
Mens voel sommer die dorp se hartlikheid. (Foto: Clifford Roberts)
Twee baie uiteenlopende gebeure rondom palings lei toe tot ’n interessante ontdekking oor dié visspesie waaroor daar eintlik baie min te wete is én bring ons al die pad tot op Stilbaai, ’n paar maande voor Wêreldpalingdag op 17 Mei gevier word. Palings is ’n bedreigde spesie en dié dag wil bewustheid kweek oor die uitdagings wat palings in die gesig staar.
Ons breek ’n paar dae weg oor die feesseisoen en neem elk twee boeke saam na ons klein huisie in die woude buite Swellendam. Ons ontbyte loop oor in middagete wat middagslapies word en dan steek ons vuur aan vir braai. Daar is hope voëls in die takke, bobbejane blaf verder teen die rivier af en die sonnetjie bak patroontjies op die dennenaalde onder die bome.
The book of eels deur Patrik Svensson (beskikbaar hier).
Ons is egter van min bewus. My boeke lê eenkant, want aan my kant van die bed ontdek ek The book of eels: our enduring fascination with the most mysterious creature in the natural world deur Patrik Svensson.
Ek is heeltemal in vervoering oor die boek, nie net vir die ongelooflike wetenskaplike insigte nie, maar ook vir die historiese opname van palinggeskiedenis én vir die lewensinsigte van die skrywer, wie se mymeringe van grootword in die Sweedse platteland, onbereikbare ouers en verlies só diep tref. Met ’n nuwe jaar wat wink, voel ek sommer meer ontvanklik vir lewenswysheid.
Patrik skryf van sy stram verhouding met sy pa en hoe hy nie kan onthou dat hulle ooit oor enigiets anders as palingsvang gesels het nie; hoe sy pa altyd buite bereik gevoel het.
........
Die boek illustreer die wêreld se tragiese vermoë om dit wat kosbaar is, te verwoes en dan te wil ingryp wanneer dit bykans te laat is. Só min is oor die Europese paling, die Anguilla anguilla bekend, dat wetenskaplikes na die “palingvraag” verwys ... Dis steeds – ten spyte van verskeie pogings deur amper fanatiese navorsers – onbekend waar presies hulle vandaan kom, hoe hulle voortplant en hoe hulle weet om terug te keer na hul geboorteplek.
........
Die boek illustreer die wêreld se tragiese vermoë om dit wat kosbaar is, te verwoes en dan te wil ingryp wanneer dit bykans te laat is. Só min is oor die Europese paling, die Anguilla anguilla bekend, dat wetenskaplikes na die “palingvraag” verwys. Dis steeds – ten spyte van verskeie pogings deur amper fanatiese navorsers – onbekend waar presies hulle vandaan kom, hoe hulle voortplant en hoe hulle weet om terug te keer na hul geboorteplek. Daar word vermoed hulle kom van die Sargassosee, maar jarelange navorsing het nie veel opgelewer nie.
Wat wel bevestig is, is dat hul getalle drasties daal en hulle uitwissing in die gesig staar. Ons is nie bevoeg om hulle te red nie.
Die wonderlike verwelkoming wag jou op die N2 in as jy na Stilbaai reis. (Foto: verskaf)
Ek stuur vir my vriendin ’n boodskap vir haar verjaardag en sê sy moet die boek lees. Sy weet ons kuier in die Overberg en verklaar: “Julle móét die palings op Stilbaai gaan besoek.”
En só kom ons toe op ’n blouselblou dag by dié dorp se toerismekantoor aan.
Die wit grasdak geboutjie wat ook die museum huisves, is oud. Baie oud. Dit is oorspronklik in 1809 opgerig en toe vyf jaar later na ’n brand weer herbou. Die museum het pas heropen met sy nuwe uitstalling en bied insigte oor die fassinerende argeologiese geskiedenis van die streek.
