Geskiedenis by La Motte met moderne flair gehuldig

  • 0

Die intieme klein proekamertjie, die Rupert Vinoteek met ouer wyne, waar ons wynproe. (Foto verskaf: La Motte)

Die historiese landgoed La Motte vier vanjaar 330 jaar en spog met ’n nuwe baadjie vir verskeie dele van die plaas, maar die hoeksteen bly erfenis, skryf Maryke Roberts ná ’n baie spesiale kuier daar.

In 1695 is ’n stuk grond in die Franschhoekvallei aan die Duitse immigrant Hans Hendrik Hattingh toegeken. In 1709 is die grond deur Pierre Joubert, La Motte se eerste Franse Hugenote-eienaar, gekoop. Die naam La Motte het sy oorsprong van ’n klein dorpie in Provence, naamlik La Motte d’Aigues. Wingerdbou op La Motte is in 1752 gestig met die aanplanting van 4 000 wingerdstokke deur die Hugenote-afstammeling Gabriël du Toit.

In 1970 is die plaas deur Anton Rupert gekoop en ’n groot ontwikkelings-, restourasie- en bewaringsprogram het gevolg, wat La Motte herstel het tot ’n toonaangewende wêreldwye wynprodusent en gesogte toeristebestemming. Wingerde is geleidelik herplant met edele variëteite, die nuutste wingerdboupraktyke is ingestel en ’n moderne kelder is gebou.

Vandag, 55 jaar later, is ’n groot opknappings- en uitbreidingsprojek voltooi en die landgoed spog nou met ’n pragtige nuwe kunsgalery, Ateljee; ’n plaaswinkel en spens; en ’n nuwe restaurant. Die plaas word vandag deur Hanneli Rupert besit en haar man Hein Koegelenberg is die uitvoerende hoof.

Die nuwe kunsgalery, Ateljee, is ’n ruimte waar kunstenaars, kuns en kreatiewe mense bymekaarkom. (Foto verskaf: La Motte)

My dierbare pa glo op 95 steeds dat mens nooit te oud is om te leer nie. Dis die gedagte wat deur my kop flits toe ek die stroopsoet druiwekorrels uit Tiaan Jacobs se hand haal en proe. Ek skryf al vir 30 jaar oor wyn, was in soveel hoekies en gaatjies in kelders van hier in die Kaap tot Engeland, Hongarye, Frankryk, Amerika, Italië en Duitsland, maar nog nooit het ek ryp wyndruiwe uit die wingerd geproe en al die eienskappe wat ons gereeld hoor aan die kultivars toegedien word, so eerstehands ervaar nie.

Edmund Terblanche, La Motte se keldermeester. (Foto verskaf: La Motte)

Dit was ’n uitnodiging van keldermeester Edmund Terblanche wat hierdie lekkerte in ons skoot kom lê het: “Oestyd is te lekker om nie te deel nie. Die wingerde hou van ’n koue, nat winter en dit is presies wat dit gekry het. Die begin van die somer was relatief koel en droog, dus is die druiwe gesond. Alhoewel ons ’n kleiner oes het, het ons uitstekende gehalte vrugte.”

........
Die La Motte-span het besluit om die La Motte-oeservaring aan die publiek te bied, om deel te wees van die wynlande se spesiale oestydvreugdes, te deel in die seën van die oes, die somerskoonheid van die Franschhoekvallei en die passies van die La Motte-familie eerstehands te ervaar.
........

Die La Motte-span het besluit om die La Motte-oeservaring aan die publiek te bied, om deel te wees van die wynlande se spesiale oestydvreugdes, te deel in die seën van die oes, die somerskoonheid van die Franschhoekvallei en die passies van die La Motte-familie eerstehands te ervaar.

Dis oestyd op die plaas en die trosse hang volryp en gereed aan die wingerde. (Foto verskaf: La Motte)

Dis vroeg op ’n somersoggend wat ons in die koelte van die rye in die wingerdtuin buite La Motte se ontvangslokaal in Franschhoek rondstap. Tiaan is ons gids en hy loop nog op wolke, omdat hy tans die internasionaal gerekende Wine & Spirit Education Trust (WSET ) 3-kursus volg.

Hy is een van ’n uitgelese groep Suid-Afrikaners wat hierdie kursus suksesvol voltooi het en sodoende hul wynkennis aansienlik uitgebrei het. Hy is ’n wynproe-ambassadeurs op die plaas.

Soos ons deur die wingerdrye stap, vertel hy daar is 11 kultivars geplant in die wingerdtuin: die helfte uit koelklimaatstreke en die ander helfte van wingerde op die plaas.

