Erfenis en die toekoms leef hier in harmonie

  • 0

Ons skop ons kuier af met lekker borrels. (Foto: verskaf)

Durbanville vier vanjaar sy 200ste verjaardag en binne die dorp se grense lê van die land se oudste wynplase waar wyne in koel klimaatstoestande groei. Daar is verskeie redes om vandeesmaand ekstra lank te vertoef met een van die Durbanville Wynvallei-lede se spesiale verjaardaggeleenthede. Dis egter juis die wisselende weerstoestande die afgelope paar maande wat dié koel klimaat omvêrgooi, wat my vroeër in die vallei laat kuier.

By Durbanville Hills, sekerlik die jongste kelder in die stal, is ’n pioniersprojek aan die gang, vertel Pieter-Niel Rossouw, keldermeester, my met ’n glas 2025-Sauvignon Blanc-sap uit die gistende tenk in die hand. Hy neem my op ’n ware binnekykie in die kelder se werkinge. Die kelder is ’n geroesemoes van druiwe wat inkom; wyn wat tussen tenks geskuif word; wynmakers wat versnitte doen en wyne in vate oorpomp om te verouder.

Altesaam nege produsente binne die Durbanville- geografiese gebied – waarvan sommige onder hul eie etikette ook wynmaak – lewer sedert die laat negentigs druiwe aan die kelder. Die eerste wyn onder die Durbanville Hills-etiket is in 1999 gebottel.

Pieter-Niel Rossouw, keldermeester by Durbanville Hills. (Foto: verskaf)

Die nege produsente is Klein Roosboom, Ongegund, Hillcrest, Maastricht, Morgenster, Bloemendal, Hooggelegen, Welbeloond en De Grendel. Slegs een persent van die kelder se wyne word uitgevoer; die 99% word blitsvinnig in Suid-Afrika uitgedrink!

Die hele Durbanville-wynstreek beslaan 2 500 hektaar, waarvan ongeveer 800 hektaar druiwe aan Durbanville Hills voorsien. Die kelder oes jaarliks sowat 6 500 van hul lede se druiwe.

Ek vrek van nuuskierigheid, maar dié man werk met ’n lang plan: Eers alles in die kelder ervaar, voor ons by die sappigste deel van die storie kom.

Hy vertel die oes het vyf dae later as verlede jaar begin. “Dit was ongewoon warm op die snaaksste tye. Toe kry ons die ideale oesweer.” Pieter-Niel wat sowat 18 maande gelede die stewels van keldermeester volstaan, nadat Martin Moore skielik oorlede is, sê ’n wynmaker kan nie wynmaak in die kantoor of kelder nie. Dit begin in die wingerd.

Hy en sy span; Wilhelm Coetzee, rooiwynmaker; Kobus Gerber, witwynmaker; en Tammy Claasen, assistentwynmaker, is gereeld op die plase om die druiwe te monitor, te kyk watter effek die hitte of wind of droër toestande op verskillende kultivars het. Hulle is ook die baie gewillige skinkers van al die proeslukkies in die besige kelder vandag.

Tammy Claasen, assistentwynmaker, gooi vir my van die 2025-Sauvignon Blanc in. Dis enkele dae vroeër gepluk en besig om te gis. (Foto: Clifford Roberts)

Kobus Gerber, witwynmaker, gooi vir my die 2025-Chenin Blanc in. Dis pas gepluk en besig om te gis. (Foto: Clifford Roberts)

“Ons doen interessante toetse met net oggendson of net middagson. Ons het toetsblokke waar die blare weggestroop is om die effek te sien en ons kyk dan op watter ledeplase kan die verskillende tegnieke werk.”

Later staan ons in die insiggewende besoekersentrum, ’n museumagtige ruimte wat die hele vallei en sy terroir en klimaat verduidelik. Pieter-Niel wys op ’n wit reliëfkaart die drie valleie in Tygerbergheuwels. Hy vertel: “Durbanville is uniek. Die drie verskillende valleie het drie verskillende terroirs. Die koue Atlantiese Oseaan lê 8 kilometer na die weste; Valsbaai net oor die bult na die ooste, met suidwestelike winde van Tafelbaai en die suidooster van Valsbaai. Geen ander streek het soveel wind en seestrome tot hul voordeel nie.

Bo en onder: Die besoekersentrum is ’n museumagtige ruimte waar alles omtrent die kelder en sy lede verduidelik word. (Foto’s: Clifford Roberts)

“Die buitevalleie is warmer en droër; die middelvallei is meer gematig; en die vallei rondom Maastricht en Hooggelegen is koeler. Die beste druiwe van die beste terroirs maak die beste wyne. Sommige dele van die plase het dieselfde klone met soortgelyke terroir, maar die klimaatstoestande verskil hemelsbreed.”

Die kelder se reuse- vlekvrye staal-tenks is almal vol. (Foto: Clifford Roberts)

Hy laat val dat hulle Terraclim – ’n kombinasie van menslike kennis, ou rekords, weerstasies en kunsmatige intelligensie gebruik vir toekomstige aanplantings. Kultivars wat op verkeerde hellings of in verkeerde grond geplant is, word stelselmatig uitgetrek en met meer geskikte kultivars vervang.

