Die plaashuis, waarvan die eerste gedeelte in 1698 gebou is, staan omsoom deur palmbome wat oupagrootjie Matthys Louw in 1906 geplant het. Die tweede datum op die gewel is 1903. (Foto: verskaf)
........
Op een van dié vallei se wynplase is daar vanjaar ook vele ander hoogtepunte. Diemersdal – bekend vir sy pionierswerk met verskillende Sauvignon Blanc-style, het pas sy eerste The Globe Sauvignon Blanc vrygestel; Suid-Afrika se eerste wyn wat in glashouers, of sogenaamde Wineglobes gegis en verouder is.
........
Die jaar 2025 is vir Durbanville, buite Kaapstad, ’n besondere jaar: Die voorstad vier op 1 April sy 200ste verjaardag en die Durbanville Wynvallei se plase vier dit op 10 en 11 April behoorlik met verskeie aanbiedinge vir wynliefhebbers.
Op 2 Mei vier die wêreld Internasionale Sauvignon Blanc-dag – die druif waarvoor hierdie vallei sekerlik die bekendste is.
Die ingang na die plaas in die Durbanville Wynvallei. (Foto: verskaf)
Die plaas het agt Sauvignon Blancs en ons kon elkeen proe. (Foto: verskaf)
Op een van dié vallei se wynplase is daar vanjaar ook vele ander hoogtepunte. Diemersdal – bekend vir sy pionierswerk met verskillende Sauvignon Blanc-style, het pas sy eerste The Globe Sauvignon Blanc vrygestel; Suid-Afrika se eerste wyn wat in glashouers, of sogenaamde Wineglobes gegis en verouder is.
Diemersdal se sesde geslag wynmaker en eienaar, Thys Louw, het vyf Wineglobes van 220 liter elk gebruik om die unieke Sauvignon Blanc The Globe 2023 te maak. Die wyn gis daarin en lê dan vir ’n jaar daarin op die moer.
Die eerste oesjaar van dié wyn is onlangs vrygestel. Aan huis by Thys en sy vrou Ladine se historiese huis op die plaas het die vieringe met die Diemersdal Cap Classique Blanc de Blancs begin. Die plaas en huis vier ook vanjaar verskeie mylpale.
Diemersdal-wynlandgoed in Durbanville se sesde geslag wynmaker en eienaar, Thys Louw, by Natasha de Villiers, voorsitter van die Durbanville Wynvallei. Hulle klink ’n glasie op 2025 wat verskeie mylpale vir die vallei en plaas vier. (Foto: verskaf)
Charné Meyer en Inge Coetzee, Diemersdal-handelsmerkambassadeurs, klink ’n glasie van die plaas se Diemersdal MCC Blanc de Blancs. (Foto: verskaf)
Diemersdal lê teen die koel hange van die Dorstberg, met Tafelberg wat nie ver daarvandaan waghou nie en die see – soos die kraai vlieg – net 11 kilometer ver. Vandaar die bekende koel klimaat waarin wingerde – veral Sauvignon Blanc – floreer.
Goewerneur Simon van der Stel het in 1698 plaasgrond aan die Vryburger Hendrik Sneewind gegee. Die plaas het hande verwissel toe kaptein Diemer die weduwee Sneewind getrou het. Diemersdal is toe amptelik gestig. In ’n ou inventaris van 1705 wat in ’n boek met ’n leeromslag gevind is, word 45 wynvate, wynpars en glasbottels onder meer gelys en dit laat ons glo dat wyn al vir meer as drie eeue hier gemaak word.
Thys Louw staan in die Sauvignon Blanc-wingerd waaruit die druiwe vir The Globe kom. (Foto: verskaf)
Pa Tienie en Thys Louw in die kelder. (Foto: verskaf)
Delf jy nog verder in die plaasgeskiedenis, voor die Louws in 1885 ingetrek het, vind jy onder meer dat AA Meyburg van Diemersdal een van die Durbanville Gemeente se eerste kerkraadslede was, toe die Tygerbergse gemeente op 1 April 1825 gestig is en die kerk op 6 Augustus 1826 amptelik ingewy is.
Vandag is die plaas ’n wonderlike kuierplek vir wynliefhebbers. Ry jy na die plaaswerf, is dit die reuk van tuisgebakte brood of ’n aftreksel wat stadig met skeutjies roosmaryn, knoffel en uie prut, uit sjef Martin de Kock se kombuis van die Diemersdal Farm Eatery wat jou neusgate vul. Die restaurant is in die ou stalle op die plaas ingerig en word aan Martin verhuur. Die plaas se wyn en kenmerkende gasvryheid word rojaal daar bedien.
