Jansen braak wéér gal oor Afrikaans in Stellenbosch

  • 0

Jonathan Jansen het in ’n Engelse koerant verder uitgevaar teen die winkelassistent wat hom in Afrikaans aangespreek het in Stellenbosch se Protea Boekwinkel.

Jansen beskuldig Afrikaanse mense in Stellenbosch daarvan dat hulle self hul grootste vyand is weens die “kras taalchauvinisme” wat hulle volgens hom beoefen.

“Afrikaans mors met jou emosies” skryf Jansen in ’n rubriek in die Sunday Times se aanlynkoerant Times Select, met verwysing na die gesprek wat hy met die winkelassistent gehad het. Die opskrif van sy rubriek is “Crass language chauvinism makes Afrikaans speakers their own worst enemy”.

Hy sê deur in Stellenbosch te woon, bevind hy hom gedurig tussen die skoonheid van die Afrikaanse taal en sy bytende chauvinisme. “Afrikaans kan verwarrend wees as jy swart is en dit is nie jou eerste taal nie.”

So werk dit sê Jansen: “Die een oomblik lees ek die roerende Afrikaanse poësie van Shirmoney Rhode waarvan ek dele aanhaal in die boek oor my ma met die titel Lied vir Sarah. Die volgende oomblik gebeur die volgende in ’n Stellenbosse boekwinkel.” Dan plaas hy weer die gesprek met die winkelassistent wat hom genoop het om sy vloermoer op Twitter en Facebook te gooi:

Me: Good morning.
She: Waarmee kan ek help?
Me: I am looking for stationery.
She: Is jy die prof van die Vrystaat?
Me: No, I am DJ Black Coffee.  

“Afrikaans messes with your emotions like that,” skryf Jansen in die Times na aanleiding van bogenoemde gesprek.

Hy sê in ’n beskutte plek soos Stellenbosch ervaar mens die emosionele sweepslae van voorvalle met Afrikaans elke liewe dag. “Die mees algemene van hierdie ervarings is in die handel waar baie Afrikaanssprekendes botweg weier om in die taal waarmee jy hulle aanspreek met jou te kommunikeer. Vandaar my pos op sosiale media wat bitsige aanlyn-kommentaar van wit Afrikaanssprekendes uitgelok het.”

Hy beweer hy het die winkelassistent in sy huistaal aangespreek, maar dat sy voorgegee het om hom nie te hoor nie en aangehou het om Afrikaans met hom te praat. “Sy het my as onsigbaar behandel deur in Afrikaans voort te gaan. Op hierdie stadium was ek siek en sat en reageer toe met die Black Coffee opmerking. So hier is die vraag: waarom ignoreer die vrou agter die toonbank my taalvoorkeur? Waarom hou sy aan om dit te verag dat ek Engels met haar praat?” skryf Jansen in sy rubriek.

Aan LitNet het hy vroeër die week gesê die winkelassistent was soos altyd hoflik en het hom soos gewoonlik met respek behandel. “Sy is inderdaad ’n wonderlike persoon. Maar lank voordat sy geroep is om te help weens ’n probleem by die kasregister, was daar ’n ander voorval met haar kollegas. My weergawe is honderd persent korrek,” het Jansen aan LitNet gesê toe hy kort na die voorval daaroor uitgevra is.

Hy wou nie verder kommentaar lewer nie en het gesê hy werk aan ’n lang essay daaroor wat skynbaar die een is wat later die week in die Times verskyn het. In sy rubriek rep Jansen geen woord van enige ander voorval nie, ook niks oor die winkelassistent se hoflikheid teenoor hom nie.

Daarin beskuldig hy die winkelassistent daarvan dat sy aspris was omdat daar geen twyfel bestaan dat sy gehoor het hy spreek haar in Engels aan nie. Of dat haar optrede volgens hom onbewus was weens die ingeburgerde gewoonte om Afrikaans te praat asof die kliënt se moedertaal glad nie saak maak nie.

Jansen sê hy kon natuurlik die voorval ignoreer, maar dit was nie die eerste keer dat dit gebeur het nie. Dit gebeur gereeld met mense wat nie Afrikaans magtig is nie. “In Stellenbosch het ek Afrikane van ander lande gesien wat tot trane gedryf word omdat ’n kassiere botweg weier om die een taal te praat wat beide van hulle as ’n basiese vorm van kommunikasie kan bemeester.”

Volgens Jansen is hierdie toedrag van sake onder andere daaraan toe te skryf dat Afrikaanse mense hulle as slagoffers beskou en glo hulle taal word gemarginaliseer en vertrap. Aan die ander kant posisioneer die Afrikaanssprekende homself volgens Jansen as ’n aggressiewe verdediger van die taal. “Jy sal Afrikaans praat in my plek of ek weier om jou te hoor.”

Hy sê die skerp reaksie teenoor hom ná die voorval in die boekwinkel was nie slegs van wit rassiste afkomstig nie. “Waarom kan redelike mense nie insien wat vir my en baie ander so ooglopend is nie?” Hy noem dit die Ashwin-sindroom met verwysing na die voorval toe die Springbokrugby-ster Ashwin Willemse uit Supersport se ateljee gestorm het en baie witmense nie kon verstaan waaroor dit gaan nie.

Taalchauvinisme is volgens Jansen nie beperk tot Afrikaanssprekers of wit sprekers van ’n taal nie. Hy sê taal-aggressie kom ook in Zulu voor. Die verskil tussen Zulu en Afrikaans is dat Zulu nooit ’n taal van bevoorregting was nie en ook nie die politieke mag gehad het om dit op ander af te dwing nie.

Hy sê mense onderskat ook die gevoel van verlies onder wit Suid-Afrikaners in die algemeen en spesifiek Afrikaners. Dit gaan gepaard met die koms van demokrasie. Alles het voor hulle oë verander toe hulle die politieke mag verloor het. Hy sê mense verlaat hulle dan op die enigste ding wat hulle steeds as hulle eksklusiewe eiendom beskou: daardie emosionele en baie persoonlike bron van kulturele mag, Afrikaans.

Jansen sê Afrikaans is ’n mooi taal met ’n diverse geskiedenis en is beslis nie ’n wit taal nie. “En tog is die hartseer realiteit dat Afrikaans deur Afrikanernasionalisme as ’n etniese besitting opgeëis is, en in die proses om dit op die swart meerderheid af te dwing, het Afrikaans sy eie grootste vyand geword.”

Lees ook op Voertaal en LitNet

Jonathan Jansen "flip" toe vrou hom in Afrikaans aanspreek

Jansen se vloermoer oor Afrikaans berus op "halwe waarhede"

Jonathan Jansen en Protea Boekwinkel: Frederik van Dyk reageer

Jonathan Jansen, Protea Boekwinkel en Twitter: ’n studie in wit broosheid

Buro: MvH
  • 0
Top