Die wynproelokaal het die mooiste uitsigte oor die dammetjie na die galery, restaurant, plaaswinkel en spens toe. Daar is sitplek binne by die kaggel as die weer kouer word, of buite op die stoep vir ’n heerlike plaaservaring. (Foto verskaf: La Motte)

Ek leer dat Petit Verdot ’n dun vel het, daarom is die wyn se tannien nie so prominent nie, en dat Semillon by Sauvignon Blanc gevoeg word om die pH te verlaag en om suur te balanseer.

Terwyl hy aan ’n Durif-druiwekorrel kou, vertel hy: “Wyn is ’n proses. Hierdie wingerdrye bring die proses meer prakties na mense. Baie mense verstaan nie hoeveel werk ingaan nie.

“Durif – ook bekend as Petite Sirah – is my gunstelingdruif want dis – net soos Pinotage – ook ’n kruising tussen twee kultivars, Syrah en Peloursin. Iets in hom gee die wyn ’n langer verouderingspotensiaal.”

Tiaan in die wingerdtuin by sy gunsteling druif Durif. (Foto: Clifford Roberts)

Ons kyk na die oesmasjinerie, sien selfs die mobiele botteleringsmasjien, voor ons in die verouderingskelder rondstap. Tiaan verduidelik later in die privaat proekamertjie, die Rupert Vinoteek met ouer wyne, dat die La Motte-borrels waaroor ons so mal is 61% Chardonnay en 39% Pinot Noir is en vir 16 maande in die bottel verouder is. “Goeie Cap Classique het klein borrels,” vertel hy.

Ons proe saam met Tiaan verskeie wyne in die plaas se verskillende wynreekse as deel van die oeservaring. (Foto: Clifford Roberts)

Dis lekker om in die intieme klein proekamertjie, die Rupert Vinoteek, te kyk na die ouer wyne en te dink waar jy – en die land – daardie oesjaar was. (Foto: Clifford Roberts)

Die fyn borrels in ons glase is natuurlik bewys hiervan!

........
Buite voor die proelokaal klink die vrolike gelag van wynproeërs op en op die grasperk voor L’Ami Family Brasserie sit gesinne onder die ou akkerbome en eet.
........

Ons doen ’n lekker wynproe saam met mosbolletjies voor ons oorstap na die Ateljee om na die kuns te kyk, tot middagete roep. Die Ruperts is bekend vir hul liefde vir kuns en die nuwe, kontemporêre ruimte is meer as ’n galery. Dis ’n plek waar kunstenaars, kuns en skeppers saamkom. Buite voor die proelokaal klink die vrolike gelag van wynproeërs op en op die grasperk voor L’Ami Family Brasserie sit gesinne onder die ou akkerbome en eet.

Bo en onder: Geniet ’n lekker ligte maaltyd na jou oeservaring en wynproe by die nuwe L’Ami Family Brasserie. (Foto’s verskaf: La Motte)

Met L’Ami se lekker ontspanne, binnenshuise atmosfeer en ’n uitnodigende stoep wat reg buite-om strek, is dit die perfekte omgewing om bymekaar te kom en die eenvoudige plesier van ’n pragtig voorbereide maaltyd te geniet.

L’Ami se sjefs bring die ryk geure van Frankryk en Suid-Afrika bymekaar, met ’n spyskaart geïnspireer deur seisoenale, plaaslike bestanddele en die kunsvaardigheid van oopvuurkook soos ons oumas destyds gedoen het.

Die pragtige restaurant soos van die proelokaal se brug gesien. Erfenis word oral gehuldig, maar met ’n kontemporêre aanslag. (Foto: Clifford Roberts)

Op die eerste bladsy verklaar dit: “This is not fancy, this is farm. Honest fare. Simple done spectacularly well.”

Getrou aan sy naam – vriend in Frans – is L’Ami ’n viering van vriendskap, familie en samesyn, gepaard met La Motte se uitsonderlike wyne.

Ons geniet die biefstuk met beenmurg Bordelaise en “aspatat met fynbosheuning”. (Foto: Clifford Roberts)

Ons geniet die biefstuk met beenmurg Bordelaise, “aspatat met fynbosheuning” en blomkool wat in die kole gebak is, voor die finale rondte van “Japie se gunsteling”-poeding wat veerlig en vla-agtig saam met vanieljeroomys op die tong dans. My geliefde kan nie die “Polisiekoffie” – Richelieu-brandewyn met koffie en room – weerstaan nie.

