Minister geskors, betogings teen koronapas

  • 0
Betogers vaar die strate in teen die koronapas

Honderde betogers het in verskeie stede in Nederland hul protes aangeteken teen die nuwe maatreël van ’n korona-toegangsbewys.

Vanaf afgelope Saterdag moet almal wat restaurante of teaters wil binnegaan, ’n bewys toon waarmee hulle bewys dat hulle óf ingeënt of onlangs vir die virus getoets is. Die bewys word deur middel van ’n QR-kode op ’n selfoontoepassing vertoon.

Betogers het ’n optog deur die strate van Den Haag gehou. Volgens verslaggewers op die toneel was daar ongeveer 1 000 mense aanwesig. Die optog het teen 14:00 by Malieveld geëindig, waar toesprake deur organiseerders gelewer is. Ander plekke waar daar betogings was, sluit in Hilversum, Breda, Steenwijk en Urk.

Nog ’n kabinetminister uit haar pos

Op dieselfde dag waarop die pas ingevoer is, het staatsekretaris Mona Keijzer die trekpas gekry – juis oor die pas.

Verlede week is berig dat die minister van buitelandse sake, Sigrid Kaag, en die minister van verdediging, Ank Bijleveld, hul bedanking ingedien het ná ’n mosie van afkeuring weens die hantering van die onttrekking van burgers in Afganistan.

Dié week is die staatsekretaris van ekonomiese sake, Mona Keijzer, sommer summier afgedank. Dit volg nadat sy die kabinet se benadering ten opsigte van die invoering van ’n COVID-19-toegangsbewys in De Telegraaf openlik bevraagteken het, en dít op die eerste dag dat die verpligte toegangsbewys ingevoer is.

Die demissionêre minister-president, Mark Rutte, sê in ’n verklaring: “De genoemde staatssecretaris wordt voorgedragen voor ontslag met onmiddellijke ingang. De werkzaamheden worden overgenomen door de minister van Economische Zaken en Klimaat, Stef Blok.” Hy sê voorts Keijzer se uitsprake in De Telegraaf stem nie ooreen met belangrike besluite van die ministersraad nie. Keijzer het in die onderhoud in De Telegraaf gesê sy vind dit al hoe moeiliker om te verduidelik waarom die bewys wel op een plek nodig is, maar nie op ’n ander plek nie. Tog kry Keijzer heelwat simpatie op sosiale media, met mense wat sê sy was dapper om haar oortuiging uit te spreek en dat hulle dit verskriklik vind dat iemand wat haar mening lug, summier in die pad gesteek word. Sy bly voorlopig lid van haar party, die CDA.

Ekstra beveiliging vir Mark Rutte

De Telegraaf berig die demissionêre minister-president Mark Rutte se beveiliging is sterk verskerp nadat dit aan die lig gekom het dat ’n aanslag teen hom of ’n ontvoering beplan is. Die besonderhede is nog onduidelik. Na wat berig word, is die bedreiging afkomstig uit die dwelmmafia, maar die polisie wil geen verdere inligting hieroor bekend maak nie. Wat wel bekend is, is dat sogenaamde spotters, of verkenners, in sy omgewing waargeneem is. Dit is mense wat moontlike slagoffers dophou om ’n aanslag te pleeg. Verkenners is ook kort voor sy moord naby die misdaadjoernalis Peter R de Vries gewaar.

Tog is hierdie bedreiging anders as die moord op Peter R de Vries – ’n joernalis wat die bedrywighede van misdadigers bekend maak. Hierdie keer gaan dit om die hoogste pos in die land – dié van die minister-president. Volgens Jan Struijs van die Nederlandse Polisiebond het die dwelmmisdaadsindikate belang daarby om die hoogste gesag in die land te bedreig.

“De georganiseerde misdaad wil de rechtsstaat verstoren en ze willen laten zien dat zij op het domein van drugs de baas zijn, niet de autoriteiten,” sê Struijs.

