Nobelpryswenner Wole Soyinka bring aktualiteit en letterkunde in kaart op Africa in the World

  • 0

Moenie as skrywer voel jy móét jou ingooi by die stroom van gebeure nie. As jou temperament jou egter daarby instuur, as jy nie in vrede kan leef met jouself en die vrede kan hê om te kan doen wat jy die graagste wíl doen nie - naamlik om te skryf - dan het jy uiteraard nie ’n keuse nie.

Wanneer die Nigeriese skrywer Wole Soyinka, ’n reus van die letterkunde uit en oor Afrika, dít in sy antwoord noem op ’n vraag oor betrokkenheid en skryfwerk, kom dit uit dieselfde fontein waaruit hy ook weet te put dat ideologie, godsdiens of etnisiteit álles oor ’n ónverdeelbare menslikheid gaan. Dit was nog altyd die beginsel wat hom in sy betrokke skryfwerk rig, het hy benadruk.

Soyinka, die ontvanger van die Nobelprys vir letterkunde in 1986, was onlangs ’n gas van die Africa in the World-fees op Stellenbosch op uitnodiging van die stigter van die fees, Dele Olojede.

Dele Olojede, stigter en gasheer van die Africa in the World-fees, en Wole Soyinka in gesprek. Foto: AnotherLove Productions

Olojede, ’n internasionaal gerekende joernalis van Nigerië en ontvanger van die Pulitzerprys, nooi jaarliks sprekers en gaste van oor die wêreld heen na die fees, telkens leiers op verskillende gebiede, meningsvormers en kunstenaars wat wyd en syd en oor dissiplines heen werksaam is. Die fees is vanjaar van 12 tot 16 September vir die eerste keer hervat sedert 2019 toe COVID-19 dit onderbreek het.

Wole Soyinka het vertel van die werk aan sy mees onlangse roman, Chronicles from the Land of the Happiest People on Earth. Foto: AnotherLove Productions

’n Rigtende skrywerskap

Soyinka het klasgegee aan dieselfde universiteitsdorp van Ifẹ̀ in Nigerië waar Olojede opgetoë is. Olojede vertel Soyinka het sy eie intellektuele reis as ’n kind van die 1960’s besiel. Soyinka, strykdeur sy lang skrywersloopbaan ’n aktivis teen magsvergrype, bied ’n rigtende en verhelderende blik op talle aangeleenthede op die kontinent en elders. Dit het geblyk uit die gesprek met hom op Woensdag 13 September.

As deel van die fees het Soyinka die romanskrywer Okey Ndibe te woord gestaan in die Jan Mouton-leersentrum, wat deur gaste, studente, navorsers en dosente in ’n volgepakte lokaal bygewoon is.

Wole Soyinka en Okey Ndibe gesels op die Africa in the World-fees wat jaarliks op Stellenbosch aangebied word. Dit was die eerste program sedert die COVID-19-pandemie die fees onderbreek het. Foto: AnotherLove Productions

Lewe ná die boek

Ndibe het die ruim en interessante gesprek begin met twee frases uit Soyinka se tronkmemoires The Man Died (1973), wat Ndibe sê sy etiese en intellektuele evolusie gevorm het, te wete: “The man dies in all who keep silent in the face of tyranny” en later, in dieselfde boek, “justice is the first condition of humanity”. Hierdie aanhalings het die toon vir hul gesprek aangegee.

Ndibe, skrywer van onder meer The Man Lives: A Conversation with Wole Soyinka on Life, Literature, and Politics, het by dié geleentheid die gesprek met Soyinka oor sy lewe, skryfwerk, aktivisme en politiek voortgesit.

Ook oor sy mees onlangse roman Chronicles from the Land of the Happiest People on Earth, Soyinka se satiriese meesterstuk oor politiek, magsmisbruik, moderniteit en tradisie, het hy sy onwrikbare toewyding aan menswaardigheid, letterkunde en die noodsaak van integriteit in die politieke landskap getoon.

Teenstrydighede en uitdagings waarmee hy te kampe het, insluitend die herhaalde probleme met immigrasiebeamptes in Suid-Afrika en sy standpunt oor die Amerikaanse oudpresident Donald Trump en die veranderde rolle van Rusland, is bespreek, asook die verkiesing in Nigerië vroeër vanjaar.

Sy bespreking van bewerings oor betrokkenheid van die Amerikaanse geheimediens (CIA) in sy loopbaan en dié van ander skrywers van Afrika het sy passie en vasberadenheid om waarheid en sy integriteit te handhaaf, weerspieël.

In sy mees onlangse roman ontvou ’n siedende satire oor magsmisbruik waarin onder meer soorte problematiek tussen ’n moderne staat op die vasteland en tradisie in kaart gebring word. Ben Okri het in 2021 in The Guardian kort nadat die boek uitgereik is, dit as Soyinka se grootste roman tot nog toe bestempel.

