
Stellenbossers kon reeds ’n voorsmakie geniet van die derde Gamka Klassiekfees wat van 5–7 Junie op Prins Albert in die Klein Karoo gehou word. ’n Kamermusiekkonsert is by Jaguar Landrover se vertoonkamer op Stellenbosch gehou, as lusmaker vir die naweek se fees.

Van die kunstenaars en musikante wat by die fees gaan optree, het gaste vermaak. Die kunstenaars wat by die voorsmakie op Stellenbosch opgetree het, is van links Ryan Hurst (solis); Chloë van Loggerenberg (solis); Malané Hofmeyr-Burger (dwarsfluit); Elna van der Merwe (musikant en stigter van die Gamka Klassiekfees); Miroslav “Miro” Chakaryan (konsertmeester van die Johannesburgse Filharmoniese Orkes), en sy vrou, Susan Mouton (tjellis en ook lid van die Take Four Piano Quartet).

Elna van der Merwe
Gamka Klassiek is die breinkind van Elna van der Merwe, die bekende pianis van Stellenbosch. Sy het aan gaste vertel dat sy ’n noue verbintenis met Prins Albert het. Haar man, Deon, was op Prins Albert op skool en die gesinsplaas net buite die dorp is steeds in hul besit.

Laetitia en Mark Philips (Jaguar Landrover Stellenbosch) was die gasvrou en -heer by die geleentheid.
“Dit was nog altyd ons droom om ’n kamermusiekfees in hierdie unieke Karoodorp aan te bied. Toe ek hierdie visie met ’n paar geesgenote deel, het die droom ’n werklikheid geword – en Gamka Klassiek is gebore!
“Die fees vier trots die Afrikaanse kultuur, met Afrikaanse musikante wat hul musiek na die platteland en gemeenskappe van die Karoo bring,” het sy vertel.

Kenneth Makatees (SABC) en Japie Gouws (voorheen van die ATKV, nou Gamka Klassiek se finansiële bestuurder).
Elna is die feesbestuurder en dien ook as artistieke direkteur, ondersteun deur Japie Gouws (finansiële bestuurder), Leoné Pitts (feeskoördineerder, bemarking en skakelbeampte) en Ilzebet Oosthuizen (borgskapbestuurder).

Edward van der Merwe, Ilzebet Oosthuizen (borgskapbestuurder Gamka Klassiek) en Chareldine van der Merwe (ATKV). Die ATKV is een van die fees se hoofborge.
Gamka Klassiek word aangebied in samewerking met PACT (Prince Albert Community Trust), ’n plaaslike organisasie wat daarop gemik is om jongmense se potensiaal te ontsluit. Hul visie is om die gemeenskappe van Prins Albert te ontwikkel en transformeer deur ’n verskeidenheid programme en platforms te skep vir voorheen benadeelde individue: Dit geskied deur onderrig, opheffing, kulturele onderneming en die kweek van leierskap onder kinders en jongmense.
Elna het gaste meer oor die naweek se program vertel: Die twee operasterre wat optree, is Magdalene Minnaar (sopraan en artistieke direkteur van Kaapstad Opera) en William Berger (bariton), albei van Kaapstad Opera. Die musikante is Elna van der Merwe (klavier); Malané Hofmeyr-Burger (dwarsfluit); Zanta Hofmeyr (viool); Annien Shaw (viool); Jeanne-Louise Moolman (altviool); en Susan Mouton (tjello). Die fees se gaskunstenaars (opkomend) is Chloë van Loggerenberg (sopraan) en Ryan Hurst (liriese bariton).
Dis ook heel gepas dat Magdalene Minnaar een van die kunstenaars is wat optree. Sy was een van die jonger lede van die Pretoria Kinderkoor waar sy geleer het van ’n musikale familie en van behoort. Dis ook hier waar sy besef het hoe nodig musiek in jong kinders se lewens is.
Sy is die stigter van Little Maestros: interaktiewe klassieke konserte vir families, waar kinders mag rondbeweeg en vrae vra. Dit het later Clever Classical Kids geword, wat as deel van die weeklikse kurrikulum by kleuterskole aangebied word.
Terapeute het al telkemale bevestig dat vroeë musiekblootstelling ongelooflike wêrelde vir kinders open en hoe vroeër dit deel van hul lewens word, hoe vroeër bou daardie band en dit lei tot sosiale en taalontwikkeling. Deel van haar rol by Kaapstad Opera is om te belê in die gehore én operasterre van môre. Hoe jonger, hoe beter en dis hoekom Opera blocks vir babas en peuters – ’n interaktiewe teaterspasie waar ouers en kinders opera op ’n nuwe manier kan ervaar – suksesvol is.
Die Gamka Klassiek se naweekprogram skop Vrydagoggend om 09:00 af met ’n leesprogram, toneel en boektrommel saam met die Vriende van Afrikaans (VVA), wat deel van die ATKV is, by PACT Youth Centre (voorskools).
Om 12:00 word ’n kinderkonsert vir plaaslike laerskoolkinders gehou.
Laatmiddag is daar ’n Langtafelfees om 16:00 om die verrigtinge amptelik te open, voor almal om 19:00 na die openingskonsert, Afrikaans my hart, in die NG Kerk gaan. Daar sal verskeie bekende liedere gesing word wat wissel van “Heimwee” van S le Roux Marais en “Karoonag” van Coenie de Villiers, tot “Sonneblom uit Bethlehem” van Lize Beekman en “Liedjie vir jou” van Jannie du Toit en verskeie instrumentale nommers sal ook opgevoer word.

