Desmond Painter het genoem dat Edward Said vir digter Magmoed Darwiesj situeer as dieselfde soort digter as Yeats, as ’n antikoloniale digter wat ’n baie spesifieke verhouding het met die mense oor wie hy skryf.
Die digter Magmoed Darwiesj (1941–2008), ’n groot gees in die moderne Arabiese en wêreldletterkunde, sou vanjaar 80 geword het. ’n Afrikaanse vertaling en keur uit sy oeuvre is vanjaar as Die vlug van ’n vreemdeling: Magmoed Darwiesj gedigte in Afrikaans op die afgelope jaarlikse Tuin van Digters-fees op Wellington in die Boland bekendgestel.
Die Afrikaanse vertaler van Die vlug van ’n vreemdeling, die digter en musikant Bester Meyer, het by die geleentheid oor onder meer sy vertalings en ervaring van Darwiesj met Desmond Painter gesels.
Meyer het in die loop van die gesprek verskeie van die vertaalde Darwiesj-verse voorgedra en die gesprek met ’n roerende toonsetting van ’n vertaling van een van Darwiesj se gedigte met kitaar en mondfluitjie afgesluit.
Ontdekking van ’n liriese digter
Oor hoe dit gekom het dat hy verse van Darwiesj vertaal het, het Meyer vertel dat hy op LitNet die digter Pieter Odendaal se artikel “Oortekening as vertaalstrategie in Breyten Breytenbach se oorblyfsel/voice over” gelees het en dat dit hom by hierdie Breytenbach-werk uitgebring het.
“Ek het nie oorblyfsel/voice over geken nie, maar die artikel het my soontoe gelei. Ek was regtig mal oor daai bundel van Breytenbach, maar toe wou ek ’n bietjie meer uitvind. Ek wou toe vir Darwiesj hoor, en ek het een aand op die internet van sy gedigte gelees en ook van die goed wat hy gesê het. Ek het dit gelees en toe ek sy gedigte lees, toe ... ek het gehuil die aand so mooi was dit vir my. Toe, met die verloop van tyd het dit maar net ’n ding geraak wat ek graag wou doen (Darwiesj vertaal) en daar was verskeie pogings. Die bundel bestaan grootliks uit twee versamelde bundels, naamlik Unfortunately, it was Paradise en The butterfly’s burden.
“Fady Joudah, wat baie van sy werk Engels toe vertaal het, beskryf hom (Darwiesj) as – ten spyte van die feit dat hy nie ’n liedjieskrywer was nie – ’n liedjiesmaker, en sy werk is baie liries.”
In 2009, ’n jaar ná Darwiesj se afsterwe in Amerika, het Breytenbach se bundel Afrikaanse en Engelse gedigte oorblyfsel/voice over met die ondertitel (op reis in gesprek met Magmoed Darwiesj) (the nomadic conversation with Mahmoud Darwish) verskyn. Inleidende opmerkings van Breytenbach oor sy vriend Darwiesj, oor wat sy werk en hy as mens vir hom en lesers bly beteken, is ingesluit by Die vlug van ’n vreemdeling, asook ’n teks van die Palestynse aktivis, skrywer en visuele kunstenaar Shahd Abusalama. Daarin vertel sy hoedat Darwiesj se poësie aan Palestyne “’n plek gegee het toe ons nie ’n plek gehad het nie”.
Insluitende humanisme
Painter het Edward Said, ’n openbare intellektueel wat, soos Darwiesj, in noue verband staan met die gebeure in Palestina, aangehaal waar hy Darwiesj, in sy tyd en daarna, met William Butler Yeats in verband gebring het.
Said het Darwiesj vergelyk met Yeats as ’n “great national poet during a period of anti-imperialist resistance” en wat “articulates the experiences, the aspirations and restorative vision of a people suffering under the dominion of an off-shore power”.
Painter het genoem dat Said vir Darwiesj situeer as dieselfde soort digter as Yeats, as ’n antikoloniale digter wat ’n baie spesifieke verhouding het met die mense oor wie hy skryf.
“In sekere sin het die spesifieke politieke konteks waarin Said oor Yeats gepraat het, vervaag. En Yeats oorleef dit, hy word ’n globale, universele digter. Op ’n manier gebeur dit reeds met Darwiesj – hy word ’n figuur in die wêreldletterkunde, maar op hierdie stadium is die onmiddellike konteks nog belangrik,” het Painter gesê.
