Grendel maar vas – inperking kan nog lank duur

  • 0

Wetenskaplikes en ekonome is in ’n debat gewikkel oor die vraag wat die meeste lewens gaan kos as gevolg van die koronavirus: ’n ekonomiese ramp as die landwye inperking ná 21 dae verleng word, of ’n gesondheidsramp indien die inperking te gou opgehef word.

Met die huidige staat van inperking min of meer by die halfpadmerk lyk die kanse al hoe groter dat die inperking verleng sal moet word om die verdere verspreiding van die virus doeltreffend te bekamp.

Foto: Pixabay.com

Rapport het die naweek berig dat voorspellings toon dat die inperkingsmaatreëls in Suid-Afrika met tussen twee en vier maande verleng sal moet word as die land enige kans wil staan om die verspreiding van die dodelike koronavirus te tem.

Dit is glo volgens ’n besprekingsdokument deur die Amerikaanse konsultasiefirma Boston Consulting Group (BCG) wat uitgelek het. Dit voorspel onder andere dat die aantal nuwe COVID-19-gevalle wat in die land aangemeld word, eers teen die begin van Junie sy hoogtepunt sal bereik. Dit beteken die inperking kan dalk eers teen einde Julie of selfs Augustus opgehef word.

Sommige ekonome sê dit sal rampspoedig wees vir die land se ekonomie en veroorsaak dat selfs meer mense sterf as gevolg van die ellende wat daarop sal volg as wat as daar weens die koronavirus sterf.

Die onafhanklike ekonoom Mike Schüssler sê dit is noodsaaklik dat die inperking so aangepas word dat dit mense se lewens red sonder om die ekonomie ten gronde te laat gaan.

Hy het op Twitter gesê net soos wat klein besighede tans óndergaan, gebeur dit ook met die grotes. Schüssler sê ons leef nie meer in die steentydperk nie en ’n moderne ekonomie kan aan die gang gehou word sonder om die virus te versprei. Hy sê Taiwan, Singapoer en Suid-Korea moet as voorbeelde geneem word en nie China nie.

In ’n meningsartikel wat in die Financial Mail verskyn, sê die Paternostergroep die vraag is of die ekonomie toegelaat moet word om weer normaal te funksioneer met die risiko van ’n gesondheidsramp van ongekende aard, en of die ekonomie agter slot en grendel gehou moet word met die gevaar van ’n selfs groter ekonomiese ineenstorting en die moontlikheid van grootskaalse sosiale onrus en stygende armoede.

Dit is duidelik dat daar na beide kante grootskaalse verliese is om te bereken. Die nasionale bevelsraad vir die koronapandemie sal in die komende dae en weke Salomo se wysheid nodig hê om die regte besluite te neem.

Die onwaarskynlikste moontlikheid is dat Suid-Afrikaners na 16 April weer normaal met hulle dagtake sal kan voortgaan en dat alle inperkingsmaatreëls opgehef gaan word.

Een van die opsies is ’n verlenging van die huidige inperking soos wat dit tans is. Die moontlikheid daarvoor word deur verskeie kenners op ongeveer 50% geskat.

’n Ander moontlikheid is om die land ’n blaaskans van ’n week of twee te gee en dan weer agter slot en grendel te plaas. Die Paternostergroep meen daar is ’n 15%-kans dat dit sal gebeur. Die probleem daarmee is dat dit van een ekstreme situasie na ’n ander lei en logistieke probleme skep wat dit baie moeilik maak om te implementeer.

Grafika: Pixabay.com

’n Vierde moontlikheid is dat sommige van die beperkings stapsgewys in fases opgehef word met die veronderstelling dat daar weer ’n algehele inperking mag wees indien nodig. Dit sal help om die ekonomie ten minste op ’n beperkte manier te stimuleer en keer dat dit heeltemal in duie stort. Dit sal behels dat daar verskillende regulasies in verskillende streke van toepassing mag wees en die definisie van noodsaaklike items en dienste heroorweeg word.

Al waarvan Suid-Afrikaners en die res van die wêreld in dié stadium seker kan wees, is dat COVID-19 nêrens heen gaan nie. Die virus gaan nog lank met ons wees. Daarom moet die land se mense voorbereid wees om vir die afsienbare tyd ook nêrens heen te gaan nie. In elk geval nie voordat daar ’n behoorlike entstof op die mark is nie, wat op die gouste etlike maande of selfs langer kan duur. Regeringswoordvoerders het reeds gesê indien die inperking nog die maand opgehef word, streng maatreëls vir die handhawing van ’n gesonde afstand steeds sal geld.

Lees ook

Suid-Afrika op die rand van grootskaalse armoede

Koronavirus slaan die wynbedryf hard

Jan Tuisbly se karretjie is alle Suid-Afrikaners se voorland

Buro: MvH
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top