Ek wil uitvra, maar nee, eers ’n paar wyne uit ander tenks proe om te wys hoe die komponente kan verskil; hoe sommige uit vate en ander uit vlekvrye staal-tenks proe; die verskil tussen versnitte, normale gisting en wilde gisting; verskillende oesjare; en verskillende etikette. 

Hy staan later in die nuwe klein verouderingskelder by hul nuwe Italiaanse kleikruike en sê Sauvignon Blanc is steeds die kelder se grootste fokus en Chenin Blanc is tweede, dan Chardonnay. Die kruike word binnekort vir die eerste maal gevul met Sauvignon Blanc, Chenin Blanc en Chardonnay.

Tammy Claasen, assistentwynmaker, en Wilhelm Coetzee, rooiwynmaker, trek vir my ’n proesel uit die vate van die 2025-Chardonnay. Dit sal later hierdie jaar gebottel word onder die Collectors Reserve-handelsmerk. (Foto: Clifford Roberts)

Die nuwe Italiaanse kleipotte, wat binnekort met 2025-Sauvignon Blanc en Chenin Blanc gevul sal word. Die sap is uit uitgesoekte blokke, wat goeie boublokke gaan wees vir die Collectors Reserve Sauvignon Blanc en Collectors Reserve Chenin Blanc. (Foto: Clifford Roberts)

“Chenin en Chardonnay se aanvraag begin die aanbod oorskry.” Hy het in 1999 begin wynmaak en het al by van die land se bekendste kelders gewerk, waaronder Darling Cellars, Mont du Toit Cellar, Laroche L’Avenir en Wellington Wines. Hy sê Durbanville Hills se Collectors-reeks Merlot is een van die mooiste Merlots in die land, daarna die Pinotage. Hul Pinotage beskryf hy as meer vroulik, meer in die Pinot Noir-styl.

Hy leun teen die eikehoutvate met nog ’n proesel wyn uit die vate uit om te wys hoe dit verouder. “Dis flippen lekker om in hierdie kelder te werk. Die kelder is goedbeplan en dis ’n voorreg om hier te werk.”

Sjef Tamzyn Ehlers en Pieter-Niel in die restaurant. (Foto: Clifford Roberts)

Ons sit uiteindelik in die kelder se bekroonde restaurant Tangram en kyk oor die vlaktes na waar Tafelberg blouselblou met haar voete in die oseaan staan. Mens vergeet hoe naby die vallei aan die stad is, maar hier is die gasvryheid pure plaas; die porsies ruim soos ouma dit sou wou hê; en die sjef Tamzyn Ehlers kom nog gesig wys om te hoor hoe jy jou beeshaas voorberei wil hê. Sy sê haar disse is nie tradisioneel nie, maar sy vleg graag Suid-Afrikaanse geure deur. Die Promenade Pinotage moet die Chalmar-bees met soetpatatpuree, babawortels en ’n rooiwynsous met biltongstof perfek aanvul, so ek verstaan haar erns!

Ons spyskaart vir die middag, maar ek het net oë vir die Chalmar-beeshaas. (Foto: Clifford Roberts)

Ons drink die kelder se vonkelwyn en hy vertel dit ervaar ongekende groei. Hulle botteleer meer as 200 000 liter per jaar.

Hy kan sien ek kan nie meer my nuuskierigheid beteuel nie. Hy gooi vir ons elkeen ’n glas Lighthouse Merlot in voor ons kos arriveer. En sê dan half ingedagte as jy in ’n restaurant nie weet watter wyn om te bestel nie, is Merlot altyd ’n staatmaker. “Merlot is sag, vrugtig en ’n goeie pasmaat vir kos.”

Hy trek los: “Die veranderende klimaatstoestande gaan in die toekoms bepaal wat wingerdboere suksesvol kan groei en watter wyne daarvan gemaak kan word. Tesame met geskiedenis en menslike ervaring en kennis, gaan tegnologie soos Terraclim – ’n vlagskipprojek vir SAWine – gebruik word om besluite te neem ten opsigte van optimale landboupraktyke, om die effekte van klimaatsverandering te versag, soos om te besluit watter kultivars op watter areas geplant moet word gebaseer op huidige en toekomstige voorspelde klimaattoestande. Terraclim kan ook help om besproeiing beter te bestuur, vir beter siektebestuur, grondvogmonitering, asook klimaat-risikoassessering doen.”

Bobotie-samoesas met kerrie-wortelpuree, gepekelde beet, kruie-olie en speserystof. Dis met die High Noon Shiraz gepasmaat. (Foto: Clifford Roberts)

My Chalmar-beeshaas met die Promenade Pinotage. (Foto: Clifford Roberts)

Uiteindelik, met soveel dinamiese insig in terrein en veranderende klimaat kondisies, kan boere meer volhoubare landboupraktyke implementeer, as voorbeeld grondbewaringslandboupraktyke, wat dus gesonde grondlewe ondersteun en bou.

