Toe nie wilder as wild by Wildekrans!

  • 0

Foto’s: Clifford Roberts

Drie salige dae by Wildekrans-wynlandgoed buite Botrivier is net wat ’n moeë stadsiel nodig het. En boonop is dit net ’n katspoegie van Kaapstad af, wat beteken jy is op die plaas nog voor jou agterwêreld in die motor deurgesit is.

Ons moet natuurlik eers by Peregrine Padstal op die N2 indraai vir ’n steak ’n kidney pie en koffie voor ons die laaste halfuur aandurf. Dis al só deel van ons reisritueel, dit voel soos heiligskending as mens dit sou oorweeg om verby te ry.

Die plaas is stil toe ons tussen die wingerde, sitrus- en olyfboorde deurry na die verblyfparkering, want die restaurant en wynproe is toe op ’n Maandag en Dinsdag. Dis my dierbare pa se 95ste verjaardag wat ons hierdie mid-week wegbreek laat bespreek het. Tyd is kosbaar en ons wil eintlik so min moontlik doen.

Die vriendelike gesig van Meche Matalie loer by die ontvangsdeur uit en sy gaan wys ons waar ons huisie is.

Bo en onder: As jy – soos ons – net wil ontspan, bespreek verblyf in een van nege huisies (8 x 2 slaapkamer en 1 x 3 slaapkamer). (Foto’s: Clifford Roberts)

Daar is ’n ligte windjie in die riete by die swembad toe ons verbystap en sy beduie net anderkant die huisies is die (nou) rustige Botrivier. Die reuse-sandwalle en ’n paar skopgrawe stroomop is die enigste tekens dat Moeder Natuur soms haar humeur kan verloor en oor haar walle bars, brûe wegspoel en groot dongas in teerpaaie ruk. Dis ook die rede hoekom die bergfietsroete op die plaas nog gesluit is, maar ons is heel gemaklik om net lekker te ontspan en te gaan stap.

Met alles weggepak in ons selfsorghuisie, is dit tyd vir koue borrels op die stoep. Die plaas se Cap Classique Brut Rosé het lekker geure van roosblaar, rooi appel en aarbei en dit dans verfrissend op die tong.

Hoe lekker om lengtes te swem of sommer net op jou rug te dryf en die wolkies te sien verbydryf.

In ons huisie lê ’n inligtingstuk en ek lees: “Wildekrans is ’n 1 000 hektaar landgoed in die Botriviervallei. Die woord Botrivier kom oorspronklik van die Khoi-naam vir die rivier Gouga, wat ‘baie vet’ beteken. Die gebied is Gouga Kamma (‘Plek van veel vet’) genoem totdat die Nederlandse woord vir botter en vet die oorspronklike naam vervang het. Die vroeë Botrivier-plaas in besit van Adriaan van der Stel het bestaan ​​uit Compagniesdrift (Beaumont Family Wines), Roodeheuwel, Botrivier Outspan en Keer Weerder – wat ‘kom weer’ beteken. Vir drie eeue was hierdie plase die plek waar reisigers hul osse en waens langs die Botrivier uitgespan het, en dit is hoe Botrivier bekend geword het as die poort na die Overberg.

“Later sou die plaas, Keerweer, herdoop word na Wildekrans Wynlandgoed.”

Die oorspronklike geboue, insluitend die nou proelokaal en restaurant, dateer uit die 1860’s en is steeds teenwoordig, terwyl die oorspronklike betonvate en kuipers in die ou kelder (gebou deur Kannemeyer in die laat 1920’s) steeds sterk staan.

Bo en onder: Die proelokaal is in die historiese ou geboutjie ingerig en lekker knus. (Foto’s: Clifford Roberts)

Met die eerste tekens dat die son agter ons huisie begin sak, is die vuurtjie op die stoep aan die knetter vir braai, terwyl die natuur kunstenaar speel teen ’n oneindigende skilderdoek wat die hele horison in beslag neem.