Meen Meyer dit is belangrik om Darwiesj te lees en nie te vergeet dat hy skryf oor ’n bevrydingstryd wat tans nog aan die gang is nie? het Painter gevra.
Meyer is dit met hom eens. “Ek dink nie jy kan die twee skei van mekaar nie. Maar ten spyte daarvan het dit vir hom altyd gegaan oor die digkuns.”
Oor die rol van die poësie in Darwiesj se lewe tree daar vir Painter ’n ambivalensie na vore. “Ná die inval in Libanon, in 1982 dink ek, die bombardering van Beiroet, lees ek, kon hy vir drie jaar lank nie skryf nie. Dit sê natuurlik iets van ’n ambivalensie by homself rondom die digkuns ... Wat dóén jy?”
Dink Meyer die digkuns en Darwiesj kán bepaald invloed hê?
“Dit kan daardie invloed hê net as ons dit bly glo,” het Meyer benadruk. “Sodra mens begin dink dit is idealisties om só te dink, dan kan dit uiteraard nie.”
Vir Painter is tekenend aan Darwiesj se poësie, insluitende humanisme. Hy haal Darwiesj aan wat in die jare sestig gesê het hy sal aanhou om selfs die vyand te vermenslik, ’n idee wat met hy met ’n breë opset omskryf het en wat onmiddellik aan universaliteit gewen het.
“Dis ’n baie kragtige stelling natuurlik. Hy skryf vanuit die perspektief van diegene wat staatloos geword het, wat tweedeklas- of selfs geenklasburgers geword het. Van die perspektief ín die Palestynse stryd, kinders wat deur soldate vermoor word en so aan, maar nog steeds gebruik hy die verbeelding om ook die vyand te humaniseer of te vermenslik.”
Dít is hoekom die kunste belangrik is, het Meyer gesê. “Per slot van rekening is gedigte die waarheid. Politieke ouens jok altyd vir ’n mens.”
Vir Painter gaan dit by Darwiesj veral oor ’n digter wat teen verontmensliking skryf, en in ’n spesifieke politieke konteks wat die verontmensliking is van sy mense, die Palestyne, maar dit het inderdaad universele ambisie. “Hy skryf eintlik oor die algemeen oor wat dit is om ’n mens te wees, oor hoe om die verbeelding en die poësie in te span teen enige proses wat mense minder mens maak. Miskien is dit die kern van die gedigte, daardie vraag na ons mensheid.”
Painter lees die sensoriese aard van die gedigte as deel van daardie projek, en dat dit nie net poësie van abstraksies en dies meer is nie.
Sensoriese gedigte met politieke krag
“In ’n beskrywing van hom op die internet in Afrikaans word verwys na sy werk as ’n kaleidoskoop van granate, duiwe, olywe, sout, bloed, liefde, lus, Jerusalem, Damaskus, Andalusië, bome, skoenlappers, riviere, koffie, herinneringe, drome, huise, gewere, tenks, rou,” het Painter gesê.
Dit is beelde wat volop is in Darwiesj se werk, het Meyer gesê.
Painter het dit oor Darwiesj as digter se sensoriese in-die-wêreld-wees en noem dat dit ’n baie persoonlike poëtiese kwaliteit kry, maar dat dit ook is waar die politieke krag van die gedigte lê. “Wanneer hy sê hy verlang na sy ma se brood, sy ma se koffie, is dit gelaai met die feit dat die dorp waar hy grootgeword het, platgestoot was.”
Vir Painter was dit treffend hoedat, as ’n mens van Darwiesj praat as ’n volksdigter, ’n nasionale digter of ’n people’s poet, dan is verset nie die modaliteit waarin die volksdigter werk nie, maar hiér is dit die artikulasie van die aspirasies van mense. “Die aspirasie is natuurlik nie net ’n politieke een nie, om ’n staat te hê of stemreg te hê nie, maar die aspirasie om gesien te word as ’n méns,” het Painter gesê.
Suid-Afrikaanse raakpunte by die lees van Darwiesj
Painter het Darwiesj uit 2002 aangehaal dat “wanneer hulle ook al ’n werklikheid vind wat hulle nie pas nie, wysig hulle dit met ’n stootskraper”.
“Dit het daardie konteks van ontheemding en dit resoneer ook met Suid-Afrika se geskiedenis. Sodra jy ‘bulldozers’ noem, dink jy aan ons eie geskiedenis en gedwonge verskuiwings,” het Painter opgemerk.
Was daar iets omtrent die gedigte vir Meyer wat spesifiek ’n Suid-Afrikaanse resonansie gehad het?
