
Foto: verskaf
Alwyn Roux het ’n onderhoud wat ek gevoer met Earl Basson oor sy wisseldosentskap aan die Universiteit van Leiden vroeër vanjaar. Earl het die tweede deel van die wisseldosentskap beklee. Alison Stander was eerste daar. Haar onder onderhoud kan hier gelees word.
Jy en Alison, wat was die spesifieke fokus van julle onderskeie gasdosentskappe vanjaar? Watter aspekte van die Afrikaanse taalkunde het julle vir die Leidse studente uitgesonder en wat het hierdie keuse gerig?
In my afdeling het ek op sosiolinguistiek gefokus. Die module het ’n oorsig van die taalpolitiek van Afrikaans gebied. Teen die agtergrond van Afrikaans se 100ste jaar van amptelike taalstatus wou ek die politieke geskiedenis van Afrikaans met die studente deel.
Oor die ses weke het ons op verskillende dele gefokus, byvoorbeeld die standaardisering van Afrikaans, die geskiedenis van Kaapse Afrikaans, die rol van taalonderrig in taalapartheid, taaldemokratisering, ens. Ons het ook na verskillende dokumentêre en onderhoude oor die ingewikkelde geskiedenis van Afrikaans gekyk. Hierdeur het die studente blootstelling aan ander belangrike figure in die Afrikaanse spraakgemeenskap gekry, byvoorbeeld Diana Ferrus en Neville Alexander.
Hoe het die Nederlandse studente Afrikaans as voorwerp van taalkundige ondersoek benader? Watter elemente het hulle die sterkste geboei en waar het hulle die meeste weerstand of verwondering ervaar?
Die studente het die module interessant gevind. Alison het reeds die geskiedenis ingelei sodat ek maklik op hul kennis daarvan kon voortbou.
Hulle het die les oor die geskiedenis van Kaapse Afrikaans baie geniet en was byvoorbeeld veral gefassineer deur die Arabiese geskiedenis van Afrikaans. Tydens een van die lesings het ons die dokumentêr Afrikaaps gekyk, wat hulle ook baie geniet het!
Die studente het lewendige besprekings gehad, byvoorbeeld oor die Standaardtaal-ideologie in die skoolkonteks. Dit het hulle toegelaat om na te dink oor hulle eie taalideologieë en dit waarmee hulle grootgeword het. Dit het tot 'n interessante gesprek oor Straattaal in Nederland gelei.
Watter rol speel hierdie soort uitruil tussen Suid-Afrika en die Lae Lande in die volhoubaarheid van die Afrikaanse taalkunde as navorsingsveld, en omgekeerd?
Ek stem saam met alles wat Alison gesê het. Sy het dit mooi opgesom.
Wat neem jy uit Leiden terug op vakkundige of persoonlike vlak wat hier in Suid-Afrika verdere beslag gaan kry?
Ek sou sê die uitruil het my belangstelling in variasietaalkunde verdiep. Daar is heelwat Nederlandse navorsers wat baie cool navorsing oor Nederlandse taalvariasie doen. En ek het nog altyd gemeen dit is ’n afdeling van die Afrikaanse taalkunde wat ‘n bietjie afgeskeep word. Dit het my definitief aan die dink gesit: Hoe kan die studie van Afrikaanse taalvariasie verder uitgebou en bevorder word? Ek dink dit sluit seker ook aan by jou vorige vraag oor die rol van sulke uitruilgeleenthede.
*
Earl het ’n aantal foto’s gestuur om met Voertaal se lesers te deel.
Alle foto’s (c) Earl Basson
Lees ook:
In gesprek met Alison Stander oor haar wisseldosentskap aan die Universiteit van Leiden