Ons is vir lang rukke net stil. Kyk hoe die kiewiete op die grasperk kom wei; dan hoe verskillende voëls in formasies teen die pienk hemel anderkant die riete kom nesskop vir die nag. Twee blouvalkies skree soos maer varkies op mekaar en ons vermoed dis omdat albei se mae vir dieselfde muis draai en daar nou ongelukkigheid is oor wie se gebied dié nou eintlik is.

Lank nadat die kole dood is, die huis stil is en ons behaaglik longe vol vars plaaslug ingeadem het, kom die sterre. Strepe helder en valer sterre wat die pikgitswart hemel verlig.

Saligheid.

Dis bitter vroeg toe die voëlgesang ons wakker maak. Daar het ’n paar druppels oornag geval en alles lyk vars en skoon.

........
Spreeus sit soos musieknote ingeryg op die telefoondraad.
........

Met koffie op die stoep, kyk ons hoe hulle vroegoggend in die druiweprieel op ’n vrugtedieet gaan. Swaeltjies swiep laag oor die grasperk en hap bekkies vol insekte, terwyl fyn reëndruppels op hul vlerkies soos piepklein pêreltjies saamgly.

Spreeus sit soos musieknote ingeryg op die telefoondraad.

Ontbyt is ingesluit en elke oggend stap ons die paar treë na die mooie restaurant waar sjef Gordon Manuel en sy span klits en klop en bak en sny en skil. Oor die wingerde in die verte wil-wil die sonnetjie deurbreek, maar lae wolkies beloof nog ’n paar druppels reën.

My pa doop die “Keer Weer”-ontbyt met sy gebakte eiers, spek, wors, sampioene, tamaties en roket, “Weer Weer”, want dis só lekker dat hulle dit maar weer kan bring.

Terug op die stoep maak ons weer koffie en speel kaart. Die geritsel van die briesie in die riete neffens die huisie is ’n gerusstellende wiegeliedjie en gou is almal lomerig, maar net toe roep ’n visarend! Die ongeloof op my pa se gesig is amper lagwekkend. Hy kyk baie natuurprogramme op die kassie, maar só ’n eerstehandse ervaring van die natuur, is raar. Hy lag en sê die voël het seker ook gehoor dis sy verjaardag ...

Die oes is onderweg tydens ons kuier. (Foto: Clifford Roberts)

Ons gaan ry ’n draaitjie in die omgewing en stop gereeld langs die pad om net in die oomblik te wees. My pa klim uit, bekyk elke bossie, vra uit oor elke voëltjie wat ons gewaar en geniet die fles koffie en beskuit wat ons ingepak het.

Laatmiddag meld ons by die proelokaal aan, waar die prieel die stoep omraam, en doen die wynproe. Daar is ’n Cap Classique-reeks (wat per glas of bottel gekoop kan word, maar nie geproe kan word nie); ’n landgoedreeks; en ’n Barrel Select Reserve-reeks.

Wynmaker De Wet Viljoen is juis anderkant die proelokaal saam met die spanne doenig om suikermonsters te neem om die 2025-oes optimaal te pluk.

Wynmaker De Wet Viljoen kyk na die stand van die wingerde en druiwe. (Foto: Clifford Roberts)

Met die somer hier, is my geliefde onmiddellik versot op die Barrel Select Reserve Chenin Blanc, maar my hart trek maar altyd ’n punt na ’n Pinotage, en Wildekrans se Barrel Select Reserve Pinotage is heerlik speseryagtig met donker vrug en pruim wat afgewissel word met donkersjokolade en ’n lang, vrugtige geur wat op jou tong talm. Net reg vir ons varkribbetjie wat vanaand gebraai word!

.........
Dis juis vanjaar 100 jaar sedert Abraham Izak Perold Cinsaut (Hermitage genoem destyds) en Pinot Noir gekruis het om die unieke, eg Suid-Afrikaanse Pinotage te maak en ons is patrioties!
........

Dis juis vanjaar 100 jaar sedert Abraham Izak Perold Cinsaut (Hermitage genoem destyds) en Pinot Noir gekruis het om die unieke, eg Suid-Afrikaanse Pinotage te maak en ons is patrioties!

