Oranje, blanje, blouoog

  • 0

Nou die dag sien ek op TV ’n dokumentêre film oor die deelname van Nederlanders aan Operation Vula in die laat 1980’s en ‘90’s. Byna 30 jaar later is dit duidelik: ’n nuwe stryd wag, dié keer  om daardie “wrecking ball”, die ANC, uit die kussings te lig. En hoe kan Nederlanders vandag help? Teken in op Vrye Weekblad!

Ja, ek weet, ’n maand of so gelede het ek ’n skeptiese artikel geskryf na die nuus oor die hergeboorte van VWB. Intussen het ek self twee artikels vir VWB gelewer, en ek hoop om nog vele meer by te dra. Is dit ’n teenstrydigheid? Ek weet nie, maar na die eerste paar uitgawes sal ek erken: VWB 10, Pienaar so 3½.

Baie mense het met instemming gereageer op die voorbehoude wat ek uitgespreek het en die algemene raamwerk wat ek geskets het oor die verskille tussen vandag en die laat 1980’s wat van die nuwe VWB ’n waagstuk maak. Maar gesprekke met die redaksie het my oortuig dat ons nie veel oor hierdie uitdagings verskil nie. Reeds met die derde uitgawe is my skeptisisme oor VWB en taal aangespreek: dis duidelik dat VWB nie gaan terugdeins vir aksies teen Afrikaans nie. Die uitdagings is groot, en of VWB gaan slaag of nie, ek gaan my beskeie bydrae lewer om die uitdagings die hoof te probeer bied.

Een rede hiervoor is dat ’n ander stryd nog steeds nie gewonne is nie. Dié week weer het my oog geval op een van die toekennings van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, die DF Malan-medalje vir die bevordering van die Afrikaanse taal en kultuur.

Ek het nou al geleer met pryse dat dié praktiese reël geld: Vat die prys en as dit van die vyand kom, gaan jy dit mos teen hom of haar gebruik. My beswaar is dus nie teen wie ook al die prys gewen het nie; dit sal afhang van hoe hy of sy dit gebruik wat die waarde daarvan gaan wees. Wat ek graag by die Akademie sal wil weet is: Waarom ’n prys die naam van een van die vaders van apartheid gee?

’n Mens neem aan dat die Akademie dit opreg bedoel as hy sê dat hy Afrikaans wil bevorder. Maar hoe kan jy ooit Afrikaans bevorder met ’n prys onder die naam van die eerste Nasionale Party-premier wat nie gras onder sy voete laat groei het om ’n wit, rassistiese eksklusiewe Afrikanermag ondemokraties te verskans en wette te laat promulgeer wat die meerderheid Afrikaanssprekers eenvoudig weggesmyt het nie?

Waarom is dit so moeilik vir sekere Afrikaners om in te sien dat die feit dat apartheid boos was en oneindige lyding veroorsaak het, beteken dat jy die idees en ikone van die verlede moet laat vaar of heeltemal moet omskep? Wat is so moeilik daaraan om nuwe instellings te vestig en nuwe ikone aan te hang, veral in ’n tyd waarin ons almal ’n grootskeepse ommekeer ondergaan?

Hierdie vrae het ontstaan teen die agtergrond van die jongste herrie oor die regsgesinde sanger Steve Hofmeyr. Sy deelname aan die Afrikaans is Groot-konserte het daardie onverbiddelike hater van Afrikaans, Panyaza Lesufi, in ’n reeks sistematiese twiets die kans gegee om druk op die borge te plaas, waarna hulle die een na die ander onttrek het.

Hofmeyr het die reg om te sê wat hy wil, en enige vlag te swaai, en ek dink ook nie die ou Suid-Afrikaanse vlag moet verbied word nie. Afgesien daarvan dat dit die reg op vryheid van spraak onherroeplik sal skend, is dit gewoon dom. Elke rebel, ook dié sonder ’n saak, sal dan die vlag wil dra. En die uitspraak waarteen Sy Laakbare Lesufi dit het, dat swart mense apartheid geskep het, is tog nie rassisties nie, net ’n dom, moedswillige poging tot ’n hipotese.

Maar ons weet mos waarvoor Steve staan. En ook dat hy nie ’n sissie is nie, en dat hy die blouoog wat hy gaan kry deur 98% van die bevolking die duiwel in te maak, met trots sal dra. Maar wie wil nou saam met Steve met ’n blouoog gesien word?

Waarom het die borge dan in die eerste plek die reeks waaraan hy deelneem geborg? Omdat hulle ook hou van blou oë, of het dit net gegaan oor die geld wat hulle maak, soos altyd?

En wat probeer hy en sy aanhangers nou eintlik sê met hul uitstallery van die vlag? Twee elemente daarvan, die Union Jack en die oranje balke, verwys direk na koloniale tye. Dit het nog altyd die stigting van die sogenaamde onafhanklike Suid-Afrikaanse republiek in 1961, in dieselfde tyd as die stigting van die Uhurustate in die res van Afrika, weerspreek. Het onse Steve eintlik ’n crush op koninginne soos Beatrix en Elizabeth II gehad?

Daardie oranje balke wat verdwyn het, herinner my ook aan ’n heel ander hoek om na die saak te kyk. Toe ek in 1984 die eerste keer in Amsterdam kom, was ek verbaas dat die Maritieme Museum geen verwysing na 1652 of die Kaapse halfwegstasie gehad het nie. Later het ek ontdek dat Nederlanders nie graag aan hierdie stuk verlede, en hul moontlike aandadigheid, herinner wil word nie.

Net so probeer Nederland vandag met allerlei robbetoertjies enige verantwoordelikheid vir die vlugtelinge oor die Middellandse See ontduik. Daar skyn nie groot ontvanklikheid onder die gewone bevolking te wees vir die feit dat die land se status as een van die mees ontwikkelde lande in die wêreld ook op koloniale uitbuiting en wanpraktyke gegrond is nie.

Dit is te ver in die verlede om spesifieke restitusie van die koninkryk (wat ’n argaïese regeringsvorm!) te eis vir byvoorbeeld slawerny aan die Kaap, maar dis wel in Nederland se belang om te verstaan waar die migrante wat op Europa se strande uitspoel, vandaan kom. En migrasie gaan net toeneem solank die geweldige ongelykhede van die wêreld bly voortbestaan.

Europese lande se beleid jeens buitelanders is heeltemal kontradiktories. Dis seker aanvaarbaar dat ’n land net die beste mense  as nuwe burgers wil hê. Maar die kriterium is gewoonlik geld: Mense met genoeg daarvan, is welkom, maak nie saak hoe jy dit gemaak het nie, en sommige lande verkoop selfs visums; daarteenoor word elke struikelblok moontlik in die pad van mense gerol wat hul waarde vir enige land bewys deur oor woestyne en oerwoude en onder die gordyn van Arabiese rassisme en slawerny deur na Europa te trek.

Nederlanders het nodig om Afrika te verstaan, dus. En hoewel Suid-Afrika nie dieselfde as die res van die vasteland is nie, het ons ten minste die joernaliste met ’n goeie begrip van albei wêrelde, in ’n taal wat Nederlanders kan verstaan. Veral by Vrye Weekblad. Teken in.

Lees ook

Na wie gaan Vrye Weekblad vry?

Vrye Weekblad herrys uit die dood

Buro: MvH
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top