Die finale rondte is “Japie se gunsteling”-poeding wat veerlig en vla-agtig saam met vanieljeroomys op die tong dans. Japie se gunsteling is nou my gunsteling! (Foto: Clifford Roberts)

Die laaste lekkerte vir die dag is by die Plaaswinkel waar jy die allermooiste geskenke, mandjies, mooi kerse en selfs koffietafelboeke kan koop. Dit word in samewerking met Berdine Swart, eienaar van The Local Edit en stigter van The Apiary Studio, bedryf. Sy werk op haar beurt saam met Marize Albertyn en die winkel is ’n fees van plaaslike ontwerp.

Die allerlaaste inloerplek is die Spens waar ek moskonfyt en plaasbotter koop vir die mosbolletjies wat saamgaan huis toe nie. Dié ruimte herinner aan my ouma se spens met sy varsgebak, konfyte, olies, asyne en tuisgebakte beskuit.

Deel van die lekker oeservaring is mosbolletjies en yskoue vonkelwyn van die plaas. (Foto: Clifford Roberts)

Wat jy alles moet weet van die oeservaring:

Die La Motte-oeservaring is beskikbaar tot 31 Maart en kos R190 per persoon, wat ’n wingerd- en keldertoer en wynproe insluit. Dit neem ongeveer 90 minute en kan Dinsdae tot Sondae om 10:00 en 15:30 gedoen word.

Dit behels:

In die wingerd – leer meer oor die verskillende variëteite, oesprosesse en die landgoed se biologiese boerderypraktyke. Kyk of jy die verskil tussen die verskillende variëteite kan uitken en proe die soetheid van die ryp druiwekorrels.

Dis die eerste maal wat ek kans kry om al die kultivars in die wingerd te proe en al die eienskappe wat ons aan wyne toeken, reeds in die korrels te proe. (Foto: Clifford Roberts)

In die kelder – sien die verskillende kelderaktiwiteite en proe selfs van die druiwemos (gissende druiwesap) uit ’n fermentasietenk. (Kelderaktiwiteit sal afhang van die spesifieke dag se oesbeplanning.)

In die proelokaal – proe ses wyne van die La Motte Classic en Estate Collection. Geniet ook die geliefde – en seisoenale – La Motte-mosbolletjies!

In die verkoelde proelokaal kan die ure heerlik verbygekuier word. (Foto verskaf: La Motte)

In die skaduwee van die ou eikebome – ontspan in die rustige atmosfeer van die landgoedtuine en geniet ’n ligte oes-geïnspireerde spyskaart uit L’Ami Family Brasserie, met ’n glas wyn, natuurlik! (Slegs beskikbaar as deel van die oggendsessie.)

’n Heerlike oesspyskaart is addisioneel en opsioneel beskikbaar as ’n ligte middagete na die oggendsessie van die oeservaring teen R150 per persoon. Kies tussen Wynland-gunstelinge en somersmake: plaaswors met tuisgemaakte druiweblatjang en mosterd, Kaaps-Maleise stokvissamoosas met ’n druiwesalsa of amandelgazpacho met druiwe en kruie. ’n Glas La Motte Sauvignon Blanc of Millennium (of koeldrank) is ingesluit.

Die pragtige spens, galery, plaaswinkel, proelokaal en restaurant is alles rondom ’n groen vierkant uitgelê, waar jy onder die reusebome kan ontspan. (Foto: Clifford Roberts)

Besprekings vir beide die oeservaring en ’n opsionele ligte middagete, asook etes by L’Ami Family Brasserie of die bakkery, is noodsaaklik en moet aanlyn gemaak word. Meer inligting by www.la-motte.com.

Die Ateljee is Woensdag tot Sondag 10:00–17:00 oop; die Plaaswinkel Dinsdag tot Sondag 09:00–17:00 en die Spens Dinsdag tot Sondag 09:00–17:00.

En moenie vergeet om voor jy huiswaarts keer van La Motte se bekende oestydmosbolletjies en ’n keuse van oes-geïnspireerde brode by die La Motte Bakkery vir die duur van die oes te koop nie. Hulle verkoop soos soetkoek, so om teleurstelling te voorkom, bestel eerder joune vooraf by Bonita by (021) 876-8825 of e-pos bakery@la-motte.co.za.

Lees ook:

Herlewingslandbou hier die wagwoord – en jy kan dit proe!

Toe nie wilder as wild by Wildekrans!

Cap Classique sit vonkel in die feestyd

Of history and Cape wine, on a road less travelled

Dinner at the very edge of history

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top