......
“Suid-Afrikaners behoort teen Saterdag ’n beter idee te hê of die huidige lae vlakke van verspreiding akkuraat was. Karim sê die feit dat die land in ’n vroeë stadium ’n landwye inperking ingestel het, kon waardevolle tyd koop om te keer dat die virus nie soos in baie ander lande handuitruk nie.”
......
Diegene wat gedink het Suid-Afrika gaan die eksponensiële groei van die koronavirus wat wêreldwyd voorkom, vryspring, kan hulle gereedmaak vir ’n onaangename verrassing. Dit kan vermoedelik minstens nog vyf maande duur voordat die ergste verby is.
Foto: Pixabay.com
Daar lê ’n lang en harde stryd met baie uitdagings voor, waarsku die minister van gesondheid, Zweli Mkhize.
Salim Abdool Karim, voorsitter van die ministeriële advieskomitee oor COVID-19, sê teen die huidige tempo waarteen die virus in Suid-Afrika versprei, word die toppunt van die infeksies hier eers in September verwag.
Hulle het die media Maandag op ’n aanlyn mediakonferensie ingelig oor die jongste toedrag van sake rakende die virus wat die hele wêreld tot stilstand geruk het.
Suid-Afrikaners behoort teen Saterdag ’n beter idee te hê of die huidige lae vlakke van verspreiding akkuraat was. Karim sê die feit dat die land in ’n vroeë stadium ’n landwye inperking ingestel het, kon waardevolle tyd koop om te keer dat die virus nie soos in baie ander lande handuitruk nie.
Maar hoewel daar kosbare tyd gewen is, sal ons eers teen die einde van die week se kant weet hoe vinnig die virus in Suid-Afrika deur die gemeenskap oorgedra en versprei word.
Karim het sy voorligting aan die Minister en die media met ’n PowerPoint-aanbieding toegelig. Daarin verduidelik hy aan die hand van talle grafieke en statistiek wat die huidige toedrag van sake is en ook hoe dit met die res van die wêreld vergelyk.
Missed Professor Abdul Karim’s presentation ? Click on the link for his full presentation https://t.co/d4H5lXfQ7i
— Dr Zweli Mkhize (@DrZweliMkhize) April 13, 2020
Dit is onwaarskynlik dat Suid-Afrika die eksponensiële groei wat wêreldwyd voorkom, gaan vryspring. Suid-Afrika was wel gelukkig om die vinnig stygende trajek van mense wat die virus opdoen vinniger te laat afplat as in baie ander lande.
Karim sê die afplatting is nie toe te skryf aan te min toetse wat gedoen is nie, maar het begin op die dag toe die staat van inperking in werking getree het en die oordrag van die virus in gemeenskappe verminder het.
Die pandemie kom volgens Karim in drie fases voor. Hy sê net soos in ander lande is die virus deur reisigers die land ingebring wat oorsee besmet geraak het. Hulle het dit oorgedra aan familielede en kollegas sonder dat hulle besef het hulle is besmet. Hierdie fase van verspreiding het afgeneem nadat internasionale reise gestaak is.
......
“Karim sê dit is belangrik dat die land voortdurend op die uitkyk bly vir klein vuurtjies wat geblus kan word terwyl dit moontlik is, voordat dit ’n vernietigende groot vuur word wat buite beheer woed.”
......
Die tweede fase kom wanneer mense wat begin siek voel, dit verder oordra aan mediese personeel met wie hulle in kontak kom. Van daar versprei dit verder na die res van die gemeenskap, wat die derde fase van verspreiding is.
Omdat Suid-Afrika vinnig reageer het, kon daar verhoed word dat die derde fase so vinnig versprei soos elders. Dit het die verwagte reuse-uitbreking gekeer wat gewoonlik na die eerste twee fases volg.
Dit is egter geen rede om gerus te wees nie. Karim sê die harde werklikheid is dat ons nie die pandemie kan vryspring nie. Sodra die inperkingstyd verby is, sal die kurwe weer begin styg.
Nog ’n harde werklikheid is volgens hom die feit dat daar geen behandeling of entstof teen die virus beskikbaar is nie. Daar word algemeen aanvaar dat ’n doeltreffende entstof waarskynlik nie voor ’n jaar of selfs 18 maande beskikbaar sal wees nie.
Die positiewe deel is dat die vroegtydige inperking die medici en gesondheidsowerhede waardevolle tyd kon laat wen om beter voorbereidings te tref vir later vanjaar wanneer die toppunt van infeksies teen September verwag word.
Karim sê dit is belangrik dat die land voortdurend op die uitkyk bly vir klein vuurtjies wat geblus kan word terwyl dit moontlik is, voordat dit ’n vernietigende groot vuur word wat buite beheer woed.
Lees ook
Min gepla oor korona? En wat gebeur as die virus in ons gesig ontplof?
Buro: MvH