogte Amorim Cap Classique Uitdaging om die land se voorste borrels te bekroon. As jy na ’n paar feestyd-idees soek oor watter borrel waar sal werk, loer by https://amorimcork.co.za/amorim-cap-classique-challenge/
Foto’s: Clifford Roberts en verskaf