Die sewende Kollokwium oor Afrikaans in Gent is onlangs in die Boekentoren-kampus aan die Universiteit van Gent in België gehou. Die byeenkoms is deels aanlyn en deels op die kampus gehou. Vanjaar se temas was “Die taalkundige studie van Afrikaans in die jaar 2022: nuwe databronne, nuwe metodes” en “Klimaatfiksie – dialoë oor klimaat en omgewing in Afrikaans en Nederlands”.
Dag 1
Hoofrede: Quentin Williams
Ná die bedankings deur Yves T’Sjoen het Quentin Williams van die Sentrum vir Meertaligheid en Navorsing oor Diversiteit van die Universiteit van Wes-Kaapland die hoofrede gelewer. In sy lesing getiteld “Tot die heruitvinding van Afrikaans: ’n nie-ideologiese, interseksionele raamwerk” het Quentin die voorstel belig om ’n nie-ideologiese en interseksionele raamwerk vir Afrikaans te skep vir meertalige interaksies met Afrikaans as basis. Hy het verduidelik hoe meertalige Afrikaanssprekers hul taalgebruik by bepaalde situasies aanpas. As voorbeeld hiervan het hy sprekers van Rastafariërafrikaans op Bellvillestasie gemonitor en gekyk hoe hulle hul taalgebruik aanpas om met potensiële klante te kommunikeer.
Volgens Quentin kan ’n nie-ideologiese en interseksionele perspektief help om Afrikaans te herskep waar aandag gegee word aan nie-verbale kommunikasiepraktyke, nie-rassige ervarings en interaksie van Afrikaanssprekendes oor verskillende domeine.
Eerste sessie: Taalkunde
Die digitaliseringsproses van Afrikaans
Ná Quentin se lesing het die eerste sessie gehandel oor die taalkunde. Eerste aan die beurt was Wannie Carstens, wat sy lesing aanlyn vanuit Suid-Afrika aangebied het. Sy lesing “Die digitisering en digitalisering van Afrikaans: drome en planne” het gehandel oor die ontwikkeling van die Digitale Biblioteek van Afrikaans (DBA).
Wannie het begin deur ’n oorsig te gee van hoe hy die digitaliseringsproses oor die afgelope 25 jaar ervaar het, wat tot sy drome en planne vir die digitalisering van Afrikaans gelei het. In die proses het suksesvolle produkte tot stand gekom soos die Digitale Bibliografie van die Afrikaanse Taalkunde (DBAT) en die Bibliografie van die Afrikaanse Letterkunde (DBAL). Namate geld beskikbaar word, word tekste stelselmatig gedigitiseer. Daar is noue samewerking met die Digitale Bibliotheek voor de Nederlandse Letteren (DBNL) op die gebied van kundigheid en ervaring. Ongelukkig was daar tot dusver beperkte samewerking met vennote in Suid-Afrika. Pogings tot samewerking en koördinering is egter deur die Noordwes-Universiteit, VivA en SADiLaR aangewend. Carstens hou steeds vas aan sy droom vir ’n digitale databasis van Afrikaans, maar glo dat ’n sentrale koördineerder soos VivA die enigste hoop op so ’n projek bied.
Beskikbaarheid van digitale taalhulpbronne
Ná Wannie se lesing was Benito Trollip van SADiLaR aan die beurt met sy lesing getiteld “Die beskikbaarheid en gebruiksmoontlikhede van Afrikaanse digitale taalhulpbronne”.
Benito het begin deur te verduidelik wat presies data is. Een voorbeeld is dat dit aan die FAIR-beginsels moet voldoen. FAIR staan vir Findable, Accessible, Interoperable en Reusable. Met ander woorde data moet vindbaar, toeganklik, interbedryfbaar en herbruikbaar wees. Hierna het hy ’n oorsig oor digitale taalhulpbronne gegee, wat insluit korpusversamelings, geannoteerde en ongeannoteerde datastelle, toepassings, kode en metadata, asook die belang van ’n Basic Language Resource Kit, oftewel BLARK. Hierna het hy bespreek waar Afrikaanse digitale taalhulpbronne gevind kan word. Dit sluit in VivA, webtuistes soos Kaggle, Graz se reduplikasiedatabasis, Lanfrica en gerhard.pro, asook SADiLaR. Ten slotte het hy die gebruiksmoontlikhede van digitale taalhulpbronne bespreek en ’n oproep tot samewerking gedoen.