“Ons het besluit om Durbanville Hills as proefkonyn te gebruik, omdat Durbanville Hills so ’n unieke hoë kwaliteit-area is met baie variasie in topografie en daarmee saam klimaat en terroirareas.”

Isabel Habets, Heineken se wingerdboukundige en die Terraclim-spesialis, sê die program is deur Tara Southey en die CGA (Centre for Geographical Analysis) ontwikkel. Dit is ’n gesofistikeerde aanlyn geografiese inligtingstelsel- (GIS-) gebaseerde klimaat- en terreinhulpmiddel. Dis ontwikkel om landboubesluitneming intelligent te ondersteun.

“Dit verskaf dinamiese, hoë resolusie-klimaat- en terreinkaarte wat amper 50 verskillende informasielae in ag neem.

“Hierdie datalae word dan op masjienslim-maniere bymekaargesit afhangend van die vraag wat gevra word, om dan ’n sinvolle antwoord te verskaf.

“Hierdie lae dek die meeste aspekte van klimaat en terrein, soos temperatuur, reënval, grondvog, waterafloop, groei indekse en ander.

“Heineken Beverages – aan wie Durbanville Hills behoort – is een van die eerstes in die Suid-Afrikaanse wynbedryf om Terraclim vir ons druiweboere te implementeer.”

Pieter voeg by dat beplanning vir die toekoms amper net so belangrik is en ewe veel tyd in beslag neem as die huidige oes. “Ons het agt aandeelhouerplase wat deel is van die aanplantingsskema. Die fokus is om die regte kultivar op die regte plek te vestig. Dus kyk ons na die mikro- en makroklimaat van die plaas. Ons kyk na die presiese plek waar die produsent toekomstige wingerd wil vestig.

“Faktore waarna ons kyk is die grondsoort, helling, hoogte, windvloei, dag- en nagtemperature en of daar water is om mee te besproei. Ons kyk ook na die behoefte van die kelder én die mark en watter kultivar die beste gaan pas. Sodra ons die inligting bymekaar het, kyk ons na die beste plantmateriaal. Ons kyk na die regte onderstok vir die spesifieke area. Ons kyk na die regte bo-stok kloon – die regte vrugprofiel. Ons kyk na die regte opleistelsel vir die spesifieke kultivar en perseel. Ons kyk ook na die geskiedenis van die area.

“Kultivars waarop ons nou fokus is Sauvignon Blanc, Chenin Blanc, Chardonnay, Merlot en Pinotage.”

Pieter-Niel sê Alberinio en Grenache kan goed hier in die area werk, maar hulle soek die regte terrein. “Hoewel ons eksperimenteer, bly ons hooffokus altyd sewe kultivars – Sauvignon Blanc, Chenin Blanc, Chardonnay, Merlot, Pinotage, Shiraz en Cabernet Sauvignon.”

Hy sluit af en sê die kelderspan kyk vorentoe. “Ons behou die ongelooflike reputasie wat Martin vir hierdie kelder en sy wyne gebou het, maar ons gaan baie doelgerig vorentoe.”

Verjaardagvieringe:

Durbanville is deel van die verjaardagvieringe op Donderdag en Vrydag 10 en 11 April.

Die verjaardaglekkertes wat jy in die vallei kan ervaar, sluit onder meer proeë van die streek se bekroonde wynkelders, erfenis en gasvryheid soos net die Durbanvillers kan. Die ander deelnemende plase, De Grendel, Klein Roosboom, Nitida, Maastricht, Bloemendal, D’Aria, Canto, Meerendal, Diemersdal en Groot Phesantekraal, bied elkeen hul eie spog-wegsitwyne wat in beperkte hoeveelhede vrygestel word en heerlike plattelandse kos. Voeg daarby kuiers saam met wynmakers en lewendige musiek, en daar is min ander naweekplanne wat hierop kan verbeter.

Daar word lankal met wyndruiwe in die streek geboer. Die koms van die Durbanville-wynvalleivereniging was egter ’n opwindende nuwe mylpaal in die definisie van die karakter van die streek se uitstekende gehalte. Dit is amptelik in 1998 gestig. Deur sy vroeë werk het die vroegste lede die geweldige potensiaal van Durbanville se terroir tentoongestel, wat die weg gebaan het vir die lewendige wynvallei wat dit vandag is.

Ten spyte van die relatiewe jeug van baie van sy privaat wynetikette, spreek Durbanville-wyn se vinnige opgang tot ster in die plaaslike en internasionale wyntoneel boekdele. Die streek se ideale grond, gekombineer met ’n diverse reeks klimaatsones en die kundigheid van sy wynmakers, het gelei tot konstante hoë gehalte-wyne.

Besoek www.durbanvillewine.co.za vir meer inligting.

Lees ook:

Geskiedkundige jaar vir dorp én wynplaas

Geskiedenis by La Motte met moderne flair gehuldig

Toe nie wilder as wild by Wildekrans!

Cap Classique sit vonkel in die feestyd

Of history and Cape wine, on a road less travelled

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top