Leerling blink uit na herrie oor "duiwelskuns"

  • 0

Die matriekleerling wie se kuns die hele land verlede jaar aan die gons gehad het nadat ’n pastoor dit as demonies uitgekryt het, het onderskeidings in al agt sy vakke behaal.

Die 18-jarige Gary Louw het die Onafhanklike Eksamenraad (IEB) se matriekeksamen aan die Grandleigh Curro-skool in Richardsbaai afgelê.

Sy skool het hulle Dux-leerling op Facebook gelukgewens en met sy uitsonderlike prestasie gespog.

“Gary Louw is ’n merkwaardige jong man. Ons Dux van 2019 het ons trots gemaak in die finaal van die IEB-eksamen deur agt onderskeidings met ’n gemiddeld van 94% te behaal. Ons is trots op jou Gary.”

Foto: Pixabay.com

Die skool se top vier-leerlinge het altesaam 28 onderskeidings tussen hulle behaal. Die skool se ander uitblinkers was Meagan Scrase (8 onderskeidings), Tiaan Vivier (6 onderskeidings) en Thishalia Chetty (6 onderskeidings). Nog een van die skool se leerlinge, Shayla Sujan, het vyf onderskeidings behaal.

Die duiwel was verlede jaar behoorlik los soos Suid-Afrikaners mekaar die hare ingevlieg het oor Louw se omstrede kunsuitstalling by die Grantleigh Curro-skool in Richardsbaai. Sommige het dit geprys en ander het dit ten sterkste veroordeel.

’n Video van sy werk is sonder toestemming deur ’n emosionele pastoor, Andrew Anderson, op die internet geplaas en as duiwelskuns beskryf, wat onverwags die hele land se aandag op Louw se uitstalling gevestig het. Louw het hierop in ’n verklaring verduidelik dat sy kunswerk nie ’n poging was om met God die spot te dryf nie, maar dat sy werk juis bekende godsdienstige beelde inspan om die vervlakking van hedendaagse georganiseerde godsdiens te illustreer.

Hy studeer vanjaar voltyds Wetenskap en Astrofisika aan die Universiteit van Kaapstad, en sal deeltyds voortgaan met sy professionele kunsloopbaan.

Nadat die tydskrif Huisgenoot op Facebook van Louw se uitsonderlike uitslae berig het, was daar ’n stortvloed van kommentaar. Die meeste mense het hom gelukgewens met sy prestasie, maar baie mense staan nog vas by hulle mening dat sy kuns afkomstig van die duiwel is.

Manda Barnard het geskryf, “ongelukkig bring goeie punte jou nie in die Hemel nie ou seun, maar baie geluk en baie sterkte hoor”, terwyl iemand anders gesê het, “die duiwel sorg vir sy kinders”.

Die negatiewe kommentaar kon egter nie daarin slaag om die skrander leerder van stryk te bring nie. Inteendeel, sy prestasies het verbeter ondanks die doodsdreigemente wat verlede jaar teenoor hom gemaak is.

Hy het aan Netwerk24 gesê die herrie het geen wesentlike uitwerking op sy matriekeksamen gehad nie. Volgens hom het hy nie toegelaat dat dit sy leerskedule affekteer nie. “As dit my enigsins geaffekteer het, was dit die ekstra motivering om harder te werk en mense verkeerd te bewys.”

Hy beskou sy uitslae in ’n mate as poëtiese geregtigheid, gegewe die omstredenheid waarin hy kort voor sy eindeksamen gedompel is, het Huisgenoot Woensdag op hulle elektroniese uitgawe berig. Sy punte vir Afrikaans was 90%, Engels 93%, Lewensoriëntering 96% en toegepaste Wiskunde 90%. Sy swakste punt was 88% vir Lewenswetenskappe. Vir Wiskunde en Visuele Kuns het hy 99% gekry en 94% vir Fisiese Wetenskappe. Dit plaas hom die top-1% in die IEB-Eksamens, en in die res van Suid-Afrika.

’n Dokumentêre film wat verlede maand oor sy kuns gemaak is, word later vanjaar vrygestel. Dit is vervaardig deur ’n plaaslike filmmaker, Gert Koen van KIEM Productions, en gaan glo op dieselfde sosiale platform vrygestel word waarop die aanval verlede jaar op sy kuns geloods is.

Lees ook

Jong kunstenaar ontvang talle aanbiedinge na "sataniese" kuns

Die duiwel is los oor "sataniese" kuns

Buro: MvH
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top