“Dis ’n werk waarvoor ek uit Nigerië moes wees om dit te kan skryf en op ’n baie verontrustende manier oor Nigeriese ontwikkelinge,” het Soyinka verduidelik. Hy “moes wegkom van die daaglikse skokke en verrassings” om hom te gaan afsonder “met geen media of koerante nie, geen kommunikasie met enigiemand anders nie” sodat hy selfs net daaraan kon begín werk.

Die uitslag van die verkiesing vroeër vanjaar in Nigerië, waar Soyinka woon en werk, het hy in die gesprek op Stellenbosch as ongeldig bestempel, dit in besonderhede bespreek en die redes waarop hy sy gevolgtrekking grond, verskaf. In die dae daarna is in Nigeriese media hieroor wyd berig.

Ndibe het ’n kursoriese blik gegee oor Soyinka se onlangse werke in sy steeds groter wordende oeuvre van betrokke werk.

Chronicles from the Land of the Happiest People on Earth in 2021 het sy Nigeriese uitgewer verlede jaar twee groot uitgawes van sy versamelde essays uitgegee. En Ndibe was in Maart betrokke by die bekendstelling van Soyinka se versamelde gedigte in Nigerië. Hoe hou hy hierdie kreatiewe pas en uitsette vol? wou Ndibe weet.

Soyinka het geskerts dat hy al ver gevorder is in sy pogings om af te tree en stel grade en dan selfs ’n professorale pos daarin in die vooruitsig.

Die lewens van Wole Soyinka

Ndibe plaas Soyinka se aanhangers in rofweg twee kategorieë, die lesers wat hom teëkom in sy boeke en diegene wat hom as ’n sosiale fenomeen registreer.

Hy het op ’n keer saam met Soyinka by ’n lughawe in Nigerië aangekom en die hele gebou het net daar leeggeloop soos wat mense hom gevolg het na sy voertuig, selfs personeel van die lughawe. Wat beteken dit dat waar hy ook al gaan in Nigerië en elders, dat hy so geredelik en op hierdie soort manier herken word?

“Dit is deel van die teenstrydigheid van om te bestaan: Dít wat jy vir jouself wens en dit wat jy eintlik kry,” het Soyinka gesê.

Hy het vir homself ’n woning in ’n bos in Nigerië gebou en vir ’n aantal jare was hy die enigste mens wat daar gewoon het. Soyinka dink terug aan daardie periode as een van die bevredigendste van sy hele bestaan, het hy laat blyk.

“Van tyd tot tyd wou mense met my kom gesels. Die meeste van die tyd het hulle [onderweg] verdwaal. Daarby ingesluit die staatsveiligheidagente wat op soek was na my.

“Daar is ’n dorpie nie baie ver nie van waar ek gebly het, en hulle sou daar gaan vra waar professor Soyinka woon; hulle is vriende van hom.” Die mense sou hulle een kyk gee en sê: “O ja, ons het hom al gesien; hy woon dáárso” en dan het die mense hulle in die teenoorgestelde rigting gestuur as waar hy gewoon het.

Dit is nie dat hy nie daarvan hou om mense te ontmoet nie, hy hou net soveel daarvan om mense te ontmoet as ander mense, het hy gesê.

Soyinka het gemeen hy kry ’n blaaskans van al dié aandag toe hy by geleentheid vir Kofi Annan, ’n voormalige sekretaris-generaal van die Verenigde Nasies, aangesien is. “Ek het dit geniet om Kofi Annan te wees!”

“Die een wat ek nie van gehou het nie is daardie ... bokspromotor Don King. Maar mees onlangs was ek die akteur Morgan Freeman. Ek weet nie wat om te doen oor hom nie, hy is oral so gewild. Oesbekistan, Frankryk, noem maar op. Veral in Frankryk. Dáár sou die immigrasiemense ’n manier vind om my paspoort vir mekaar aan te gee, maar dan afgehaal lyk.” (Hy is toe nié Freeman nie.)

“Onder Sani Abacha, ’n [voormalige] diktator in Nigerië, moes ek [destyds] allerlei maniere vind om my anoniem te maak. Ek het minstens sewe hoedens gehad, waaronder een wat Rastafaries is, net sodat ek buite ’n kafee kon sit en dit geniet om anoniem te wees.”

Soyinka en Suid-Afrika

Ndibe het hom gepols oor hoe hy die veranderende Suid-Afrika sien, van die vyftigerjare as student aan die Universiteit van Leeds tot vandag. Soyinka het sy Nobeltoespraak “This Past Must Address Its Present” aan oudpresident Nelson Mandela opgedra.