Die museum is verlede jaar opgeknap en in Desember amptelik geopen. Dit bied insigte oor die fassinerende argeologiese geskiedenis van die streek. (Foto: Clifford Roberts)
Terwyl ons deurstap, stop daar nog mense buite vir die elfuur-afspraak. Dit is die tyd wat die palings daagliks, behalwe Sondae, in die watergat buite gevoer word. Min, indien enige, ander dorpe het só ’n troefkaart. Hulle kry hoenderlewertjies om te eet. Dié voerdery het in 1992 begin. Hoewel palings eintlik nagwesens is, is dié lewertjies darem maar te lekker en daarom kom hulle blinklyf te voorskyn as jou vingers die watertjies roer.
Niemand is seker oor hoe lank die palings die poel gebruik nie. “Die eerste rekords dui sowat 125 jaar aan,” sê Elvena Petersen, die toerismebeampte.
Die gebou langs die palinggat wat die toerismekantoor en museum huisves dateer uit die vroeë 1800’s. (Foto: Clifford Roberts)
Ons stap agter haar aan soos dié wat in hul slaap loop. Agter ’n geslote hek wag die palinggat. Daar is heelwat jong kinders wat rondskarrel en lag van angstigheid. Ons staan almal nader. Die water is helder en vlak – seker nie veel dieper as 40, 50 cm nie. Die plantjies op die bodem is ruig; hier en daar is ’n sanderige kol sigbaar.
Die palings begin hul lewens in die see en reis dan duisende kilometers stroom-op na die watergat waar hulle sowat 25 jaar deurbring. (Foto: Clifford Roberts)
Die varswaterpalings in die gat behoort ook tot die Anguilla-genus en dié poel word deur die Angola- en Mossambica-palings bewoon. Hulle maak gebruik van ’n klein stroom wat ongeveer 600 m na die Goukourivier vloei en wat op sy beurt 2 km verder in die Indiese Oseaan uitmond.
Die palings begin hul lewens in die see en reis dan duisende kilometers stroom-op na die watergat waar hulle sowat 25 jaar deurbring. Wanneer hulle volwasse is, migreer hulle terug see toe om die mannetjies te ontmoet, te paar en kuit te skiet (eiers te lê).
........
Miljoene van hierdie klein palings gaan dood of word onderweg na die vars water gevang, maar hulle word met ’n genetiese GPS gebore.
........
Tydens hierdie uittog see toe ontwikkel die palings se geslagsorgane, sodat hulle geslagsryp is wanneer hulle by die broeiplek aankom. Dit is nie moontlik om die geslag van palings geredelik te bepaal nie, aangesien hulle eintlik eers volwassenheid bereik wanneer hulle na die see teruggekeer het. Die palings ondergaan ’n verandering om weer by die oseaanlewe aan te pas. Die oë vergroot om weer by hul naglewe aan te pas, die neus raak meer gepunt en die liggaamsvet vermeerder. Die palings se mond groei toe om plek te maak vir die eiers wat hulle gaan lê.
Die varswater van die palinggat vloei uit tot in die Goukourivier, sowat 600 m daarvandaan. (Foto: Clifford Roberts)
Die klein palings word glasale genoem en begin onmiddellik nadat hulle uitgebroei het hul terugtog na vars water. Miljoene van hierdie klein palings gaan dood of word onderweg na die vars water gevang, maar hulle word met ’n genetiese GPS gebore.
Buiten die fisiologiese veranderinge wat plaasvind en hulle toelaat om in hierdie verskillende habitatte te oorleef, lê hulle ook reuse-afstande tussen tuiste en broeigronde af. In die geval van die Marmorata-paling is die broeigronde oos van Madagaskar. Boonop sterf die volwasse vroulike paling as die eiers gelê is en moet die jong palings self hul weg terug na die varswatertuiste vind. “In hul doelgerigtheid om by die huis te kom, kan jongetjies soos slange oor paaie, damwalle en droë grond beweeg,” sê Elvena.
........