“Ja, om te dink ons is déúr dit, maar daardie mense sit nog met wat reggemaak móét word. Dit is wat ons seker aan mekaar bind, as ek dit so kan stel.
“As ’n nawoord het ek ’n opstel van die dame Shahd Abusalama in, en ek het die bundel aan haar en haar mense opgedra. In die opstel is ’n aanhaling van Nelson Mandela in 1997: ‘Ons weet egter dat ons vryheid nié volkome sal wees sonder die vryheid van die Palestynse mense nie.’”
Bester en Painter het deurentyd laat blyk dat dit vir Darwiesj altyd belangrik was dat dit wat hy doen, oor die digkuns gaan, en dat sy verset ’n universeel humanistiese karakter aangeneem het.
“Hy het die lot raakgesien van die Arabier, maar ook diegene van waar ook al, óók die Jood as gevolg van oorlog,” het Meyer benadruk.
Vertaling, omdigting en transformasie
Meyer het gesê dat dit vir Darwiesj uiteindelik gaan oor die poësie, maar dit is ook duidelik in die manier waarop Meyer dit aanbied, soos ook die kontekstualisering wat hy bied met sy voetnotas, dat hy daarby die politieke konteks betrek. So daar is ’n politieke, of dalk net ’n etiese impuls, ook agter die projek, het Painter die vermoede uitgespreek, en hy wou graag meer weet oor die vertaling.
“As ’n mens dink aan die vertaalproses as ’n ambag is daar ’n praktiese en ’n poëtiese komponent. Dis ’n omdigting. Daar is ’n derde, ’n moreel-etiese soort van verbeeldingsuitbreiding miskien.”
Soos wat dit by Breytenbach die geval was waar hy hom verlaat het op Engelse en Franse vertalings van Darwiesj se werk, het ook Meyer nie uit die oorspronklike gewerk nie. Hy het die gedigte oorgesit in Afrikaans uit die Engelse vertalings van mense soos Joudah, Carolyn Forché en Munir Akash.
Interessant is wat Darwiesj genoem het in sekere riglyne oor die vertaling van sy werk aan Joudah, het Meyer laat blyk. “Hy het vir hom gesê vat die Arabies en as jy dit Engels toe vertaal, as jy die strofebou wil verander of as jy dit anders wil maak, dóén dit. Hy het vir hom gesê wanneer hy dit oorvat Engels toe, eerder as om presies te vertaal wat daar staan, vertaal eerder dit wat in die Engels op sy tong kom. Dit het vir my sin gemaak. Darwiesj het dit gesien as die totstandkoming van ’n heeltemal nuwe gedig.”
Meyer het gehou aan die Engelse vertalers se weergawe en het niks bygedig nie – dit is dus nie die kreatiewe ingrepe wat Breytenbach byvoorbeeld gedoen het nie. Meyer beskryf sy eie vertaling van Darwiesj as “omdigtings, maar nie transformasies soos wat dit in oorblyfsels/voice over van Breytenbach was nie”.
Meyer het oor die vertaalwerk gesê dat daar vir hom ’n getrouheidsekwivalensie moet wees wat die betekenis vergesel met die manier waarop jy dit oordra, dat daar iets groter aan die werk is, en as die leser dít daaruit kan haal, dan voel hy het die vertaling geslaag. “Ek dink dit is daardie ding in taal wat ons ook aan mekaar kan bind.
“Ek en die digter wat dit geredigeer het, Martjie Bosman, het gevoel daar moet voetnotas by wees en dit het my op ’n reis gesit waar ek wou beter verstaan wat ... ek was baie naïef en oningelig oor wat in daardie land aangaan. Dit het my op ’n reis gesit om meer te verstaan. Dit het my op ’n punt gebring waar ek wil, as ek kan, daardie mense probeer help. Dit is ook hoekom ek besluit het om die opstel aan die einde in te sit, om mense daarvan in te lig, en dan is dit jou keuse as leser hoe jy wil help.”
Toe Darwiesj ses jaar oud was, is begin om Palestyne op groot skaal van hul grondgebied te verdryf, en hy en sy pa-hulle moes vlug uit hul dorp in Galilea se wêreld, het Meyer verduidelik. Hulle is toe Libanon toe. Daarna is hulle terug in die land, maar sodanig geklassifiseer dat hulle interne vlugtelinge in hul eie land geword het. Hulle was byvoorbeeld vir drie jaar lank onder huisarres. Darwiesj het onder andere ’n ruk lank in Moskou en Tunisië gewoon, en ook in Parys. Vir 26 jaar het hy ’n ballingsbestaan gevoer. Vir ’n ruk lank was hy op die uitvoerende raad van die Palestynse Bevrydingsorganisasie, waaroor hy ook gedigte geskryf het, hoedat dit vir hom vreemd was dat ’n digter op hierdie raad sit.