“Suid-Afrika het vroeg al vir my die negatiewe opsomming verteenwoordig van hoe in die wêreld die swart persoon, die Afrikaan, beskou word. Om bewus te raak van ’n plek waar daar nie net van tyd tot tyd optredes van minagting was nie, dit was die daaglikse voortdurende verdrukking van die meerderheid mense met wie ek ’n rasidentiteit deel... Ek kon nie lewe sonder om protes aan te teken op ’n vlak wat amper die somtotaal van my bestaan was nie.

“Een van die heel eerste toneelstukke wat ek geskryf het, die eerste op ’n Britse verhoog, had as titel The Invention en dit was oor Suid-Afrika onder apartheid, oor rassisme.” Hy het ook vertel van Keith Johnstone en William Gaskill se toneelstuk Eleven men dead at Hola Camp en sy nie-deelname aan hierdie toneelwerk oor Mau-Mau-vryheidsvegters in Kenia wat deur Britse koloniale offisiere doodgeslaan is. Meer is hieroor in sy Nobeltoespraak te lees.

Sedert die demokratiese oorgang in Suid-Afrika lewer Soyinka gereeld lesings in die land, hoewel hy telkens probleme met immigrasiebeamptes te kampe kry.

“Ek weet nie wat die rede daarvoor is nie, maar ek het al minstens ’n halfdosyn nare ervarings gehad ten opsigte van Suid-Afrika in hierdie verband.”

Só was hy op ’n keer onderweg na Suid-Afrika om saam met die Harvard-professore Henry Louis Gates en Cornel West ’n lesingreeks ter ere van Mandela te lewer. Iemand van die Mandela-stigting sou hom op die lughawe kry met sy visum. Ure later was daar nog geen teken van ’n visum nie. Later het hy verneem dat in die tyd tussen toe hy genooi is en sy aankoms in die land het die Suid-Afrikaanse parlement ’n nuwe wet bekragtig wat die uitreik van visums by aankoms gekanselleer het. Uiteindelik, ses uur later die dag, is dit uitgestryk, maar Soyinka was voornemens om nie wéér na Suid-Afrika te kom nie.

“En vir twee jaar daarna het ek alle uitnodigings na Suid-Afrika van die hand gewys. Nou, wat het die staking beëindig? Ek was eendag in die aankomssaal van ’n Nigeriese lughawe en ek sien toe ’n bekende figuur. Dis toe [die Suid-Afrikaanse digter en aktivis] Dennis Brutus. Ek vra hom wat maak hy daar? Toe sê hy dat hy gedeporteer word! Identies aan die omstandighede van toe ek ook ’n lesing moes gaan lewer. Hy is óók aangesê daar sou ’n visum vir hom op die lughawe wees. En skielik het ek my sin vir humor teruggekry!”

Trump

Van grenservarings in Afrika het die gesprek gedraai na die Noordelike Halfrond, Amerika en die geval van Donald Trump. Soyinka het gesê dat hy sy groenkaart (vir permanente verblyfreg in Amerika) sou opskeur as Trump sou president word, en hy het dit ook gedoen. Het hy dit daarna ooit oorweeg om Amerika te vra om vir hom nog ’n groenkaart uit te reik?

“Die Amerikaanse ambassadeur [in Nigerië] het my baie mooi gevra of ek nie weer my groenkaart wil kry nie. Ek sê toe dat dit nie nodig is nie, ek het my papiere [vir korter verblywe]. Veronderstel ... Trump kom môre terug? En onthou, hy het gedoen wat hy gesê het hy gaan doen.” Hy noem toe die muur waaraan daar begin bou is (by Meksiko) en die uitsetting van mense uit die land. Soyinka het aangevoer meer swart mense is doodgemaak tydens Trump se verkiesingskampanje, na sy wete, as gedurende enige ander ekwivalente tyd.

“Kort daarna het ek ’n kennisgewing gekry van my gunsteling-terreurorganisasie, die IRS [die Amerikaanse inkomstediens]. Nou, as jy nie godvresend is nie, vrees dan minstens die IRS. Ek kry toe ’n nota van hulle wat sê ek moet geouditeer word. Dit was baie vreemd.” Soyinka wou nie hê dit moet voorkom of hy vir hulle op die vlug geslaan het nie, dis waarvoor hy tydelike verblyfpapiere (vir Amerika) toe gekry het. “En ek was al terug daar ook. Maar as Trump terug is as president sal ek... oorlog verklaar!”

Verwerplike aantygings

Ndibe het verwys na bewerings dat Soyinka se loopbaan deur die CIA georkestreer is. Soyinka het hierdie bewerings opnuut en ten sterkste verwerp en die aantygings as “vuil en verwerplik” benadruk. Hy het gesê dat daar geen bewyse is om sulke bewerings te ondersteun nie en het in reaksie op Caroline Davis, ’n medeprofessor aan die departement van inligtingstudies aan die University College London, se boek African Literature and the CIA: Networks of Authorship and Publishing (2020), asook die digter Juliana Spahr se aansluiting by Davis in hierdie verband gereageer met ’n teenwoord in boekvorm, Trumpism in Academe: The Example of Caroline Davis and Spahring Partners (2021). Hy het ook Adekeye Adebajo, verbonde aan die Universiteit van Johannesburg, se kritiek op sy hantering van die aantygings verwerp.