Saterdagoggend is daar ’n fietswedren. Almal kan die markie op die dorp besoek, voor die rieldansers, Prins Albert Vastrappers, in die straat voor die markie optree en die middagetekonsert, Fluit en strykers, in die Swartberg Hotel gehou word. Malané Hofmeyr-Burger (dwarsfluit); Zanta Hofmeyr (viool); Annien Shaw (viool); Jeanne-Louise Moolman (altviool); en Susan Mouton (tjello) sal daar optree.
Die ATKV-galakonsert, Opera-gunstelinge, word Saterdagaand in die NG Kerk gehou. Hier sal William Berger en Magdalene Minnaar, en Chloë van Loggerenberg en Ryan Hurst duette en solo’s saam met die musikante lewer.

Sondagoggend is daar ’n erediens in die kerk om 09:30 en om 11:30 word die naweek se fees met die Koffiekonsert in die Showroom-teater met die Take Four Piano Quartet (Zanta Hofmeyr op viool, Jeanne-Louise Moolman op altviool, Susan Mouton op tjello en Elna van der Merwe op klavier) afgesluit.
“Benewens PACT, werk ons saam met plaaslike gemeenskappe en besighede soos The Showroom, die Swartberg Hotel en die NG Kerk, verskeie restaurante, gastehuise en ander akkommodasievennote. Dit het al tradisie geword dat die kunstenaars op ’n Sondagoggend deel is van die erediens en die gemeente bedien met musiek en sang.”
Gaste kon na afloop van die lusmakerkonsert oor versnaperinge en wyn kuier, terwyl die reën buite die verrigtinge en komende fees geseën het.
Lees my storie oor ’n vorige kuier op Prins Albert, ’n lusmaker om die dorp te besoek: https://voertaal.nu/trek-jou-longe-vol-karoolug-op-prins-albert/.
Kitsfeite
- Bespreek kaartjies vir die fees se verskillende konserte by https://www.quicket.co.za/events/362137-gamka-klassiek-2026/#/ of bespreek vir al vier die konserte teen die afslagprys van R530 per persoon. Dit sluit nie die feesopening met die langtafel van R260 in nie – daarvoor bespreek en betaal jy afsonderlik.
- Meer inligting oor die naweek by https://gamka-klassiek.co.za of stuur ’n e-pos aan info@gamka-klassiek.co.za.
Foto’s: Clifford Roberts, Jesse Kramer en verskaf