Eerste sessie: Letterkunde
Klimaatletterkunde: Susan Smith
Ná middagete het die tweede helfte van die dag begin met ’n gesprek met die klimaatdigters Moya de Feyter in België en Susan Smith van die Universiteit van Fort Hare in Suid-Afrika oor klimaatpoësie.
Die sessie het begin met ’n video-opname waar Susan Smith praat oor haar navorsing van ekokritiek en ekopoësie en die wisselwerking tussen navorsing en die digkuns. Sy het die belangrikheid van plek as ’n sentrale element in ekokritiek bespreek. Sy het uitgebrei oor die invloed van plek op menselewens, hoe mense daaraan geheg is, oor die verskillende soorte gehegthede en hoe ’n mens ’n bepaalde band met ’n plek smee. Susan het ook verwys na naamgewing van plekke en hoe dit ’n manier is om die mens as bewaarders van ’n plek te identifiseer. Sy het verder na die taal van ekologie verwys en die navorsing wat sy gedoen het oor plantegroei en voëlname wat minder gebruik word. Sy het haar gesprek afgesluit deur ’n paar van haar gedigte voor te lees.
Klimaatletterkunde: Moya de Feyter
Die klimaatdigter Moya de Feyter het al drie bundels gepubliseer, tewete Tot iemand eindelijk, Massastranding en Een heel dun laagje. In haar gesprek met Yves T’Sjoen het sy vertel van die Kollektief van klimaatdigters. Die groep is opgerig na die voorbeeld van Poets for the Planet en bestaan tans uit sowat 227 digters in Nederland en Vlaandere, asook Suid-Afrika, wat besorgd is oor die klimaat en iets daaraan wil doen. Onder die Suid-Afrikaanse digters in die groep tel mense soos Antjie Krog, Pieter Odendaal en Susan Smith. Die kollektief het dit ten doel om die aandag van klimaatsverandering en die mens se rol daarin opnuut onder die vergrootglas te bring. Hulle glo dat poësie ’n belangrike rol kan speel om klimaatmoegheid teen te werk en roep ander digters in die Lae Lande om by hulle aan te sluit. Moya het haar gesprek afgesluit met ’n voorlesing van ’n paar van haar gedigte.
Tweede sessie: Taalkunde
’n Aanlyn akademiese teksredaksiewoordeboek
Die volgende sessie van die taalkunde is gelewer deur Maret Blom van die Universiteit Stellenbosch waar sy gepraat het oor haar navorsing: “’n Nuwe Afrikaanse aanlyn naslaanbron: die Akademiese Redigeerwoordeboek”.
Maret het verduidelik dat studente aan hoëronderwysinstellings in Suid-Afrika se akademiese skryfvaardighede onvoldoende is en derhalwe die dienste van akademiese taalpraktisyns nodig het om hul tekste te redigeer. Vir akademiese taalversorgers lê die uitdaging weer in die gebrek aan naslaanbronne spesifiek met betrekking tot akademiese tekste. Daar bestaan dus ’n behoefte aan ’n Afrikaanse woordeboek wat spesifiek op akademiese teksredaksie gerig is. Derhalwe is ’n model vir die ontwerp van ’n aanlyn akademiese teksredaksiewoordeboek opgestel as die eerste deel van ’n groter projek om ’n volledige aanlyn Afrikaanse akademiese teksredaksiewoordeboek saam te stel. Sy het verder in haar lesing die prototipe-woordeboek gedemonstreer en terugvoer vir die verdere samestelling en ontwerp van die woordeboek gevra.
Ekspressiewe morfologie
Volgende aan die beurt was ’n lesing deur Cora Cavirani-Pots van die KU Leuven getiteld “Emotie in taal: expressieve morfologie in het Nederlands en Afrikaans”.
Cora het gepraat oor hoe in die verlede woorde wat emosie in taal uitdruk, nie as onderdeel van die grammatikale stelsel beskou is nie. Sy het egter daarop gewys dat taal nie net gebruik word om gedagtes te kommunikeer nie, maar ook emosies soos frustrasie, verbasing en vertedering. In die resente hipotese word ekspressiewe betekenis egter deur gemarkeerde morfologie (MM) uitgedruk. Hierdie MM verwys na funksionele morfeme waarvan die posisie afwyk van hul tipiese posisie in ’n sin.
As voorbeeld gee sy die volgende:
Hulle loop toe mooi-tjie-s na die skoolhoof toe.