By die kruietuin agter die kombuis hang mossies op die houtheining rond. Hoopvol? Opportunisties of net mossie? wonder ek hardop.

Ons het ook van die Cabernet Franc uit dié topreeks gekoop, maar kon dit nie proe nie en die versoeking is groot om dit ook oop te maak, maar ons besluit daarteen.

Dis nie baie plase wat Cap Classique van Shiraz maak nie, so hierdie een is nie net raar nie, maar ook heerlik. (Foto: Clifford Roberts)

Daar is baie om te doen in die omgewing en ons gaan proe Cap Classique’s by Genevieve, ’n katspoegie van Wildekrans. (Foto: Clifford Roberts)

Die vuurtjie knetter weer toe twee Belge langs ons intrek en uitvra oor wat ons braai. Dis natuurlik veral die braaibroodjies wat aandag trek. Hulle is doodmoeg gereis en gaan knip ’n uiltjie, maar kyk met lang oë na ons tjoppies en sê dit sal darem maar lekker wees om onder die sterre by die vuurput voor ons huisies te sit.

Hul ligte is egter vroeg af en dis weer net ons en die hemele.

........
Ons smul aan wildsvleis-carpaccio met shiitake-puree, gepekelde shimeji met kruie en krakerige uie vir voorgereg, voor die murgsagte Karoolam met bros aartappels en boontjie-cassoulet, asook die varklies met appel en pak choi ons mae verlei.
........

Bo en onder: Sjef Gordon Manuel en sy span doen wonderwerke in die kombuis. (Foto’s: Clifford Roberts)

Regs: Ontbyt is by jou selfsorgtarief ingesluit en is feestelike gedoentes met voorslag kos. (Foto’s: Clifford Roberts)

Die volgende oggend herhaal ons die ontbytritueel, maar gaan baie vroeër, want ons het ook vir middagete bespreek.

Ons besluit om tussen dié groot eet so ’n draai te ry en beland by Genevieve MCC af in die pad. Hier proe jy drie Cap Classique’s van wynmaker Melissa Genevieve Nelsen en een stilwyn van haar lewensmaat, Leon Engelke se The Unicorn-etiket.

Terug Wildekrans toe, want ons is rasend honger. Sjef Gordon Manuel se kos is heerlik. Ons smul aan wildsvleis-carpaccio met shiitake-puree, gepekelde shimeji met kruie en krakerige uie vir voorgereg, voor die murgsagte Karoolam met bros aartappels en boontjie-cassoulet, asook die varklies met appel en pak choi ons mae verlei.

Ná ’n lang kuier onder die pragtige kristalkandelare met die groen plakpapier as agtergrond, is ons lui en gaan stap vir oulaas in die plaaspaadjies voor ons huiswaarts keer.

Ons harte is vol vrede en ons kattebak vol Wildekrans-wyn toe ons oor Sir Lowryspas huiswaarts keer!

Kitsfeite

  • Die plaas is baie sentraal vir daguitstappies na die wynplase van die Botrivier Wynroete of na Kleinmond en Hermanus. Daar is baie dinge te doen wat jou dae kan besig hou. As jy – soos ons – net wil ontspan, bespreek by www.wildekrans.com vir verblyf in een van nege huisies (8 x 2 slaapkamer en 1 x 3 slaapkamer).
  • Net buite die plaashek is daar verskeie opsies om by padstalle en restaurantjies te stop. Jy kan van wildsvleis, kaas en olyfolie tot proteas, varsgebakte brood en wyn koop. Ontdek op jou eie tyd die lekkerbekkighede.
Lees ook:

Cap Classique sit vonkel in die feestyd

Herlewingslandbou hier die wagwoord – en jy kan dit proe!

Glaskas in die woud lawe die siel

Vind jouself weer in die Klein Karoo

Boere-braai in die Boere-Bahamas

Bewaring en voortreflike kos op een bord

Dis nou koserfenis hierdie!

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top