Vier vanjaar Internasionale Chenin-dag met ’n besondere vrou in gedagte

  • 0
 

Groot Phesantekraal dateer uit 1698 en spog met pragtige Kaaps-Hollandse erfenis.

........
Anna de Koning is amper ’n Suid-Afrikaanse Aspoestertjie-verhaal. 
Sy was Suid-Afrika se eerste vroulike grondbarones van kleur.
........
  • Foto’s: Clifford Roberts en verskaf

Dis altyd ’n voorreg om jou glas met yskoue Chenin in die rondte te draai; die geure van spanspek, amandels en nougat wat jou neusvleuels tokkel en dan die heerlike ontploffing van sitrus en soet neute op die tong. Dis ook lekker dat Internasionale Chenin Blanc-dag in die hartjie van die winter gevier word, want dit gee jou kans om midde dae van kaggels en rooiwyn, jou gunstelingbottel Chenin vir dié geleentheid uit te haal.

Daar is onverwagte reën met ons kuier by Groot Phesantekraal buite Durbanville, toe ek juis met ’n glas van een van my Chenin-gunstelinge, die Anna de Koning Reserve Chenin Blanc 2023, in my hand staan.

Die gedenkplaat wat teen die restaurantmuur pryk.

Die rede vir my kuier is veel meer as net my liefde vir Chenin of vir dié historiese plaas. Die blou erfenis-gedenkplaat wat teen die restaurant neffens die proelokaal onthul word, is die rede hoekom ’n groepie aanhangers onder groot sambrele van die reën probeer skuil.

Maar soos my ouma gesê het: As daar reën val op ’n spesiale dag, beteken dit net voorspoed.

Maar kom ek begin by die begin. Anna de Koning is amper ’n Suid-Afrikaanse Aspoestertjie-verhaal. Soms word haar van ook as “de Koningh” of “de Coningh” in geskiedenisboeke aangedui, maar die spelling van haar van neem beslis niks weg van die feit dat sy merkwaardig was nie.

Die proelokaal is ’n nuwer aanbouing en skakel baie mooi by die historiese ou geboue in. Binne bring handgeverfde teëls die Kaaps-Hollandse erfenis in.

Sy was Suid-Afrika se eerste vroulike grondbarones van kleur. Sy het Groot Phesantekraal besit, jare nadat sy as slaaf aan die Kaap aangekom het. Sy is iewers tussen 1656 en 1661 in Batavia (Jakarta, Indonesië) gebore.

Haar skets pryk al vir 11 jaar op die Anna de Koning Chenin Blanc-etiket, maar sedert 8 April het sy amptelike erfenisstatus op die plaas. Mense kom van heinde en verre om al Suid-Afrika se blou plaatjies te kom nary en dis die derde een in die Durbanville-streek. Die dorp vier vanjaar sy 200ste jaar en des te meer rede om weer ons glase vol te skink. Die ander twee plaatjies is by die dorp se laer- en hoërskool, wat uit 1827 dateer.

By die onthulling van die gedenkplaatfunksie is van links: Andrew Jones (ondervoorsitter van die Kaapstadse Erfenisstigting), Ian Pretorius (voorsitter van die Kaapstadse Erfenisstigting) en André (Oubaas) Brink (Groot Phesantekraal se vierdegeslag-Brink en huidige eienaar).

Uit die kombuis kom die reuke van sjef Germaine Esau se wonderlike streekskos en die kurke klap uit die plaas se 100% Chardonnay Cap Classique Blanc de Blanc om die heuglike gebeurtenis te vier.

Ian wens die Brinks geluk met hul erfenisbewaring en ook vir die prominente plek wat hulle vir die plaatjie gekies het. “Ek sê ons moenie die stad rooi verf nie; dit moet blou wees! Hoe meer erfenisplekke deel word van die internasionaal-erkende blou plaatjies, hoe beter.

........

“Anna de Koning – het aan die Kaap gearriveer as dogter van die slavin Angela van Bengal, wat in 1666 bevry is. Anna het met Olof Bergh – die voorvaders van die Bergh-familie – getrou [en] Olof se hele rykdom, waaronder Groot Phesantekraal, in 1724 geërf.”