Waar mooitjies die betekenis het van: “Kan jy dit glo”?
Die verkleiningsagtervoegsel -tjie en die meervoudsagtervoegsel -s in bostaande voorbeeld sou ’n mens by ’n naamwoord verwag, maar hier staan dit by ’n bywoord en verleen ’n besondere gevoelswaarde aan die woord.
Tweede sessie: Letterkunde
Literêre kartering
Ná die koffiedrinkpouse was Carmi Britz van die Universiteit Stellenbosch aan die beurt met haar lesing oor “Die karteringsmoontlikhede van distopiese tekste”. Carmi het haar MA in 2022 voltooi met die kartering van ’n distopiese Suid-Afrika in Lien Botha se roman Wonderboom. Tydens haar lesing het sy die verskillende soorte literêre kartering belig, waaronder teksgebaseerde kartering, kognitiewe kartering, ekfratiese of visuele kartering en historiese kartering. Sy stel drie moontlike karteringsmoontlikhede voor. Eerstens, ’n geokritiese ondersoek om die literêr-distopiese ruimtes van Kaapstad en Amsterdam te vergelyk. Tweedens, ’n vergelykende studie tussen Afrikaanse en Nederlandse distopiese romans met ’n fokus op die karteringsmoontlikhede van die verskillende narratiewe. Derdens, stel sy ’n datasentriese karteringsmoontlikheid voor.
Ekopoëtiese beelde
Die laaste literêre referaat van die dag was ’n lesing deur Ihette Senekal van Unisa getiteld “Plek en identiteit in Uit die kroes deur Lynthia Julius”.
Ihette het gepraat oor die herkoms en ekopoëtiese beelde in die bundel en bespreek hoe die gesprek met geskiedenis en die digterspreker se geskiedkundige voorsate dikwels ingekleur word met ekopoëtiese beelde. Sy het ook geraak aan motiewe van verstoting en vervreemding wat die digterspreker ervaar en bespreek hoe die digter haar eie identiteit probeer vorm.
Op die vlak van die persoonlike is daar die veelkantige verhouding met die ma, die afwesigheid van die pa, die lighoofdige ervarings van liefde en seks, die afgronde van depressie en die waansin van die digter.
Afrikaanse literêre geskiedenis
Ná Ihette se bespreking was die bekendstelling van Jerzy Koch se tweede deel van die Afrikaanse Literatuurgeskiedenis. Jerzy het verduidelik dat daar ’n noodsaak was om ’n Afrikaanse literêre geskiedenis saam te stel omdat letterkundestudente soms ’n gebrek aan kennis en ’n verdraaide geskiedenisbeeld het. Hy vertel dat baie taalkunde studente nie daarvan bewus is dat selfs tydens apartheid, internasionale taalkundiges Afrikaans bestudeer het omdat dit so ’n jong taal is en ons weet wanneer en hoe dit tot stand gekom het. Jerzy sê hy beskou Afrikaanse literatuur as ’n soort laboratorium. Hy sê hy het geen historiese verpligting teenoor sprekers van Afrikaans nie, maar vind dit belangrik dat die taal wel bestudeer word. Hy vertel ook hoe sy projek oor die Afrikaanse literatuurgeskiedenis spruit uit die ongenoeë met hoe ander Suid-Afrikaanse literatuur beskryf word.
Dag 2
Hoofrede: Susan Smith
Die tweede dag van die kollokwium het begin met ’n hoofrede deur Susan Smith met as titel “Ekokritiek transnasionaal en lokaal. Plek as sentrale merker van ’n omvattende ekokritiese beskouing”. Die lesing is aanlyn gehou.
Susan het ter inleiding gekyk na hoe daar na literêre tekste gekyk word, hoe ons na die omgewing om ons kyk en hoe ons plek en ons rol in die omgewing in literêre tekste voorgehou word.
Hierna het sy die transnasionale diskoers oor omgewings- en klimaatletterkunde bespreek en geraak aan die teoretiese raamwerke hiervan. Sy het vertel hoe perspektiewe dikwels deur die gevolge van koloniale, postkoloniale en neokoloniale toestande gevorm word. Verder het sy uitgelig hoe verskille in geografie, die plaaslike toestand, geskiedkundige gebeure en kultuur aan hierdie perspektiewe vorm gee.