Mens moet darem enige lekker kuier afskop met borrels en wat beter as die Diemersdal Cap Classique Blanc de Blancs? (Foto: verskaf)
Ons het al verskeie heerlike kuiers daar met vriende met hul bekende Donderdagaand burgerfeeste geniet en naweke is die grasperke die ideale plek vir energieke kinders en poegaai ouers om weer hul batterye met die land se voorste wyne te herlaai.
Reg langs die proelokaal is die reuse- ou kloktoring wat uit die vroeë 1700’s dateer. Stap jy oor na die proelokaal neffens die historiese ou herehuis, val die trofees, medaljes en sertifikate wat hierdie bekroonde plaas die afgelope paar dekades ingepalm het, jou op. Die plaashuis, waarvan die eerste gedeelte in 1698 gebou is, staan omsoom deur palmbome wat oupagrootjie Matthys Louw in 1906 geplant het. Die tweede datum op die gewel is 1903.
Bo en onder: ’n Linnetafeldoek, kunstige borde en riempiestoele langs ’n lang tafel het ons teruggeneem na die plaas se luisterryke geskiedenis, maar stewig met ons voete in 2025. Verskillende borde is mooi afgewissel om saam met die tafel se dekor te werk. (Foto’s: verskaf)
Ek stap na die herehuis en kyk na die voordeur waarvan die bodeur verwelkomend oopstaan. Thys kom glimlaggend aangestap en gooi die onderdeur wat meer as 300 jaar oud is, oop. Hy sien my verwondering oor die mooie huis en beduie sy vrou het die ou herehuis ’n moderne gevoel gegee, sonder om die erfenis in te boet.
Thys en Ladine en hul kinders, Tienie (10), Amelie (9) en Jan (6 jaar), woon die afgelope ses jaar in die ou opstal. Pa Tienie maak al vir meer as drie dekades bekroonde wyne en hy en sy vrou Joanita woon nou in Thys-hulle se vorige huis anderkant die kelder, vir ’n bietjie meer stilte buite die plaasgewoel. Ladine is ’n binnenshuise versierder en onder haar sorg het die plaashuis onlangs ’n kontemporêre opknapping gehad en ekstra moderne geboue is onder die ou akkerbome aangebou.
Om oor kreefpasta saam met die Louws aan tafel te sit, ’n raar voorreg. Daar is verskeie oesjare om te proe en tussendeur gesels Thys en pa Tienie dik stukke oor hul ervaringe op die plaas. Ons proe selfs van die wyne wat Tienie nog vir KWV gemaak het. (Foto: verskaf)
Wat sal oestyd sonder mosbolletjies wees? En biltong en droëwors is mos pure plaas! Voeg daarby ’n glas Diemersdal MCC Blanc de Blancs en die Kaap is weer Hollands! (Foto: verskaf)
Maar om waarlik agter die Louws se sukses en al Thys se pionierswerk te kom, moet jy by die begin begin: Thys het by die Kaapse Technikon Landboubestuur studeer. Hy vertel dat hy geglo het sy pa se meer as 30 jaar wynmaak-ondervinding is genoeg “skoolgeld” en dat daar niemand beter is om by te leer nie. Ná sy studies maak hy oeste in Duitsland en by Jordan Wynlandgoed buite Stellenbosch mee en voltooi sy opleiding by Hermann Kirschbaum by Buitenverwachting.
Hier het hy gesien dat mens ander praktyke kan aanwend as dié wat algemeen op wynplase in gebruik is en besluit om sy eie kop te volg.
Bo en onder: Die plaas se goeie grond en gesonde hellings waarin die wingerde floreer. (Foto’s: verskaf)
“Ek het my pa in 2006 gevra vir een Sauvignon Blanc-blok waarin ek bietjie wil eksperimenteer: meer óf later snoei, ander tegnieke aanwend en kyk hoe die uitkomste van die ander druiwe verskil.
“My pa het gesê die snoeispan werk in agt rye. Ek kan agt rye kry – nie ’n hele blok nie. Toe ons die eerste 8 Rows bottel, wen hy elke moontlike kompetisie en verkoop binne weke uit. Nou is dit só gewild dat ons voor ons ons oë uitvee niks oor het nie!” Diemersdal bottel jaarliks tussen 3 000 en 5 000 bottels 8 Rows.
Die nuwe Diemersdal The Globe Sauvignon. (Foto: verskaf)
Die Winter Ferment was ook ’n eksperiment. Thys wou later in die jaar ’n vars witwyn in die mark vrystel, maar die enigste manier hoe jy druiwe dormant kan hou, is deur die sap te vries.