........

“Die blou gedenkplaatskema het in 1866 in Londen ontstaan en is deur die Society of Arts (later die Royal Society of Arts) begin om die huise en werkplekke van bekende mense te merk,” vertel hy.

Op die plaat voor die restaurant staan: “Anna de Koning – het aan die Kaap gearriveer as dogter van die slavin Angela van Bengal, wat in 1666 bevry is. Anna het Olof Bergh – die voorvaders van die Bergh-familie – getrou. Ongewoon vir die tyd, bestaan daar ’n dubbelportret van die paartjie. Anna het Olof se hele rykdom, waaronder Groot Phesantekraal, in 1724 geërf.”

Natasha de Villiers (Durbanville Wynroete-voorsiter) en Johann Theron (Groot Phesantekraal-handelsmerkbestuurder).

Groot Phesantekraal is sedert 1897 in die Brink-familie en het wêreldwyd erkenning gekry vir sy wyne, beeste, skape en koringlande, en vir sy verreikende, volhoubare landboubeginsels. André, vierdegenerasie-eienaar, is verlede jaar deur Landbouskrywers SA as Boer van die Jaar aangewys vir sy “baanbreker- en inspirerende benadering tot landbouvolhoubaarheid en voedselsekerheid”.

Sjef Germaine Esau kook vir ons heerlike streekskos.

Hy sê: “Die plaas geniet ’n buitengewone lang erfenis. Terwyl Durbanville as ’n dorp vanjaar twee eeue vier, strek ons wortels byna 330 jaar terug. Die sesde geslag Brinks loop reeds hier op die plaas rond.

“Ons het besluit om Anna te vier met ons kenmerkende koelklimaat-Chenin Blanc, wat gedeeltelik in amfora en gedeeltelik in eikehoutvate verouder is, maar dis maar net een manier om die verlede te eer.

Bo en onder: Die heerlike, heilsame disse wat op die restaurantspyskaart pryk.

“Ons het ook ons ​​18de-eeuse geboue gerestoureer, insluitend ons restaurant wat in die ou stalle vir muile en perde ingeruim is, wat terugdateer na 1767, waar ons geregte bedien wat die nalatenskap van plaaslike kultuur en gebruike dra,” vertel die Brinks oor lamsafval en rys. Die geboue op die plaas is almal Kaaps-Hollands en hul plaashuis dateer uit 1720.

Die restaurant se mure is versier met handgeverfde teëls van die bekende keramiekkunstenaar, Ella-lou O’Meara, wat hulde bring aan dié Kaaps-Hollandse erfenis, en in die proelokaal beeld wit en groen teëls van Michael Chandler die plaas se uitleg uit.

Wat hierdie stalle nie alles oorleef het nie. Vandag huisves dit die restaurant op Groot Phesantekraal.

Die eerste vertrek in die restaurant is keurig en het lekker vars produkte uit die kombuis en die wyne is ook op uitstalling.

Oubaas sê: “Ons het ’n verantwoordelikheid om ons erfenis te bewaar. As ons dit nie doen nie, sal dit verlore gaan. Ons moet ook maniere saam met die owerhede vind om vinniger goedkeuring te kry vir opknappings aan historiese geboue.”

Op die koel klipvloer lê Oubaas se vierbeen skaduwee, Junior. Hy is nooit ver van sy baas se sy nie.

Die plaas se bekroonde wynmaker, Richard Schroeder, skink vir ons elkeen ’n klein teugie van die Anna de Koning Limited Edition 2011 Barrel Fermented Chenin Blanc; die laaste bottel in hul besit, wat daardie oggend as geskenk aan hulle gegee is.

........
Hy is liries oor Chenin. Dis duidelik uit sy opgewondenheid as hy oor die kultivar praat. “Chenin is die basis van die wynbedryf in die Wes-Kaap. Chenin is ons stapelkos. Ons is die ‘Huis van Chenin’ in die Durbanville-wynvallei.”
........

Die plaas se bekroonde wynmaker, Richard Schroeder.