“Die CIA het geld ingepomp oral deur allerlei organisasies en ’n aantal van ons [skrywers en ander kunstenaars] is in ons projekte onbetwisbaar daardeur bevoordeel. Ek veronderstel ons moet elke geldeenheid bestudeer vir vingerafdrukke van die CIA! Hulle [die Amerikaanse geheimediens] het soveel fronte en frontorganisasies.

“Die CIA het die Congress for Cultural Freedom in Parys opgestel. Hulle het die tydskrif Encounter opgerig waarvoor digters soos WH Auden geskryf het.” Hulle pomp toe ook geld in ’n reeds bestaande kultuursentrum in Nigerië waaruit skrywers voordeel getrek het, en het letterkunde uit Suid-Afrika onder apartheid gesmokkel, het hy verder genoem.

“En toe het hierdie akademikus [Davis] verklaar dat alle skrywers uit Afrika produkte van die CIA is. Ek vind die aantygings vuil en verwerplik. En dan verwag hierdie persoon [Adebajo] ek moet ’n ander soort taal hieroor gebruik. Ek daag hom uit, laat staan maar Caroline Davis [wat nie aan ’n vorige uitnodiging tot gesprek oor die aangeleentheid wou deelneem nie, het Soyinka gesê] om met my op enige platform hieroor [Davis en Spahr se bewerings en sy hantering daarvan] te gesels.

“Mense kom slinger goed na jou. Ek het so ’n afkeer daarin. Ek wag steeds om daardie CIA-briewe te sien waarin sou beweer word ek het met hul lede vergader en boonop gereeld. Waar het ons byeengekom? Watter poësie het ons saamgelees?”

Geopolitieke onmin

Soyinka het ook met Ndibe oor die rol van Rusland in die Oekraïne en die huursoldate van die Wagnergroep in Afrika gesels.

Soyinka noem dat sekere leiers in Afrika ’n “oordrewe, buitensporige gevoel van dankbaarheid” teenoor Rusland toon. “Die Rusland van vandag is nie die Rusland wat Afrika se bevryding bewerkstellig het nie. Dit is nie dieselfde land nie. Dit is ’n feodale nasie wat deur [Vladimir Poetin] gelei word. Poetin is nie [die voormalige Russiese president] Gorbatsjef nie, Poetin is nie eens die aartsmisdadiger [Joseph] Stalin nie. Dis ’n baie andersoortige leierskap [wat ons tans beleef].

“Oekraïne was deel van die [destydse] Sowjetunie, maar dit is nou ’n soewereine staat en dit word bevolk deur mense, nie diere nie. Rusland is die aggressor [in die oorlog teen Oekraïne]. Waarom maak ons of dit anders is? Wat is die pligsgevoel waarvolgens ons aan die kant van Rusland moet wees? Dit is nié die Rusland wat hulp aangebied het deur Kuba destyds nie. Dis ’n feodale, totalitêre staat wat sy vyande verwyder.

“Gekonfronteer deur die argument dat Amerika, dat Westerse magte skynheilig is, dat hulle dubbele standaarde het… Wel, wie ontken dit? Ek was in Palestina, ek weet hoe hulle mobiliseer in Palestynse grondgebied tot vandag toe. Ek weet wat die prys is wat progressiewe skrywers betaal het vanweë hulle veroordeling van Amerika en Westerse magte. Wat het dít te doen met die inval [in Oekraïne]?

“Die aanslag van Rusland op die Oekraïne kan nie geregverdig word nie. As ons dit toelaat, moet ons nie kla as ons op die Afrikakontinent ’n mag kies om ons te herkoloniseer en weer slawe te maak nie. Dit gaan reeds aan. ’n Nuwe rondte anneksasies is aan die gang op die Afrikakontinent vandag. En wie staan aan die hoof daarvan? Die Wagnergroep.

“Ons kan nie ’n stel kettings laat val en dan ons nekke plaas in ’n volgende stel kettings nie. Bevryding moet volledig wees en voortdurend. Dit moet volhoubaar wees, daar moet outonomie en trots daarin wees om onafhanklike mense te wees. Ons het dit nie nodig om ons te laat meevoer deur enige ander nasie nie.”

Lees ook:

Africa in the World-fees: Nobelpryswenner Gurnah verken op genuanseerde wyse postkoloniale ervarings van tuiste en ballingskap

Buro: MvH
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top