“Die eerste jaar of wat met ’n nuwe kultivar is maar moeilik, want jy kan nie jou buurman bel en raad vra nie. Dis maar toets en kopstamp en weer probeer voor jy sukses het,” vertel hy. Maar intussen het hy geleer dat kopstamp die moeite werd is. Agt verskillende Sauvignon Blanc-style getuig hiervan. Thys het ook in Nieu-Seeland saam met Ben Glover van Glover Family Vineyards ’n Sauvignon Blanc gemaak. Die Marlborough Sauvignon Blanc is ’n veertjie in sy wynmaak-hoed.
Maar eers terug by die Wineglobe.
Die plaas het tans vyf Wineglobes in gebruik. (Foto: verskaf)
Ek wil weet hoe hy op die glashouers gekom het. “Ek was drie jaar terug in Sancerre in Frankryk en het die houers by Didier Dagueneau in Pouilly-Fumé gesien. Ek het die voorreg gehad om die Sauvignon Blanc te proe wat in die glashouers gegis en verouder is.
“Ek was nog altyd gaande oor Dagueneau se wyne en het gedink as dit deur so ’n vooraanstaande produsent gebruik word, moet daar ’n rede wees. En dit is bevestig toe ek die wyne proe: Dis ongelooflik vars en suiwer. Jy kon behoorlik die essensie van Sauvignon Blanc uit daardie streek op jou neus en tong ervaar.”
.........
Die doel agter die glas: Eikehout is nie neutraal nie, dit gee ’n houtkarakter aan die wyn; vlekvrye staal is ook nie neutraal nie, dis ’n geleier; en dieselfde met sementkuipe – alles maak ’n indruk op die wyn. Wat jy in die wyn uit die glashouers proe, is suiwer terroir- en kultivarspesifiek.
.........
Die doel agter die glas: Eikehout is nie neutraal nie, dit gee ’n houtkarakter aan die wyn; vlekvrye staal is ook nie neutraal nie, dis ’n geleier; en dieselfde met sementkuipe – alles maak ’n indruk op die wyn. Wat jy in die wyn uit die glashouers proe, is suiwer terroir- en kultivarspesifiek.
Die land se eerste Wineglobe-wyn – slegs 1 000 bottels – is nou te koop teen R750 elk en dis nog ’n stukkie geskiedenis wat 2025 spesiaal maak.
Die plaas se senior wynmaker, Juandré Bruwer, gaan wys my die glashouers – nadat hy ’n pragtige kristalglas vol The Globe geskink het.
Juandré Bruwer, senior wynmaker, by die Wineglobes in die kelder. (Foto: verskaf)
The Globe 2023 se etiket beskryf: “The Globe Sauvignon Blanc vergestalt die voorwaartsgedrewe denkgees van Diemersdal landgoed, en is die toonbeeld van die innoverende nalatenskap van die Louw-familie en laat ’n mylpaal as die eerste Suid-Afrikaanse wyn wat in die glashouer gegis en verouder is.
........
“Hierdie neutrale houer behou die suiwer essensie van die terroir en verseker ongeëwenaarde kultivaruitdrukking. Wonderlike wyn is tydloos en dit weerspieël die Louw-familie se toewyding tot die volhouding van Diemersdal se vertroude erfenis met visionêre vermoëns.” – Juandré Bruwer, senior wynmaker
........
“Hierdie neutrale houer behou die suiwer essensie van die terroir en verseker ongeëwenaarde kultivaruitdrukking. Wonderlike wyn is tydloos en dit weerspieël die Louw-familie se toewyding tot die volhouding van Diemersdal se vertroude erfenis met visionêre vermoëns.”
Juandré vertel: “Wynmakers se soeke om die geure van elke druifkultivar in hul wyne te behou het deur die jare vir eksperimente met houers uit uiteenlopende materiaal gesorg. Die neigings van groter houtstukvate wat duisende liters wyn kan huisves, ovaalvormige sementeiers en amfora word alles deur wynmakers gebruik in hul nimmereindigende soeke na die ideale instrument wat die wyn so suiwer en ongemanipuleerd by die verbruiker kan laat aankom.”
Die Tygerberg-gemeente is op 1 April 1825 gestig en die kerk op 6 Augustus 1826 amptelik ingewy. (Foto: verskaf)
Die restaurant is in die ou perdestalle ingerig en vol karakter. (Foto: verskaf)
Die glashouers staan op ’n plastiekvoetstuk en is baie lig, slegs 50 kilogram, so dis geen probleem om in die kelder rond te skuif nie. Dis meer as vier maal duurder as ’n wynvat en kos sowat 4 000 Euro elk.