Richard gooi vir ons elkeen ’n teugie van die 2011-oesjaar.

Hy is liries oor Chenin. Dis duidelik uit sy opgewondenheid as hy oor die kultivar praat. “Chenin is die basis van die wynbedryf in die Wes-Kaap. Chenin is ons stapelkos. Ons is die ‘Huis van Chenin’ in die Durbanville-wynvallei.”

Anna was die dogter van die slavin bekend as Angela van Bengal van die Gangesdelta in Indië en moontlik François de Koninck (de Coninck) van Gent, nou deel van België. Daar is uit sommige rekords afgelei dat sy saam met haar ma deel uitgemaak het van die huishouding van die Kaap se eerste Oos-Indiese bevelvoerder, Jan van Riebeeck.

........
Ons weet Anna was buitengewoon, want dit was ongewoon vir ’n persoon van slaweoorsprong om haar portret te laat skilder.
........

Alhoewel bewyse uit daardie 17de-eeuse tye skraps is, is wat bevestig kan word dat hy in 1666, toe haar ma se destydse eienaar, Abraham Gabbema, na Batavia oorgeplaas is, Angela, saam met drie van haar kinders, insluitend Anna, bevry het.

Ons weet Anna was buitengewoon, want dit was ongewoon vir ’n persoon van slaweoorsprong om haar portret te laat skilder. Sy verskyn ook in ’n foto saam met haar man, Olof Bergh, wat vermoedelik uit ongeveer 1685 dateer en na bewering in die Iziko Museum-versameling is.

Anna de Koning se skets pryk al vir 11 jaar op die Anna de Koning Chenin Blanc-etiket.

“Sy het in 1678 met Bergh, ’n Sweedse ontdekkingsreisiger en amptenaar van die Nederlandse Verenigde Oos-Indiese Kompanjie (VOC), getrou. Hy het ’n aansienlike fortuin bymekaar gemaak. Al het hy langs die pad verskeie terugslae gely, het sy dit verduur en deurgaans aan sy sy gebly.”

Olof het in 1676 aan die Kaap aangekom en gou ’n gunsteling van goewerneur Simon van der Stel geword. Met die taak om die skatte namens die VOC uit ’n plaaslike skeepswrak te haal, is hy daarvan beskuldig dat hy die waardevolle goedere vir homself gehou het.

Hy is skuldig bevind en na Robbeneiland verban en Anna is saam met hom. Ná drie jaar is hy bevry en is hy die keuse gegee om sy vorige rang – weg van die Kaap – te hou of sonder enige rang aan die Kaap te bly. Hy het verkies om sy rang te behou en sy gesin na Ceylon (Sri Lanka) geneem, wat toe onder die VOC geval het.

In 1695, ná vyf jaar in Ceylon, het Bergh saam met sy gesin na die Kaap teruggekeer.

Anna word vereer met die koelklimaat-Chenin Blanc, wat gedeeltelik in amfora en gedeeltelik in eikehoutvate verouder is.

Anna de Koning se skets pryk al vir 11 jaar op die Anna de Koning Chenin Blanc-etiket.

Terwyl ons teug aan ’n 14 jaar oue witwyn wat steeds heerlik is, gaan Richard voort: “Anna was nie die eerste eienaar van Groot Phesantekraal nie. Sy het dié eiendom – saam met verskeie ander belangrike plase – in 1724 geërf toe haar man dood is. Dit het haar een van die rykste mense van daardie tyd gemaak.”

Oubaas sluit by hom aan: “Sy het 11 (sommige sê 12) Bergh-kinders gebaar, wat haar die stammoeder maak van die nou wydverspreide Bergh-familie in Suid-Afrika. Terwyl haar skoonheid, rykdom en status haar ’n uiters geskikte huweliksmaat gemaak het, het sy ’n weduwee gebly tot haar dood in 1734. Die landgoed wat sy nagelaat het, het nie net Groot Phesantekraal ingesluit nie, maar baie ander plase, insluitend Groot Constantia.”