Bedreigings van politici is niks nuuts in Nederland nie. So word die verregse leier van die Partij voor de Vrijheid, Geert Wilders, al jare lank sigbaar bewaak na verskeie dreigemente teen hom, voortspruitend uit sy openlike afkeuring van die Islam. Maar om Rutte te oorreed om sigbare beveiliging te aanvaar gaan heelwat meer moeite kos. Die minister-president is wêreldwyd daarvoor bekend dat hy sommer op sy fiets by vergaderings by die Binnehof of Catshuis opdaag, terwyl ander kabinetsministers in hul donker, duur, Duitse motors hul verskyning maak. En dit pas volkome in by die beeld wat hy wil uitstraal as ’n benaderbare, joviale premier, skryf die NOS.

Doeanepolisie mag etnisiteit vir kontroles aanwend

Die regter in Den Haag het verlede week beslis dat die doeanepolisie (of Koninklijke Marechaussee, soos dit in Nederland bekendstaan) voortaan mense by die grens op grond van hul etnisiteit mag kontroleer en dat daar geen sprake van diskriminasie is nie. Dit handel spesifiek oor kontroles van vliegtuigpassasiers, treinreisigers en motoriste uit lande binne die Europese Unie. Geen grenskontroles word meer binne die EU uitgevoer nie, maar kontroles word wel gedoen om onwettige verblyf in Nederland te kontroleer. Die regter sê hoewel daar geen duidelike definisie van etnisiteit is nie, kom dit in hierdie geval neer op “onveranderlijke uiterlijke kenmerken, in het bijzonder huidskleur of ras”. Die regter sê verder solank etnisiteit nie die enigste oorweging is nie, word die gebruik daarvan toegelaat. In haar uitspraak sê sy: “Het enkele gegeven dát etniciteit een rol speelt in het kader van het MTV is niet per definitie discriminerend en kan dus geen grond opleveren voor een algemeen verbod. Het kunnen vaststellen van de nationaliteit is voor de doeltreffendheid van het MTV van zwaarwegend belang, omdat die bepalend kan zijn voor iemands verblijfsstatus,” sê die regter. Die uitspraak het uiteraard kwaai kritiek op sosiale media ontlok, veral vanuit migrantebevolkings.

Al minder Franssprekende leerders in België neem Nederlands

Nederlands as vak was nog nooit gewild onder die Franssprekende Waalse skoliere nie. Maar verlede jaar het slegs een in elke drie leerders Nederlands as tweede taal in hul eerste jaar op hoërskool gekies. Dit is die laagste syfer ooit. Daarteenoor bly die gewildheid van Engels toeneem. Sowat 64% van Waalse leerders kies deesdae Engels. Dit het opnuut die vraag laat ontstaan of Nederlands nie ’n verpligte vak in Waalse skole moet word nie.

“Het Nederlands heeft het altijd moeilijk gehad in Wallonië, maar het gaat nu nog slechter,” sê Christophe Deborsu, joernalis by die uitsaaier RTL. Desorbu sê die Franssprekende Wale ervaar Nederlands as ’n moeilike taal. Engels is natuurlik nader aan Frans en meer gewild danksy sosiale media en die internet. Met die al groter stem dat België moontlik in twee state moet verdeel, sien Franse leerders geen nut daarin om Nederlands te leer nie. Daarteenoor word Nederlandse kinders in Vlaandere verplig om Frans te leer. In Brussel – ’n tweetalige stad – moet leerders albei tale op skool neem.

Tog lyk dit asof selfs in Wallonië steeds meer mense voel dat Nederlands ’n verpligte vak moet word.

“Ik ken veel twintigers die spijt hebben dat ze niet voor Nederlands gekozen hebben en die nu willen dat het Nederlands verplicht wordt op school,” sê die Franssprekende Deborsu. “Ze willen die verplichting omdat ze zelf niet de neiging hebben om voor het Nederlands te kiezen, omdat het een moeilijke taal is.” Ook in die politiek begin dit ’n oorweging word. So voel die voorsitter van die Waalse party Mouvement Réformateur Georges-Lous Bouchez dit jammer dat hy nie Nederlands op skool geleer het nie. Die enigste party wat nog onseker is of dit ’n goeie idee is om Nederlands as vak verpligtend te maak, is die Franse Sosialiste Party, maar volgens Deborsu “is er wel een denkproces in gang gezet”.

Lees ook:

Somber Prinsjesdag en ’n nuwe werk deur Vincent van Gogh

Donkere wolken boven het Binnenhof

Suid-Afrika bekend onder Nederlandse parlementslede

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top