Verruiming van bewuswees
Hoekom is dit belangrik dat Darwiesj Afrikaans praat, sing of dig? Wat dra dit by? het Painter hom gepols.
“Ek kan nie ander tale praat behalwe Engels en Afrikaans nie, so as ek iets in Engels lees, dan dink ek: Jis, dit sal vir my mooi wees om dit in Afrikaans te hoor.”
Painter het genoem dat Meyer aan die een kant sê hy doen dit want dit is mooi en dit is poësie, dat hy aan die ander kant sê dit gaan vir hom oor bewusmaking en hulpverlening in ’n sekere sin, dat vertaling ons aan mekaar bind, so dit voel vir hom of daar ’n groter oorweging is benewens die suiwer literêre.
Vir Meyer gaan dit dan ook oor wat hy noem die “goddelike in taal”, hoedat iemand wat so anders oor God as hy gedink het, soveel mooiheid tot stand kan bring en dit in taal aan mekaar bind.
Painter het Meyer gevra na die rol van Abusalama in die bundel. Meyer vertel dat toe hy haar skets van Darwiesj sien, hy haar gekontak en gevra het of dit vir die boek se omslag gebruik kan word.
“Die skets en ander, sowel as die opstel wat nie spesifiek vir die boek geskryf was nie, het sy ingestem kon gebruik word.”
Painter het genoem dat die essay ’n baie sterk politieke strekking het en sy posisioneer haar as iemand wat aktief is in die Palestynse bevrydingstryd, en noem dan dat Meyer se eindnotas nogal uitgebreid praat oor die politieke gebeure van die laaste paar dekades in Palestina en dit maak die boek tog ’n baie fassinerende ding.
“Dis Darwiesj se gedigte en dit maak ons bewus van hom as ’n digter, maar terselfdertyd is dit ’n bewusmaking van die Palestynse problematiek. En dit is miskien tog iets wat poësie doen. Dit is nie polities in die sin van sloganeering nie, maar daar is ’n verruiming van ons bewuswees, ’n verruiming van ons verbeelding in ’n sekere sin,” het Painter gesê.
Meyer het vertel dat hy onder die indruk is van dit waaraan mense váshou, die werk van ’n digter soos Darwiesj is.
Vir Painter is die krag in hierdie soort goed dat dit strek verby wat jy lees in koerante of veral hoor van die VSA waar daar baie sterk teen-Palestynse en pro-Israeliese propaganda is, en dit dus maklik is vir verontmensliking om onsigbaar te raak – mense is nie so bewus van die mate waartoe mense verontmenslik en onderdruk word nie, terwyl ’n boek soos hierdie die ervaring direk vermenslik. “Dis onmoontlik om dit te lees en nie anders te kyk of te voel oor wat in Palestina gebeur nie. En dit is tog vir my deel van die projek van wat jy hier regkry.”
Hy het genoem dat ’n mens Darwiesj se gedigte op baie maniere kan beskryf, dat hy op ’n manier die digter van die hunkering is, en dat sy spesifieke biografie en die biografie van sy mense beteken dat hy tot daardie emosie geïntensiveer is.
“Daar’s ’n letterlike hunkering na ’n dorp wat uitgewis is, ’n staat wat nie bestaan nie, maar natuurlik resoneer dit met almal van ons, want hunkering is deel van die menslike kondisie. So dis altyd interessant hoe die universele juis uit die spesifieke uit kom. In sy geval die spesifieke verhaal van Palestina.”
Painter bestempel die boek as ’n mooi poëtiese en politiese projek, dat dit iets bydra tot die Afrikaanse letterkunde, tot Afrikaanse poësie, ook tot ons etiese verbeelding, ons globale verbeelding en die bewus wees van ’n wêreld buite Europa.
- Foto’s: Izak de Vries
Lees ook op LitNet en Voertaal:
Nuut by Nadeli: Die vlug van ’n vreemdeling deur Magmoed Darwiesj
In vertaling verlore? In vertaling gevind?
Huldigingsrede | Alfred Schaffer (Tuin van Digters-feesdigter 2021)
Buro: MvH