Ronelle voeg by: “Terwyl vroue se lewens daardie jare nie naastenby so volledig as mans s’n gedokumenteer is nie, weet ons wel dat in die tyd van Willem Adriaan van der Stel as goewerneur aan die Kaap (1699 tot 1707), toe hy ontslaan is weens monopolistiese en onetiese optrede, dat Anna sy vrou, Maria, gekeer het om selfmoord te pleeg.”

Dit is volgens ’n dagboekinskrywing van Adam Tas – een van die boere wat beswaar gemaak het teen Van der Stel se weë en ’n leidende rol in sy afdanking gespeel het – op 24 Desember 1705. Hier skryf hy dat “die goewerneur se vrou in ’n vlaag van moedeloosheid haarself probeer verdrink het deur in die fontein agter die huis in die Kaap te spring. Mev Bergh was naby en het gehardloop en haar uit die water getrek, terwyl die goewerneur se vrou bitterlik betreur het dat haar lewe vir haar een van verskrikking geword het, vanweë die vele skandalige dade wat sy daagliks moet aanhoor en aanskou.”

........
“Anna se merkwaardige lewe is in baie opsigte tekenend van Suid-Afrika se fassinerende en diverse geskiedenis en kan verduidelik hoekom sy die onderwerp van twee romans – Kites of good fortune: the story of Anna de Coningh deur Therea Bernadé en Woman of freedom: the story of Anna de Koning deur Lauren Jacobs – was.”
........

Oubaas sê uit hierdie storie kan ons aflei dat sy ook ’n deernisvolle en empatiese vrou was. “Anna se merkwaardige lewe is in baie opsigte tekenend van Suid-Afrika se fassinerende en diverse geskiedenis en kan verduidelik hoekom sy die onderwerp van twee romans – Kites of good fortune: the story of Anna de Coningh deur Therea Bernadé en Woman of freedom: the story of Anna de Koning deur Lauren Jacobs – was.”

Ons klink weer ’n glasie op haar toe Richard ons ook die 2023- en 2024-oesjare van die Anna de Koning Chenin Blanc laat proe.

Hy vertel: “Hierdie nuutste oesjaar is komponente van oud en nuut. Dis elegant. Later vanjaar stel ons ook ’n Sparkling Chenin bekend, wat ongeveer die helfte van die Cap Classique se prys sal wees. Dit gee wyer geleentheid aan ons aanhangers.

Die kurke klap uit die plaas se 100% Chardonnay Cap Classique Blanc de Blanc om die heuglike gebeurtenis te vier.

Murgsagte biefstuk is met die plaas se Pinotage bedien. Pinotage vier vanjaar sy 100ste bestaansjaar, so daar was genoeg rede om fees te vier.

Die estetika van vieringe lyk dieselfde. Ons bied net ’n goedkoper alternatief ook – die een is in die tradisionele sjampanjestyl gemaak; die ander is wyn wat gas bykry en die kultivars verskik ook. Die Cap Classique is van Chardonnay en die Sparkling Chenin is van Chenin Blanc.”

Ek lig binnekort met Internasionale Chenin-dag ’n glasie op Anna en haar nalatenskap en die Brinks en hul nalatenskap.

Richard vertel: “Wynliefhebbers kan ’n heildronk op die merkwaardige Anna kom drink wanneer die huidige oesjaar van die Anna de Koning Chenin Blanc op vanjaar se #DrinkChenin-dag, Saterdag 14 Junie, op die plaas te proe is. Die druiwe kom uit wingerde wat in Malmesbury-skalie groei, bo-op ’n mengsel van klei- en ystergrond. Dis ons vlagskip en daar is ’n beperkte hoeveelheid bottels beskikbaar. Die wyn staan uit vir sy ryk en gekonsentreerde heuning- en sitrusgeure, maar elegante profiel en verfrissende balans.”

Lees ook:

Geskiedkundige jaar vir dorp én wynplaas

Dinner at the very edge of history

Cap Classique sit vonkel in die feestyd

Ontvlug na tradisie by Vriesenhof

Toe nie wilder as wild by Wildekrans!

Erfenis en die toekoms leef hier in harmonie

Suid-Afrikaanse brandewyn bly ’n trotse 350-jaar geskiedenis weerspieël

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top