“In hul doelgerigtheid om by die huis te kom, kan jongetjies soos slange oor paaie, damwalle en droë grond beweeg,” sê Elvena. Ek wonder of iemand al dié gesig kon gade slaan.
........
Ek wonder of iemand al dié gesig kon gade slaan. Sy verseker my dat dit beslis gebeur, want wanneer hulle oor droë grond of klippe beweeg, skei hulle skuim af en dis bewys van hul trek.
Sy sak op haar knieë af, haal ’n hoenderlewertjie uit die bakkie en wikkel dit stadig in die water. Na ’n rukkie steek ’n paling versigtig sy kop onder ’n rots uit en vat die vleisie. Hulle kan meer as 1,5 m lank word, maar in die watergat bly hulle meestal versteek.
Bo en onder: Die palings word elke dag om 11:00 gevoer en dis groot pret vir almal wat wil deelneem. (Foto: Clifford Roberts)
Elvena nooi die kinders om deel te neem en sommer vinnig is daar reg rondom die palinggat kinders op hul mae en knieë, met rou hoenderlewertjies in die hand. “Hulle tande is baie klein en byt nie seer nie,” sê sy. “Dit voel soos skuurpapier.”
........
Palings beweeg uiters doeltreffend deur middel van kronkelbewegings met sagte rug- en stertvinne wat saamsmelt om een lang deurlopende stertvin te vorm. Palings haal deur hul kiewe asem, maar kan ook deur hul velle asemhaal wanneer hulle oor land beweeg gedurende hul uittog see toe.
........
Palings beweeg uiters doeltreffend deur middel van kronkelbewegings met sagte rug- en stertvinne wat saamsmelt om een lang deurlopende stertvin te vorm. Palings haal deur hul kiewe asem, maar kan ook deur hul velle asemhaal wanneer hulle oor land beweeg gedurende hul uittog see toe.
Die toerismebeampte, Elvena Petersen, gee handjie met die palings voer. (Foto: Clifford Roberts)
Daar is gewoonlik tussen 10 en 15 palings in die watergat, maar hulle is nie altyd sigbaar nie. Palings is nagdiere en eet vissies, slakkies, wurms, krappies en paddas.
Ons verlaat die watergat en gaan drink tee by die aangrensende restaurantjie, Thyme to Relish. Kinders talm by die watergat, maar die palings is klaar gevreet en skuil weer in die veiligheid van die donkerte onder die rotse.
Met sulke sonsondergange oor die rivier en see kan jy net die rustigheid aanvoel. (Foto: Clifford Roberts)
Ek dink aan die dieptreffende woorde in my palingboek waarin die skrywer sê hy dink hy en sy pa het nooit regtig gepraat nie, want by die rivier waar hulle palings gevang het, was die noodsaaklikheid van praat onnodig. “Jy moes stil wees om jouself deel van die geheel te maak.”
Dis hoe ek voel daar onder die potblou hemele van Afrika, baie ver van die Sargassosee óf Swede.
En dit sal jy beslis doen! (Foto: Clifford Roberts)
Kitsfeite:
- Koop kaartjies by die toerismeburo om die palings te voer (R25 vir volwassenes en R15 vir kinders van 2–14 jaar) en die uitstallings van die wêreldbekende Blombosgrot en -rotskuns te besoek teen R20 vir volwassenes en R10 vir kinders.
- Stilbaai lê sowat 340 km op die N2 vanaf Kaapstad. Ons was reeds anderkant Swellendam, so die rit was sommer vinnig verby. Maak tyd om ander besienswaardighede te besoek soos die Inverroche-jenewermakery; die duisend jaar oue visvywers; die Kasselshoop-kaasplaas; en die drie nabygeleë natuurreservate. Die streek is ook bekend vir sy oorvloedige voëllewe.
- Beplan jou besoek rondom die Wine & Food Expo op 11 en 12 Julie 2025 wat deur Stilbaai Kelders aangebied word. Meer inligting oor ander doen-dinge op die dorp is by https://mystilbaai.co.za/ te kry.