Terug aan tafel vertel Thys hulle is bevoorreg om “ontsaglike goeie grond – deur sommige mense die Kanaän van die Wes-Kaap gedoop – te hê”. Pa Tienie knik instemmend. Thys en Tienie is baie na aan mekaar en toe ons in die kelder was, was Tienie by; baie trots op dié nuutste projek.
Thys is die ondervoorsitter van die Sauvignon Blanc Belangegroep van Suid-Afrika (SBIG) en het al by geleentheid gesê hy is getroud met Sauvignon Blanc en Ladine sal saamstem. Hoekom juis Sauvignon Blanc?
Die Diemersdal Wild Horseshoe Sauvignon Blanc is ’n gehoute wit en bring hulde aan die perde wat vir jare die wingerde geploeg het. (Foto: verskaf)
“Dis ’n baie uitdagende taak om goeie Sauvignon te maak en ek hou van uitdagings. Die kultivar het duidelike eienskappe en is baie gebruikersvriendelik. Dis baie sensitief oor waar dit wil groei en vra mooiwerk in die kelder. Dis ook lae nagtemperature waarin goeie Sauvignon Blanc se sukses lê.”
Dis lekker om die wyn te maak wat mense wil drink. “Dit behaal die hoogste prys per bottel vir witwyn en as jy dit regkry en erkenning in ’n kompetisie kry, is dit darem maar lekker.”
........
Ek voel geskiedenis-vol toe ons ure later groet. Maar volgende week is ek terug vir nog. Dis nie elke dag dat jy saam met ’n dorp en plaas kan feesvier oor sulke mylpale nie!
........
Die 340 hektaar plaas het 180 hektaar onder wingerd, maar ook weiding en renosterveld, een van die mees bedreigde plantspesies in die land. Hulle beywer hulle vir die bewaring hiervan. Die Louws huur ook addisionele grond by en bestuur tans 295 hektaar en koop druiwe by 10 produsente in. Diemersdal oes 2 500 ton en koop 1 000 ton in.
Hy voeg trots by: “Ons was aanvanklik ’n bulkwyn-produsent. Nou koop ons net soveel druiwe in as wat ons produseer en alles word gebottel. Ek het as kind agterop die trekker gesit as my pa kelder toe ry om ons druiwe af te laai; nou ry Tienie saam met my om druiwe te gaan haal vir ons etikette.”
Die plaas is nie net bekend vir sy bekroonde witwyne nie, die premium rooiwyne het ook vir jare ’n lojale gevolg. In die restaurant pronk ouer bottels op een van die muurtjies. (Foto: verskaf)
Diemersdal het wit kultivars: Sauvignon Blanc, Chardonnay, Grüner Veltliner; en rooi: Pinotage, Shiraz, Petit Verdot, Malbec, Cabernet Franc, Cabernet Sauvignon, Merlot en Grenache. Die Pinotage is ook een van die kolligstelers by groot kompetisies.
Hy is optimisties oor die toekoms en glo die samesmelting van Durbanville en Constantia onder die Kaapstad Wyn van Oorsprong-handelsmerk, so ’n paar gelede, het vir die streke baie deure oopgemaak. “Daar is baie Amerikaners wat Kaapstad ken, maar nie noodwendig veel weet van Suid-Afrika nie.”
Diemersdal lê teen die koel hange van die Dorstberg, met Tafelberg wat nie ver daarvandaan waghou nie en die see – soos die kraai vlieg – net 11 kilometer ver. Goewerneur Simon van der Stel het in 1698 plaasgrond aan die Vryburger Hendrik Sneewind gegee. Die plaas het hande verwissel toe kaptein Diemer die weduwee Sneewind getrou het. Diemersdal is toe amptelik gestig. (Foto: verskaf)
Hy glo agri-toerisme is beslis Durbanville se gekose roete vir die toekoms en op die plaas draai die spil om wyn. “Die proelokaal en restaurant – vertakkings om ons wyn aan mense bekend te stel – komplementeer mekaar goed. Hier is nie koffiewinkels of fietsroetes nie. Wyn is ons ding,” vertel hy met ’n groot glimlag toe ons saam aan ons koffie teug.
Ek voel geskiedenis-vol toe ons ure later groet. Maar volgende week is ek terug vir nog. Dis nie elke dag dat jy saam met ’n dorp en plaas kan feesvier oor sulke mylpale nie!
- Elke wynplaas in die Durbanville Wynvallei bied op 10 en 11 April aan besoekers iets lekkers om die dorp se 200ste jaar en verjaardagmaand te vier. Die volledige program vir die vieringe is by https://durbanvillewine.co.za/events/.