Sy het uitgewei oor die geskiedenis van plek en hoe oorlog onmeetbare skade aan die ekologie aanrig en op sy beurt mense se persepsies oor omgewingskwessies vorm. Sy bepleit ’n Suid-Afrikaanse en Afrikaanse ekokritiek in samehang met die ekokritiek van die globale noorde.
Susan sluit af deur te sê omdat die aard van ekokritiek inherent transnasionaal, multikultureel en transdissiplinêr is, bevestig dit juis dat waar ons onsself ook al bevind, ons nie onsself noodwendig kan losmaak van internasionale tendense nie.
Laaste sessie: Letterkunde
Water as koloniale narratief
Tydens die sessie voor die middagpouse van die kollokwium was die fokus op letterkunde. Eerste aan die beurt was Bibi Burger van die Universiteit van Kaapstad met haar voorlegging getiteld “Watermetafore in Die Kremetartekspedisie”.
Bibi het vertel hoe haar navorsing verander het van die fokus op watermetafore na voorbeelde van hoe die roman reisnarratiewe herverbeel. Sy vertel hoe Die Kremetartekspedisie tekenend is van romans deur wit vroue uit die jare ’80, met name Elsa Joubert se Swerfjare van Poppie Nongena, Antjie Krog se Lady Anne en Ingrid Winterbach se Belemmering. Die reise wat in hierdie romans voorkom, herinner aan gebeure uit die Afrikanergeskiedenis soos die Rebellie van 1914.
In haar navorsing kyk Bibi na die ondermyning van ideologie, die rol wat water speel en hoe dit perspektiewe belig, asook hoe reis en water as koloniale narratief aangewend word. Sy kom tot die slotsom dat die meeste reisverhale eurosentries is en beelde van ongetemde, heidense wildheid van ’n gekoloniseerde land opwek. Die verhaal begin gewoonlik by ’n Europese hawestad en eindig by die verafgeleë ongetemde wilde kolonie. Bibi sê sy probeer om met haar navorsing ’n nuwe blik op Die Kremetartekspedisie te werp.
Waterstories in Afrikaans: Nuwe korpusse
Volgende aan die beurt was Jacomien van Niekerk met haar referaat getiteld “Waterstories in Afrikaans: ’n Herbesoek”.
Jacomien het begin met ’n oorsig van Jean Lombard se navorsing oor waterslangverhale, waarna sy die betekenis van waterstories bespreek het en vertel het van nuwe korpusse om te ontleed.
Sy vertel dat in waterslangverhale die “waterslang” ’n baie groot slang is wat in ’n rivier of kuil woon en ’n groot blink klip of diamant op sy kop dra. Hy is slinks en stel allerlei lokvalle vir mense. Hy vang graag kinders en jong mans, en het ’n voorliefde vir jong vroue met moesies op hul gesigte. As hy ’n jong vrou vang, neem hy haar as sy vrou en hulle leef onder die water saam. Die verhale kan teruggevoer word na die orale literatuur van die San en die Khoi en toon ook vergelykings met Sotho-waterslangverhale. Daar is ook ’n vergelyk te tref met narratiewe waarin die dassieadder en tokkelossie voorkom.
Slangnarratiewe kom elders in Afrika, Europa, Asië, en in ’n bybelse konteks voor. ’n Mens kan die waterslangverhale ook verder voer met narratiewe waar daar sprake is van ’n waterslang/-gees, reëndier, ensovoorts. Vanuit ’n ekokritiese benadering kan ’n mens die waterstories ontleed volgens die interaksie tussen mens en dier, mens en water, asook dier en water. Vanuit ’n postkoloniale ekokritiese invalshoek kan ’n mens verwys na die respek vir water uit ’n perspektief van vrees.
Ten slotte het Jacomien geraak aan nuwe bronne van waterstories wat insluit ongepubliseerde tekste en mondelinge optredes. Sy het ook verwys na ’n YouTube-video wat deur die Afrikaanse Taalmonument en -museum opgeneem is. Die video kan hier bekyk word: https://youtu.be/kpApydQAf0w.
Ekologie van trauma: ’n Krisis van gevoel
Die laaste letterkundereferaat is aanlyn deur Christopher Herbert gelewer vanuit die VSA. Sy lesing was die enigste wat in Engels aangebied is en wel met die titel “Ecologies of Trauma in African Literature”.
