Al hoe groter druk word vanuit die drank- en wynbedryf op die regering uitgeoefen om die verbod op die verkoop van drank tydens die landwye inperking ter syde te stel.
Die wynprodusenteliggaam Vinpro en die familieboerorganisasies Saai is slegs twee organisasies in die bedryf wat hulle stemme gevoeg het by dié van ’n groep wynboere en ander landbou-organisasies wat die regering se verbod in die hof gaan toets
Saai sal die Noord-Gautengse Hooggeregshof in Pretoria op 18 Augustus dringend nader om die verbod op die verkoop en verbruik van wyn in restaurante ter syde te stel. Dié aansoek kom nadat president Cyril Ramaphosa op 12 Julie 2020 wéér ’n algehele verbod op die verkoop en vervoer van drank aangekondig het.
Saai sê in ’n mediaverklaring die regulasies is arbitrêr en irrasioneel en dat die regering se stelling dat hulle ingestel is om die verspreiding van die virus te beperk en om te voorkom dat die land se gesondheidstelsel oorbelas word, nie steek hou nie.
Volgens Saai gee die regering voor dat hulle die ekonomie wil red, maar pas dubbele standaarde toe wanneer dit kom by die toepassing daarvan. “Taxi’s is byvoorbeeld ’n groot risiko vir die verspreiding van die virus, maar hulle mag tans teen 100%-kapasiteit funksioneer. Restaurante mag oop wees, maar word verbied om wyn te bedien in ’n gereguleerde, higiëniese omgewing met fisieke afstand,” sê Francois Rossouw, uitvoerende hoof van Saai.
Saai sê dat die regulasies die bestaan van die oudste familieplase in Suid-Afrika bedreig en ’n sektor kniehalter wat met die bestes in die wêreld meeding en ’n kernrol in die land se ekonomie speel. Die regering bied reeds geen droogtehulp of finansiële bystand vir hierdie boere nie – deur boonop hul mark te sluit, verseker die regering hul einde.
“Anders as alkoholprodusente, is ’n wynboerdery nie net geskoei op ’n strewe na toenemende winsbejag nie. Dit gaan ook oor ’n nalatenskap; die oordrag van kennis van geslag tot geslag; die integriteit van ’n handelsmerk; die naam op die etiket; en die onderhoud van ’n gesin en ’n gemeenskap. ’n Wynboerdery is ook nie net ’n wingerd met ’n kelder langsaan nie. Dit is ’n bestemming waar besoekers en toeriste iets tasbaar van die omgewing kan ervaar. Dus speel so ’n landgoed ’n wesenlike rol in die bemarking van ’n streek of provinsie en sy geskiedenis, en is hy afhanklik van ondersteuning nie net in terme van sy produk nie, maar ook as toeriste-aantreklikheid,” sê Theo De Jager, direksievoorsitter van Saai.
Saai sal versoek dat artikel 44(1) en (2) van die nuwe regulasies opgehef word en dat wyn op wynplase en in restaurante bedien mag word. Saai se aansoek word deur 13 ander applikante uit die wynbedryf ondersteun.
Die wynprodusenteliggaam Vinpro sê op hulle webwerf daar is op die hoogste vlak regsmening ingewin oor die regering se verbod. Volgens Vinpro sal die besluit om die verkoop van alkohol te verbied ’n doodskoot wees vir die Suid-Afrikaanse wynbedryf wat reeds groot finansiële en werksverliese ly as gevolg van die aanvanklike verbod gedurende die eerste twee fases van inperking.
The decision to suspend local liquor sales will deal a devastating blow to the South African #wine industry which has already suffered great financial & job losses due to bans earlier in the lockdown. @RicoBasson @WineLandSA @WOSA_ZA https://t.co/K5Qaf5MPiS
— Vinpro (@Vinpro_za) July 12, 2020
Die krisis in die drankbedryf is gister tydens ’n webinaar wat deur Landbouweekblad georganiseer is, bespreek. Verskeie bekendes in die drankbedryf, asook ekonome het aan die webinaar deelgeneem.
Indien jy nie gister Landbouweekblad se aanlyn paneelbespreking oor die impak van die drankverbod op die plaaslike wynbedryf kon bywoon nie, kan jy dit vir die volgende sewe dae aanlyn kyk. Die skakel is in die volgende Netwerk24-berig beskikbaar:
Die drankbedryf het ook versoek dat die Mediese Navorsingsraad die data aan hulle verskaf waarvolgens die besluit geneem is om weer die verkoop van alkohol te verbied. Die volledige mediaverklaring daaroor kan hier gelees word.
Lees ook
Buro: MvH