Christopher voer aan dat die klimaatverandering en ekologiese vernietiging op die oomblik merendeels as ’n realiteit aanvaar word wat mense gesamentlik moet hanteer. Binne die studie van literatuur is daar ’n behoefte aan die herkonseptualisering van traumakonsepte en om dit “groen” te maak om sodoende ekologiese trauma te behandel.
Volgens Christopher hanteer Afrikaliteratuur ekologie en trauma op innoverende maniere. As voorbeeld noem hy drie genres in Afrikaliteratuur: 1) ekofiksie uit Wes-Afrika: geeste, olie en die ineenstorting van die omgewing; 2) die ekologie van setlaarkolonialisme en lewens van diere in Suid-Afrika; en 3) die Afrofuturistiese verbeelding van die omgewing.
As ’n model van ekologiese trauma het hy die verskynsels van ekologiese verdriet, klimaattrauma, geotrauma, Freud se enkelorganisme versus die interverbonde wêreld, asook die getraumatiseerde onderwerp as ’n prosessuele onderwerp belig.
Laaste sessie: Taalkunde
Nuwe databronne vir die bemagtiging van Afrikaanse taalkundenavorsers
Ná die middagpouse was dit tyd vir die laaste taalkundesessie. Eerste aan die beurt was Roné Wieringa van VivA met haar referaat oor nuwe databronne vir die bemagtiging van Afrikaanse taalkundenavorsers in ’n digitale era.
Roné het begin deur die variëteite van Afrikaans te bespreek en op grond daarvan die behoefte aan taaldata uitgelig. In die lig hiervan het VivA twee projekte ontwikkel, tewete die VivA-spraakatlas en in samewerking met instansies soos die Universiteit Stellenbosch, SADiLaR en die Departement van Wetenskap en Innovering die Voices of Mzanzi-projek.
Vervolgens het Roné die spraakatlas bespreek. Dit bestaan uit 250 inskrywings van mense uit verskillende streke wat die fabel Noordewind en die Son voorlees om aan te toon hoe die klank van Afrikaans van streek tot streek verskil. Sy het ook die tekortkominge van die projek uitgelig, byvoorbeeld dat mense ’n teks voorgelees het, wat maak dat die taal wat hulle uitspreek nie natuurlik is nie. Hierna het sy die spraakatlas gedemonstreer en getoon hoe ’n mens op ’n spesifieke gebied op ’n kaart kan klik en na die uitspraak van Afrikaans kan luister.
Die tweede projek wat Roné bespreek het, is Voices of Mzanzi. Die projek het ontstaan uit die behoefte aan oopbrondatastelle vir verskillende doeleindes asook databronne vir geskrewe en gesproke teks. Voices of Mzanzi is dus ’n projek om geskrewe en gesproke taaldata in al 11 amptelike Suid-Afrikaanse tale byeen te bring. Dit bestaan uit oopbrondatastelle wat in die publieke domein beskikbaar is. Die projek ontwikkel en brei die digitale teenwoordigheid van tale met minder hulpbronne uit en bemagtig taalgemeenskappe. Ten slotte vestig dit ’n vertrekpunt vir toekomstige taalkundeprojekte of taaltegnologieë.
Werkwoordelike verkleiningsagtervoegsels
Die volgende lesing is deur Engela de Villiers van die KU Leuven en Universiteit Stellenbosch en Cora Cavirani-Pots van KU Leuven gelewer. Die lesing het gehandel oor die vraag of ’n oorkoepelende analise voorgestel kan word vir -el- en -er-suffikse in Afrikaans en Nederlands. Uit die ondersoek blyk dit dat hierdie twee suffikse tipe Ia-suffikse is, volgens Creemers se tipologie van die Germaanse derivasionele affikse. Dit wil sê by hierdie suffikse kan die klem verander, hulle is aanpasbaar met betrekking tot kategorie, kan aan die stam heg en is in die eerste posisie relatief tot die stam.
Voorbeelde sluit in:
Tipe Ia: -iek
- canon ‘canon’ > canoniek ‘canonical’
- pan-iek (nomen); canon-iek (adjektief); ant-iek (nomen of adjektief)
Hierdie suffikse vul dus onverwags ’n leemte in die tipografie van die Germaanse affikse van Creemers. In Afrikaans het die suffikse waarskynlik hul suffiksale status verloor. Dit is egter nog ’n versigtige hipotese omdat dit nie maklik is om vas te stel waar die improduktiewe derivasionele morfologie eindig nie.
Voorwaardelike insubordinasie
Die voorlaaste voorlegging van die kollokwium was deur Peter Dirix van die KU Leuven getiteld “Voorwaardelijke insubordinatie in het Afrikaans”.
Peter het begin deur te verduidelik wat insubordinasie in taalkunde is, met verwysing na D’Hertefelts se tipologie. Daarna het hy voorwaardelike insubordinasie in Afrikaans bespreek waarna hy afgesluit het met moontlikhede vir toekomstige werk.
Volgens Evans kan insubordinasie gedefinieer word as die gekonvensionaliseerde gebruik as hoofsin van ’n struktuur wat formeel gesien met die eerste oogopslag soos ’n bysin lyk. Dit kom in verskeie taalfamilies voor en uiteraard ook in Germaanse tale. Dit word gekenmerk deurdat dit met ’n onderskikkende voegwoord ingelei word en dat die ondergeskikte woordvolgorde behou word.
As voorbeelde gee Peter die volgende:
- He’ll go with us to the hospital. Okay?
As if I had a choice.
Asof hy ’n keuse gehad het. - Dass ihm nur nicht schlecht dabei wird!
[Ek hoop] dat dit hom nie siek sal maak nie!
As voorbeelde in Afrikaans gee hy die volgende:
- Indien jy dalk vergeet het.
- Hoe hy na jou gekyk het.
- Dat ek so onnosel kon wees!
- Dat dit juis nou moet gebeur.
Peter onderskei verder tussen:
- Die potensiële wens, byvoorbeeld: As iemand tog net wil inkom.
- Die irrealiswens, byvoorbeeld: As ek maar só kon ontroer!
- Die teenfeitlike wens, byvoorbeeld: As hulle maar net geweet het hoe sadisties hy is.
- Asook versoeke, byvoorbeeld:
- As jy my sal verskoon.
- Dis ’n vergadering.
- As jy wil praat.
- As jy nou hier kan wegkom.
Volgens Peter kom insubordinasie nie dikwels voor nie, hoofsaaklik in gesproke taal, literatuur en godsdienstige tekste, maar ook as grammatikale uitdrukking van emosie.
Peter sê hy hoop om in die toekoms te kyk na ander voegwoorde, ander ondergeskikte konstruksies en kwantitatiewe studies.
Probleme met sinstipes
Ná die koffiepouse het Adri Breed die laaste voorlegging gelewer met haar lesing getiteld “Wie sê dis ’n uitroepsin! Oor uitroepsinne in hedendaagse Afrikaans”.
Tydens haar lesing het sy die probleem met die begrensing van sinstipes belig waarmee onderwysers daagliks te make kry.
Sy kom tot die gevolgtrekking dat die term “sinstipes” problematies is en dalk eerder iets soos “grondstrukture”, “kloustipes”, “klousstruktuurtipes”, “klousmodusse”, “klouswoordvolgorde”, of “sinsmodusse” genoem moet word.
Een van die maniere wat gebruik word om tans ’n sinstipe te identifiseer, is die gebruik van die uitroepteken. Die uitroepteken word in die praktyk egter nie net vir bevelsinne gebruik nie, wat die gebruik daarvan as indikator in twyfel trek. Aansluitend hierby het sy bevind dat neweskikking (veral die uitroepende soort) in Afrikaans nog nie na behore ondersoek is nie. Wanneer- en hoe-uitroepe (WH-uitroepe) in Afrikaans het ook nog nie veel aandag gekry nie.
Wat betref die verskillende soorte sinstipes in Afrikaans, het sy opgemerk dat verskillende bronne verskillende tipes onderskei. Hulle is egter almal dit eens oor stelsinne, vraagsinne en bevelsinne.
Adri het vasgestel dat sinstipes in huidige bronne van mekaar onderskei word deur ’n kombinasie van woordvolgorde, ortografie, intonasie, maar veral kommunikatiewe funksie.
Sy vra die vraag of ’n uitroepsin in Afrikaans beskou kan word as ’n basiese sinstipe op dieselfde vlak as stelsinne, bevelsinne en uitroepsinne. Haar antwoord is: Nee. Uitroepsinne is óf ’n periferale sinstipe óf sinstipe van ’n vraagsin.
Slot
Daarmee het die einde gekom aan die sewende kollokwium oor Afrikaans in Gent. Ons hoop dat die voorleggings tot verdere interessante navorsing sal lei en dat die byeenkomste nog lank ’n gereëlde instelling sal bly.
Lees ook:
Buro: MvH